Rev. Angus Stewart
Ons het nou reeds na die drie golwe van Charismatiese Christenskap, die voorlopers van moderne Charismatiese Christenskap en die doop met die Heilige Gees gekyk. In hierdie artikel gaan ons nou kyk na die verskynsel van in tale praat.
Om af te skop is dit belangrik om te verstaan dat wanneer daar na die vermoë om in tale te praat in die Bybel verwys word, dat hierdie tale nie brabbelary (my doelbewus neerhalende term vir die gewawel van Pentekostalisme, Charismatisme en Neo-Charismatisme) is nie. Nee, die tale in Handelinge en 1 Korintiërs is regte menslike tale.
Handelinge
As bewys vir hierdie standpunt, kom ons kyk na Handelinge 2 en die woorde wat in hierdie hoofstuk gebruik word. In vers 4 sien ons dat dié in die bovertrek “in ander tale begin praat” het. Die Griekse woord vir “tale” (of in Engels “tongues”) hier is glossa. Dit verwys na die orgaan in die mond waarmee ons praat asook die taal wat gepraat word.
In vers 6 lees ons dat “elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word.” In hierdie geval is “taal” die Griekse dialektos, waarvandaan ons die woord dialek (of in Engels dialect) kry. “Taal” en “dialek” word dus om die beurt vir “tale” (glossa) wat gepraat is deur dié in die bovertrek en gehoor is deur die mense in hul eie “tale” (dialektos).
Vers 8 bevat nou die vraag: “Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal [dialektos] waarmee ons grootgeword het?” Vers 11 sê “ons hoor hulle in ons eie taal [glossa] oor die groot dade van God praat.” Hier is dit weereens duidelik dat glossa en dialektos uitruilbaar gebruik word in Handelinge 2:4, 6, 8 en 11.
Tweedens weet ons dat dit regte menslike tale is, soos Frans of Javaans of Swahili, en so meer, want dit is die verduideliking wat in die gedeelte gegee word:
“Verstom en verbaas het hulle gevra: Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, …” (Hand. 2:7-9).
Derdens sê vers 11 dat die mense in hul eie “tale” (glossa) van die groot dade van God gehoor het. Dit is egter nie wat ons hoor van vernuwers nie. Ons hoor nie van die groot dade van God as hulle brabbel nie; ons hoor nie van die groot dade van God nie want meeste van hul kerke skuif prediking opsy; ons hoor nie van die groot dade van God in hul gewoonlik oppervlakkige, nie-eksegetiese, Arminiaanse preke nie.
Hul valse leerstelling en praktyk rakende die Heilige Gees (insluitend hul siening van die vermoë om in tale te praat) is ‘n betreuring vir die Gees, wat die enigste een is wat predikante in staat stel om die Woord van God getrou te preek, te verduidelik en toe te pas (Neh 8:7-8). Met die tale waarna verwys word in Handelinge 2, wat regte menslike tale is, is ons in ‘n posisie om die tale waarin gepraat is in Handelinge 10 en 19, en afgelei in Handelinge 8, te verstaan.
Die tale daar is dieselfde as die vreemde menslike tale in Handelinge 2. Dit is presies die punt van Handelinge. Die mense in Handelinge 2 praat in vreemde tale as ‘n teken dat die opgestane Christus sy Heilige Gees uitgestort het op sy kerk en dat die kerk katoliek of universeel is, wat al die nasies omvat.
Later praat die Samaritane (Handelinge 8), die heidene (Handelinge 10) en die dissipels van Johannes die Doper wat nie die volle Nuwe Testamentiese seëninge ontvang het nie (Handelinge 19) ook in vreemde tale as ‘n teken dat alle gelowiges, Jode en heidene omhels word in die Nuwe Testamentiese kerk van Jesus Christus. Dit weerspreek die idee van die vermoë om in tale te praat as brabbelary in die boek Handelinge, asook die idee dat die gewawel bewys is van die doop met die Heilige Gees.
