Ronald Hanko
Ons het uit Galasiërs 3:17-21 gesien dat die wet as deel van die verbond van God gegee is en deel van die verbond bly. Daarmee saam dat die wet en die verbond nie téén mekaar werk nie. Die wet is nie teen die verbond of die verbondsbeloftes nie (v. 21). Ons het ook gesien dat in die verbond die wet in die eerste plek die funksie het om ons ons sonde te leer ken (vv. 19,24). Hiermee sal min mense verskil.
Maar dit is nie die enigste fuksie van die wet as die “boek van die verbond” (Eks. 24:7) nie. Binne die verbond is die wet ook die rigsnoer vir ‘n lewe van dankbare gehoorsaamheid waartoe Christene as die verbondsvolk van God geroep word.
Om dié rede noem die gelowige die wet “‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” (Psalm 119:105; Spr. 6:23). Dit ‘n betroubare rigsnoer op die lewenspad.
Om dieselfde rede word die wet ook genoem “die volmaakte wet van die vryheid” en “die koninklike wet” (Jak. 1:25; Jak. 2:8,12). Dié koninklike wet is nie ‘n nuwe wet nie, maar die tien gebooie, soos ons sien in Jakobus 2:8,11. As koninklike wet van vryheid omskryf en begrens dié wet ons vryheid om te keer dat ons vryheid is losbandigheid ontaard (Gal. 5:13,14).
Reeds al in die Ou Testament het God eers die wet aan die volk gegee nadat Hy hulle reeds verlos en uit slawerny in Egipte uitgelei het (Eks. 20:1,2). Hy het dit nie gedoen om hulle weer in slawerny te lei nie, maar om aan hulle lewe, as sy eie verbondsvolk, perke te stel en hulle lewe te orden sodat hulle Hom des te beter kan dien en hulle dankbaarheid vir so’n groot verlossing aan Hom kan betoon.
Dit is nie vreemd nie. In ‘n vrye land word vryheid deur die reg beskerm. Dit is die reg wat aan die vryheid perke stel sodat die vryheid nie deur elkeen wat doen wat goed is in sy eie oë, vernietig word nie. Wanneer die reg oorboord gegooi word en elkeen doen soos hy goeddink, soos dikwels vandag gebeur, het ‘n mens eindelik nie eens die vryheid om sonder vrees sy huis te verlaat en in die strate te loop nie.
Die wet gee dus aan God se verbondsvolk struktuur en orde in hulle lewe. Dit omskryf hulle verhouding tot Hom sodat Hy deur hulle lewe verheerlik word. Die wet kan dit doen, want dit openbaar die wese en eienskappe van God en wys aan ons waaraan ‘n Godverheerlikende lewe gekenmerk word.
Dit is nie die wet wat die mens in verbondsverhouding met God bring nie. Dit verkry ons van Christus (Gal. 3:24). Dit bly nietemin die boek van die verbond wat openbaar hoe God se verbondsvolk Hom kan behaag en in woord en daad teenoor Hom dankbaar kan wees.
Hiermee word nie ontken dat die gelowige se verhouding tot die wet deur die koms van Christus verander het nie. Gelowiges leef nie meer onder die wet nie, maar onder genade.
Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 177-178.
(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)