Ronald Hanko
Ons het in die vorige artikels aangetoon dat die verskillende verbonde wat in die Skrif genoem word, nie afsonderlike verbonde is nie, maar verskillende openbarings van die een, ewige verbond van God. Ons wil nou graag opsom wat ons vroeër geskryf het deur die verskillende verbonde te noem tesame met wat elkeen aantoon as openbaring van daardie een verbond.
Die eerste openbaring van die verbond was aan Adam in die paradys. Daardie verbond kan genoem word die Verbond van die Lewe, omdat dit die wesenlike aard van die verbond openbaar. Dit toon aan wat die verbond is, openbaar God as die soewereine Heer van die verbond en teken duidelik die mens se plek in die verbond (Gen. 1; Gen. 2; Hos. 6:7).
Die tweede groot openbaring van die verbond was aan Adam na die sondeval. Daardie verbond kan genoem word die Verbond van die Belofte. Dit openbaar God as die getroue, verbondhoudende God wat sy verbond met sy volk in stand hou deur die krag van sy soewereine, verlossende genade (Gen. 3, veral v. 15). Christus word geopenbaar as die beloofde Saad en die groot Offer (vv. 15, 21).
Die derde belangrike openbaring was aan Noag. Die verbond kan onthou word as dieSkeppingsverbond. Daarin openbaar God die universele aard van sy verbond, wat nie net alle mense nie, maar ook die hele skepping insluit (Gen. 9: 1 – 17). Daarin word Christus geopenbaar as Versoener en Here van die ganse skepping (Gen. 9: 15, 16; Kol. 1: 20).
Die vierde openbaring was aan Abraham. Dié verbond kan wellig die Familieverbond genoem word, omdat dit duideliker as tevore aantoon dat God se verbond veelal ‘n familie verbond is (Gen. 15; Gen. 17). Die Vader openbaar aan Abraham deur sy Seun dat hy, God, die God sal wees van gelowiges en hulle kinders.
Die vyfde groot openbaring was aan Israel. Aangesien die gee van die wet die hoofkenmerk van daardie openbaring is, noem ons daardie verbond die Verbond van die Wet. Daarin openbaar God dat wet en verbond nie teenoorstaande dinge is nie, maar saamhoort (Eks. 19; Eks. 20; Gal. 3; Gal. 4). Hy wys aan Israel dat die wet ons lewe as verbondsvolk bepaal en begrens.
Die sesde en laaste verbondsopenbaring in die Ou Testament was dié aan Dawid en kan onthou word as die Koninkryksverbond. Daarin openbaar God veral die ordelike struktuur binne die verbond (2 Sam. 7; Ps. 89), en ook die unieke plek van Christus as soewereine Hoof en Here van die verbond.
Die hele Nuwe Testament as sulks word in die skrif die nuwe verbond genoem, nie omdat dit ‘n geheel afsonderlike verbond is nie, maar omdat dit ‘n nuwe openbaring van die verbond is, nie van tipes en skadus nie, maar van die werklikhede waarna die tipes heengewys het (Heb. 8). Hier, ten laaste, kom Christus met al sy seëninge en vervul die tipes en skadus.
Nou wag ons nog op die dag van die volvoering van die verbond, wanneer die verbond in al sy volheid verwerklik sal word. Dan sal die tabernakel van God by die mense wees; Hy sal by hulle woon en by hulle wees as hulle God, en hulle sal sy volk wees (Openb. 21:3).
Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 183-184.
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)