Ds. Angus Stewart
Ons het in die vorige uitgawe van die News gesien dat Psalm 87 drie maal herhaal dat wedergeboorte of die nuwe geboorte in Sion, die stad van God, die kerk, plaasvind (4, 5, 6). Dit impliseer twee roepings. Eerstens word ongelowiges geroep om die verkondiging van God se Woord te kom hoor, want dit is waar Hy sondaars wederbaar en red! Ten tweede moet christelike ouers nie hulle kinders net tuis onderrig nie, maar hulle ook bring na die samekoms van die heiliges en na die katkisasie. Inderdaad is wedergeboorte ‘n soewereine werk van God, want die Gees, soos die wind, waai oor wie Hy wil (Joh. 3:8), maar die Heilige Skrif verklaar ook dat die geestelike geboorte in die kerk is.
Wedergeboorte is nie vir die kerk alleen nie; dit is ook ‘n gawe vir die uitverkorenes in die nasies. Psalm 87:4 noem vyf heidennasies: Rahab of Egipte (Jes. 51:9-10) en Kus (Ethiopië) lê ten suide van Israel, Babel oos, Filistéa wes en Tirus noord. God wederbaar sy uitverkore kinders in die kerk uit alle nasies – noord, suid, oos en wes.
Van die vyf plekke waarvan in Psalm 87:4 gepraat word, is Filistéa die naaste aan Israel, dan Tirus, Egipte en Babel, met Ethiopië die verste. In die tyd van die Nuwe Testament gee God die geestelike geboorte aan sy uitverkore volk in die vier uithoeke van die aarde.
Ons moet ook let op die geskiedenis van hierdie vyf nasies of volke. Rahab of Egipte was die plek van Israel se slawerny. Die Jode was ook in gevangeskap in Babel. Die Filistyne was die voortdurende vyande van Israel in die boeke Rigters, I en II Samuel en I Konings. Tirus en Ethiopië was nie so nou betrokke by God se Ou Testamentiese volk nie. In die Nuwe Testamentiese tyd word die uitverkorenes nou uit hierdie goddelose volke en baie ander, deur wedergeboorte in die kerk van Christus versamel.
‘n Mens kan ook let op hulle nasionale eienskappe. Rahab/Egipte was ‘n gewelddadige en trotse volk. Babel vertoon die wêreld en sy verloklikhede. Die Filistyne was ‘n hardnekkige vyand en vir Israel ‘n doring in die vlees. Tirus was ryk, bevolk met handelaars. Aan Ethiopië, verste van Israel, was God totaal onbekend. Oor die afgelope 2000 jaar het alle soorte mense, mans en vroue, met eienskappe soos dié, die seën van die wedergeboorte ontvang: die trotses, die wêreldlikes, die rykes, die onkundiges, vyande van die kerk, sakelui ens.
Mense uit die vyf plekke van Psalm 87:4 was dáár toe Christus op die Pinksterdag van Handelinge 2 sy Heilige Gees uitgestort het en so die Nuwe Testamentiese kerk gevorm het. Die hofdienaar in Handelinge 8 was van Ethiopië. Paulus het sewe dae met die dissipels in Tirus vertoef (Hand. 21:3-7) want God het deur wedergeboorte ‘n kerk daar in die lewe geroep.
So vind evangelisasie plaas deur, en alléén deur, die kerk en die wedergeboorte van die uitverkorenes in die verband, en alleen in die verband, van die kerk, want die nasies is in Sion gebore.
God maak dit bekend dat die wedergeboorte deel is van die heerlikheid van die kerk. Hy sê dit van geen ander instelling ter wêreld, en sekerlik nie van die valse kerk nie. In Psalm 87 is die wedergeboorte inderdaad die mees prominente aspek van die kerk se heerlikheid, want dit word die meeste genoem (4, 5, 6). Die Psalmis is vasberade om dit te noem: “Ek wil ” vermeld die geestelike geboorte van die heidennasies in die kerk (4). Ander sal ook daarvan praat: “En van Sion sal gesê word: Man vir man is daarin gebore” (5). Inderdaad, dit is deur wedergeboorte – en op geen ander wyse nie – dat God sy katolieke of algemene kerk in die wêreld in stand hou as die sigbare liggaam van Jesus Christus (5). Jehovah hou selfs register van sy wedergebore heiliges: “Die HERE sal tel as Hy die volke opskrywe: Hierdie een is daar gebore” (6). Die boek van die lewe van die Lam (Openb. 13:8; 17:8) is ‘n Bybelse verwysing na God se ewige uitverkiesing van ons in Christus, terwyl die opskryf van ons wedergeboorte plaasvind in die tyd, maar dieselfde mense word (uiteindelik) in albei boeke genoem. Al God se uitverkorenes is terselfdertyd in die boek van die lewe van die Lam opgeskryf, maar die uitverkorenes word op verskillende tye weergebore en word daarom op verskillende tye in die boek van hulle wat in Sion gebore is, opgeskrywe (Ps. 87:6).
Ons weet nie altyd wie weergebore is nie. Sommiges wat ons dink is weergebore, is nie. Sommiges wat ons dink is nie weergebore nie, is in werklikheid wel. Ons beskou en behandel ander as christene as hulle ernstig hulle geloof bely. Glo hulle die Bybelse evangelie? Lewe hulle ooreenkomstig die Woord van God? Op hierdie grondslag word mense opgeneem as lidmate van geïnstitueerde kerke. Sommiges op die lidmateregister is nie werklik wedergebore nie; hulle is huigelaars. Maar God weet onfeilbaar, Hy hou noukeurig rekord van dié wat Hy wederbaar het.
Die Psalmis sluit sy lied oor Sion af met: “Al my fonteine is in jou” (7)! Dit is die fonteine van die geestelike water van die lewe wat die gelowige verkwik en verbly. Die Here Jesus is die bron of fontein van “lewende water” (Joh. 4:10, 14) in die kerk. Deur die genademiddele skenk die gekruisigde en opgestane Christus Homself en al sy seëninge aan ons. Ons word verkwik deur sy Woord en sakramente terwyl ons sy beloftewoord glo en die gemeenskap van die heiliges geniet.
Hoor hoedat hierdie gelowige verklaar: “al my fonteine” is in die kerk (Ps. 87:7). Dit is wat ons in God se Woord lees; dit is wat ons in hierdie geïnspireerde Psalm sing; dit is wat elkeen van ons moet bely: “Al my fonteine is in jou” (7)! Dit is waarom ons lidmate is van ‘n ware kerk en daarin bly tensy ons ‘n meer getroue kerk sou vind.
Sien u hierdie inhoud van Psalm 87? Die heerlikheid van die kerk (3) sluit haar “grondvesting” (1) in, haar uitverkiesing in Christus. Volgens vers 2, is die kerk se heerlikheid in God se liefde. Die kerk is ook heerlik omdat dit die plek is van die nuwe geboorte (4-6) en die bron, grondvesting en fontein van heel ons geestelike lewe (7). Geen wonder nie dat die musikante en sangers hierdie geïnspireerde Psalm daaroor sing!
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)