Herman Hanko1
Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het (Romeine 5:12)
Inleiding
ʼn Uiters belangrike Woord van God vir ons, die mensdom, word gevind in hierdie oordeel van die Skrif: sonde deurdring alles, en vermeerder, word steeds erger.
Hierdie oordeel weerspreek die opinie van die onwedergebore mens wat sy eie prestasies trots opskryf; maar dit weerspreek ook wat ʼn groot deel van die kerk vandag, helaas, as sy eie beoordeling van die geskiedenis beskou.
Evolusionisme is ʼn optimistiese kettery wat ons wil verseker dat die pad van evolusionêre ontwikkeling deurgaans opwaarts, na ʼn beter lewe, is. Die lewe mog by geleentheid sy terugslae hê, maar ʼn somber vooruitsig vir die toekoms, sê hulle, ontken die beginsels van hulle teorie. Baie in die kerk voeg hulle stemme by hierdie koor van optimisme. Diegene wat die teorie van algemene genade aanhang, is vol vertroue dat God die sonde in die verworpenes genadiglik beteuel, sodat hulle die goeie voor die aangesig van God kan doen. Die goeie waartoe hulle dan in staat sou wees, maak dit vir die gelowiges moontlik om by die ongelowiges aan te sluit ten einde hierdie wêreld ʼn beter plek te maak om in te lewe. Gesprekke oor die geoorloofdheid van samewerking tussen gelowiges en ongelowiges om die wêreld te verbeter, oplossings vir sosiale probleme te vind en implementeer, kom dikwels voor. Volgens die advokate vir algemene genade is mens ʼn ware Calvinis deur betrokkenheid in hierdie grootse onderneming; hierdie werk sal die koninkryk van God in hierdie wêreld verwerklik.
Postmillennialisme droom dieselfde droom. Deur die toegewyde werk van Calviniste, word vir ons gesê, sal die beginsels van die Skrif, én die Gereformeerde geloof, geleidelik elke sfeer van die samelewing deurdring met die suurdeeg van die Skrif, en sal hemel hier op aarde verwesenlik word wanneer die wêreld onder die heerskappy van Christus gestel sal word. Hy wat hierdie standpunt weerspreek, word aangemerk as ʼn pessimis, ʼn “kamikaze Christen” – soos iemand my genoem het – en as iemand wat só hemelsgerig is dat hy van geen aardse nut is nie.
Teenoor hierdie beskouings staan die Bybelse leer dat die wêreld nie besig is om beter en beter te word nie, maar inderwaarheid besig is om slegter en slegter te word. Daar sal ook nie ʼn verandering in hierdie vinnige agteruitgang in die moraliteit van die wêreld kom nie; soos wat sonde groter word, sal die geskiedenis, inteendeel, uitloop op die een mens van sonde, Antichris. Die Woord van God aan hierdie geslag is daarom nie, “Gaan en los die probleme van die wêreld op,” nie. Dit is die Woord van God in Openbaring 18, die hoofstuk wat die evangelie van die val van Babilon grafies voorstel:
Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou (vs. 4-5).
As die kerk één woord het om vandag vir die wêreld te sê, is dit die woord van Enog uit die ou tyd, wat volgens die Skrif gepredik het:
Kyk, die Here het gekom met sy heilige tien duisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het (Judas 14-15).
Die waarheid van die Skrif is nie dat die sonde afneem nie, maar dat die sonde toeneem. Dit is deurslaggewend in ons Gereformeerde wêreldbeskouing.
Verkeerde redes vir optimisme
Daar is in ons tyd groot optimisme vir die toekoms van ons planeet. Wys mens op die probleme wat ons geslag in die gesig staar, kom die oplossings vinnig na vore. In ʼn wêreld wat deur oorloë uitmekaar geskeur word, is die Verenigde Volke ʼn kragtige instrument vir vrede, met merkwaardige sukses om die vernietiging van nog ʼn wêreldoorlog te voorkom. Die lewe word toenemend gemaklik gemaak deur vooruitgang in die tegnologie, wat die las van fisiese arbeid verlig met ‘n menigte masjinerie wat die werk vir ons doen. Tegnologie het nie net vir ons baie ure van ontspanning gebring nie, maar voorsien ontelbare toestelle en maniere om ons vrye tyd met vermaak en lang vakansies op eksotiese plekke deur te bring. Medisyne het deurgaans gevorder en meer en meer siektes word met die wonders van diagnostiese toerusting en behandeling, waaroor vroeër nie gedroom is nie, genees. Moderne kommunikasie het die wêreld laat krimp tot ʼn hanteerbare grootte. Ruimte-verkenning open nuwe grense vir die wetenskap om oor te steek. Maatskaplike probleme skyn stadigaan opgelos te word wanneer kerke, skole en regerings die taak op hulself neem om rassisme te heel, en welvaart te verdeel sodat armoede kan verdwyn en misdaad aan bande gelê word.
