Menu Close

Die afskaffing van Waarheid

David J. Engelsma1

Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid?” (Johannes 18:38)

Inleiding

By die verhoor van Jesus deur Pontius Pilatus het daar ’n betekenisvolle gesprek tussen die Messias van God en die verteenwoordiger van die Romeinse wêreldmag plaasgevind. Die gesprek het gegaan oor waarheid. In antwoord op Pilatus se vraag of Hy ’n koning is, het Jesus gesê dat die doel van sy koms in die wêreld was om vir “die waarheid” te getuig en dat elkeen wat uit die waarheid is, die stem van Jesus hoor. Hierop vra Pilatus, “Wat is waarheid?” (Johannes 18:37-38).

Johannes Calvyn het gereken dat die vraag van Pilatus ’n uitdrukking was van minagting en spot.2

Pilatus was gewis nie opreg besig met ’n soeke na die waarheid nie. Sy vraag was honds. Dit het uitdrukking gegee aan die oortuiging van die geleerde, gesofistikeerde Romeinse en Griekse beskawings dat daar nieiets soos waarheid is nie. Om dié rede was Pilatus se vraag terselfdertyd wanhopig. Twyfel aan die waarheid bring wanhoop – nie net van die waarheid weet nie, maar ook van die lewe.

Daarom is die aanspraak van Jesus dat Hy die waarheid ken, en die toegewydheid van sy lewe en werk – en nou ook sy dood – aan die waarheid, vir Pilatus belaglik.

Die sinisme van Pilatus oor die bestaan van waarheid en die moontlikheid van kennis van die waarheid gaan dadelik oor in bose optrede. Welwetend dat Jesus onskuldig is, veroordeel hy hom ewewel tot die dood. As waarheid nie bestaan nie, as daar nie iets soos waarheid is nie, dan is daar nie ’n objektiewe maatstaf vir geregtigheid en ongeregtigheid, vir reg en verkeerd, waaraan ’n regter in sy regsbesluit gebonde is nie. As dit lyk of dit vir die samelewing goed is – die Joodse samelewing onder ’n Romeinse regering en, uiteindelik die Romeinse Keiserryk – óf as dit goed lyk vir Pilatus se eie posisie, dan kan ’n regter ’n onskuldige man tot die dood veroordeel.

In ’n geregshof berus geregtigheid op waarheid.

Daardie gesprek tussen Jesus en Pilatus illustreer die konflik tussen die ware kerk en die goddelose Westerse volke en samelewings aan die begin van die een-en-twintigste eeu.

Die ware kerk bely die waarheid. Waarheid bestaan as ’n objektiewe werklikheid. Die kerk ken die waarheid. Dié een, groot oogmerk van die kerk is om van die waarheid te getuig. Om van die waarheid te getuig, hou in om alles wat die waarheid teëgaan, oop te vlek en te veroordeel as valsheid en leuens; en om almal wat dié getuienis verwerp, te veroordeel as synde van die leuen.

Pilatus se siniese vraag vind weerklank in Westerse volke: in hulle politici, opvoeders, skrywers, juriste, film- en televisieregisseurs, nuusredakteurs en gemeenskappe in die algemeen. Die Westerse samelewing is ewewel vermetel genoeg om die vraag van Pilatus as ’n implisiete positiewe stelling te verwoord: Waarheid bestaan nie. Westerse volke van die een-en-twintigste eeu verwerp nie alleen die waarheid nie; hulle skaf waarheid af.

Dit is een ding – ’n sonde – om God, wat jy erken, moedswillig teë te gaan. Dit is iets anders – ’n ontwikkeling van sonde3 – om te verkondig dat God nie bestaan nie en dat die hele gedagte van godheid ’n dwase, of kwaadwillige, versinsel van priesters en geestelikes was.

Die afskaffing van die waarheid in die Weste is ʼn definitiewe, kragtige en deurdringende krag. Die beweging het prominente, invloedryke voorstanders op alle gebiede van die samelewing, ook in die kerke. Hierdie beweging staan bekend as “postmodernisme.”

Postmodernisme kan by geen ondersoek van kontemporêre ontwikkelings, en in besonder so ʼn ondersoek in die lig van die Skrif, buite rekening gelaat word nie. Sommige het nie van postmodernisme gehoor nie. Almal sien ewewel die uitwerking daarvan en almal voel die uitwerking daarvan. Hierdie uitwerking dring die kerke binne; en nie alleen die “emergent church”, wat met die skepping van hulle eie teologie en liturgie aan die hand van wat húlle goed dink, hulleself getoon het as die kerklike kroos van postmodernisme nie. Waar ook al predikante, teoloë en kerklidmate pleit vir verdraagsaamheid en respek vir dwalings, sy dit dwaling in leer of gedrag, dáár heers die gees van postmodernisme, en nie die Gees van Christus nie.

Gereformeerde Christene wat dink dat ʼn behandeling van postmodernisme filosofies, bo hulle vuurmaakplek, en ver verwyderd is van hulle daaglikse lewe en dié van hulle kinders, maak ʼn fout. Ek wil in hierdie hoofstuk aantoon hoedat die ontwikkeling van die euwel wat postmodernisme genoem word, die Bybelse profesie vervul oor die toenemende geestelike stryd van Satan teen Jesus Christus en sy kerk in die laaste dae. Weerstand teen postmodernisme is ʼn belangrike aspek van die stryd van die kerk en haar lede teen die koninkryk van die leuen aan die einde van die eeue.

