Ronald Hanko
Ons wil, wanneer ons oor die heerlikheid van die ewige staat, die hemel, en van die plek wat elke gelowige daar sal hê, praat, twee dinge beklemtoon.
Eerstens moet ons besef dat in die beskrywing van die hemel en die heerlikheid daarvan, die Skrif hoofsaaklik figuurlike taal gebruik. Wanneer ons van die kroon van die lewe, van ons wat pilare in die tempel van God sal wees en die môrester sal ontvang, moet ons besef dat die heerlikheid van die hemel nie in hierdie dinge bestaan nie.
Letterlike dinge soos hierdie is immers van geen waarde vir diegene wat soos engele geword het en nie meer aards is nie (1 Kor. 6:3). Openbaring 21 en 22 help om dit duidelik te maak waar dit sê dat die stad wat daarin beskryf word die verheerlikte kerk is (Openb. 21:9, 10) en dat die boom van die lewe Christus self is (Openb. 2:7; Openb. 22:2, 14).
Die Skrif gebruik sulke taal omdat die hemelse dié dinge is “wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ʼn mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9). Die hemel is dus só heerlik en wonderlik dat ons nie eers kan begin om dit te begryp sonder die hulp van voorstellings en beelde nie.
As die heerlikheid en die wonder van die hemel dan nie goud en pêrels en kosbare stene is nie, wat is dit dan? Openbaring 21 en 22 beantwoord die vraag baie duidelik. Dit is God self, en in besonder God soos Hy Hom in Jesus ons Saligmaker openbaar. God het alle dinge vir Homself geskape (Openb. 4:11), en in die hemel word dít vir die volk van God ʼn lewende werklikheid.
Die Skrif sê dat God en Christus die lig vir daardie stad, sy tempel en sy bewoners is (Openb. 21:23, 24; Openb. 22:3, 4). Hierdie hoofstukke vertel van die ware heerlikheid van die hemel wanneer hulle praat van God wat by sy volk sal woon en by hulle wees as hulle God (Openb. 21:3; Openb. 22:3, 4).
Om saam met al die gelowiges te wees, om verhoog en gelykvormig te word aan Christus, om alle trane van ons oë afgevee te hê, om vir altyd verlos te wees van die teenwoordigheid, mag en moontlikheid van sonde — dit alles is deel van die hemelse vreugde. Hierdie dinge is ewenwel nie die grootste van die hemelse heerlikheid nie. Dit is die teenwoordigheid van God en Hom alleen (Ps. 16:11; Ps. 17:15; Ps. 73:25).
Die heerlikheid van die hemel wag dus vir ons in die vervulling van God se genadeverbond. Daardie verbond het altyd beteken dat God ons God is en ons sy volk. In die hemel bereik dit die hoogste heerlikheid, want dan sal die hele volk van God vir ewig in sy teenwoordigheid lewe, sy aangesig aanskou, Hom ken en Hom vir altyd geniet.
Ons wag hiervoor, maar dit is reeds op ons van toepassing. Wie nie werklik die hemelse heerlikheid begeer nie, moet hulleself nie wysmaak dat hulle dit wel doen nie. Wie nie in God en sy heerlikheid belangstel nie, wat nie vreugde vind in die gemeenskap met God nie, wat nie bo alle dinge daarna verlang om die aangesig van God te sien nie, het geen belangstelling in die hemel nie, wat hulle ook anders mag sê.
Laat ons onsself en ons lewe dan ondersoek of God ons aller begeerte en vreugde is. Dan sal ons weet wat die hemelse heerlikheid beteken én seker wees van ons plek en deel daarin.
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.