Rev. Angus Stewart
Die verworpe Kain was ʼn kind “van die duiwel” (I Joh. 3:10), wat “sy broer doodgeslaan het [o]mdat sy werke boos was …” (12). So was Kain dan ” vir die Here ʼn gruwel” (Spr. 3:32; 11:20; 16:5), soos alles van hom: sy “hande” (6:16-17), sy “valse lippe” (12:22), sy “planne” (15:26), sy “offer” en sy “wandel” (15:8-9).
God het met Kain—ʼn rasioneel-morele skepsel—gepraat (Gen. 4:6-7, 9-15) en aan hom die weg van lewe en van dood getoon en vir hom die boosheid van sy broedermoord verduidelik (9-10), sodat hy “geen verontskuldiging” (Rom. 1:20) het nie. So verre was God daarvan om aan Kain “algemene genade” te laat toekom, dat Hy hom nie geseën het nie, maar vervloek het (Gen. 4:11-12)!
God het aan Kain ʼn teken gegee sodat die mense hom nie sou doodmaak nie (15). Kain se verlengde lewe het beteken dat hy vir homself net meer toorn vergader het (Rom. 2:5). God het Kain se voortbestaan op aarde vir nog ʼn aantal jare gewil sodat die nageslag van die verworpe Kain kon voortgaan en in sonde kon ontwikkel (Gen. 4), teenoor die nageslag van die uitverkorenes (Gen. 5). Ook was Kain se stadbouery (4:17) en die rykdom, kunstalent en tegnologiese vooruitgang van sy nageslag (20-22) nie tekens van God se liefde vir die verworpenes nie. God se doel “as … die werkers van ongeregtigheid bloei (wat Kain, sy nageslag en hulle voorspoed insluit), is … om hulle vir ewig te verdelg” (Ps. 92:7). God sny die goddelose nie dadelik af nie, want Hy grawe vir hom die kuil (Ps. 94:13)—net soos Hy gedoen het met Kain, die kind van die duiwel, wat die eerste martelaar, Abel, sy eie broer, vermoor het.
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)