Ds. Angus Stewart
Wie is die bewerkers van wonderwerke na die vleeswording, versoeningsoffer aan die kruis en die Hemelvaart van Christus? Die Bybelse en Gereformeerde antwoord is “Die Apostels en ‘n paar ander, en dan ook net in die apostoliese tyd.” Pentekostaliste en Charismatiste sou egter antwoord, ”Die apostels en vele ander in die apostoliese tyd, en nog baie sedertdien.” Ander binne die Hernuwingsbeweging sluit hierby apostels en profete gedurende die1,900+ jare sedert die dood van die 12 apostels en Paulus in.
Kom ons kyk na die belangrikste boek in dié verband in die Nuwe Testament, Handelinge, beginnende met twee uitdruklike verklarings dat die 12 apostels wonders bewerk het. Eerstens “… baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind” (2:43). Tweedens, “deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind” (5:12). Hierdie wonders was nie deur (gewone) gelowiges bewerk nie. Ons lees nie hier van ‘n wonder-werkende vroeë kerk nie, maar van wonder-werkende apostels!
Handelinge bevat verskeie wonders wat deur die apostel Petrus verrig is: die genesing van die man wat kreupel gebore was (3:1-4:22), die sterfte van Ananías en Saffíra (5:1-11), die genesing van ‘n menigte siekes en mense wat deur onrein geeste besete was rondom Jerusalem (5:15-16), die genesing van die verlamde Enéas (9:32-35) en die lewendmaking van die gestorwe Tabíta (36-32).
Ook wonders wat deur Paulus verrig is word in Handelinge vertel. Hy het die towenaar Élimas in Ciprus laat blind word (13:9-12). In Ikónium het hy “tekens en wonders” laat plaasvind (14:3) saam met Barnabas, een van die “profete en leraars” van die gemeente in Antiochië wat deur die Heilige Gees gestuur is (13:1-2); in Listre het hy ‘n kreupel man gesond gemaak (14:8-10); in Filíppi dryf hy ‘n waarsêende gees uit ‘n slavin (16:16-18). In Éfese bewerk God genesing en uitdrywing van bose geeste deur buitengewone krag in die “doeke en voorskote” van Paulus (19:11-12). In Troas maak hy die jong man Eútichus lewend (20:9-12) en hy kom niks oor na ‘n byt van ‘n giftige adder in Malta nie (28:3-6). Op dieselfde eiland genees hy die vader van Públius van koors en buikloop en nog meer mense met ander siektes (7-10).
Het ander, benewens die reeds genoemdes, wonderwerke verrig? Ja, drie manne. Eerstens was daar Stéfanus wat “groot wonders en tekens onder die volk gedoen” het (6:8). Hy was een van die eerste sewe diakens op wie die 12 apostels die hande gelê het (1-6). Hierbenewens noem Handelinge 7 hom nie alleen as die eerste Christelike martelaar nie, maar ook as ‘n profeet, want hy het ‘n hemelse gesig van die verheerlikte Christus ontvang (55-60).
Tweedens het Filippus in Samaría wonders gedoen (8:6-7, 13). Hy was nie alleen, soos Stéfanus, deur die apostels as diaken aangestel nie (6:1-6), maar ook soos Timótheüs (II Timótheüs 4:5) ‘n evangelis (Handelinge 21:8), wat ‘n buitengewone tydelike amp verrig het waarin hy onder die eerste eeuse apostels gewerk en hulle ondersteun het (Efésiërs 4:11,12).
Derdens het Ananias vir Paulus, nadat Christus aan hom op die pad na Damaskus verskyn het, hom van sy blindheid genees (Handelinge 9:12, 17-18). Die Messias wat Paulus vroeër op wonderbaarlike wyse laat blind word het, stuur Ananias later om sy sig op wonderbaarlike wyse te herstel. God het nie een van die (vroeëre) apostels vir hierdie taak gebruik nie, sodat Paulus se latere teenstanders nie sou wou sê dat hy ‘n tweedehandse apostel is nie (vgl. Galasiërs 1-2). Die Here het instede met Ananias in ‘n gesig gepraat (Handelinge 9:10-16) om daarmee ook vir ons te wys dat hy ‘n profeet was.
Wie het God dan gebruik om wonders te werk na die verheerliking van Sy Seun? Wat sê die boek Handelinge? Dit was nie gewone lidmate in die kerk nie. Die Here het die 12 apostels, in besonder Petrus en die apostel Paulus, bekragtig. Vier ander manne word genoem: die profete Ananias en Barnabas, en die evangelis Filippus. Hierdie manne was onwrikbaar verbonde aan die apostels as diegene wat deur die 12 apostels geroep was (Stéfanus en Filippus) of ‘n wonderwerk aan Paulus verrig het (Ananias) of die apostel Paulus op sy eerste sendingreis vergesel het (Barnabas). Met die dood van die apostels en diegene wat deur hulle aangestel is of met hulle saamgewerk of wonders aan hulle bewerk het, het die dae van goddelike wonder- werkers geëindg.
Dit verduidelik Paulus se geïnspireerde woorde in II Korinthiërs 12:12: “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.” As sommige Christene, of sommige pastore of ouderlinge, in ons dae wonders kan verrig, hoe is sulke “wonders” dan die tekens van ‘n apostel?
Wonders in die apostoliese tyd was bedoel om (1) die apostels van Christus en/of (2) die evangelie wat hulle verkondig het, te bekragtig. Eerstens praat die Nuwe Testament van wonders wat die boodskappers van Christus as “die wat dit gehoor het”, bevestig (Hebreërs 2:3): “terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil” (4). “Wonders” het ook hierdie funksie met betrekking tot die Here self, soos Petrus op Pinkster gepreek het, “Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet” (Handelinge 2:22; vgl. Johannes 3:2; 5:36; 9:16, 30-33; 10:25, 37-38).
Tweedens bevestig wonders die “boodskap” van die 12 apostels: “hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het” (Markus 16:20). Dit is ook die geval met die evangelie wat deur Paulus die apostel en Barnabas die profeet wat by hom was: “Hulle het toe ‘n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind” (Handelinge 14:3).
Laat ons dan vashou aan die Nuwe Testamentiese apostels en die apostoliese evangelie wat hulle verkondig: Redding is in Christus alleen tot die eer van God alleen (I Korinthiërs 15:1-4)!
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.