Dit, so word gesê, is prysenswaardige oogmerke. ʼn Ware Christen het ʼn belang by hierdie dinge en word deur die Skrif opgeroep om saam met die nie-Christelike wêreld hierdie doel na te streef. Die teologiese begronding vir samewerking met die wêreld ter bereiking van hierdie oogmerke,lê in die leer van algemene genade en postmillennialisme. Daar is ruimte vir samewerking met die bose. Die moontlikheid dat ware Calviniste met onwedergebore mense kan saamwerk, bestaan, want daar is veel goed daarbuite, en om dit te ignoreer sou dwaas wees. Wat kan per slot van sake verkeerd wees om met organisasies soos Right to Life saam te werk om die euwel van aborsie te bestry? Wat kan verkeerd wees om met anti-pornografie bewegings saam te werk om hierdie vieslike plaag in die wêreld uit te roei? Is dit nie strydig met al wat Christelik is om te weier om by ʼn organisasie met die doel om woonbuurte waar dwelms, misdaad en prostitusie hoogty vier, skoon te maak, aan te sluit nie?
Herinner mens by hierdie optimistiese prentjie van die toekoms aan die probleme van aardverwarming, wegsmeltende gletsers en omgewingsbesoedeling, is die reaksie voor die hand: met julle ywerige samewerking vir wetenskaplike vooruitgang kan ons die probleme die hoof bied en ʼn ramp voorkom.
Dit behoort duidelik te wees dat hier twee vrae op die voorgrond kom: Is die skouspelagtige sukses van die wetenskap en tegnologie bewys daarvan dat die wêreld beter word? Doen die mense wat vir hierdie groot dade verantwoordelik is waarlik goed, die goeie in die oë van God, die goeie wat God wil; en is hulle oogmerke in ooreenstemming met die wil van God en sy plan met die skepping?
Beide vrae kan beantwoord word as ons die Bybelse leer oor die ontwikkeling van die sonde verstaan.
Die waarheid onderliggend aan die ontwikkeling van die sonde
Die konsep van ontwikkeling van die sonde moet begryp word teen die agtergrond van die waarheid van algehele verdorwenheid en die soewereiniteit van God.
Ons moet eerstens die saak van algehele verdorwenheid besien.
Die leerstuk van algehele verdorwenheid word in die Skrif geleer; dat die natuurlike mens, sonder genade, so boos is as wat kan wees. Hy het vanuit ʼn morele en etiese gesigspunt geen verskoning nie. Hy kan nie méér immoreel wees as wat hy is nie. Geen poging van mense om dié leer te wysig, kan die suiwer en onmiskenbare taal van die Skrif verander nie.
Algehele verdorwenheid beteken twee dinge. Aan die een kant is die natuurlike mens nie in staat om enigiets wat God behaag of in sy oë goed is, te doen nie. Elke gedagte, woord en daad, elke beweging, van binne of na buite, is voor God ergerlik en waardig van vloek. Aan die ander kant is die mens deurgaans teen God in opstand, korrumpeer hy Sy waarheid, poog hy om Sy heerskappy omvêr te werp en bespot hy al Sy gebooie.
Algehele verdorwenheid beteken dat alles wat die mens doen boos is, omdat sy hele natuur (liggaam en siel) korrup en bedorwe is. Vanuit ʼn morele en etiese beskouing is dit nie moontlik om in die mens enigiets goed te vind nie. Die ontwikkeling van sonde beteken nie dat die mens in vroeëre tye nie so sleg was as nou nie, maar dat met die verloop van jare sy morele karakter steeds agteruitgaan. Sedert sy sondeval in die Paradys, was die mens totaal verdorwe en sal voortgaan om so te wees tot aan die einde van die tyd.
