Ds. Angus Stewart
Melgisédek is ’n geheimsinnige figuur in die Ou Testament. Hy verskyn in die lewe van Abraham en word dan nie weer genoem tot in een van die Psalms byna 1000 jaar later nie. Moses staan drie verse aan hom af (Genesis 4:18-20) en Dawid net een versie (Psalm 110:4). Dit is net vier verse in al 39 boeke van die Ou Testament.
In die Nuwe Testament word Melgisédek dikwels in die Hebreërboek genoem. Daar is drie verwysings na hom in Hebreërs 5-6 (5:6, 10-11; 6:20). Hebreërs 7 verduidelik die betekenis van Melgisédek in Genesis 14 en Psalm 110 en gee daarmee miskien die mees volledige uiteensetting van twee gedeeltes van die Ou Testament wat in die Nuwe Testament gevind kan word. Sommige wys Hebreërs 7 oor die Melgisédekse priesterskap van Christus aan as die hart van die brief. Ons kan Hebreërs 7 vergelyk met ander hoofstukke in hierdie geïnspireerde brief. Terwyl Hebreërs 5 oor die aard van die priesterskap van Christus gaan en Hebreërs 9 die toepassing van die priesterskap van Christus verduidelik, roem Hebreërs 7 oor die uitnemendheid van die priesterskap van Christus. Hy is nie somaar enige gewone priester nie: Hy is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.
Hebreërs 7 raak kontemporêre sake vir Christene uit die heidendom én vir hulle uit die Jodedom. Eerstens gebruik Rooms Katolisisme die brood en wyn wat Melgisédek na Abraham gebring het (Genesis 14:18) as bewysgrond vir hulle mis, die vernaamste van die werke van hulle eie priesterskap. Tweedens wil Christelike Rekonstruksionisme die Ou-Testamentiese burgerlike wet weer vir hedendaagse volke instel. Derdens leer die premillennialisme die terugkeer van die priesterskap van Aäron en bloedige offers in ’n toekomstige, letterlike duisendjarige regering van Christus op aarde. Nie een van hierdie beskouings word deur Hebreërs 7 oor die Melgisédekse priesterskap van Christus gesteun nie.
Hebreërs 7 help die gelowige ook om die Ou Testament, die grootste van die twee testamente wat God se geskrewe Woord aan ons uitmaak, beter te verstaan. Hierdie hoofstuk openbaar ook aan ons die heerlikheid van die priesterskap van Christus: ’n unieke, onoordraagbare, ewige priesterskap, ’n priesterskap volgens die orde van Melgisédek. Om die heerlike Melgisédekse priesterskap van Christus te verstaan en te glo, dien tot opbou en troos van die kind van God, “omdat die wet niks volkome gemaak het nie; maar aan die ander kant is daar die invoering van ‘n beter hoop waardeur ons tot God nader” (7:19).
Die ongelowige eerste-eeuse Judaïsme het ‘n menigte besware teen Jesus Christus gehad. ‘n Mens sien dit telkens weer in die vier evangelies. Die Jode het die Here (verkeerdelik) gekritiseer omdat Hy met sondaars gemeng het, die Sabbat verbreek het, gelaster het deur te verklaar dat Hy die Seun van God is, ens. Op die bladsye van Mattheüs, Lukas en Johannes lees ons van Christus se stryd met die Fariseërs, Sadduseërs en skrifgeleerdes wat probeer het om Hom te versoek.
Aanvalle op Christus en sy Koninkryk het na sy hemelvaart voortgeduur. Lees maar van die vervolging van die kerk in Handelinge. Die Nuwe Testamentiese briewe praat ook van hierdie stryd. Van die 27 Nuwe Testamentiese boeke is dit in besonder die Hebreërboek wat die teologiese besware van ongelowige Jode teen die Christelike geloof aanspreek.
Die agtergrond van Hebreërs 7 bevat ’n Joodse aanval, spesifiek op Jesus se amp as priester: “Julle Christene sê dat Jesus aan die kruis gesterf het as ’n offer vir sondes en dat vergewing net deur sy gestorte bloed kom, maar ek sien nie dat die Messias van wie in die wet en profete gepraat word ’n priester sou wees nie!”
Die Jode het geargumenteer dat hulle offers gebring is deur priesters wat afstam uit die huis van Aäron en die stam van Levi. Dit was streng ooreenkomstig die Woord van God, van Eksodus tot Deuteronomium en deur al die Skrifte. Hulle priesterskap was grys van antikwiteit en God het dit al vir meer as 1500 jaar bewaar voordat Jesus op die toneel verskyn het. Die Jode het geroem op hulle pragtige tempel waarin God gewoon het, ’n imposante bouwerk van groot bouklip, ’n indrukwekkende binnehof en ’n goddelik aangewese altaar. Die priesters en hoëpriester was geklee in pragtige uitrustings en hulle het by wonderlike feeste en godsdienstige seremonies voorgegaan. Mens kan die lokroep van die ongelowige Jode aan hulle Christen volksgenote hoor: “Keer terug na die ou paaie, die ou paaie van God wat aan julle vaders geopenbaar is! Laat staan hierdie nuwerwetse kultus van Jesus met sy plat en dorre erediens!” Baie het juis dit gedoen en ander as in die versoeking om afvallig te word, onder hulle dié aan wie Hebreërs die eerste geskryf is.
Die Jode het nog ’n argument gehad wat op die woorde van God aan Aäron in Numeri 18:7 gebaseer was: “Maar jy en jou seuns saam met jou moet julle priesteramp waarneem met betrekking tot al die sake van die altaar en van wat binnekant die voorhangsel is, en julle moet daar diens verrig. As ‘n dienswerk wat geskenk word, gee Ek julle die priesteramp; en die onbevoegde wat naby kom, moet gedood word.” “Julle Christene maak nou aanspraak dat Jesus van Dawid afstam; Hy is dus van die stam van Juda (vgl. Hebreërs 17:4) en niemand uit die lyn van Juda kan volgens die wet van God ’n priester wees nie en hy wat dit probeer ‘moet gedood word’ (Numeri 18:7)!
Hoe sou jy hierop reageer? Onthou, 1 Petrus 3:15 sê “wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is,” ook aan ongelowige Jode. In die Christelike geskiedenis, vanaf Justinus die Martelaar se Gesprek met Triphus in die tweede eeu, deur al die eeue in tweeduisend jaar het christene en Jode oor sulke sake gedebatteer. Dit is moeilike werk, want “wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle [die Jode se] hart (2 Korinthiërs 3:15). Maar deur sy genade het die Drie-enige God in die Nuwe Testamentiese tyd ook Jode, soos Alfred Edersheim, bekeer. Jehovah het hulle gebring tot vertroue in die offerande van Jesus Christus, ons priester “vir ewig volgens die orde van Melgisédek” (Psalm 110:4)!
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53)