Menu Close

Toegereken, deur Geloof alleen / Faith Alone and Imputation

    

Ds. Angus Stewart

In drie vroeëre artikels in die News het ons gekyk na Romeine 4:2: “Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie.” Kom ons kyk nou hoe die argument van hierdie Skrifgedeelte op verskillende groepe toegepas word.

Judaïsme leer dat gehoorsaamheid aan die Torah meriete het voor God. Rooms Katolisisme maak daarop aanspraak dat die mens se eie goeie werk, in samewerking met goddelike genade, ‘n kritiese komponent van geregtigheid voor God is. Volgens die New Perspective on Paul en die Federal Vision is iemand se persoonlike gehoorsaamheid in hierdie lewe aan die Allerhoogste, deel van die basis van iemand se regverdigmaking op die laaste dag. In Islam verkry die onderhouding van Sharia in diens van Allah, geregtigheid voor hom. Die liberale Protestante sien kerkbywoning, gebede ens. as die gronde van aanvaarding deur God. Die “man in die straat” dink dat, omdat hy ‘n “goeie mens” is wat (na bewering) “nooit iemand seergemaak het” nie, God Hom nooit in die hel sal werp nie.

Al hierdie dwase aansprake is eieroem – mense roem op hulleself en roem oor hulleself voor ander. Maar sulke roem het geen waarde voor die heilige God van die hemel nie. Hy sien die sonde in alles wat ons doen (Rom. 3:9-20; Jes. 64:6). Sy maatstaf is nie menslike of godsdienstige opinie nie, maar Sy eie volmaakte morele wet. Hy is die Een wat die hart sien wat “bedrieglik is … bo alle dinge, ja, verdorwe is dit”(Jer. 17:9), met al sy bose voornemens en motiewe (Heb. 4:12). As die Een met oneindige majesteit, eis Hy dat Hy altyd verheerlik moet word as die hoogste doel van al ons denke, praat en doen. Die Psalm skrywer was reg: “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?” (Ps. 130:3).

Regverdiging kan dus nie eers in die geringste mate deur die mens se werke gebeur nie. Dit hou ons dan by die waarheid van die evangelie dat vader Abraham deur geloof alleen geregverdig is. Ons kry dit in die drie gedeeltes van Romeine 4:3.

Die vers begin met, “Want wat sê die Skrif?” Letterlik verwys dit na “die Skrif”, naamlik Genesis 15:6 wat in die res van Romeine 4:3 aangehaal word. Hierdie vers uit die eerste boek van die Bybel is die locus classicus vir regverdiging deur geloof alleen in die Ou Testament, wat aangehaal word in Galasiërs 3:6 en Jakobus 2:23 en in Romeine 4 verduidelik word.

“Want wat sê die Skrif?”, vervolg Romeine 4:3, “Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.” Die teks sê nie”, “Abraham het gewerk en dit is hom tot geregtigheid gereken” nie, of selfs “Abraham het geglo en gewerk en dit is hom tot geregtigheid gereken” nie. Die Skrif sê, “Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.”

Romeine 4:2 skakel die mens se werk in sy regverdigmaking in toto uit, terwyl vers 3 geloof as die enigste bron van regverdiging noem. Om die apostel se vroeëre stelling te herhaal, “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet” (3:28). “Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken” (4:3). Daar is drie sleutelwoorde of sinsnedes in die laaste vers. Eerstens verwys “dit” terug na “geglo” en praat dus van geloof. Tweedens, beteken “gereken”, tot iemand se rekening verreken. Derdens “… tot geregtigheid gereken” is gelykstaande aan die genadige regverdiging van God, sy verklaring dat ons regverdig of geregtig is voor sy aangesig.

Hier staan ons nie net teen Rome nie, maar ook teen die New Perspective on Paul en die Federal Vision. Deur hulle korrupsie van die evangelie, val al hierdie ketterse bewegings genadige toerekening aan. Tog is vader Abraham geregtigheid toegereken in Genesis 15:6, die fondament van die Ou Testamentiese Skrif wat in Galasiërs 3:6 en Jakobus 2:23 aangehaal is, en in Romeine 4 op uitgebrei word as die gelyke van regverdigmaking.

In verband met die waarheid van toerekening, verwerp die Dordtse Leerreëls die klasieke Arminiaanse kettery wat beweer “… God, nadat Hy die eis van die volmaakte gehoorsaamheid aan die Wet afgeskaf het, nou die geloof self en die onvolmaakte geloofsgehoorsaamheid as volmaakte gehoorsaamheid aan die Wet beskou en dit dan uit genade waardig ag om dit met die ewige lewe te beloon” (DL II: vd 4).

“Geloof self” is uiteraard nie “volmaakte gehoorsaamheid” aan die heilige wet van Jehovah nie, en dit is absurd om te dink dat Hy dit as sodanig so beskou of toereken. Ook kan die oneindig regverdige God die mens se onvolmaakte gehoorsaamheid reken as volle en volledige gehoorsaamheid aan sy reine en volmaakte morele standaarde. Die Leerreëls is korrek: “Met die goddelose Socinus voer hulle (Arminiane) ‘n nuwe en vreemde leer oor regverdiging van die mens voor God in. Dit is in stryd met die eenstemmige belydenis van die hele kerk” (DL II: vd 4).

Die Skrif leer nie dat die Drie-enige God geloof “as ‘t ware” as geregtigheid beskou of geloof in die plek van geregtigheid aanvaar as ‘n soort plaasvervanger vir volmaakte gehoorsaamheid aan die wet van Jehovah nie. Dit sou aan die geloof van die mens die plek en rol van Christus self toeskryf. Hy is die ware plaasvervanger van alle uitverkore gelowiges, want die Here Jesus is die Een wat aan die kruis in ons plek onder die toorn van God gesterf het, en die een wat die wet van God vir ons en in ons plek gehoorsaam het.

Die Bybel sê ons glo “tot geregtigheid” (Rom. 10:10) of dat geloof ons “tot geregtigheid gereken word” (Rom. 4:3, 5, 9, 22; Gal 3:6), nie dat dit aan ons toegereken word “in plaas van” geregtigheid of dat dit “as ‘t ware” geregtigheid is nie.

Geloof se unieke rol by regverdiging is dié van die middel of instrument wat die geregtigheid van God in Christus aangryp. Geloof sien buite homself en weg van homself na die geregtigheid van ‘n ander, ja, na dié van die Here Jesus, wie se geregtigheid hy opneem. Geloof word ons tot geregtigheid gereken as die enigste middel waardeur ons die gehoorsaamheid van Christus ontvang as tot ons eie rekening gereken!

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons