Menu Close

Die Doop met die Heilige Gees / The Baptism With the Holy Spirit

        

Rev. Angus Stewart

Inleiding

Noudat ons in die twee vorige artikels na die drie golwe van Charismatiese Christenskap of vernuwing van die vroeë negentiende eeu af (Pinkster, Charismatiese en Neo-Charismatiese) gekyk het, sowel as die voorlopers van moderne Charismatiese Christenskap in vroeëre kerkgeskiedenis (insluitend die Heiligheidsbeweging, John Wesley, Edward Irving en die Katolieke Apostoliese Kerk, die Franse profete, elemente in Anabaptisme en Rooms-Katolisisme, en Montanisme), gaan ons nou kyk na die belangrikste kenmerkende leerstellings en/of praktyke van die moderne Charismatiese beweging.

Logies gesproke is die Pinkster- en Charismatiese leerstelling oor die doop met die Heilige Gees as ‘n tweede seën na bekering die plek om te begin. Hierdie idee van ‘n tweede seën het ‘n baie slegte geskiedenis. In teenstelling met die Bybelse en Gereformeerde onderrig, het sommige Puriteine geglo dat versekering ‘n soort tweede seën was.

Die laaste artikel het daarop gewys dat John Wesley en die Heiligheidsbeweging, wat uit hom voortgevloei het, aangevoer het dat die tweede seën volkome heiligmaking was. Vir verskeie herlewingspredikers, soos R. A. Torrey en D. L. Moody, was die tweede seën “krag vir diens.” Pinkster- en Charismatiese Christene het egter die idee van ‘n tweede seën gevat en dit ‘n nuwe betekenis gegee. Hul het dit geïdentifiseer as ‘n doop met die Heilige Gees na bekering, wat bewys deur die vermoë om in tale te kan praat.

Ons moet drie hoofaspekte van die doop met die Heilige Gees van Pinkster- en Charismatiese Christendom onderskei. Die eerste is dat hierdie doop plaasvind ná bekering. So, ‘n persoon word gered en dan, op ‘n tyd in die nabye of verre toekoms, ontvang hy sy doop met die Heilige Gees. Tweedens, die aanvanklike bewys dat iemand met die Heilige Gees gedoop is, is die vermoë om in tale te praat. Derdens is daar die voorwaardes, die dinge wat ‘n mens moet doen of begeer of wees om met die Heilige Gees gedoop te word sodat ‘n mens in tale kan praat. Alhoewel hierdie dinge op verskillende maniere gelys en uitgedruk word, sluit ‘n soeke vir die Heilige Gees, jouself oorgee, bid, jou hart suiwer maak, ens. in.

    

1 Korintiërs 12:13 en die Drie Aspekte

1 Korintiërs 12:13 stel die Christelike standpunt teenoor die drie aspekte van die Pinkster- en Charismatiese leerstelling oor die doop met die Heilige Gees: “En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk.

Eerstens, hierdie vers bepaal dat die gelowige “gedoop” word deur die Heilige Gees wanneer hy deel word van Christus se liggaam en dus van Christus self. Dit is dus nie ‘n geval van ‘n doop na bekering nie. Met ander woorde, ‘n persoon word gedoop met die Heilige Gees by sy wedergeboorte en eenwording met Jesus Christus, en nie daarna nie.

Nou volg dit dat, aangesien ‘n kind van God gedoop word deur die Gees by sy wedergeboorte en nie daarna nie, daar nie ‘n enkele ware gelowige is – nie een nie! – wat gedoop is met die Heilige Gees na sy wedergeboorte nie. Die teks lê groot klem hierop: “En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk.

Tweedens, 1 Korintiërs 12:13 handel ook met die bewys van die doop met die Heilige Gees. Hier sien ons dat die bewys van die doop met die Gees nie is om in tale te praat nie. Selfs Pinkster- en Charismatiese Christene sou dit moet toegee, op ‘n behoorlike interpretasie van die vers, want selfs hulle glo nie dat elke kind van God in tale praat nie.