1 Korintiërs 14
Die tale in 1 Korintiërs 14 is ook regte menslike tale en nie brabbelary nie. Jesaja 28:11-12 word aangehaal in 1 Korintiërs 14:21: “in vreemde tale en deur die lippe van vreemdes sal Ek met hierdie volk praat, en selfs dan sal hulle nie na My luister nie.” Die argument hier is dat Israel só goddeloos was dat die profete wat na hul gekom het om in Hebreeus met hulle te praat, verag en hul boodskap verwerp is.
Daarom het God, in effek, gesê dat hulle nie na Hom sal luister as Hy deur middel van my boodskappers in Hebreeus met hulle praat nie, so Hy sal hulle laat opsit en luister. Hy sal die Assiriërs stuur en as hulle hulself weggekarwei vind na ‘n vreemde land en omring is deur vyandige soldate wat ‘n taal praat wat hulle nie verstaan nie, dan sal hulle weet dat Hy hulle gestraf het vir hul sondes, soos wat Sy profete voorspel het.
1 Korintiërs 14:22 dui daarop dat dit ‘n teken is, ‘n teken van oordeel oor Israel. Nou, in die Nuwe Testament, is die praat van tale God se oordeel oor ongelowige Judaïsme en ‘n teken van die katolisiteit van Christus se kerk. Sodoende identifiseer 1 Korintiërs 14:21-22 die aard van die tale waarvan hierdie hoofstuk praat as regte menslike tale.
1 Korintiërs 14:7 verwys na ‘n soort taal wat met ‘n musiekinstrument gespeel word. Ons noem dit ‘n deuntjie en dit is merkbaar anders as die getokkel van klein kindertjies op ‘n klavier. Vers 8 praat van ‘n trompet wat ‘n kenmerkende klank moet gee om herken te word as ‘n roepe tot die stryd. Vers 9 maak ‘n vergelyking: soos met musiekinstrumente, soos ‘n harp of ‘n trompet, so ook met die menslike stem, as jy nie woorde praat wat mense kan verstaan nie – ‘n regte menslike taal – kan jy net sowel in die lug in praat.
Ons sien dieselfde in 1 Korintiërs 14:10-11. Daar is baie soorte stemme in die wêreld en nie een is sonder betekenis of sin nie (v. 10). As iemand na ‘n Griekse man toe kom en in ‘n vreemde taal met hom praat wat hy nie ken nie, sal hy van hom dink as ‘n vreemdeling (v. 11).
Die Griek het klanke gehoor maar hy het nie geweet wat die ander persoon gesê het nie. Tog sou ‘n antieke Griek herken het dat die vreemdeling minstens ‘n regte taal gepraat het, anders as die gekke klanke wat deur die moderne vernuwers geuiter word!
Charismate beroep hulle op die woord “verborgenhede” in 1 Korintiërs 14:2, wat uitgespreek word deur die persoon wat in tale praat. Maar “verborgenhede” in die Bybel beteken nooit ‘n gewawel nie. Die woord “verborgenhede” in die Skrif verwys na die groot waarhede van die verlossing wat in die kruis van Jesus Christus gesentreer is, wat voorheen verborge was in God en nou deur die Gees geopenbaar is deur sy profete aan die katolieke kerk van beide Jode en heidene (bv. Matt. 13:11; Rom. 11:25; 16:25-26; 1 Kor. 2:7-10; Ef. 1:9-10; 3:3-9; Kol. 1:26-27; 1 Tim. 3:16).
Waansin
Wat in Pinkster, Charismatiese en Neo-Charismatiese kringe “in tale praat” genoem word, is een van die grootste skynheilighede en dwaashede in die 2000 jaar van die geskiedenis van afvalligheid in die Christelike kerk – en dit sê iets. Vir vernuwers is brabbelary die hoogtepunt van vroomheid. Dit word gesien as die spesiale gebedstaal wat opgaan na God toe. Dit word gesien as ‘n wonderlike goddelike gawe wat begeer en ernstig nagestreef moet word.