Ten einde postmodernisme te kan teenstaan, moet Christene weet wat dié euwel is. Ek wil lesers van hierdie boek aanspoor om my beskrywing van postmodernisme ernstig op te neem. Ek gaan aan postmodernisme eienskappe toeskryf wat vir baie mense as pure absurditeit mag voorkom; as in stryd, nie net met die Bybel nie, maar ook met gesonde verstand.

Die leer van postmodernisme is inderdaad absurd. Dit kom daarop neer dat daar geen werklikheid, geen waarheid, bestaan nie. Postmodernisme is die afskaffing van die waarheid. Hierdie leerstellings is die noodwendige gevolg van die leer dat God nie bestaan nie – die toppunt van absurditeit. Die dwaas sê in sy hart, en in sy geskrifte, “Daar is geen Waarheid nie.”

Die postmoderniste is ewewel doodernstig met hierdie leerstellings. Satan het hulle verblind sodat hulle hierdie dinge glo, daarvolgens lewe en met aggressiwiteit verkondig, sodat die hele mensdom dit moet glo en daarvolgens lewe. Dit is hulle doel en oogmerk. Hulle sal dit bereik. Die hele wêreld sal hom wy aan die afskaffing van die waarheid. Dit is toenemend reeds die geval. Die uitsonderings sal wees die relatiewe minderheid wat God ken, en deur Hom geken word.

Oor die Amerika van die een-en-twintigste eeu het ʼn gematigde kritikus van postmodernisme onlangs geskryf dat dit vinnig besig is om ʼn postmoderne plek te word.4

Wat die Postmodernisme is

Postmodernisme is ʼn wêreldbeskouing. Dit is ʼn manier waarop die heelal, die hele geskiedenis en ʼn mens se eie lewe beskou word. Dit is ʼn ander “groter prentjie,” ʼn omvattende beskouing van alles, net soos die Christendom. Dit is van plan om almal tot hierdie allesomvattende beskouing te bekeer, sodat almal dit glo en daar ooreenkomstig lewe.

Postmodernisme is ʼn onlangse wêreldbeskouing. Dit dateer uit die 1970’s. Dit spruit nietemin uit, en is ʼn ontwikkeling van, die modernisme wat Westerse volke van ongeveer 1700 AD tot 1900 AD oorheers het.

Modernisme

Die modernisme het geleer dat God nie bestaan nie of, sou Hy wel bestaan, het Hy niks met die wêreld, die geskiedenis of met die menslike lewe te doen nie (Deïsme). Dit is nie nodig om God by die menslike denke in ag te neem nie. Grondliggend aan hierdie ontkenning van God was kritiek op die Bybel as ʼn bloot menslike boek.

Modernisme het geleer dat die materiële wêreld die enigste werklikheid is en dat die mens die wêreld met sy rede kan ken. Met sy rede – dit is sy behoorlik funksionerende verstand – kan die mens die geheime van die natuur, wat homself insluit, ontdek en wetenskap skep. Wetenskap sou die redder van die mensdom wees. Almal sal gelukkig en gesond wees.

Vryheid en individualiteit was fundamenteel aan modernisme. Modernisme sou elke individu outonoom, vry maak – vry van onkunde; vry van alle aardse gesag, priesters en predikante, maar ook vry van konings en edelmanne; en, in besonder, vry van die God van die Christendom.

Die modernisme het skerp na vore gekom in die Franse Revolusie van 1789. Die leuse van die revolusie was “vryheid, gelykheid en broederskap.” Die dryfveer van die revolusie was ewewel die oorlogskreet, “Geen God, geen meester.” Die oproermakers het die godin Rede in die Notre Dame Katedraal gekroon, en, dit is betekenisvol, op die kerkbanke gehoereer.

Die Amerikaanse Revolusie was, hoewel nie só radikaal nie (al het Thomas Jefferson vryelik toegegee dat die boom van vryheid herhaaldelik deur mensebloed – baie mensebloed – natgelei moet word), ook modernisties. Dit was gewy aan lewe, vryheid en die najaag van geluk vir elke individu, deur blote rede alleen. Die god van die Onafhanklikheidsverklaring (Declaration of Independence) was nie die lewende God van die Christelike geloof nie, maar die afsydige en irrelevante godheid van Deïsme.

Die evolusieteorie van Charles Darwin was ʼn groot hupstoot vir modernisme, want dit het die mens sonder skepping deur God verklaar; die mens die doel en kroon van evolusie, en dus van die heelal, gemaak; en die bestaan en geskiedenis van die wêreld sonder die Skepper verklaar. Kennis van die wêreld, óók van die mens, is deur die menslike verstand. Openbaring is oorbodig.

Modernisme verby

Postmodernisme ontwikkel die basiese denkbeelde van modernisme tot hulle onvermydelike slotsom, maar op so ʼn manier dat dit betekenisvol van modernisme verskil. So word postmodernisme ʼn selfstandige wêreldbeskouing.