Die tweede saak is God se absolute soewereiniteit oor alles wat in sy skepping plaasvind, ook oor die sonde van die mens. Hy beheer in sy voorsienigheid die ontwikkeling van die sonde en stuur dit volgens Sy wil en na Sy eie doel.
Die soewereine beheer van God oor die sonde beteken dat God die sonde in die lewe van die bose beteuel. Die Skrif leer die beteueling van die sonde sonder twyfel. Ewewel leer die Skrif nie ʼn beteueling van sonde as ʼn liefdevolle houding van God teenoor die verworpenes nie; ook nie die skenking van God se genade deur die werking van die Gees in die harte van die bose, om dáármee die sonde te beteuel nie. In sy voorsienigheid beteuel God die sonde op verskeie maniere. Hy beteuel die sonde van mense deur die tyd in die geskiedenis waarin hulle gebore word, en die omstandighede van hulle geboorte, te bepaal. Hy beteuel armes sodat hulle nie sonde teen die rykes begaan nie. Hy beteuel die burger om nie die sonde van die owerheid te begaan nie. Hy beteuel hulle wat vóór Christus gebore is om nie die sonde van ons moderne tyd te begaan nie. Noag kon nie met ʼn TV-stel, ʼn radio of ʼn motorkar sondig nie; en Konstantyn die Grote kon nie met missiele en atoomwapens sondig nie.
Nasies word ook in hulle sonde-uiting deur die voorsienigheid van God beheer. Hitler en Duitsland het anders gesondig as die Britse Eilande. China sondig anders as Australië. By die een word die sonde meer beteuel as by die ander. En God is soewerein oor alles.
Wanneer ons daarom van ontwikkeling van sonde praat, praat ons nie van grade van verdorwenheid nie. Ons praat ook nie van verskille in lewensomstandighede, wat die een meer toelaat om te sondig as die ander nie. Ons praat van die manifestasie van ’n sondige natuur in die lewe van individue, nasies, rasse; van die mensdom. Dit is die sonde self wat vermeerder.
Die organiese ontwikkeling van die sonde
Ons opskrif is ‘Die organiese ontwikkeling van die sonde.’ Wat word in hierdie verband met ‘organies’ bedoel?
Die betekenis van hierdie term is dat al die verskynsels waarin die sonde in die menslike geslag voorkom, uit een één wortel groei. Dié wortel is natuurlik die eerste sonde, dié van Adam en Eva in die Tuin van Eden.
Daar is verskillende maniere waarop dié sonde beskryf word, afhangend van die oogpunt waaruit daardie sonde beskou word. Dit was, byvoorbeeld, die sonde om die duiwel te gehoorsaam eerder as vir God. Dit was die sonde van hoogmoed waarin Adam homself wyser geag het as God, toe hy moes besluit van welke boom hy sou eet. Dit was die mens se begeerte om self te bepaal wat reg is en wat verkeerd. In dié opsig was sy gehoorsaamheid aan die leuen van Satan ʼn strewe om soos God te wees. Dit was by uitstek die sonde van hebsug wat die verbode vrug so begeerlik gemaak het. (1 Johannes 2:16 beskryf sonde as “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe.”)
Wesenlik was die sonde in Adam egter ʼn bewuste en opsetlike keuse om nie meer die verteenwoordiger van God en van die heerlikheid van God se Naam, in die skepping van God te wees nie, maar om Satan en die oogmerke van Satan in die wêreld te verteenwoordig. Met sy versoeking van Adam was dit die oogmerk van Satan om die skepping sy eie koninkryk te maak, waarin hy as die soewerein sou heers. Welwetend dat dit so is, besluit Adam om by die geledere van die leërskare van die hel aan te sluit om hulle hul doel te laat bereik.
Alle sonde wat in die menslike geslag voorkom, ontwikkel uit, of, beter gesê, is die groei vanuit daardie één ‘wortel’ – die sonde van Adam. Ons moet hiervan bewus wees en dit besef. As ons aan die volkome verdorwenheid van die mens glo, dan glo ons ook dat elke daad van die mens, hoe groots dit ook al vir ons mag voorkom en hoeveel dit ook al vir die mensdom mag beteken, daarop gemik is om die saak van Satan te bevorder en om hierdie skepping die koninkryk van die duiwel te maak. Die mens sal Satan bystaan om God uit sy eie wêreld te weer, en God se skepping aan die sonde diensbaar te stel.
