Ds. Angus Stewart
Benewens die gesag om te leer, soos ons in die vorige artikel gesien het, het die apostels ook gesag gehad om te regeer onder Christus in Sy kerk.
In die amp van die apostels was die gesag van ouderling ingesluit. So skryf Céfas, “Ek vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat ‘n mede-ouderling … is” (I Pet. 5:1). Anders as ouderlinge het die apostels egter nie net in een gemeente waarlangs hulle gereis het, gedien nie.
Die apostels het die gesag gehad om ongehoorsame sondige oortreders te vermaan en van die kerk af te sny. Dit is ‘n skrikwekkende gesag: om ‘n onbekeerde kerklidmaat van die koninkryk van die hemel uit te sluit! Paulus het Himenéüs en Alexander so geban (I Tim. 1:20). By die kerk in Korinte het hy die bloedskandige man geëkskommunikeer (I Kor. 5:3-5). Ananías en Saffira, twee onvergeeflike lede van die kerk in Jerusalem, is na vermaning deur Paulus deur God gedood (Hand. 5). Is daar vandag enige sogenaamde apostels met die mag en die reg om dit te doen? Nee!
Die apostels het die gesag gehad om ampsdraers te verordineer. Die twaalf bevestigde diakens in Handelinge 6. Paulus (saam met Barnabas) het ouderlinge verordineer op hulle terugkeer van sy eerste sendingreis (Hand. 14:23). Saam met ‘n vergadering van ouderlinge het Paulus vir Timotheüs verorden (I Tim. 4:14; II Tim. 1:6). Die voormalige Fariseër het opdrag gegee betreffende die opleiding van “getroue manne” ten einde ‘n ‘n godvresende opvolging van kerklike ampsdraers te verseker (2:2).
Die regeringsgesag van apostels blyk uit die stigting en vestiging van gemeentes en hulle daaropvolgende toesig. Die apostels het gesag gehad om geskille tussen Christene en die kerke te verhoor en daaroor te beslis. Ons lees gereeld hiervan in die geïnspireerde briewe van Paulus. Die apostel Johannes het Diótrefes tereggewys (III Joh. 9-10). Die apostels het amptelik deelgeneem aan die Jerusalem vergadering in Handelinge 15, hoewel hulle nie hulle eie beslissings gevel het nie; hulle het saam met die ouderlinge gedien (15:2, 4, 6, 22, 23; 16:4).
Hulle het ook rigting gegee aan die Nuwe Testamentiese evangeliste, wat spesiale apostoliese helpers was. Paulus het die plekke vir diens aangewys vir die evangeliste Timotheüs en Titus wat hy in Éfese en Kreta onderskeidelik gelaat het (I Tim. 1:3; Titus 1:5). Die apostel het vir beide evangeliste spesifiek aangedui wat hulle moes doen: Timotheüs moes valse leraars teen gaan (I Tim. 1:3 e.v.) en Titus moes “van stad tot stad ouderlinge … aanstel” (Titus 1:5 e.v.). Kort gestel skryf Paulus vir Timotheüs dat hy moet weet hoe hy moet optree “in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid” (I Tim. 3:15).
In ‘n sekere opsig raak die apostoliese gesag die oordeelsdag. Die Here Jesus het vir Sy dissipels gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (Matt. 19:28).
Benewens leer en regerings gesag het die apostels ook die reg gehad om barmhartigheid in die kerk van God te bewys deur die behoeftiges te help. Natuurlik moet en behoort alle Christene die armes te help. Maar nie alle gelowiges het die gesag om barmhartiheid in amptelike hoedanigheid te bewys nie. Net die diakens, deur die kerk gekies en handelend namens haar, voorsien hulp aan die behoeftiges as die aangewese verteenwoordigers van die gemeente en van Christus.