Postmodernisme is die wêreldbeskouing ná (post) modernisme, maar ook modernisme verby. ʼn Sekulêre kritikus van postmodernisme het die verhouding tussen modernisme en postmodernisme só beskryf:

Die gedrogte van modernisme het ontwikkel tot die gedrogte van postmodernisme – relativisme in nihilisme, amoraliteit in immoraliteit, irrasionaliteit in waansin, seksuele afwykings in polimorfe perversiteit (i. e. veelsoortige seksuele perversiteit ).5

Die man wat die woord “postmodernisme” deel van die filosofiese en literêre gesprek gemaak het, was die Fransman Jean-François Lyotard, wat postmodernisme soos volg definieer: “Ek definieer postmodern as twyfel aan meta-relase.”6 Dit is die moeite werd om die woord “meta-relaas”, hoewel dit geleerde kliektaal is en dalk die gemiddelde leser afskrik, te leer ken. ʼn Relaas is ʼn storie. “Meta” beteken “bokant” of “bo-oor.” ʼn Meta-relaas is dan ʼn storie wat daarop aanspraak maak om bó alles te staan en aan alles betekenis te gee en te verklaar.

Aan welke “storie” dink mens onwillekeurig? Die Christelike storie! Die storie van die Bybel wat absoluut alles verklaar: die heelal, die begin daarvan én die einde; die menslike geslag en sy geskiedenis; die opkoms en val van volke én die val van ʼn mossie; die lewe en gedrag van elke mens – alles is afhanklik van die drie-enige, één, ware God, en alles vind sy doel in die heerlikheid van God in Jesus Christus en sy uitverkore, verloste kerk.

Daar was ander stories wat aanspraak gemaak het op die verklaring van alles. Marxistiese kommunisme was een; modernisme was ʼn ander.

Volgens postmodernisme is al sulke “meta” stories niks anders nie as stories – mensgemaakte fiksie. Die postmodernis glo nie een van hulle nie. Nie een is waar nie.Dit impliseer dat alles, enigiets, ook mens se eie lewe, geen betekenis het nie.

ʼn Goeie kritikus het postmodernisme só beskryf:

Postmoderniste glo dat die waarheid geskep, en nie ontdek word nie. Hulle dink dat dinge soos die rede, rasionaliteit en vertroue in die wetenskap, kulturele vooroordele is. Hulle oordeel dat diesulkes wat op die rede vertrou – en dinge soos wetenskap, Westerse onderrig, en regerings-strukture wat op die rede geskoei is – onwetend besig is om vanuit hulle Europese kulturele kondisionering te leef. Hierdie kondisionering streef om mag in die hande van die sosiale elite te hou.7

Ek beskryf postmodernisme só: die leer dat daar geen absolute waarheid of werklikheid is nie, omdat God – die God van die Christelike geloof – nie bestaan nie en dat die Mens (hoofletter M!) daarom die uitnemend hoë eer het om die werklikheid en waarheid vir Hom/Haar/Dit self te skep.

Eerstens wil ek die leser vra om hierdie beskrywing ernstig op te neem; in besonder die deel oor die mens wat werklikheid skep. Moet dit nie as ’n grap of malligheid afmaak nie. Die verkondigers van hierdie anti-evangelie is ernstig. Hulle is aktief en aggressief besig om ʼn beweging te skep wat die Christelike kerk gaan vergruis (letterlik) en Christene uit God se wêreld gaan verdryf.

Tweedens is postmodernisme, soos elke vorm van die leuen van Satan, in homself teenstrydig en selfweerleggend. Postmodernisme hou vol met die absolute waarheid wat ontken dat daar absolute waarheid bestaan.

Derdens, kliektaal agterweë gelaat, is die boodskap van postmodernisme dit: die Mens is God! Want wie ook al waarheid en werklikheid skep, is God en moet God wees. Wat ’n vermetele, verblindende vergoddeliking van die mens is postmodernisme nie! Die mens skep waarheid; die mens skep werklikheid!

Fundamentele aspekte

Kom ons analiseer postmodernisme en kyk hoe dit werk. Die eerste fundamentele stelling van postmodernisme is dat die Christelike God nie bestaan nie; Hy is nie werklikheid nie. Die hele boodskap van verlossing in Jesus Christus wat in die Bybel geopenbaar word, is ’n fantasie, ’n fiktiewe storie – ’n vals, misleidende en gevaarlike meta-relaas. God en die evangelie is produkte van ambisieuse mense – profete, apostels en teoloë – wat begeer het om mag oor andere te verkry.

Dit is nie alleen die Christelike God wat nie bestaan nie, maargeen god bestaan nie, of dit nou Baäl, Allah, of die bonatuurlike geeste is wat die heidene vrees. Alle beweerde heilige openbarings geskrifte en inderdaad alle geskrifte, van welke aard ook al, wat voorgee om die waarheid in die geskiedenis te vind, is meta-relase waarteenoor ’n mens skepties moet staan. Hulle kan nie, en mag nie geglo word nie.

Richard Dawkins is ’n goeie postmodernis wanneer hy skryf,

Ek val nie ’n besondere verskyningsvorm van God of gode aan nie. Ek val God, alle gode, enige en al die bonatuurlike, waar en wanneer dit ook al uitgevind is of sal word, aan.8

Wat postmodernisme nog nie openlik verklaar nie is dat dit die troon van Godheid ontruim ten einde die Mens daarop te plaas.

’n Tweede fundamentele stelling van postmodernisme is dat geen objektiewe waarheid of werklikheid, “daar buite,” of op enige plek, of enigsins, of hoegenaamd, bestaan nie.

