Ronald Hanko
Wanneer ons in die teologie van die ‘heilsorde’ (Latyn: ordo salutis) praat, bedoel ons die wyse waarop die middele van die heil van die verlossingswerk, deur die Heilige Gees aan God se volk gegee, en in hulle toegepas word. Met ander woorde, die ‘heilsorde’ beskryf die werk van God se Gees in ons.
Die naaste beskrywing wat ons in die Skrif van ‘n heilsorde kry, is in Romeine 8:30, maar dit is nie ‘n heilsorde in streng teologiese sin nie. Daar word, byvoorbeeld, gepraat van uitverkiesing, wat nie deel is van God se werk in ons nie, maar iets wat Hy vir ons gedoen het voor die grondlegging van die wêreld.
‘n Tipiese heilsorde vind ons in die Groter Kategismus van Westminster: vereniging met Christus, die kragdadige roeping, regverdiging, aanneming, heiligmaking en verheerliking. Dikwels word hier wedergeboorte en geloof bygevoeg. In elke geval is die doel van so ‘n orde om die verhouding tussen die verskillende dele van die verlossingswerk in ons te verstaan, wat alles in die Skrif beskryf word.
Wanneer ons van so ‘n orde praat, moet ‘n paar dinge in gedagte gehou word.
Ons moet onthou dat dit slegs ‘n poging is om hierdie Bybelse begrippe te verstaan en dat dit geensins in ‘n meganiese, kronologiese sin verstaan moet word, asof ons eers die een weldaad ontvang, dan die ander en so voort nie. Die feit, uit ons ervaring, is dat baie van hierdie seëninge op dieselfde tydstip ontvang word. Sommige is ook nie ‘n eenmalige geestelike gebeure nie. Heiligmaking, by voorbeeld, duur tot aan die oomblik van die dood van die gelowige. Die toepassing van die verlossingswerk vind nie ineens plaas nie, maar lewenslank, en word dikwels eers voltooi wanneer ons finaal met Christus in die hemel is. Dit word natuurlik ontken deur diegene wat in perfeksionisme en volkome heiligmaking glo; hulle is geneig om die toepassing van die saligheid as ‘n eenmalige ding te sien.
In ‘n gereformeerde heilsorde is daar verskillende dinge wat beklemtoon moet word en wat nie veranderlik is nie. Wedergeboorte en kragdadige roeping moet geloof voorafgaan, anders word geloof die werk van ‘n mens – wat Armeniaans is. Geloof moet regverdiging voorafgaan, om die groot Protestantse waarheid van regverdiging deur geloof alleen gestand te doen. Laastens moet regverdiging heiligmaking voorafgaan, of ons beland by die Roomse leer van heiligmaking deur werke.
Met al hierdie dinge word net gesê dat die een ding wat enige heilsorde moet leer, is dat die toepassing van die heil geheel en al die werk is van God self, deur die soewereine werking van die Heilige Gees. Dit is alles uit genade, “die heil is van die Here” (Jona 2:9).
Vertaal uit Ronald Hanko, Doctrine According to Godliness, 2004 Reformed Free Publishing Association, Grandville MI, USA, pp. 185-186.
Vertaal deur Nic Grobler,
Tensy anders aangedui, is die Afriikaanse vertaling van die Bybel wat by die vertaling gebruik is, dié van 1933/53.