Hoe die sonde ontwikkel
Dit is ʼn belangrike deel van die ontwikkeling van die sonde in die geskiedenis van die wêreld dat dié ontwikkeling altyd in verband met die “kultuur opdrag” plaasvind. Die sogenaamde kultuur opdrag word gevind in Genesis 1:28:
En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.
Algemeen gesproke het die kultuur opdrag beteken dat Adam en Eva die aarde moes vul met hulle nageslag, en daaroor heers. Hulle moes dit só doen dat al die skatte en kragte wat God in die aarde gegee het, gebruik moes word vir die mens om van te geniet en tot verheerliking van God. Anders gestel, hulle moes dit gebruik tot eer en verheerliking van God en só doende die wonders van God se wêreld geniet.
Die val van die mens het ʼn ingrypende effek op die uitvoering van die kultuur opdrag gehad. Die roeping het dieselfde gebly as dié wat Adam en Eva ontvang het, maar die uitvoering van die opdrag van God in ʼn sonde vervloekte wêreld was baie moeiliker; die mens het die kultuur opdrag verwring sodat die skepping van God en al die kragte daarvan in diens van Satan en die sonde gebring is.
Deur die loop van die geskiedenis van die wêreld het die mens naarstig gewerk om die skatte van die skepping en die kragte wat God daarin gegee het, te ontdek. Skatte van yster, aluminium, robyne, diamante, silwer, goud en vele ander word uit die aarde gemyn. Die kragte van wind en water, hitte en koue, elektrisiteit en die atoom is ontdek en ingespan om aan die mens dienstig te wees.
Maar die sondige mens beskou nie die skepping as die wêreld van God, wat aan die mens gegee is om Hom mee te verheerlik nie. Die mens eis dit nou as sy eie op en sweer saam om die evolusieteorie te ontwikkel as ʼn bewys dat die wêreld sý besitting is. So gebruik hy nou alles wat hy ontdek en ontwikkel het, in sý diens en in diens van die sonde. Hoewel nie altyd bewustelik nie, is die mens wesenlik deurgaans besig om te werk aan die vestiging van die koninkryk van Satan. Die oogmerk is om hier in die wêreld ʼn koninkryk te stig waaroor Satan alleen heers, en die mens kan doen wat hy lus het, sonder om die gevolge van sy sonde te verduur. Iedere ontdekking van nog ʼn krag in die skepping, en elke wetenskaplike en industriële ontwikkeling kom onder die heerskappy van die mens om gebruik te word soos wat hy, mens, goeddink.
Die strewe om die skepping sy eie te maak, kom ook na vore in die mens se ywer om hospitale, weeshuise, ouetehuise en skuilings vir huisloses te bou; hieruit blyk die mens se desperate pogings om sosiale euwels op te los en die siektes wat die mens na die graf sleep uit die weg te ruim. Hy wil ʼn koninkryk hê waarin al die gevolge van die vloek uitgewis is, al die boosheid van die wêreld verdryf is – ʼn koninkryk waarin hy na hartelus kan sondig en steeds die lewe ten volle kan geniet.
Soos wat nuwe kragte in die skepping ontdek en nuwe toepassings daarvan uitgevind word, vind die mens nuwe maniere wat die bedorwenheid van sy hart tot uiting laat kom. Terwyl die vrees vir swangerskap, byvoorbeeld, vroeër as afskrikmiddel teen ontug gedien het, laat geredelike en wettige beskikbaarheid van “veilige” aborsie die mens nou toe om hom aan al die wellus van sy sondige vlees oor te gee sonder om, so dínk hy, die gevolge daarvan te dra. Ja, daar is seksueel oordraagbare siektes, maar die moderne medisyne het die kuur, of maniere om dit te voorkom, uitgevind. Immoraliteit het die gemeenskap sodanig deurdring dat huwelike vernietig word, huisgesinne geruïneer word en kinders onbeskryflike skade ly. Maar selfs vir hierdie dinge word voorsiening gemaak: vrye toegang tot egskeiding en hertroue, versorging vir kinders, staats voorsiening vir weggooi kinders, maatskaplike sorg vir die behoeftiges – alles ter wille daarvan om die weg te baan vir ongebreidelde sonde.