Dat daar geen waarheid of werklikheid is nie beteken, eerstens, dat ons nie die waarheid oor enigiets kan ken nie. Ons kan nie die waarheid oor die heelal en die werking daarvan; oor die geskiedenis; oor die maatskaplike lewe, soos huwelik en gesin; oor die regte manier om as mens te lewe; oor onsself, ken nie. Daar is geen grondslag vir enige ware kennis van enigiets nie. Postmodernisme is daarom ook as anti-fundamentalisme bekend.

Terloops, die heerlike resultaat van die verwerping van die inspirasie van die Heilige Skrif is totale onkunde. (Ek sê “heerlike,” want die postmoderne mens verlustig hom in hierdie onkunde asof dit een of ander groot prestasie is.)

Nog ’n aspek van postmodernisme se ontkenning van objektiewe waarheid is die pessimistiese beskouing van taal. Taal word in kennis en verklaring van alle dinge gebruik; maar taal het nie die vermoë om enigiets waarlik te beskryf nie. Alle taal is misleidend. Alle taal, in verband met enigiets, is ’n blote poging van die spreker of die skrywer om mag oor ander te verkry. In hierdie opsig verskil postmodernisme van modernisme, wat vertroue in die rede en groot vertroue in wetenskapstaal gehad het om die wêreld én die mens te verklaar.

Die postmodernis se wanhoop oor taal is, terloops, die oordeel van God oor denkers wat sy Woord, die Heilige Skrif, verag.

Ons moet nie uit die oog verloor nie dat ons heel tereg, op grond van postmodernisme se eie fundamentele standpunt, alle woorde van postmoderniste kan ignoreer op grond daarvan dat dit nie moontlik is om die werklikheid te beskryf nie. Ons moet inderdaad hulle woorde as misleidend, niks anders nie as ’n poging om ons in die mag van die postmodernisme te kry, beskou. In hierdie opsig is die postmoderne taalbeskouing dus korrek.

Dat daar geen waarheid of werklikheid is nie beteken, tweedens, dat postmodernisme ontken dat enigiets betekenis het. Die bestaan van die heelal is betekenisloos. Die Tweede Wêreldoorlog en die oorwinning van die geallieerde magte was betekenisloos. Die geboorte van Jesus was betekenisloos. Ons elkeen se lewe is geheel en al sonder betekenis.

Dít is die mens en sy wêreld sonder God: sinneloos! Volgens die mens se eie diepsinnige en besliste oordeel!

Maar postmodernisme wil méér met sy afskaffing van die waarheid en werklikheid as net dat ons niks as waarheid kan ken en dat niks betekenis het nie. Hoe absurd dit ook mag klink, nie net vir die oor van die Christen nie, maar ook vir elke mens wat nie waansinnig is nie, is die derde implikasie van postmodernisme se ontkenning van waarheid en werklikheid, dat daar nie ’n wêreld “daarbuite” is vir ons om te ontdek, te ken, en te beskryf nie. Daar is nie ’n geskiedenis van volke en individue nie. Daar is selfs nie ’n persoonlike, individuele, menslike self nie.

Ons veronderstel dat die wêreld wat ons rondom ons sien, werklik is. Die feit is egter dat dit nie as werklikheid bestaan buiten ons denke, spreke en gevoel nie.

Die Mens die skepper

Die Mens skep waarheid vir homself. Die Mens besluit self wat die waarheid oor alle dinge is. As die Mens besluit dat die gruwel van moord op agt en ’n half maande oue babas die reg op vrye keuse van ’n swanger vrou die hoogste goed is, danis dit die waarheid oor derde-trimester aborsie.

As die geskiedenis-mense aan die meeste universiteite besluit om die Amerikaanse Revolusie as verkeerd te beskou omdat blanke, Europese mans, soos Washington, bedoel het om vroue en swartmense te onderdruk, is dit die waarheid oor die Amerikaanse Revolusie. En as dieselfde gegradueerde stommerik besluit dat die Amerikaanse Revolusie goed was omdat swart, lesbiese vroue die ware dryfveer vir die Revolusie was deur vir die vryheid van almal te veg, dan is dit die betekenis van die Amerikaanse Revolusie.

En daar is steeds belydende Christene wat goeie, Christelike skole kritiseer of nalaat om hulle te steun!

Die Mens skep self werklikheid. Volgens postmodernisme roep die mens self die heelal in aansyn. Sy verstand, daardie hoogtepunt van evolusie, bedink dit en bring dit daarmee voort. Eweso skep die mens sy eie self, wat nie bestaan alvorens en tensy hy dit in aansyn dink nie.

Die Mens skep waarheid en werklikheid deur sy taal. Postmodernisme beklemtoon die belangrikheid van taal, van woorde. Ons het reeds postmodernisme se standpunt, dat alle taal misleidend is omdat alle taal in wese ’n poging is van die spreker of skrywer om mag oor sy gehoor te verkry of te behou, gesien. Dit is dan in die eerste plek waar wat die Bybel betref. Manlike persone beskryf daarin die huwelik, gesin, kerk, en God self, sodanig dat mans bemagtig, en vroue slawe word. Die Bybel is deur en deur “patriargaal.”

Dieselfde is ook waar van geskiedenisboeke, wat merendeels deur blanke, Europese geleerdes geskryf is. Hierdie boeke bemagtig dan wit, Europese manspersone.

