Ds. Angus Stewart
Openbaring 4-5 is ‘n visioen van die hemel. In hoofstuk 4 sien ons, eerstens, ‘n troon. Op die troon verskyn God as as jaspis en sardius, twee semi-edelgesteentes (2-3). Oor die troon span ‘n reënboog soos smarag (3). Weerlig, donderslae en stemme gaan van die troon uit. (5). Voor die troon is ‘n see van glas, helder soos kristal (6). Tweedens sien ons voor, in en om die troon vier lewende wesens (6). Hulle lyk, onderskeidelik, soos ‘n leeu, ‘n kalf, een met ‘n gesig soos die van ‘n mens en een soos ‘n arend wat vlieg (7). Hulle het elkeen ses vlerke en is van binne en buite vol oë (8). Derdens sien ons vier-en-twintig ouderlinge rondom die troon, verder weg as die lewende wesens (4). Die ouderlinge, geklee in wit en met goue krone, sit op vier-en-twintig trone (4).
Onthou dat dit ‘n visioen is – Johannes is “in die Gees” na die hemel geneem (2). As ‘n visioen is dit vol geheimnisvolle figure en hemelse beelde, soos die vier lewende wesens en die see van glas. Die toneel gaan alle eenvoudige beskrywing te bowe, veral die die kleure. Hoe kan God, wat onsienlike ongeskape gees is, in fisiese vorm verskyn? Wat beteken dit dat God se kleur soos jaspis en sardius is? Hoe kan ‘n reënboog (met sy sewe kleure) lyk soos smarag (wat groen is)?
Hierdie toneel word vir ons geskilder as een perspektief van hoe die hemel is. Openbaring 21 teken die hemel as ‘n mooi stad met poorte van pêrel en strate van goud. Openbaring 4-5 stel dit voor as ‘n koninklike troonsaal waarin almal die groot Koning aanbid – ‘n majestueuse, ontsagwekkende gesig.
Openbaring 4-5 is ‘n visioen van ‘n troonsaal. Die posisie van alles word met verwysing na God se koninklike troon verduidelik. Die groot Koning het aan die vier-en-twintig ouderlinge hulle (ondergeskikte) trone gegee. Almal aanbid, verheerlik en dank die Een op die troon.
Openbaring 5 lei ‘n nuwe element in: Jehovah hou ‘n verseëlde boek in sy regterhand. ‘n Sterk engel roep met ‘n groot stem: “Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek?” (2) Wat is hierdie boek? Wat beteken die oopmaak daarvan? Wat sê dit vir ons van God se heerskappy in die hemel? Watter troos is daarin vir ons in ons stryd vandag?
Die boek in die hand van God is nie die boek van die lewe van die Lam met die name van hulle wat van ewigheid in Jesus Christus uitverkies is, nie (13:8; 17:8). Dit is tewens die boek van God se raadsplan vir die hele wêreld.
Ons lees dat die boek – waarskynlik ‘n boekrol (vgl. Eseg. 2:9) – “van binne en buite beskrywe” is (Openb. 5:1). Daar is geen ruimte om enigiets meer by te voeg nie. God sal nie ‘n inleiding of ‘n naskrif invoeg, of iets in die middel indruk nie. Waarom nie? Want niks hoef bygevoeg te word nie. God se volle, ryke, alomvattende raad of plan dek alles van die hemelvaart van Christus tot aan die einde van die wêreld. Dit stel elke gebeurtenis in die hemel en op aarde vas en dit sluit die mens en die engele, die skepping, die goddelose en die kerk in. Die laaste boek van die Bybel openbaar die breë lyne van God se raad. Die sewe seëls maak duidelik dat God se ewige raadsplan die voortgang van die evangelie, oorloë, hongersnode, ekonomiese omstandighede en so meer, insluit (Openb. 6). Ons lees ook van die oordele van die sewe basuine en die sewe skale en van die opkoms en vernietiging van die Antichris.
Hierdie boek van God se raad is in ewigheid deur die Drie-enige God “beskrywe” (voltooide tyd). God se raad het voor die grondlegging van die wêreld reeds alles wat sou gebeur, bepaal. Niks kan verander of hoef verander te word nie. God se raad is as’t ware in onuitwisbare ink geskrywe.
Volgens Openbaring 5 is die boek ook “met sewe seëls goed verseël”. Dit is goed verseël, nie met net een nie, maar met sewe seëls. Die seëls moet gebreek en die boek oopgemaak word voordat dit gelees kan word. Die oopmaak en lees van die boek is die uitvoering van God se raadsplan, die uitvoering van alles wat Hy in ewigheid voorgeneem het.
Dan kom die uitdaging om dit oop te maak.’n Sterk engel het met ‘n groot stem uitgeroep, “Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek?” (2). Maar niemand is in staat om dit oop te maak nie. Die duiwel en sy bose engele wou nie en kon nie God se seëls oopmaak nie. Ten spyte van hulle groot mag en wysheid kon die engele in die hemel dit ook nie doen nie. Geen verloste en verheerlikte mens in die hemel was bekwaam om dit te doen nie. Die engel se luide roep is met ‘n doodse stilte begroet, ten spyte van die verhewe vergadering.
Dit maak ‘n ontsettende indruk op Johannes: hy “het baie geween” (4). Dit was nie stille trane nie, maar trane met snikke. Hy huil hoorbaar, met ‘n snikkende liggaam, soos ‘n verskrikte kind. Dit is die geween van iemand wat alles verloor het (vgl. 18:15,19).
Johannes se trane is nie trane van rou of berou nie. Dit is trane van verydelde hoop: Daar is niemand om God se raadsbesluit uit te voer nie! Dink wat dit vir die seëls beteken. Christus sou geen oowinning hê in die prediking van die evangelie nie (6:1-2). Daar sou geen antwoord wees op die gebede van die heiliges nie (9-11). Daar sou nie ‘n finale oordeel oor die bose wees nie (12-17). Dink aan die koninkryk van God en die koninkryk van die mens. Hoe sou die koninkryk van die hemel volmaak word en die kerk vergader word? Wat van die sewe gemeentes in Klein Asië? Wie sou die koninkryk van die dier tot ‘n einde bring?
Maar ‘n ouderling kom na Johannes om te sê hy moet ophou ween, Christus het oorwin: “Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek” (5:5). Omdat geween onnodig is, sê die ouderling aan Johannes, “moenie ween nie.” Die ouderling (verteenwoordigend van die triomferende kerk) is die persoonlike getuienis aan Johannes (lid van die strydende kerk) van die oorwinning van Christus. Van Jesus Christus word hier gepraat as die magtige “Leeu uit die stam van Juda,” want hy is die allesoorwinnende Koning, met reg om oor hemel en aarde te regeer!
(Vertaal deur Nic Grobler,
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)