Ds. Angus Stewart
Daar is deesdae ‘n baie populêre, maar ook baie verkeerde, interpretasie van Matthéüs 7:1: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” Dit beteken, sê baie, dat absoluut alle oordeel verkeerd is. Jy moet nie gelowe of kerke of leerstellings of mense of beginsels oordeel nie, want het Jesus dan nie gesê “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie”? Volgens hierdie siening mag mens nie sê dat heidense godsdienste afgodery is nie (Eks. 20:3; I Kor. 10:20), dat aborsie moord is nie (Eks. 20:13; Ps. 139:13-16), dat vrye wil ‘n valse leer is nie (Joh. 6:65; Rom. 3:11) of dat homoseksualiteit ‘n gruwel is nie (Lev. 18:22; Rom. 1:26-27). “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie”! In wese is die enigste ding wat dus met oordeel verkeerd is dat verskeie dinge en mense verkeerd is, en dat die enigste deug is om alles te verdra. “Ek’s OK en jy’s OK!” Daar is geen absolute standaard nie; alles is relatief en net oordeel word verbied. Om te oordeel is dus sonde—as daar nog iets soos sonde is!
Hierdie siening en interpretasie van Matthéüs 7:1 is dom en logies teenstrydig. As alle oordeel verbode is, is dit ook verbode om iemand vir veroordeling te oordeel! Om iemand vir oordeel te oordeel word immers ook deur hierdie (vals) interpretasie van Jesus se woorde, “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie” verbied!
Die Bergpredikasie (Matt. 5-7)—waarin die teks voorkom—eis oordeel. Dink aan die woorde van ons Verlosser in Matthéüs 5. Hy oordeel doodslag, selfs om vir jou broeder sonder oorsaak kwaad te wees (21-26); owerspel, selfs om na ‘n vrou te kyk om haar te begeer (27-30); egskeiding, behalwe omrede hoerery (31-32); en verskillende soorte van eedswering (33-37).
Oordeel word ook vereis om die leer van Christus in Matthéüs 6 oor aalmoese en liefdadigheid (1-4), bid (5-15) en vas (16-18) te gehoorsaam, want mens moet dié dinge nie doen, soos die Fariseërs, om gesien te word nie. Die Here Jesus oordeel die volgende as sondige handeling: om vir onsself skatte op aarde bymekaar te maak (19), om te probeer om God én Mammon (geld) te dien (24), om ons te kwel oor ons aardse behoeftes (25-34).
Ons vind dieselfde in Matthéüs 7. Ten einde die verbod van Christus om ons pêrels voor die varke te gooi, te gehoorsaam, moet ons die mense wat hy as “honde” en “varke” kenmerk, kan onderskei (6). En hoe kan ons ag gee op Jesus se waarskuwing teen vals profete as ons hulle nie, soos Hy sê, aan hulle vrugte oordeel (15-20), nie?
Daar is baie ander situasies wat (behoorlike) oordeel verg. In I Korinthiërs 6:2-3 staan daar dat gelowiges in die laaste dag die goddelose en die engele sal oordeel. Op grond hiervan se Paulus dat die heiliges in die kerk nou reeds regverdig moet oordeel (1, 4-5). Klaarblyklik word dit nie deur die woord van Christus, “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie”, verbied nie.
Regters is geroepe om in burgerlike sake te oordeel. ‘n Moordenaar word voor die gereg gebring en ‘n dief word geregtelik vervolg. Vir iemand om in die openbare galery van ‘n hof op te spring en, op grond van Matthéüs 7:1, uit te roep, “Moenie oordeel nie, edelagbare!” sal nie deug nie.
Ouers moet ook oordeel. Was die gedrag van hulle seun of dogter sonde (gemeet aan die beginsels van die Woord van God)? Wat is die mees gepaste liefdevolle tug in dié geval? Vermaning? Of regverdig dit fisiese tugtiging?
Kerkrade is ook geroepe om regverdig te oordeel. ‘n Lidmaat loop die pad van Matthéüs 18:15-20 met ‘n ander lidmaat. Dié lidmaat versuim, jammerlik, om hom na herhaalde vermanings te bekeer. Dan word die saak ingevolge die prosedure van die kerkorde voor die ouderlinge gelê.
Ook gemeentes is geroep om voorgangers in die kerke Bybels te oordeel. Die kerk van Éfese is deur Christus geprys omdat hulle vals apostels geoordeel het (Openb. 2:2). Die gemeente van Thiatíre is deur die Verlosser bestraf, omdat hulle ene Isébel, wat die heiliges geleer en verlei het, verdra het (20).
Elke gelowige word beveel, soos in I Korinthiërs 11:28, om homself of haarself in die lig van die Skrif te oordeel: “Maar die mens moet homself beproef . . .” Dit is veral ons roeping wanneer ons voorberei vir die Nagmaal van die Here, soos blyk uit die konteks van I Korinthiërs 11 (Nederlandse Geloofsbelydenis 35; Heidelbergse Kategismus, V. & A. 81).
In werklikheid word die kind van God deur sy hemelse Vader beveel om in verskeie hoedanighede en maniere te oordeel. Die gelowige is immers ‘n profeet, priester én koning. As konings moet ons oordeel met ‘n regverdige oordeel ooreenkomstig die leer van Christus wat in die Skrif geopenbaar is.
Martin Luther is bekend vir sy gevierde weerlegging van die humanis Erasmus aan die begin van sy Die geknegte wil, waar hy sê dat ‘n belydende Christen moet oordeel (ooreenkomstig Bybelse waardes), so nie openbaar hy dat hy nie ‘n gelowige is nie. “Om nie in verklarings genoeë te hê nie, is nie ‘n kenmerk van die hart van ‘n Christen nie; om hoegenaamd ‘n Christen te wees, moet ‘n mens vreugde vind in verklarings. Sodat ons nie deur woorde mislei word nie, laat my dadelik sê dat ek met ‘verklaar’ bedoel om standvastig by jou standpunt te bly, dit te stel, dit te bely, dit te verdedig en onoorwonne daarmee te volhard . . . Ek praat daarvan om te verklaar wat ons in die Heilige Skrif van bo gegee is . . . Neem dié verklaring weg en jy neem Christendom weg. Die Heilige Gees is immers uit die hemel aan Christene gegee sodat Hy Christus in hulle sal verheerlik tot die dood toe—en wat is dit anders as ‘n verklaring, om te sterf vir wat jy bely en beweer?” Dan vra Luther aan Erasmus (en alle moderne, polities korrekte skeptici) “Wat is hierdie nuwerwetse godsdiens van jou . . . dat jy die bevoegdheid om te die besluite van die mens te oordeel van ons wil wegneem en ons dwing om ons, sonder kritiek daarvan, by menslike beslissings neer te lê? Waar in die geskrewe Woord van God word ons geleer om dit te doen?”
Waar inderdaad!
Die Christen oordeel vanuit sy posisie of amp in die lewe (bv. ouer, regter of ouderling), met behoorlike inagneming van die feite (aan beide kante), met genade (inagnemend versagtende omstandighede), in liefde (vir die Drie-enige God en sy waarheid, en vir sy naaste), in ootmoed (as ‘n dienskneg en nie as ‘n heer nie) en ooreenkomstig die beginsels van die Skrif.
Volgende keer, as die Here wil, sal ons aan die (sondige) oordeel wat ons Here verbied, wat ons nie moet doen nie, aandag gee.
(Vertaal deur Nic Grobler, Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)