Ds. Angus Stewart
In II Korinthiërs 10-13 voer die Apostel Paulus stryd teen valse apostels en hulle volgelinge in Korinthe. Hierdie vals apostels het twee dinge gedoen. In die eerste plek het hulle hulleself verhoog asof hulle die grotes in die kerk is. Tweedens het hulle Paulus afgekraak as ‘n onbelangrike en onverstaanbare mens. Hy was, volgens hulle, inderdaad glad nie ‘n apostel nie!
Paulus begin in II Korinthiërs deur die kerk te herinner aan sy apostoliese gesag (1:1). Vroeër, terwyl hy ‘n ongelowige was, was hy deur die Joodse Hoëpriester die gesag gegee om Christene in Damaskus en elders te vervolg (Hand.9:1-2, 14; 22:4-5; 26:10-12). Nou het Paulus gesag van die gekruisigde en verhoogde Christus, die Here van die heelal, as een van Sy apostels.
Dit is die hoogste Nuwe Testamentiese gesag. Let op die opdrag in Efesiërs 4:11: die opgevare Jesus “het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars … “ I Korinthiërs 12:28 is selfs meer uitdruklik: “En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars … “. Die apostoliese amp het dus unieke gesag in die Nuwe Testamentiese kerk onder Jesus Christus as Hoof.
Maar wat is gesag? Gesag is ‘n wettige reg. Paulus en die twaalf apostels had apostoliese gesag, die wetlike reg om in die naam van Christus te spreek en op te tree. Tesame met hierdie wettige reg het God aan hulle die geestelike krag en gawes gegee om dit met geloof te doen. Niemand het voor of na hierdie dertien ampsdraers hierdie apostoliese gesag gehad nie. Enigiemand wat daarop aanspraak maak dat hy ‘n apostel is of apostoliese gesag uitvoer – want dit is dieselfde ding – is ‘n aanmatigende leuenaar.
In II Korinthiërs 10:1-7 praat Paulus van sy apostoliese gesag voordat hy byvoeg, “al sou ek ook nog meer roem oor ons gesag wat die Here ons gegee het om julle op te bou en nie neer te werp nie, sal ek nie beskaamd uitkom nie” (8).
Wanneer Paulus sê “al sou ek ook nog meer roem” oor sy apostoliese gesag, is dit duidelike sag gestel. Hy kon nog baie meer sê.
Tweedens, gegewe dat Paulus nog meer kon roem oor apostoliese gesag, was dit duidelik iets magtig en groots, iets waaroor iemand sonder twyfel kon roem.
Derdens, die krag agter Paulus se woorde “al sou ek ook nog meer roem oor ons gesag … sal ek nie beskaamd uitkom nie”, moet ons ook aangryp. Sy bedoeling is dit: “Ek kan baie meer sê oor ons apostoliese gesag; ek kan dit hoog ophemel as magtig en oorweldigend; en dit sou alles die waarheid bly want ek sou nie skaam word asof ek ‘n leuenaar is nie!”
Kom ons dink meer oor die groter betekenis van hierdie “nog meer” van apostoliese gesag wat Paulus nog meer kon roem en nie beskaamd uitkom nie. Apostoliese gesag sluit leergesag in. Soos Christelike predikante en leraars vandag, het die apostels die gesag gehad om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien.
Die opgestane Heiland het aan die elf opdrag gegee: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matt. 28:19). Paulus het gesê, “Want Christus het my … gestuur om … die evangelie te verkondig … (I Kor. 1:17; vgl. Gal. 1:16). Soos Christelike predikante, het die apostels die heilige reg gehad om “hierdie dinge (te spreek) en te vermaan en bestraf in alle erns. Laat niemand jou verag nie” (Titus 2:15). Sonder hierdie heilige gesag het nóg predikante of apostels die reg om die evangelie te preek, die doop of die Nagmaal van die Here te bedien. Heilige gesag om hierdie dinge te doen word gegee in die ampte van apostel en herder/leraar.
Die gesag van die apostels om te leer reik egter na groter hoogtes as dié van ‘n Christelike predikant van vandag. Die het gesag as onfeilbare leraars van God se waarheid, insluitend die evangelie, as ooggetuies van die opgestane Christus (I Kor. 15:1-11), en die Nagmaal van die Here (11:23-25). As Nuwe Testamentiese profete het die apostels bindende interpretasies van die Ou Testamentiese Skrif gebring en die verborgenheid van die volle gelykwaardigheid tussen Jode en Heidene in die nuwe verbond geopenbaar (Ef. 3:1-11).
Die apostels was gesaghebbende, onfeilbare leraars van leer, erediens, Christelike lewe en kerkregering, insluitend die vereistes vir diakens en regerende en lerende ouderlinge (I Tim. 3; Titus 1:5-9). Sonder mistasting leer die apostels die waarheid oor verhoudings tussen mans en hulle vroue, ouers en kinders, werkgewers en werknemers (Ef. 5:22-6:9) en ook die huwelik en seksuele etiek (I Kor. 6:9-7:40), waaroor Paulus verklaar, “so bepaal ek in al die gemeentes” (7:17).
Die apostels (Mattheus, Johannes, Paulus en Petrus) het 21 van die 27 (byna 78%) van die onfeilbare en foutlose boeke van die Nuwe Testament geskrywe. Saam met die Nuwe Testamentiese profete (Markus, Lukas, Jakobus en Judas) en die skrywer van Hebreërs (of hy apostel of profeet was) is die apostels die fondament van die kerk, want hulle geïnspireerde geskrifte openbaar dat Jesus Christus “self die hoeksteen is” (Ef. 2:20).
Daarom het die geskrifte van die apostels,(en profete) absolute gesag as God ’s eie Woord die hoogste en finale beroep vir Christelike geloof en lewe (vgl. Hand. 2:42). Dit is dus geen wonder dat die apostoliese geskrifte in kerke se eredienste gelees word nie. Paulus praat hiervan (Kol. 4:16; I Thess. 5:27), so ook Johannes (Openb. 1:3).
Mens wonder of hulle wat vandag skelmagtig aanspraak maak om apostels te wees enigsins die gesag verstaan van die amp wat hulle voorgee om te beklee. Glo hulle werklik dat hulle onfeilbare leraars is? Wie van hulle kan waag om te beweer dat hulle skrywers is van onfeilbare Skrif? Weinig van hulle het die vermetelheid om te beweer dat hulle of hulle boeke die fondament van God se kerk is of dat wat hulle skryf in gemeentelike eredienste voorgelees moet word. Met ander woorde die oorgrote meerderheid van hierdie pseudo-apostels het nie eers ‘n begrip van die oogmerke van die leergesag wat met hulle voorbarige aansprake gepaard gaan nie.
As voltydse leraars van die kerk van Christus (soos predikante vandag) het die apostels aanspraak gehad om finansiële ondersteuning van die mense van God te kry. Dit word geleer in I Korinthiërs 9, wat ook aandui dat die apostels die reg gehad het om geld te ontvang om vir hulle vroue en, by implikasie vir kinders, te sorg. Vandag se vals apostels dring vir seker op hierdie aspek van die amp aan! Anders as die ware apostels van die eerste eeu (II Kor. 11:7-12; 12:13-18) maar soos hulle huidige mededingers, wil moderne apostels baie geld hê, en dring inderdaad selfs daarop aan, vir selfverryking!
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)