Terwyl openlike uiting van sonde beperk was omdat daar nie (moderne) uitvindings tot beskikking van die mens was nie, het televisie, radio, die internet, selfone en alle vorme van wêreldwye kommunikasie nou die deur geopen vir sondes wat selfs in my jeug ondenkbaar was.
Word die wêreld beter? Neem misdaad af? Is die probleem van oorloë opgelos? Is die familielewe bestendig? Word sosiale euwels suksesvol aangespreek? Het die mens sy naaste nou meer lief as honderd jaar gelede? Die tallose drome van werkers vir ʼn koninkryk van Christus hier in die wêreld verdamp soos mis voor die son van die werklikheid van die aardse lewe. Net ʼn mens wat met toe oë deur die lewe verby begraafplase, hospitale, sielsieke inrigtings en die korrupsie op elke vlak van die samelewing loop, sal sê, “Dit gaan elke dag beter en beter, Utopia is net om die draai.” Die kultuur opdrag word uitgevoer, maar met elke vooruitgang in die uitvoering daarvan, kom ons nog ʼn stap nader aan morele chaos.
Ek is van oordeel dat die koninkryk van Antichris daarin sal slaag om die euwels en die sonde van die wêreld só te verbloem, dat Satan, deels met waarheid, daarop sal kan aanspraak maak dat hy daarin geslaag het (waar Christus sogenaamd sou gefaal het) om hemel hier op aarde te stig. In dié koninkryk sal al die kragte van God in die skepping ontdek, en alle toepassings daarvan uitgevind en ten volle toegepas wees – daar sal vir wetenskap niks meer wees om te doen nie. Die wêreld sal alles bereik het. Maar dan sal die beker van onreg ook vol wees, en ryp vir die oordeel.
Die laaste sonde van die mens sal die vervolging van gelowiges wees. Deur die geskiedenis het die bose die kerk vervolg, maar is beperk deur hulle preokkupasie met uitvindsels en die oplossing van maatskaplike probleme. Maar wanneer die koninkryk van Antichris werklikheid word en die bose oortuig is dat hulle oogmerke ten volle verwesenlik is, kan hulle volledig aandag gee aan die kerk. As hulle van hierdie wêreld die koninkryk van Satan wil maak, moet hulle die getuienis wat deur gelowiges uitgedra word, uitwis. Daarom moet hulle die kerk vernietig, sodat die getuienis van die kerk kan stil word.
Dit is die uiteindelike sonde, dié grootste van almal. Die kerk is die bruid van Christus, sy geliefde, hulle vir wie Hy sy bloed gestort het, wie se verlossing die enigste doel van sy soewereine regering oor die geskiedenis is. Sal Hy, wanneer die bose sy bruid beledig, misbruik en mishandel, afgetrokke bly staan? Sy toorn oor die bose sal met sy mees verskriklike oordele oor hulle wat die beker van ongeregtigheid gevul het, ontvlam. Die bose het nou op elke moontlike manier aan hulle bedorwe natuur uiting gegee en daar bly niks meer as om hulle ter verdelg nie.
Ander dinge waarmee die beker van ongeregtigheid vol word
Daar is nog ander maniere waarop hierdie beker van ongeregtigheid gevul word. God is soewerein en bestuur ook die ontwikkeling van die sonde.
Ons moet onthou dat die evangelie deurgaans in die geskiedenis gepreek is; en hoewel die ware kerk deur die valse kerk verlei word, verkondig die ware kerk steeds helder en duidelik dat die bose wêreld nie in beheer van die skepping is nie, maar dat die skepping God s’n is, dat dit tot die eer van God gebruik moet word, en dat Christus kom om die skepping van God te red uit die houvas van die bose, deur hulle en hulle bose planne te vernietig.
Maar die bose verag dié evangelie en verwerp dit in hulle grootheidswaan. Die evangelie is ewewel ʼn krag ter verlossing én ter verharding. Soos die verhardende krag van die evangelie werk, só neem die boosheid van die mens toe; sy haat vir die evangelie en al wat aan Christus behoort, groei meer en meer. Ons weet hoedat die getuienis van die waarheid aan ʼn mens wat die waarheid verwerp, sy verharding laat toeneem in dieselfde mate as ons voortdurende getuienis, totdat sy ergernis geen perke meer ken nie. Ook dié verharding is organiese ontwikkeling van die sonde.
