Menu Close

Jeremia se profesie van die “Spruit” / Jeremiah’s Prophecy of the “Branch”

 

Ds. Angus Stewart

Met die uitondering van die 150 Psalms, is Jeremia die langste boek in die Skrif. Ja, Jesaja het 66 hoofstukke en Jeremia net 52, maar Jeremia bevat meer verse en woorde. In hierie tweede-langste boek van die Bybel is hierdie die heerlikste voorspelling en die grootste messiaanse profesie: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” (Jeremia 23:5-6).

Die Een wat hier gepropfeteer word, het drie uitstaande kenmerke. Eerstens is daar sy stamboom. Hy is van die nageslag van Dawid: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek” (5). Die voorvaders van Dawid het ingesluit Isai, Boas, Juda, Jakob, Isak, Abraham, Sem, Noag, Set en Adam. Die “Spruit” wat Jeremia profeteer sal ‘n nakomeling van Dawid wees.

In die tweede plek is daar sy amp. Die “Spruit” sal ‘n koning wees. Nie al die nakomelinge van Dawid was monarge nie. Op die waarheid te sé was daar net twintig van hulle wat in die Ou Testament konings was. Maar die Een waarvan in ons teks gepraat word, sal ‘n koning wees: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer” (5).

Derdens lig Jeremia ons in, benewens oor die afstamming en amp, oor die karakter van die Een wat kom. Die “Spruit” sal regverdig wees. Nie al die konings na Dawid was regverdig nie. Die meeste was nie, soos die laaste drie wat in Jeremia 22 genoem word: Jósia (Sallum), Jójakim en Jójagin (Gonja). Die geregtigheid van die geprofeteerde Dawidiese koning word drie maal in ons teks genoem: Hy is “‘n regverdige Spruit” wat “reg en geregtigheid doen” en wat genoem word “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” (23:5-6).

Edelheid is ‘n woord wat opsom wat ons tot sover in verband met die voorspelde Redder gesien het. Die “Spruit” is edel van geboorte, amp en vroomheid. Ons teks is ‘n profesie van die regverdige, Dawidiese koning.

Kom ons kyk na ‘n paar punte oor die manier waarop die “Spruit” in ons teks ter sprake kom. Eerstens begin die gedeelte met die woord “Kyk” (5). Dit is die woord wat sowel in Afrikaans as in Hebreeus eerste staan. “Kyk”, dit wil sê, gee aandag aan hierdie hoogs betekenisvolle Woord van God oor die “Spruit”: Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel” (5).

Tweedens praat die volgende paar woorde oor sy koms. Vanuit Jeremia se perspektief toe hy die woorde deur goddelike inspirasie geskryf het, het hy nie na ‘n figuur in die verlede of die hede verwys nie, maar na die toekoms: Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID (5-6).

In kort dui die inleidende woorde van ons teks dus daarop dat hierdie regverdige, Dawidiese koning van die grootste belang is (“Kyk” na hierdie groot figuur!) en dat Hy in ‘n tyd in die toekoms van Jeremia sal kom (“Kyk, daar kom dae”). Dit is duidelik dat ons hier te doen het met ‘n baie belangrike voorspellende profesie in verband met die “Spruit.”

Wat van die identiteit van die Een wat in Jeremia 23:5-6 voorspel word? Kon dit Jósia wees? Jósia was ‘n regverdige Dawidiese koning. Maar Jósia was nie in die toekoms van Jeremia nie; ook nie sy hede nie; maar sy velede (22:10-11).

Wat van die Dawidiese konings wat ná Jósia gekom het: Jósia (Sallum), Jójakim en Jójagin (Gonja), die drie ander konings wat in Jeremia 22 genoem word? Wat van Sedekía wat hulle opgevolg het? Nie een van hierdie vier was regverdig nie; hulle was almal boos.

Jósia was Juda se laaste godvresende konng en Sedekía was Juda se laaste koning. Omtrent 2,600 jaar het sedert die profesie van Jeremia verloop. God het die ongelowige Jode verbluf laat staan! Baie van hulle vooraanstaande teoloë erken selfs dat Jeremia 23:5-6 ‘n messiaanse profesie is. In sy kommentaar meld John Gill nege Joodse gesaghebbende bronne wat dié mening deel. Maar is daar vandag maar iemand wat weet wie die afstammelinge van Koning Dawid is?

Die spottende woorde van Pontius Pilatus bokant ons Verlosser se kruis is letterlik waar: “JESUS, DIE NASARÉNER, DIE KONING VAN DIE JODE” (Johannes 19:19). Ons Here Jesus is die Koning van die Jode, werklike, ware, geestelke Jode (Romeine 2:28-29).

Christus regeer met wysheid, regverdig en met geregtigheid aan die regterhand van God in die hemel terwyl Hy die die ewige raadsbesluite van Jehova uitvoer (Jeremia 23:5). Jesus is die seun van Dawid (Matthéüs 1:1), wat met heerlikheid op die Dawidstroon sit (Handelinge 2:30). In hierdie Nuwe Testamentiese dae geniet ons die volle messiaanse redding deur die geloof alleen, en “woon veilig” met Hom in verbondsgemeenskap deur die Heilige Gees (Jeremia 23:6).

So baie dinge kan hier by wyse van toepassing gesê word, maar ons gaan op net drie fokus. Eerstens sien ons die vervulling van profesie. Jeremia voorspel die komende, geregtige Dawidiese koning; 600 jaar later kom Hy, soos belowe (Galasiërs 4:4-5)!

Tweedens sien ons die prominensie van Christus in die Ou Testament. Die Messias is inderwaarheid sentraal in Jeremia, die Bybel se tweede langste boek wat met soveel oordele gevul is. Tog, selfs daar, te midde van die sonde van die mens en die toorn van God, word die komende “Spruit” as die enigste hoop gestel!

Derdens sien ons in dit alles die heerlikheid van die Drie-enige God, want in die voorspelling van Christus en die vervulling daarvan, verklaar Jehova dat Hy almagtig, alwys en ten volle getrou is deur hierdie dinge te laat gebeur.

Laat ons God se ryke redding glo, Hom daarvoor in Jesus Christus prys!

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons