Prof. Herman Hanko
In die vorige uitgawe van die News het ek begin met ’n antwoord aan ’n vraagsteller op ’n vraag wat in ’n debat wat hy met ’n Arminiaan, wat ontken dat die genade van God tot redding nie weerstaan kan word nie, gevoer het. Genade, het dié gesê, is weerstaanbaar: dit kan weerstaan word en word dikwels weerstaan. Die Arminiaan het na twee tekste verwys.
Die een teks lees, “En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe” (Deuteronomium 30:6).
Die ander teks is van Johannes 12:47: “En as iemand na my woorde luister en nie glo nie, Ek oordeel hom nie; want Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red.”
Die argument van die Arminiaan in verband met Johannes 12:47 is: “Genade is nie onweerstaanbaar nie, want anders sou die hele wêreld gered word … Die teks is goed [m.a.w. hy dink dit bewys sy punt) want dit gee geen geleentheid aan die Calvinis om te sê die woord ‘wêreld’ beteken ‘wêreld van die uitverkorenes’ nie. Die teks kan nie van die inwendige en uitwendige roeping praat nie. Die teks sê Jesus het gekom om die wêreld te red.”
Ek behandel eers Deuteronomium 30:6. Ek het ’n probleem om te verstaan hoe hierdie teks die waarheid van onweerstaanbare genade omvêr kan werp. Dit lyk vir my asof dit presies die teenoorgestelde leer. As die soewereine Here God iemand se hart besny, en die besnydenis as teken en seël van die besnydenis van die hart gee, dan is die besnydenis immers ’n teken van wat God doen en nie van wat ons doen nie. As God ons hart besny, is ons gered.
Dit is moontlik dat die Arminiaan bedoel dat die fisiese besnydenis-handeling self aan almal wat besny is genade skenk en, omdat almal wat besny is nie gered is nie, diegene wat nie gered is nie dus daarin geslaag het om die genade van God te weerstaan.
Maar die teks sê nie dat almal wat fisies besny is, genade ontvang nie. Dit sê uitdruklik dat die werklikheid waarvan die besnydenis ’n teken en seël is, die besnydenis van die hart, tot redding is. Die punt is hier dat besnydenis self nie red nie; en die teks sê ook nie so iets nie. Besnydenis is net ’n teken en ’n seël. Die reddende genade wat gegee word en waarvan die besnydenis net ’n seël is, is nie weerstaanbaar nie. Dit is God se genade, en die genade van God red.
Die feit is dat die bediening van die besnyding, wat in die nuwe verbond deur die doop vervang is (Kolossense 2:11-13), uitgevoer is op alle manlike lede van Israel, want hulle het tot die Ou-Testamentiese kerk behoort. Besnydenis was ’n uitwendige teken van die inwendige werking van genade. Dit het saamgegaan met die evangelie-verkondiging aan Israel. En net soos die evangelie deur almal gehoor is, is die besnydenis op almal uitgevoer. Maar net soos die prediking nie aan almal wat dit gehoor het, genade geskenk het nie, so het ook die besnydenis nie aan almal wat besny is, genade geskenk nie. Net so skenk die waterdoop nie genade aan almal wat gedoop is nie.
Ons moet nie vergeet wat Paulus in Romeine 9:6 sê nie: “Want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie.” God maak self die verskil tussen Israel as volk en die ware Israel van God. Hy maak daardie onderskeid deur soewereine uitverkiesing en verwerping. Daarom skryf Paulus ook, “En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!” (Galasiërs 6:16). Die Israel van God is die uitverkorenes, nie almal in die volk nie. Paulus verduidelik in Galasiërs 3 in detail wat hy in Romeine 9:6 bedoel. Arminiane wens dat Romeine 9 en Galasiërs 3 nie in die Bybel was nie.
Ek voel effens verleë om dié punt te bespreek, want honderde Bybelse teoloë en heiliges, vanaf Augustinus wat in 430 n.C. oorlede is, het bo alle twyfel bewys dat die woord “wêreld” in verband met die werk van Christus nooit die bedoeling het van elke mens wat ooit geleef het of sal lewe nie. Die literatuur hieroor is so uitgebreid dat die boeke rak op rak in enige biblioteek sal vul. Waarom moet die waarheid keer op keer, male sonder tal herhaal word? Dit is duidelik dat as iemand die woord “wêreld” wil laat verwys na alle mense, kop vir kop, selfs nie die engel Gabriël hom van gedagte sal laat verander nie.
Ek dink dit was die Baptis, Charles Haddon Spurgeon wat gesê het dat die woord “wêreld” nie een maal in die Skrif elke mens, kop vir kop, beteken nie.
Ek onthou ’n geleentheid waar ’n bekende Presbiteriaanse teoloog gepraat het oor die waarheid dat Christus vir die uitverkorenes alleen gesterf het. Hy het sy sitplek ingeneem terwyl die mense hulle vir vraetyd voorberei. Soos te wagte kon wees, sê ’n jong man, pas uit universiteit, “Ja, maar doktor, wat van Johannes 3:16?” Die teoloog het byna uit sy stoel uit ontplof en hom na die kateder gehaas. Duidelik vies sê hy toe, “Elke mens? Die wêreld bestaan, soos die teks sê, uit gelowiges! Lees dit jongman. Gelowiges maak die wêreld!” En daarmee draai hy om en gaan sit.
As genade weerstaanbaar is, het Christus verniet gesterf. Die dood van Christus aan die kruis het betaal vir al die sondes van almal vir wie Hy gesterf het. Christus se volkome offer het die volle saligheid verdien vir hulle vir wie Hy gesterf het. Wie durf sê dat Christus gesterf het vir iemand wat na die hel toe gaan? Die lyk vir my baie na aan lastering.
Christus het vir die werklike wêreld van die uitverkorenes gesterf. Die uitverkorenes is, volgens teksgedeeltes soos Efesiërs 2:20-22, die tempel van God, gebou op Christus, die Hoeksteen. Die verworpenes is die steierwerk wat vir die oprigting van die gebou nodig is, maar wat afgebreek word wanneer die gebou voltooi is.
Die uitverkorenes is die mieliepitte en nie die wortels, die stingel, die doppe of die stronk nie. Dit is alles nodig vir die mielies om te groei en ryp te word, maar dis nutteloos wanneer die mielies gestroop en geëet is.
Die kerk is die ware wêreld van God wat deur Christus verlos is. Hulle word sonder enige twyfel deur God se onweerstaanbare genade gered.
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53)