Die bewys of resultaat van die doop met die Heilige Gees is, volgens 1 Korintiërs 12:13, om met die Heilige Gees deurdrenk te wees en uit Hom al ons verfrissing, lewe en verlossing te put. Dis omdat Hy vir ons Christus se saligheid bring. Die wat gedoop word deur die Heilige Gees, leef deur geloof in Jesus Christus wat gekruisig is as Verlosser en Here. Dit, en nie om in tale te praat nie, is die bewys van ‘n persoon wat gedoop is in Christus en sy liggaam.

Noudat ons na die Pinkster- en Charismatiese siening van die doop met die Heilige Gees gekyk het, kyk ons nou, derdens, na die beweging se siening van voorwaardes. Daar is geen voorwaardes vir ons om deel van Jesus Christus se liggaam te word nie. As daar sulke voorwaardes was, sou die hele gevalle mensdom vergaan, want hoe sou dooie sondaars ooit sulke magtige werke kon verrig soos om hulself uit die dood op te wek en hulself aan die opgestane Christus te verbind?

Dit is die Gees van die Here alleen wat ons wedergebore maak, ons uit ons geestelike dood optel, en ons verbind met ons Verlosser. Dit is “deur die een Gees” dat ons almal in een liggaam van Christus gedoop is (1 Kor 12:13) – nie die mens se sogenaamde vrye wil nie, nie sy samewerking met God nie, en nie sy vervulling van enige voorwaardes nie. Onvoorwaardelike verkiesing lei tot onvoorwaardelike wedergeboorte. En onvoorwaardelike wedergeboorte is gelykstaande aan die onvoorwaardelike doop deur die Heilige Gees.

Hierdie interne geestelike doop word gesimboliseer en bevestig in eksterne waterdoop. Die boodskap van die waterdoop is dat die almagtige, soewereine God nie net al die sondes van sy volk weg was nie, maar dat Hy ook al sy uitverkorenes wedergebore maak. Hy doen dit deur hulle ‘n nuwe lewe in Jesus Christus te gee deur hulle in Hom en sy liggaam te doop. Die Pinkster- en Charismatiese siening van die doop met die Heilige Gees ontneem ons van die ware betekenis van die sakrament van die doop.

     

2 Petrus 1 en die Christelike Lewe

Met betrekking tot 1 Korintiërs 12:13, moet ons ook Petrus se woorde in 2 Petrus 1:2-7 oor ons groei in die Christelike lewe in ag neem:

“Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word, deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here. Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir ‘n godvresende lewe, deur die kennis van Hom wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het. Hierdeur het Hy sy kosbare en grootse beloftes reeds aan ons gegee, sodat julle deel kan kry aan die goddelike natuur, noudat julle ontvlug het aan die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is. Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug, insig, by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, by godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense.

Hierdie pragtige skrifgedeelte sê dat ons “genade en vrede” kry deur God in Jesus Christus te ken. Die gedeelte voeg by dat God se goddelike krag ons alles gegee het wat ons nodig het vir ‘n godvresende lewe. Omdat dit die geval is, het ons nie ‘n tweede doop nodig nie. Wat ons wel nodig het – in terme van die teks – is om insig en deug by ons geloof te voeg, sowel as selfbeheersing, volharding en godvresendheid, broederliefde en liefde vir alle mense. In ooreenstemming met hierdie roeping het God sy kosbare en grootste beloftes aan ons gegee sodat ons kan deel kry van die goddelike natuur.

In wedergeboorte word die gelowige verenig met Jesus Christus, so hy moet elke dag in heiligheid wandel, en strewe om al hoe meer deur God se genade met die Gees gevul te word. Terwyl ‘n dronk man gevul is met alkoholiese geeste en so onder hul bedwelmende invloed kom en dienooreenkomstig optree, kom die gelowige wat gevul is met die Heilige Gees onder die Gees se invloed en, as gevolg daarvan, dink, praat en wandel hy op ‘n goddelike manier, volgens die patroon wat in geïnspireerde Skrif uiteengesit word.