Daarom skeur postmoderniste hierdie geskrifte, ook die Bybel, aan flarde en stel die verskuilde, bose agendas van die outeurs aan die kaak. Dit word “dekonstruksie” van die tekste genoem – ’n voltydse, goed betaalde (deur belastingbetalers, of deur kerklidmate) loopbaan van menige professor aan staatsuniversiteite en Christelike teologiese skole.

Nieteenstaande al sy bedenkinge oor taal, erken postmodernisme die krag van taal. Taal skep waarheid; taal skep betekenis; taal skep die wêreld. Taal is mag.

Die belangrike vraag is dan, wie sal taal beheer? Wie ook al die taal van ’n land beheer, sal oor die volk regeer. Wie ook al die taal van die mens beheer, sal die mensdom regeer. Klink soos George Orwell se 1984!9

Die man of vrou wat vanuit die Christelike wêreldbeskouing dink en beoordeel, sal raaksien dat die Bybel leer dat God waarheid en werklikheid skep – oorspronklik die heelal en nou verlossing – deur sy Woord, Jesus Christus, terwyl postmodernisme hierdie goddelike prerogatief aan die woorde van die Mens toeskryf.

Die groot vraag dan: wie sal taal regeer?

Die antwoord van postmodernisme is die Staat. Postmodernisme leer dat die samelewing bepaal hoedat elke individu dink en praat. Postmodernisme sien toenemend op na die Staat, en doen beroep op die Staat – die magtige regeerder van ’n volk – om al die burgers die waarheid te laat dink en praat soos dit vir die postmoderniste goed en reg lyk. Dit is die belang van die Staats- (“openbare”) skole en van televisie, rolprente, musiek en ander massamedia wat die denke (vir sovêr daar is) van ’n postmoderne geslag vorm. Postmodernisme verskil ook in hierdie opsig van modernisme: modernisme was individualisties; postmodernisme is kollektivisties en staats.

Die praktiese beslag van Postmodernisme

As hierdie hele uiteensetting van postmodernisme nog ietwat duister lyk, en ʼn mens nog geneig is om die bedreiging daarvan te onderskat, sal die uitwerking wat postmodernisme het op die lewens van almal in die Weste ons spoedig uit die droom van hierdie wanopvatting laat wakker skrik.

ʼn Barna opname ʼn paar jaar gelede (1991) het getoon dat 53% van evangeliese Christene nie gedink het dat daar ʼn absolute waarheid bestaan nie.

Die Hooggeregshof van die Verenigde State het besluit dat die moord op ongeborenes nie net toelaatbaar is nie, maar ookreg – die reg van die moeder wat kies. Let op hoe taal waarheid skep. Wat in wese die oortreding is van die wet van God in beide die Skrif en die natuur – “moord” – het, deur die woorde van nege manne en vroue wat die Staat verteenwoordig, “reg” en “geregtigheid” geword.

Die woord van nege regters het só belangrik geword dat dit in die politiek van die Verenigde State baie belangrik geword het om die regbank van die Hooggeregshof vol te maak met regters wat nie gebonde is om die woorde van die Grondwet (om nie van die wet van God te praat nie) te interpreteer en toe te pas nie, maar eerder wette in hulle eie woorde temaak. Op die beste sal hulle woorde die denke en praktyk van die samelewing weerspieël – op sigself ‘n sombere vooruitsig vir die godvresende. Die slegte sy is dat hulle regterlike woorde die planne van diegene vir wie geregtigheid in die wil van die mens lê, dit wil sê die postmoderniste, versterk.

Deur ‘n doelbewuste propaganda veldtog – die slim gebruik van taal – het die postmoderniste vele in Noord-Amerika daarvan oortuig dat homoseksuele gedrag goed is, so goed soos heteroseksuele optrede binne die huwelik, en daarmee die effek van postmodernisme op die lewe in die Weste helder laat blyk. Die postmoderniste het inderwaarheid baie mense oortuig dat ‘n homoseksuele “huwelik” goed en reg is, so goed en so reg soos ‘n huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou.

Hoe belangrik was woorde nie in hierdie suksesvolle veldtog nie! “Sodomiet” is vervang met “gay.” “Gay huwelik” word in plaas van “sodomitiese kopulasie” gebruik. Die dag wanneer postmodernistiese taal manipulasie daarin slaag om iemand wat die woord “sodomiet,” veral saam met die oortollige beskrywing “gruwel,” te straf, is ook nie ver nie. Rondborstige veroordeling van perversiteit sal “haatspraak” genoem word.10

Postmoderniste herskryf die geskiedenisboeke in die Verenigde State. Geskiedenisse word gebuig en geplooi om die positiewe bydrae van wit mans te minimaliseer en die rol van swartmense, in besonder swart vroue, op te hemel. Dat dit met die feite strydig is, raak die regeringsamptenare wat toesig het oor die herskryf van die geskiedenisboeke en die skrywers self, klaarblyklik nie. Geskiedenis het geen betekenis nie. Diegene in gesagsposisies gee daaraan betekenis. Inderwaarheid bestaan daar nie geskiedenis nie. Diegene in gesagsposisies skep geskiedenis.

Postmodernisme is die oorsaak van die geskille oor teksboeke.

Die uitwerking van postmodernisme word ook gevoel is die bevordering van sogenaamde genadedood of eutanasie. Taal baan ook hiér die weg. Selfmoord word “genadedood.” Wie sal waag om ‘n daad van genade teen te staan? Binnekort sal die deurtrapte mensdom geassisteerde selfmoord as ‘n daad van genadebetoon beskou. Diegene wat dit teenstaan is ongevoelige, ongenadige wreedaards.

ʼn Direkte produk van die postmodernisme in die sfeer van die Christendom is die “emergent church.” ‘n “Emergent church” is ‘n ongeorganiseerde, chaotiese bymekaarkoms van mense om die een of ander ding te aanbid, met hoegenaamd geen reël of voorskrif nie. ‘n Charismatiese, ketterse prediker wat met warmte die gevoelens van sy gehoor aanspreek, trek en behou die skares. Omdat hulle nie weet hoe, of waarom, of wie hulle aanbid nie, verdra dié mense alle gode, alle maniere van aanbidding, enige leerstelling en alle soorte gedrag.

Die “emergent church” is hoogs gewild. In die, na bewering konserwatiewe, Grand Rapids, Michigan, kom duisende voormalige Gereformeerde mans, vroue en kinders, vroeër lidmate van belydende Gereformeerde kerke, vir wat moet deurgaan as eredienste bymekaar op ‘n byeenkoms wat, heel gepas, Mars Hill11 genoem word.

Ook in hierdie geval word die werklikheid deur taal gevorm. Hiér roep taal nie die werklikheid in aansyn uit niks nie, maar uit die teenoorgestelde van die werklikheid. Die postmodernistiese teoloog spreek net die woord en siedaar, ʼn afvallige menigte word daarmee die “emergent church.”

Die verwerkliking van Bybelse profesie

Niemand wat die Skrif ken, is in die minste verbaas oor postmodernisme nie. Postmodernisme is die vervulling van die Bybelse profesie oor die laaste dae.

Wetteloosheid

Postmodernisme vervul die profesie van wetteloosheid in die laaste dae. Christus het wetteloosheid voorspel in Matthéüs 24:12: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.” Die Griekse woord anomiawat met “ongeregtigheid” vertaal is, beteken letterlik ook “wetteloosheid.” In die laaste dae, kort voor die wederkoms van Christus, sal wetteloosheid hoogty vier.

In 2 Thessalonicense 2:8 word die Antichris, wat aan die leiding staan van die koninkryk wat Christus teëstaan, “die ongeregtige” genoem. Weereens beteken “die ongeregtige” “wettelose.” Die mag van die Antichris oor sý koninkryk, bepaal dat wetteloosheid daardie hele koninkryk sal kenmerk.

Wetteloosheid is nie wanorde en chaos nie. Dit is selfs nie die ongehoorsaamheid van die misdadiger aan die wette wat in die gemeenskap geld nie, wette wat hy wel erken, maar verkies om te oortree.

Die wetteloosheid van die laaste dae is die afskaffing van iedere en elke goddelike verordening, en die skepping, deur die Mens, van reëls vir optrede en gedrag wat die wette van God grof en opsetlik teengaan.

Wetteloosheid is die eis: Aanbid die Mens!

Wetteloosheid is die voorskrif: Vermoor babas in die baarmoeder!

Wetteloosheid is die dekreet: Hou die seksuele band tussen twee mans, of tussen twee vroue, in stand as die heilige en goeie instelling van die huwelik!

Vergoddeliking van die Mens

Postmodernisme vervul die Bybelse profesie dat aan die einde van die geskiedenis, die mens die mens sal vergoddelik, dit wil sê dat die mens die mens sal verhef en as God sal verheerlik. 2 Thessalonicense 2:3-4 voorspel die komende, persoonlike Antichris – “die mens van sonde … , die seun van die verderf” – as die een wat “hom verhef,” nie net bo die ware God nie, maar “bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is.” Hy “sal sit en voorgee dat hy God is” in die plek van God en van alle gode.

Antichris sal ontken dat daar enige bonatuurlike wese is, wat die ware voorwerp van aanbidding en diens deur die mensdom is. Hy sal inteendeel beweer en op verskeie maniere bewys dat die Mens die hoogste wese – “God” – is, en dat hy, Antichris, die verheerlikte mens wat God is, beliggaam.

Die leer van 2 Thessalonicense dat die koms van Antichris die mens, dit wil sê homself, sal vergoddelik, stem ooreen met die profesie van Openbaring 13. Dié hoofstuk profeteer die koms van die dier (Antichris) as ‘n wêreld koninkryk in verset teen die wêreld koninkryk van Christus. Die dier “het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam … te laster” (vs. 6). Vers agt voeg by “al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.”

Ons herinner hier daaraan dat die postmodernisme die opvatting en die saak bevorder dat die mens, in die vorm van die Staat, God is. Waar modernisme individualisties was, is die postmodernisme staats. Vir postmodernisme gaan dit om mag, en mag vestig in die Staat. Die Staat het die mag en die gesag om die waarheid en die werklikheid te bepaal. Die Staat moet aan die lewe betekenis gee. Die Staat is die redder van die mensdom. Die individu bestaan, en het betekenis alleen as ‘n lid van die Staat. In die taal van die postmodernisme is die individu bloot ‘n groeipunt (“nodus”) in ʼn groter liggaam – die Staat.

Die Skrifte profeteer die (wêreld-) Staat wat deur die postmodernisme geskep word: wetteloos, God-ontkennend, mens verheerlikend.

Hierdie aanstaande koninkryk van die vergoddelikte mens, wat so aggressief deur postmodernisme bevorder word, sal, volgens Openbaring 12 en 13, die koninkryk van die draak wees, dit wil sê die koninkryk van Satan. “Die draak het hom [die Antichris] sy krag gegee en sy troon en groot mag” (13:2). Satan regeer die wêreld deur die wettelose mens. Deur die lasterende mens, laster Satan God en sy Naam, Jesus die Christus. Satan word in die vergoddelikte mens aanbid.

Postmodernisme is die eietydse, gevorderde ontwikkeling van die mens se erfsonde – ons grondliggende sonde. Die koninkryk van Antichris sal die volledige ontwikkeling van daardie sonde wees.

Vanaf die begin is die vraag: Wie is God? Wie bepaal waarheid en werklikheid? Wie alleen skep die werklikheid? Wie gee aan alles betekenis? Wie besluit wat reg is en verkeerd, wat goed is en sleg?

In die ongehoorsaamheid van Adam het die mens geantwoord, “die Mens!” Die Mens besluit dat om die vrug van die verbode boom te eet, goed en reg is vir die mens. “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ʼn lus was vir die oë, ja, ʼn boom wat ʼn mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet” (Genesis 3:6).

Die beslissing van die Hooggeregshof van die Verenigde State oor aborsie, die goedkeuring van sodomie in Noord Amerika en die aanstaande aanbidding van die Antichristelike Staat en sy Führer, of eerste minister, of president, of keiser, of voorsitter, is bloot die uitwerking van die besluit van Adam (en van ons) om die vrug te eet wat God verbied het.

Dit is dan die ontwikkelde boosheid van ons tyd en wêreld; en die Gereformeerde kerk en gelowige het in dié verband ‘n roeping.

Die roeping van kerk en gelowige

Gereformeerde gelowiges moet God dank dat Hy hulle en hulle kinders van die dwaasheid, hopeloosheid en godslasterlike boosheid van postmodernisme, die rebellie van afskaffing van die waarheid, gered het.

‘n Kritikus van postmodernisme wat nie ‘n Christen is nie, het in verband met postmodernisme die volgende geskryf:

Postmodernisme is waarskynlik die mees terneer drukkende filosofie wat nog uit die Westerse denke voortgekom het. Omdat niemand dit werklik verstaan nie, is dit moeilik om oor postmodernisme te praat. Dit is só ontwykend dat dit onmoontlik is om dit onder woorde te bring. Maar wat hierdie filosofie in wese sê, is dat ons ‘n einde aan die menslike geskiedenis bereik het. Die modernisme se tradisies van vooruitgang en eindelose uitbreiding van die grense van innovering is nou dood. Oorspronklikheid is dood. Die avant-garde tradisie van die kunste is dood. Alle religieuse en utopiese visies is dood, en weerstand teen die status quo is onmoontlik, want revolusie is ook nou dood. Of ons daarvan hou of nie, die mensheid is in ‘n betekenis-krisis vasgevang, donker kamer waaruit ons nooit kan ontsnap nie.12

Baie postmoderniste is volslae nihiliste. “Nihilisme” is die filosofiese woord vir die aaklige ondervinding wat die Prediker uitgedruk het met die klag, “Alles tevergeefs, … alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!” Hierdie ervaring van betekenisloosheid en hopeloosheid van die lewe van die postmoderniste is God se oordeel oor hulle. “Om sonder Gid te lewe is die dood.”

Die roeping van die kerk en van die Christen teenoor die bedreiging van postmodernisme is dat hulle voorbereid moet wees op vervolging, Dit is die roeping van die kerk in Noord Amerika én ander Westerse lande wat hulle eens beskou het, en steeds beskou as Christen-nasies.

Postmodernisme verkondig verdraagsaamheid. Dit is vir postmodernisme die hoogste, indien nie die enigste, deug – verdraagsaamheid van verskeidenheid.

Verdraagsaamheid is nie ‘n Christelike deug nie. Verdraagsaamheid is die deug van hulle wat niks glo nie. Die Christen glo iets met hart en siel. Hy glo in Jesus Christus as Here van die here en die enigste Redder. Hy glo alles wat God as waarheid in sy Woord, die Heilige Skrif, geopenbaar het. Daarom is die Christen onverdraagsaam. Hy verdra nie valse leer, wetteloosheid en, in die besonder, die verering van enige ander god as die God en Vader van Jesus Christus nie.

Hy verdra nie postmodernisme nie.

Teenoor diegene wat nie sy lastering en perversiteite wil verdra nie, is postmodernisme self berug vir onverdraagsaamheid. Uitdrukkings van afwysende onverdraagsaamheid word “oortredings van haat” genoem. Misdade moet gestraf word, en postmodernisme is besig om sy lendene te omgord, en die gesag te verkry, om sulke strawwe uit te voer. Aanklagte kan wissel van “Vyand van die heilige Staat!” “Hater van die heilige Mensdom!” tot, wat nog erger is “Verkrampte dweper!”

Wanneer die postmoderne Staat die ware kerk vernietig en die gelowiges gevangesit en dood maak, sal hy dink dat hy ‘n diens aan God bewys (Johannes 16:2).

Dit is die dringende roeping van die kerk en die gelowige om te waak teen die invloed van postmodernisme op hulleself. Dit is nie ‘n ydele waarskuwing nie. Postmodernisme is vaardig in die Westerse nasies. En gelowiges is uit hulle eie sondige aard ook verdorwe en postmodernisties.