Hierbenewens is dit uit Romeine 1:18-32 duidelik dat God die sonde met nog méér sonde straf. Afgodery is volgens Romeine 1, ʼn sonde wat deur God met homoseksualiteit gestraf word (vs. 26, 27). God gee hulle oor aan hierdie skandelike sonde, as straf vir hulle ongehoorsaamheid. Gebruik van dwelms, drankmisbruik, voortdurende ontug en nog meer, lei na groter sonde, wanneer God die sondaar aan sy sonde oorgee.
Ons lees in verband met die bou van die toring van Babel:
Toe daal die HERE neer om die stad en die toring te besien waaraan die mensekinders gebou het. En die HERE sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie (Genesis 11:5-6)
Die taalverwarring was God se beteueling van die sonde. Sy wil was om die voortydige totstandkoming van die Antichristelike koninkryk te verhoed, want “nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees” nie. Maar wanneer die koninkryk op sy tyd uiteindelik wel gevestig word, sal daar vir die bose mens niks meer onmoontlik wees nie. Sonde vloei uit ʼn verdorwe bron soos riool uit ʼn toilet. Sonde bereik sy afskuwelike hoogtepunt.
God se doel met die groei van die sonde
Ek het moeite gedoen om te beklemtoon dat God soewerein is en alles na sy welbehae doen. Hy is soewerein, en het hierdie groei van die sonde bepaal. Wat is sy doel hiermee?
In die voortgang van die afskuwelikheid en intensiteit van die sonde kom die boosheid van die sondige hart van die mens tot uiting. Die mens sal ʼn kleed van vroomheid oor hom gooi en godsdienstigheid voordoen, vernaamlik in die valse kerk. Die wêreld word sogenaamd godsdienstig; en as bewys van die godsdienstigheid toon hulle besorgdheid oor die swakkes, die vertraptes, die armes en die verslaenes. Hulle toon meegevoel vir die lydendes en begrip vir die treurendes. Dit is egter alles bedoel om hulle eie bose oogmerke te bereik en die totstandkoming van ʼn broederskap onder die mense in die wêreld tot stand te bring.
Maar God ruk die masker van hulle geveinsde vroomheid af en vertoon hoe boos die verdorwe natuur van die mens in werklikheid is. Terwyl sonde ontwikkel, word die mens oorgegee aan steeds groter sonde, totdat hy in sy uittarting van God en alles wat aan die koninkryk van Christus behoort, op geen erger manier kan sondig nie. Hy het nou getoon hoe boos hy in werklikheid is.
God wil dat dit gebeur, sodat sy geregtigheid, met die komende oordeel en die vernietiging van die bose en al hulle werke, openbaar sal word. Die oordeel aan die einde is die teodisee – die geregtigheid van God in alles wat Hy doen. Die hel is ʼn verskriklike plek: ewige verbanning uit die teenwoordigheid van God, ewige smart. Maar niemand sal kan sê dat die straf te swaar is, buite verhouding tot die oortreding is, en dat God onregverdig in die vernietiging van die bose is nie. Selfs die goddelose sal self beken dat hulle verdien wat hulle kry, en elke knie sal buig en bely dat Jesus Christus die Regverdige, die Here is (Filippense 2:10-11).
Maar Sion word deur die oordeel geregverdig (Jesaja 1:27). Deur die oordele oor die bose, word hulle wat aan die verbond van God getrou is, verlos van die boosheid van ʼn verdorwe wêreld. Hulle sal die grootheid van die genade van die almagtige God wat aan hulle bewys is, sien, met verwondering oor die kruis van Christus wat hulle van die afgryse van hierdie oordeel gered het. Hulle sal hulle in Christus verheug en hulle God loof, wat in sy genade aan hulle die nuwe skepping geskenk het waarin die aarde vol van die heerlikheid van God sal wees, van see tot see (Jesaja 11:9; Habakuk 2:14).
Wat is die Woord van God aan hierdie geslag?
Aan die bose is die Woord van God:
Kyk, die Here het gekom met sy heilige tien duisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het (Judas 14-15).
Maar aan hulle wat in Christus glo, is die Woord van God, “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4).
(Vertaal deur Nic Grobler, Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)
Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.