David J. Engelsma1
Die leer van die Drie-eenheid word deur die gelowige slegs geken uit God se openbaring van Homself as drie-enig; deur Christus in die Skrif. “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar” (Johannes 1:18; lees ook Matthéüs 11:27; Johannes 17:1, 3; Timótheüs 3:16; Hebreërs 1:1 – 4).
Dit is die weg wat die Gereformeerde belydenisskrifte aandui om tot kennis van die Drie-eenheid te kom. Die Heidelbergse Kategismus is sprekend hiervan. In antwoord op die vraag, “Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees?” antwoord die Kategismus,
Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het, dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.2
God se openbaring van Homself in Jesus Christus as die bron van ons kennis aangaande die Drie-eenheid is ewewel nie beperk tot die Nuwe Testament en nog minder tot die vier evangelies en sommige gedeeltes in die briewe van Paulus nie. Die Gereformeerde geloof kry sy kennis van die Drie-eenheid uit die hele Bybel, Ou én Nuwe Testament. Die Nederlandse Geloofsbelydenis sê,
Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie-eenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament, en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie. Ons kan hulle onderskeidend en oordeelkundig uitkies.3
Die basis hiervan is nie net die Gereformeerde oortuiging dat die hele Bybel die enigste self-openbaring deur die wonder van inspirasie is nie, maar ook dat die hele Bybel getuig van Jesus Christus in wie die drie-enige God geopenbaar is. “Julle ondersoek die Skrifte,” sê Jesus in Johannes 5:39, “en dit is dié wat van My getuig.”
Die argument is eenvoudig: as Jesus die openbaring van die drie-enige God is, en die leer aangaande die Drie-enige deur Hom bekend gemaak word, dan volg dit dat die Ou Testament, wat van Christus getuig, die Drie-enige bekend maak. Dit is betekenisvol dat Jesus se stelling dat die Ou Testament van Hom getuig, gemaak is in die konteks van sy aanspraak op Goddelikheid en in die konteks van die Jode se weerstand teen sy aanspraak: “Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die Sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het (Johannes 5:18).
Gebruik van die hele Skrif, in besonder die Ou Testament, is van groot praktiese belang om by die waarheid dat God drie persone is, te kom. Deur groot dele van die Skrif uit te sluit by besinning wanneer die lewe van die persone van die Godheid ondersoek word, het menige teoloog homself ingeperk tot ‘n verskraalde opvatting van daardie lewe.
Leonard Hodgson is ‘n voorbeeld hiervan. Al wat hy oor die lewe van die Godheid kan sê is dat
die Seun vir ewig deur die Gees Homself aan die Vader gee, en dat elke Persoon, Vader, Seun en Gees, ‘n Hy is … Ons het geen getuienis om met oortuiging enigiets meer in verband met die innerlike lewe van die ewige Godheid te sê nie.4
Hodgson self skryf hierdie armoedige beskrywing van die trinitariese lewe van God toe aan sy verwerping van die Skrifleer wat die Skrif as proposisionele openbaring beskou.5
Die teks wat die belangrikheid daarvan illustreer om die hele Skrif as die self-openbaring van die drie-enige God in Jesus Christus aan te neem, is Genesis 1:26, 27:
En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
Word hierdie gedeelte trinitaries aanvaar, dit wil sê as sprekend van die meervoudigheid van God, is dit ‘n ryke bron van kennis aangaande die innerlike lewe van God as drie-eenheid. Dit is nie alleen, of selfs primêr, ʼn “bewys” van die meervoudige persone van God nie, maar dit is ook, hoofsaaklik, openbaring aangaande die aard van die verhouding tussen die goddelike persone. Die teks gee ons ‘n intieme kykie in die lewe van die Drie-enige in verband met sy skepping van die mens – man en vrou – na sy beeld, en sy skepping van die mens as man en vrou binne die huwelik.
Sommige Evangeliesgesinde Ou Testamentiese geleerdes hou voor dat die meervoude in Genesis 1:26, 27 niks met die Drie-eenheid te doen het nie. Bruce Waltke verduidelik die meervoude as synde verwysing na die “hemelse hofhouding” van God, waaronder hy die serafim verstaan.6 Vir hierdie verduideliking steun Waltke op John H. Stek. Oor vers 26 het Stek geskryf: “Hierdie aankondiging roep die toneel op van ‘n koninklike raadsaal waar ‘n koning sy aanstaande optrede aan die lede van sy hof aankondig.” Uit vier moontlike verklarings van die meervoude, kies Stek een wat die meervoude op die “engele skare” betrek.7 Alan J. Hauser stel voor dat die meervoude in vers 26 bloot grammatikaal ooreenstem met die meervoudsvorm van die Hebreeuse woord vir God, “met geen implikasie van ‘n konsep van drie-eenheid nie.”8
Hierdie geleerdes begaan ‘n ernstige mistasting. Die gangbare opvatting dat die verwysing na engele of ‘n “hemelse hofhouding” is, kan nie stand hou nie. Nóg engele nóg enige ander skepsel is in staat om met Jehova God aan die skeppingswerk mee te doen. Skepping is uitsluitlik Goddelike werk. Die mensdom is ook nie na die beeld en gelykenis van engele of van ‘n hemelse hofhouding geskape nie; die mens is gemaak na die beeld van God. Hierbenewens lei die verduideliking, dat God engele of enige ander skepsel aangespreek het, tot die gevolg dat God oor die skepping van die mens met ‘n ander as Hyself sou beraadslaag het. Die apostel Paulus ontken dat God dit doen: “Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?” (Romeine 11:34; lees ook Jesaja 40:13).
Dit is die uitdruklike getuienis van Johannes 1:1 – 14 dat die Woord waarmee alles in Genesis 1 geskape is, die persoonlike Woord van God, wat vlees geword het in Jesus Christus, is en was. Die skeppende God was persoonlik meervoudig toe Hy die skeppingswerk onderbreek en met Homself te rade gaan oor die maak van die mens. Hy weet dit, Hy het dit uitgespreek: “Laat Ons mense maak” (Genesis 1:26).
Ons kan nou, ná die opsies wat deur baie Evangeliesgesindes verkies word, oorweging skenk aan Martin Luther, wat Genesis 1:26 só verklaar het:
Beide kom hier voor: “LaatOns maak” en “Hy het geskape,” in die meervoud én die enkelvoud; waarmee Moses duidelik en kragtig aantoon dat binne, en in die Godheid en die skeppende Wese daar een onskeibare en ewige meervoudigheid is. Nie eers die poorte van die hel (Matthéüs 16:18) kan dit van ons wegneem nie.9
Calvyn het hiermee saamgestem: “Daarom hou Christene tereg, uit dié getuienis, vol dat daar ‘n meervoudigheid van persone in die Godheid is.”10 Anthony A. Hoekema verskil van die ontwikkelende Evangeliesgesinde konsensus in sy verduideliking van die meervoude in Genesis 1:26. Hy verstaan “die meervoud as aanduidend dat God nie as ‘n alleenlewende wese bestaan nie, maar as ‘n wese in gemeenskap met ‘ander.’ Hoewel ons nie kan sê dat ons hier ‘n duidelike leer oor die Drie-eenheid het nie, leer ons wel dat God as ‘n ‘meervoudige’ wese bestaan.”11
Om Genesis 1:26, 27 by trinitariese besinning uit te sluit, sou inderdaad betreurenswaardig wees, want dit sou ons verhoed om ons kennis oor die lewe van God as ‘n familie gemeenskap uit te brei.
(Vertaal deur NicGrobler,
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)
Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.