Ds. Angus Stewart
Dit is opvallend dat Paulus se eerste argument wat hy teen die gedagte dat Abraham deur werke geregverdig is, aanvoer, dit met ‘n geroem vergelyk: “Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie” (Romeine 4:2). Hierdie vers laat die grond van ‘n gespog of roem waarop dit rus, duidelik na vore kom: die “werke” van die mens!
Die apostel se argument voorveronderstel die mens se ingebore sondige trots wat sedert die val diep in ons gewortel is. Wat ook al ons “prestasies” is, word ons verwaand en trots, in onsself en teenoor ander. Dit geld vir ons “sukses” op watter gebied ook al: goeie eksamenuitslae, goed doen by die werk, ons huis mooi reg en skoon maak, selfs om met albasters of enige ander speletjie te wen! ‘n Gespog volg veral wanneer ons dink dat ons onsself regverdig gemaak het in die oë van die Almagtige God!
As Gereformeerde Christene verstaan ons hierdie apostoliese argument baie goed en ons gebruik dit in ons getuienis aan ongelowiges wat dink dat hulle deur hulle eie wil of werk regverdig is. “Maar dan het jy mos jou redding verdien”, sal ons sê. “Dit is werklik ‘n trotse leer, want enigiemand wat dit tot in die hemel kan maak op grond van sy eie prestasies, al is dit net ten dele, kan roem dat hy daar is uit eie waarde en moeite. Hy het homself bo almal onderskei!”
Hoewel die selfregverdigendes nie hiervan hou nie – en alles doen om daaruit te kom – is dit ‘n weldeeglike Bybelse argument wat veral in die briewe van die a[postel Paulus gevind word. “Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof” (Romeine 3:27); “maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie” (1 Korinthiërs 1:27-29); “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Korinthiërs 4:7); “Want ook hulle wat besny word, hou self nie die wet nie; maar hulle wil hê dat julle besny moet word, sodat hulle in julle vlees kan roem. Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Galasiërs 6:13-14); “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Efesiërs 2:8-9); “Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie” (Filippense 3:3).
So kom ons terug by Romeine 4:2: “Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie.” Hieruit vloei drie eenvoudige argumente. Eerstens, Abraham sou geroem het as hy homself deur sy eie werke regverdig gemaak het. Tweedens sou God egter erg onbeïndruk wees. Derdens, as dit die geval met vader Abraham sou wees, sal geen gevalle mens ooit deur sy of haar werke geregverdig kan word nie! Dit alles, geliefdes, rig ons op regverdigheid alleen in die gekruisigde en opgestane Christus!
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.