Ronald Hanko
Ons het verduidelik dat die hele Nuwe Testamentiese tyd ingevolge die Skrif, die laaste dae is. Die laaste dae of die laaste tyd — die einde — is nie net iets van die toekoms nie, maar iets van die hede, iets waarmee elkeen van ons moet rekening hou, ongeag wanneer hy lewe.
Die koms van Christus moet in die lig hiervan verstaan word. Dit is, natuurlik, die grootste gebeurtenis in die geskiedenis, waarmee alle dinge tot hulle bestemde einde gebring word. Dit is ewenwel nie net toekomstig nie, maar ook teenswoordig.
Die koms van Christus word in die Skrif beskryf as een gebeurtenis, wat sy geboorte in Bethlehem, sy terugkeer vir die oordeel én alles wat tussenin gebeur het, omvat. Dit lyk asof die profete van die Ou Testament gebeurtenisse, wat vir ons lyk asof hulle deur duisende jare van die geskiedenis geskei word, vermeng. Hulle het alles as een gebeure gesien, en hulle was nie verkeerd nie.
Vanuit die gesigspunt van God se voorneme én van die van die ewigheid self (2 Pet. 3:8) één gebeurtenis, wat die geskiedenis afsluit, die soewereine voorneme van God vervul en ewige en hemelse koninkryk van God inlei (Dan. 9:24). Dít is wat Ou Testamentiese profete onder inspirasie van die Heilige Gees gesien het.
Die waarheid, dat alles werklik één gebeurtenis is, beteken dat Christus reeds kom. Dit is die wyse waarop die Skrif spreek. Hoewel die Skrif ook van sy koms as ʼn toekomsgebeure praat en vooruitskou na sy persoonlike, liggaamlike terugkeer, praat dit meer dikwels in die teenwoordige tyd om só aan te toon dat Hy, deur die geskiedenis heen, reeds besig is met sy koms. Hy is op pad, sy persoonlike verskyning aan die einde is net die finale fase van wat in Bethlehem begin het.
Gevolglik praat die Skrif nie net van Christus se geboorte as sy “koms” nie, maar ook van verskeie ander gebeure as deel van die “koms” van Christus. Drie gebeurtenisse is hier van belang.
Christus kom deur die Gees (Joh. 14:16-18). Selfs die apostel Petrus maak in sy Pinksterpreek nie ʼn duidelike onderskeid tussen die uitstorting van die Heilige Gees en die bloed, vuur, rookdamp en duisternis, wat ons met die einde van die wêreld vereenselwig nie (Hand. 2:16-21).
Christus kom vir die gelowiges by hulle dood. Hy kom self, sy dit nie persoonlik en liggaamlik nie. Hiervan verseker Hy ons in Johannes 14:2, 3: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is”. Dit is ons troos by die sterwe.
Al kom Christus nie persoonlik en sigbaar in ons leeftyd nie, hoor ons sy stem in die evangelie en ons volg Hom (Joh. 10:27). Ook glo ons dat Christus deur sy Gees, die Trooster, na ons kom en dat, wanneer ons sterwe, Hy kom en ons na Hom toe neem (Joh. 14:3) sodat ons Hom vir ewig sal sien en sal geniet.
Christus kom deur die prediking van die evangelie. Dit is duidelik dat Christus self deur die evangelie praat (Joh. 10:27; Ef. 2:17). Hy kom dus en Hy is teenwoordig deur die evangelie. Dit is die onmiskenbare boodskap van Matthéüs 28:19, 20. In die prediking van die evangelie moet ons die koms van Christus verreken.
Al hierdie dinge beteken dat die koms van Christus nie net ʼn toekomsgebeure is, wat nie direk op ons betrekking het nie, maar ook teenswoordige gebeure waarmee ons deurgaans moet rekening hou. In een of meer van die bovermelde betekenisse kom Christus inderdaad elke dag en Hy kom ongetwyfeld in ons leeftyd, wanneer Hy kom om ons na Homself te neem.
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.