Ds. Angus Stewart
Die waarheid van die geestelikheid van God (Joh. 4:24) is vir ons ‘n heilige roeping. Eerstens is die geestelikheid van God ‘n doodhou vir alle afgodery. Die enigheid van God is onderliggend aan die eerste gebod: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (Eks. 20:3). Die geestelikheid van God is die grondslag van die tweede gebod: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ʼn jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou (4-6).
Alle heidense afgodery word verbied. Die mens moet die Skepper, en nie ‘n skepsel nie, aanbid (Rom. 1:23, 25). “Christelike” afgode soos die Rooms Katolieke beelde en skilderye van die Persone van die Drie-eenheid, en die Oosters Ortodokse ikone van Christus, word ook verbied. Dit help nie om te sê: “Ons aanbid nie die fisiese afbeeldings nie, ons aanbid bloot God deur hulle.” Die heidene sê presies dieselfde!
Tweedens beteken die geestelikheid van God dat alle aanbidding innerlik en geestelik moet wees. Dit het Christus self geleer in Johannes 4:24: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Waar die woord “gees” die tweede keer voorkom, word die mensse gees bedoel. Die aanbidding wat geëis word, moet nie geveins wees nie, maar opreg, waar en eg. Dit moet geestelike aanbidding, wat uit ons gees of hart voortkom, wees sodat ons bedoel wat ons sê. Daarom het ons menslike gees die Heilige Gees nodig, want ons is in onsself heeltemal sondig en net Hy kan die deug en ootmoed wat nodig is, in ons werk.
Ons kan dit ook anders stel: lewende geloof is nodig, omdat dit innerlike krag is wat ons in staat stel om die enige ware God te aanbid. Geloof handel met die geestelike en onsigbare werklikhede wat in die Woord geopenbaar word “en sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag [of te aanbid]; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ʼn beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6). Wedergeboorte is vir ware aanbidding nodig, want uit die wedergeboorte kom die geloof, waarsonder ons nie die Almagtige kan dien en loof nie.
In sy kommentaar op Johannes 4:24 het J. C. Ryle geskryf dat die groot beginsel wat in hierdie en die voorafgaande verse neergelê word nie oorskat kan word nie. ‘n Godsdienstige leer wat daartoe neig om hartsaanbidding te geringskat en Christen-wees wil verander in ‘n blote formaliteit, of wat die Joodse skadu’s, seremonies en dienste wil terugbring om dit in die Christelike erediens in te voer, is, in die lig van hierdie merkwaardige verse, hoogs onskriftuurlik en verdien om verwerp te word. Aldus Ryle.
Derdens beteken die geestelikheid van God dat alle aanbidding ooreenkomstig die Woord van God gereël moet word. Ons Here sê ons aanbidding moet “in gees” én “in waarheid” wees. “Wat eis God in die tweede gebod? Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie” (Heidelbergse Kategismus, V. & A. 96).
Omdat God gees is, en ons sondig, is ons die blindheid self wanneer dit kom by hoe ons Hom moet aanbid. Dit is soos ons Here gesê het: ” … wat by die mens hoog geag word, is ʼn gruwel voor God” (Luk. 16:15). Die God wat gees is, skryf die Skrif deur sy Heilige Gees om te openbaar hoe aanbidding moet wees wat Hom behaag.
Dit word dit regulerende beginsel van die erediens genoem. Die regulerende beginsel eis dat die aanbidding van die kerk die Christelike gebed, die twee sakramente (doop en nagmaal), dankoffer, die sing van die geïnspireerde Psalms (Ps. 95:2; Kol. 3:16), en in besonder die prediking, moet insluit. In getroue verkondiging van die evangelie word “Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig” (Gal. 3:1). Omdat die vleesgeworde, gekruisigde en opgestane Christus die Beeld en die afdruksel van die onsienlike God is (Kol. 1:15; Heb. 1:3), openbaar en lei Hy ons in kennis en aanbidding van die geestelike God (Joh. 1:18; 14:6).
Die Westminsterse Geloofsbelydenis behandel die Bybelse elemente van erediens ooreenkomstig die regulerende beginsel meer breedvoerig: “Die voorlesing van die Skrif met godsvrees; die gesonde prediking en gelowige aanhoor van die Woord in gehoorsaamheid aan God, met begrip, geloof en eerbied; die sing van psalms met hartsoortuiging; en die bediening en eerbiedige gebruik van die sakramente wat deur Christus ingestel is, is alles deel van die diens van God: hierbenewens ook gelowige ede en geloftes, plegtige vaste en dankdienste by besondere geleenthede wat van tyd tot tyd heilig en eerbiedig onderhou word” (21:5).
Kom ons keer terug na die Samaritaanse vrou van Johannes 4. Ons Saligmaker leer aan haar dat ware aanbidding nie ‘n saak van ‘n “heilige” plek (soos die berg Gerísim of Jerusalem) of ‘n plek wat met die kerkvaders verbind word (soos die put van Jakob) is nie. Op hul beste is hierdie dinge, in die Nuwe Testamentiese kerk, irrelevant: “Maar daar kom ʼn uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid” (23).
Die Here Jesus het die Samaritaanse vrou geleer dat ware en aanneemlike aanbidding “in gees” (uit die hart) en “in waarheid’ (ooreenkomstig die Woord van God) moet wees, en daarom ook gebring moet word deur iemand wat in gehoorsaamheid lewe. Daarom kan iemand nie in owerspel leef (soos die Samaritaanse vrou) én aan Jehova lof-offers bring nie. Wie met aanbidding in die voorhowe van God wil kom, moet “rein van hande en suiwer van hart” wees (Ps. 24:4).
Christus het aan die Samaritaanse vrou én aan ons verkondig dat die Drie-enige God wil dat mense Hom só aanbid (Joh. 4:23). Dit moet nie in die Armeniaanse sin opgeneem word, asof God sy bes doen om alle mense te bekeer (en jammerlik faal ten opsigte van die meeste) nie. In teendeel soek Hy sulke aanbidders deur hulle kragdadig te wil en te skep, soos hy met die Samaritaanse vrou op daardie heuglike dag by die put van Jakob in Sígar gedoen het.
(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)