Die voorstaan en verdraagsaamheid van vals leerstellings en sondige lewenswyses; die oproepe om leerstellige en etiese dwalings as blote verskil in mening te verdra; die afkraak van “proposisionele waarheid” ten gunste van “hartskennis”; die beklemtoning van rituele, teenoor leerstellige onderrig; die beklemtoning van gevoel, ervaring en mistisisme; en die aanvaarding van kerklidmaatskap, nie op grond van die kenmerke van die ware kerk nie, maar op grond van wat vir die lidmaat “goed voel” is van die duidelike bewyse van postmodernistiese denke en spreke.

Kerk en gelowige moet by die besluit bly om die Christelike geloof te ken, onderhou en verdedig op grond van die geïnspireerde, gesaghebbende, kenbare Skrif.

Die evangelie van Jesus Christus soos in die Bybel geopenbaar en opgesom in die ekumeniese en Gereformeerde belydenisskrifte, is die enigste ware, gesaghebbende en reddende openbaring van God aangaande alle dinge. (Ek sou kon sê die enigste meta-relaas, maar dan sou ek toelaat dat postmodernisme die waarheid oor die Bybel en die evangelie skep).

As Woord van God gee die evangelie betekenis aan die heelal, aan die geskiedenis en aan die lewe van elke mens – diegrondliggende finale betekenis van die lewe van elke mens, óf as rebel teen God, wat ewig sal vergaan, óf as vriend van God, wat by Hom sal leef in ewigheid.

Hierdie evangelie wat in die Skrif geopenbaar is, het ons genadiglik, kragtig verlos van die wetteloosheid, dwaasheid, rebellie, betekenisloosheid en hopeloosheid – en skuld – van ons natuurlike staat, want dit is die evangelie van ons Here Jesus Christus.

“Wat is waarheid?” vra Pilatus, sinies en wanhopig.

Dit het Pilatus van Hom gevra, wat sê, met waaragtigheid sê, “Ek is die … waarheid,” en wat daarom ook “die weg” en “die lewe” is (Johannes 14:6)!

(Vertaal deur Nic Grobler, Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.


1 Die vertaling is uit David Engelsma en Herman Hanko, The Reformed Worldview, British Reformed Fellowship 2012, Deel 1, Hoofstuk 3.
2 John Calvin, Commentary on the Gospel According to John, vol. 2, trans. William Pringle (Grand Rapids, MI: Eerdmans, 1949), bl. 212-213.
3 Lees ook Die organiese ontwikkeling van die sonde – vertaler.
4 Heath White, Postmodernism 101: A First Course for the Curious Christian (Grand Rapids, MI: Brazos Press, 2006), bl. 17.
5Gertrude Himmelfarb, On Looking into the Abyss (New York: Knopf, 1994), bl. 6.
6 Jean-Claude Lyotard, The Postmodern Condition: A Report on Knowledge, vert. Geoff Bennington en Brian Massumi (Minneapolis, MN: University of Minnesota Press, 1984 [oorspronklik in Frans gepubliseer, La Condition Postmoderne, in 1979]), bl. xxiv.
7Jim Leffel, “Our Old Challenge: Modernism,” in The Death of Truth: Responding to Multiculturalism, the Rejection of Reason, and the New Postmodern Diversity, red. Dennis McCallum (Minneapolis, MN: Bethany House, 1996), bl. 20.
8Richard Dawkins, The God Delusion (London: Black Swan, 2007), bl. 57.
9In die totalitêre staat van 1984 dwing die “Party” sy wil op elke aspek van die lewe van die burgers af, net soveel deur beheer oor die taal as deur terreur. Dié taal is “Newspeak.” Woorde beteken wat “Big Brother” – die staatshoof – sê hulle beteken, ongeag dat hulle nou die presiese teenoorgestelde van hulle intrinsieke betekenis weergee. Drie slagspreuke illustreer hierdie taalgebruik: “Oorlog is vrede,” “Vryheid is slawerny,” “Onkunde is mag.” In die denke van die heersers van “Oceania” – die fiktiewe wêreldmag van Orwell se roman – bestaan waarheid en werklikheid nie. “Werklikheid is nie ekstern nie. Werklikheid bestaan in die mens se verstand en nêrens anders nie … wat die Party as waarheid beskou, is waarheid.” Taal skep waarheid, en in dié proses word objektiewe werklikheid vernietig. Orwell se roman, geskoei op Stalin se Soviet-Unie, toon aan dat postmodernisme, so nie in naam en teorie nie, dan wel as ’n feit veel vroeër as die 1970’s bestaan het.
10 ‘n Verwante “haatspraak” aangeleentheid sal na verwagting in 2015 in die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika bereg word. Lees ‘n berig in dié verband in die Mail and Guardian van 20 November 2014 – vertaler.
11 ‘Mars Hoogte.’ Mars is die Romeinse afgod van oorlog. Die Griekse eweknie van hierdie god is Ares, aan wie die Areopagus gewy was. Dit is die plek in Athene waar Paulus aan die Griekse heidene wat gewoond was om daar bymekaar te kom, geleer het dat hulle valse gode dien (lees Handelinge 7:16 e.v.). – vertaler.
12 Kalle Lasn, “Postmodern Philosophy,” in Wikipedia.
Show Buttons
Hide Buttons