Ronald Hanko
Die Skrif praat dikwels van God se verbond. Wat is dié verbond? Waarom verwys die Skrif so dikwels daarna? Hierdie vrae verwag ‘n antwoord.
In die eerste plek moet ons onthou dat die verbond God se verbond is. Dit beteken dat dit ‘n verbond is wat God in Homself en met Homself het. Wanneer Hy dus met ons in verbond tree is dit slegs die openbaring van iets wat Hy ook sonder ons het.
Dit is natuurlik waar van alles wat God openbaar. Wat ook al Hy aan ons openbaar is ‘n openbaring van Homself: sy wese, sy heerlikheid, sy krag en sy werke. Dit is ‘n baie verootmoedigende gedagte. Met verwysing na die verbond beteken dit dat God ons nie nodig het om Verbondsgod te wees nie. Hy is Verbondsgod in Homself.
Ons glo God se verbond is die verhouding tussen die drie persone van die Heilige Drie-eenheid: die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Ons sal aantoon dat die verbond ‘n verhouding of ‘n band is. As dit waar is, is dit van begin af die band wat die drie persone van die Drie-eenheid één God maak.
Daar is Skrifgedeeltes wat die verhouding tussen die drie persone van die Godheid in die Drie-eenheid beskrywe. Spreuke 8:22-31 is een so’n gedeelte. In die gedeelte is “ek”, wat in vers 12 as “wysheid” geïdentifiseer is, die Seun (vergelyk met 1 Kor. 1:24). In vers 30 beskryf die Seun sy verhouding met die Vader só: “… ek (was) ‘n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd …” (Die 1983 vertaling lui soos volg: “Ek het my kennis by Hom gekry, ek was elke dag sy vreugde; die hele tyd het ek dit by Hom geniet.”) Dit is die verbond van God soos dit ewig in God self tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees bestaan.
Ander Skrifgedeeltes wat hierdie verhouding beskryf, is Johannes 10:5: “Net soos die Vader my ken, ken ek ook die Vader”; en 1 Korintiërs 2:10: “… die Gees ondersoek alle dinge, ook die diepte van God.” Wat ‘n volsalige lewe leef God in Homself!
Wanneer God sy verbond met ons beskik, neem Hy ons op in daardie verhouding en maak ons deel daarvan. Hy neem ons op in sy familie en deur Jesus Christus en die Heilige Gees word Hy ook óns Vader. Hoe ‘n wonder!
Die Bybel praat hiervan in 2 Petrus 1:4, waar staan dat ons deelgenote word van die goddelike natuur. Dit is die werklikheid van God se verbond met ons, iets so wonderbaar dat ons nie eens sou waag om daaraan te dink as die Bybel dit nie gesê het nie. Jesus praat ook daarvan in Johannes 17:23: “Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.” Ons word in daardie geseënde verhouding opgeneem wanneer God sy verbond met ons beskik. In daardie verhouding ontvang ons uit sy volheid, genade op genade (Joh. 1:16). So woon Hy in ons, wandel onder ons en is Hy ons God vir ewig (2 Kor. 6:16). Om ver van Hom te lewe is daarom werklik die dood (Ps. 73:27). Om Hom te ken, is die ewige lewe (Joh. 17:3).
Maar ons moet nooit vergeet dat Hy ons nie nodig het om Verbondsgod te wees nie. Sy verbond met ons is altyd ‘n genadeverbond – onverdiende guns alleen.
Vertaal uit Ronald Hanko, Doctrine According to Godliness, 2004 Reformed Free Publishing Association, Grandville MI, USA, pp. 61-62.
Vertaal deur Nic Grobler.
Tensy anders aangedui, is die Bybel wat by hierdie vertaling gebruik is die 1933/53 Vertaling.