Die vernuwers se “in tale praat” bestaan uit die soort klanke wat mense vir babas maak. Dit is die dwaasheid waartoe God in sy heilige geregtigheid daardie afvallige beweging gereduseer het. Ons leer ons kinders om ‘n taal behoorlik te praat, maar die Pinksters, Charismate en Neo-Charismate leer volwassenes om brabbeltaal soos suigelinge te praat.
Hul “in tale praat” is nie ‘n goddelike gawe nie; dit is ‘n aangeleerde of nagebootsde gedrag. Mense word deur vernuwers geleer: “Moenie dit met jou trotse verstand analiseer nie. Laat jou tong los in jou mond rondrol en laat klanke uitkom. Is dit nie ‘n wonderlike gawe nie; God is so goed!“
Tog word hierdie brabbelary ook onder nie-Christene regoor die wêreld gevind. Daar is byvoorbeeld Mormone wat in tale praat. Daar is ook Tibettaanse monnike, Rooms-Katolieke, en Islamitiese derwisje wat dit doen. Daar is selfs ongelowige Eskimo’s wat in tale brabbel!
Daar is geen geestelike groei deur in tale te praat nie, want soos 1 Korintiërs 14 herhaaldelik beklemtoon, vereis geestelike groei begrip (vv. 2-6, 12-19, 26-28). Christus het gebid: “Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid.” (Johannes 17:17), tog omseil die wat in tale praat doelbewus die verstand.
Hierdie kragtige woorde is in die laaste kanonieke vers wat deur die apostel Petrus geskryf is: “Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” (2 Pet 3:18). Die “en” in hierdie gedeelte is baie belangrik en het die krag van “deur“: “Sorg dat julle aanhou groei in die genade deur kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” As Satan ‘n groep belydende Christene kan kry om bymekaar te kom en te brabbel soos idiote, dan het hy sy doel bereik.
Die Heilige Gees verklaar: “As die hele gemeente dan op een plek vergader en almal in tale spreek, en daar kom oningeligtes of ongelowiges binne, sal hulle nie sê, “Julle is van julle sinne beroof” nie?” (1 Kor 14:23). Dit is selfs erger as ‘n groep belydende Christene, in plaas van regte vreemde tale te praat, soos babas brabbel. As dit die geval is, is die vernuwers se “in tale praat” ‘n verskriklike getuienis vir nie-Christene. Hulle sal dink die volgelinge van Jesus Christus is mal!
Aan die ander kant is die vermoë om meer as een taal te praat van groot waarde in die diens van die katolisiteit van Christus se kerk. Vandag is die wyse om sulke tale onder die knie te kry nie gebaseer op ‘n wonderbaarlike manier soos in Handelinge 2 nie. Dit is deur harde werk en studie, net soos enige ander intellektuele poging. Soos Salomo gesê het: “Alles bly aan die worstel – ‘n mens kan dit onder woorde nie bring nie” (Prediker 1:8).
Deur die gebruik van meer as een taal kan mense Gereformeerde belydenisse, boeke en pamflette in ander tale vertaal. Dit kan gepubliseer word in druk en op die internet – ‘n onderwerp na aan my eie hart. Werk soos hierdie is van veel groter waarde vir die koninkryk van die hemel as al die brabbelary wat deur al die vernuwers regoor die wêreld vir ‘n honderd jaar geuiter word.
Vreemde tale is ook baie belangrik in sendingwerk. Daar is ongeveer 6,700 tale in die wêreld. Die evangelie kan nie mense wat al hierdie tale praat bereik en red sonder dat sendelinge hul tale leer en vir hulle God se waarheid bring nie. Christus sal nie terugkeer totdat mense van elke geslag en nasie en taal gered is nie. Dit is die betekenis van tale vir ons vandag: die kerk moet bid en arbei vir die verspreiding van die evangelie van Christus in elke taal van die wêreld.