Aan die ander kant, ontstaan die Pinkster- en Charismatiese Christenskap se doop met die Heilige Gees uit ‘n valse leerstelling van verlossing: verlossing geskied as gevolg van die vrye wil van die sondaar. Dit verkleineer wedergeboorte en eenwording met Jesus Christus bloot as die eerste stappe. Die klem word eerder geplaas op ‘n ander, groter doop wat nagestreef moet word en wat net deur sommige elite-Christene ervaar word. Dit skep dus ‘n twee-vlak stelsel van Christenskap: die Christene wat het en die wat nie het nie.

Deur dit te doen, druis die Pinkster en Charismatiese doop met die Heilige Gees in teen die eenheid van die kerk. Dit val die kerk se eenheid aan, nie net deur ‘n valse leerstelling nie (want alle dwaalleer val die eenheid van die kerk aan), maar ook omdat dit twee dope leer: die eerste doop vir verlossig en die tweede die doop met die Heilige Gees. Tog leer Efesiërs 4:5, wat spesifiek handel oor die eenheid van die kerk, ons dat daar “een Here, een geloof, een doop” is. Daarom vloei twee dope uit en lei tot twee verskillende gelowe en nie net een Here nie.

Benewens dit alles, en op ‘n baie praktiese en persoonlike vlak, het diegene wat die doop van die Heilige Gees nastreef – ek was eens op ‘n tyd een van hulle – kosbare tyd en energie gemors, om dit lig te stel, wat aan baie beter dinge bestee kon word. Sommige het selfs hul verstand verloor, omdat hul groot ywer vir hierdie “seën” gepaard gegaan het met ‘n eerlikheid wat hulle weerhou het om voor te gee dat hulle in tale kon praat en dat God hulle met ‘n wonderlike gawe geseën het.

Dit is vir sommige van hierdie redes en ander dat die derde van die drie moderne vernuwingsgolwe, Neo-Charismatisme, die Pinkster- en Charismatiese leerstelling van die doop met die Heilige Gees laat vaar het, of ten minste nie daarop aandring nie.

       

Handelinge 2, 8, 10 en 19 en die Historia Salutis

Die beswaar uit Pinkster- en Charismatiese kringe is: “Wat van die uitstortings van die Heilige Gees in Handelinge 2, 8, 10 en 19? Bewys hierdie hoofstukke nie, omdat mense gedoop is met die Heilige Gees na bekering, dat dit vandag ook kan gebeur nie?”

Die antwoord op hierdie vraag is dat hierdie gedeeltes nie verstaan moet dat hulle die ordo salutis, of die volgorde van verlossing van die gelowige, leer nie. Hierdie vier hoofstukke vestig, en is nie bedoel om de orde van verlossing te vestig nie. Dus, mens word nie wedergebore en ontvang daarna die doop met die Heilige Gees nie. Die hoofstukke handel eerder met die historia salutis, dit wil sê, die geskiedenis van verlossing. Die historia salutis is nie die geskiedenis van verlossing vir die individu nie, maar die geskiedenis van verlossing vir die kerk.

Op die Pinksterdag in Handelinge 2 is die Ou Testamentiese Joodse kerk gedoop deur die Gees van die opgestane en verheerlikte Christus sodat dit, soos ‘n kind wat volwasse geword het, die Vader se erfenis ontvang het. Dit is die argument van Galasiërs 4:1-7.

Handelinge 8, 10 en 19 moet verstaan word as uitbreidings van Pinkster en nie herhalings daarvan nie. Hierdie drie hoofstukke dui aan dat [1] die Samaritane ook gered is met volle Nuwe Testamentiese Messiaanse verlossing (Handelinge 8) soos [2] die heidene in Cornelius se huis (Handelinge 10) en [3] die volgelinge van Johannes die Doper in Efese wat nie bewus was dat Christus gekom het nie (Handelinge 19). Almal, soos ons, is gedoop in die liggaam van Jesus Christus, die verhoogde Here, ongeag of ons Jode of Grieke is (1 Kor. 12:13)!

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons