Ronald Hanko
Daar is vele wat verkies om na die evangelie te verwys as ‘n “aanbod”, eerder as ‘n roeping. Dit is interessant, om die minste te sê, dat die Skrif nooit die woord aanbod gebruik om die evangelie te beskryf nie. Ons het nie ‘n beswaar teen die woord aanbod as sulks nie. In die ouer sin van die woord beteken dit bloot dat daar in die evangelie ‘n “uiteensetting” is van Christus. Die Westminster Groot Kategismus, byvoorbeeld, definieer die ‘n aanbieding van Christus as ‘n “getuienis dat hulle wat in Hom glo, gered sal word”.i
In die moderne sin stel die woord aanbod egter voor, en word dit gebruik om te leer dat God alle mense liefhet en elkeen van hule wilverlos, dat Hy poog om deur die evangelie elkeen te verlos, en dat die redding van die sondaar van sy eie wil afhang. Hierdie leer is in stryd met die Skrif.
Die Skrif leer nie dat God alle mense liefhet nie (Ps. 11:5; Joh. 13:1; Rom. 9:13) en ook nie dat God probeer om almal te red nie (Jes. 6:9-11; Rom. 9:18; 2 Kor 2:14-16). Dit leer bepaald nie dat God in die verlossing van die sondaars deur hulle onwilligheid gekortwiek kan word of dat Hy as’t ware hoed in die hand wag dat hulle sy redding aanvaar of aanneem nie (Ps. 115:3; Joh. 6:44; Rom. 9:16; Ef. 2:8,9). Om hierdie rede verkies ons om nie van die evangelie as ‘n aanbod te praat nie.
‘n Roeping verskil van ‘n aanbod. Dit herinner ons aan die soewereiniteit van God. Hy, die Koning, gebied die sondaar om te glo en die evangelie te gehoorsaam. Dit gee te kenne dat Hy in werklikheid deur sy soewereine roeping sommige tot verlossing bring. As ons onthou dat dit God is wat roep, is dit nie moeilik om te verstaan nie. Dit is Hy wat “die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan” (Rom. 4:17).
Hierdie roeping word in die prediking van die evangelie gehoor. Deur die innerlike werking van die Heilige Gees word dit kragdadig, sodat sommige die roeping nie net hoor nie, maar ook gehoorsaam. Deur die werk van die Gees is dit God in Christus wat roep, nie die prediker nie. Die prediker is net ‘n instrument.
Dit is die rede waarom die goddeloses vir ongehoorsaamheid veroordeel word wanneer hulle weier om aan die roeping gehoor te gee. Deur hulle ongeloof wys hulle nie ‘n mens weg nie, maar die lewende God self, wat deur sy eniggebore Seun tot hulle spreek. Dit is ernstig.
Dit is ook die rede waarom die prediker niks ander as die Skrif moet bring nie. Hulle wat hoor, moet God seWoord hoor, nie die opvattings, filosofieë, politieke kommentaar ens. van die prediker nie. Die prediker moet selfs versigtig wees dat hy nie die soewereine roeping van God verduister, deur allerlei onnodige soebat of oorredingstaktiek wat die indruk laat dat God op die wil van die sondaar wag nie.
Dit moet in die prediking van die evangelie duidelik wees dat God in sy oppermag geloof en bekering van die sondaar eis – dat Hy, die Almagtige, die Regter van hemel en aarde, gehoorsaamheid vereis en ongehoorsaamheid straf. Deur sulke prediking word sondaars gered en God verheerlik.
i Die Westminster Groot Kategismus, Vraag en Antwoord 65.
Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 191-192.
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)