In die vroeë dae van die Nuwe Testament na Pinkster, was daar nie diakens nie. Daarom sien ons in Handelinge 4 en 5 die apostels diakonale werk doen (wat later diakens se werk sou word). Mense het geld gebring en dit aan die voete van die apostels gelê, en die Twaalf het dit aan die armes uitgedeel. Toe die getal gelowiges vermeerder het, het die apostels sewe diakens aangewys wat deur die mense gekies was (Hand. 6:1-6). Net so sien ons die rol van Paulus in die amptelike barmharigheidswerk deur die insameling van geld in die kerke van Macedónië en Acháje vir die behoeftige heiliges in Jerusalem (II Kor. 8-9).
Nou dat ons gekyk het na die apostoliese gesag vir lering, regering en barmhartigheid – baie groter gesag as die van predikante, oudelinge en diakens vandag! – moet ons ook na die omvang van hulle gesag kyk.
Die gesag van ‘n ouderling of diaken is tot sy eie gemeente beperk, hoewel ouderlinge soms vir die duur van breëre vergaderings ‘n wyer veld kan dek en diakens van verskillende kerke kan saamwerk as die omstandighede dit vereis. Hoewel die gesag van ‘n predikant om te preek hipoteties universeel is – dit wil sê as al die kerke oor die leer ooreenstem kan ‘n predikant in enige gemeente preek – maar sy gesag is in besonder in die kerk wat hom beroep het.
Al die gemeentes was gelyk onder die gesag van al die apostels. So praat Paulus van sy “sorg vir al die gemeentes” (II Kor. 11:28), nie net die wat hy geplant het nie maar selfs gemeentes wat hy nie in staat was om te besoek nie. Petrus se eerste kanonieke boek was onder meer geskryf aan die Galasiërs (I Pet. 1:1), terwyl dié kerke deur Paulus gestig was. In die die boek Openbaring skryf Johannes aan die Efésiërs (Openb. 2:1-7), ‘n gemeente waarin Paulus vroeër gearbei het.
Kom ons neem Paulus as voorbeeld van hierdie universele gesag in al drie sfere. Wat betref sy reg om te leer, praat hy van “my handelwyse in Christus, soos ek oral in elke gemeente leer” (I Kor. 4:17). Sy gesag om in die kerk van God te regeer sien ons in Handelinge 15, en sy advies, dissiplinering en selfs ekskommunikasie van lede van verskillende gemeentes. Paulus wys sy reg om barmhartigheid te bewys deur sy arbeid in Macedonië, Acháje en Jerusalem.
Hoe stel dit nie die pseudo-apostels van ons geslag aan die kaak nie! Dié mans (en vroue!) weet baie goed dat God nie aan hulle hierdie geweldige gesag in sy verkeie sfere en reuse omvang gegee het nie. Daarom maak hulle nie eers daarop aansp[raak nie en meer as 99% van die wêreld van die kerk betoon 0% gehoorsaamheid aan ‘n charismatikus wat aanspraak maak om ‘n apostel te wees!
Die universele omvang van apostoliese gesag blyk ook duidelik in die drie – net drie! – uitbreidings – nie herhalings nie! – van Pinkster. Die uitbreidings van hierdie eenmalige gebeure wys dat die katolieke kerk van Christus nie net Jode nie (Hand. 2), maar ook Samaritane (Hand. 8), Heidene (Hand. 10-11) en Ou Testamentiese gelowiges wat nog nie gehoor het dat die Messias reeds gekom het nie (Hand. 19), omhels. Let op die rol van die apostels in hierdie drie uitbreidings: Petrus en Johannes, en Petrus en Paulus respektiewelik. In die lig van al hierdie dinge is dit geen wonder nie dat een van hierdie buitengewone, tydelike kerkleiers geskryf het: “al sou ek ook nog meer roem oor ons gesag wat die Here ons gegee het om julle op te bou en nie neer te werp nie, sal ek nie beskaamd uitkom nie” (II Kor 10:8)!
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)