Ds. Angus Stewart
Waarom word Abraham in die Woord van God as die vernaamste voorbeeld gestel van iemand wat deur geloof alleen geregverdig is? Daar is twee hoofredes waarom Paulus hom, deur die Heilige Gees, in Romeine 4 uit baie karakters in die Bybel gekies het.
Rede 1: Abraham was gekies om die verwagte Joodse beswaar teen die ryke evangelieprediking in die voorafgaande verse van Romeine 3 te weerlê: “die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo” (vers 22); “hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is” (vers 24); “om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is” (vers 26); “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet” (vers 28). Dit is duidelik dat ons regverdigmaking of geregtigheid voor God net uit genade is, deur geloof en nie deur werke nie, en net in die gekruisigde en opgestane Christus!
Die wetsgebonde Jode wou dit teëspreek met hulle eie idees oor Abraham. Die volgende is sommige van hulle wettiese aansprake: “Abraham was die enigste regverdige man van sy geslag,” waarmee hulle na sy inherente regverdigheid verwys. “Hy is op grond van sy verdienste as voorvader van die Jode, gekies.” “Abraham het reeds op die ouderdom van drie jaar God begin dien” (dit ten spyte daarvan dat hy in Josua 24:2 beskryf word as ‘n afgodsdienaar in Ur van die Chaldeërs voordat Jehovah hom geroep het). “Abraham het al die voorskrifte van die wet, wat hy reeds vooraf reeds intuïtief geken het, nagekom”. “Hy was die eerste van sewe regverdige manne wat die Shekinah uit die sewende hemel teruggebring het, sodat dit in die dae van Moses sy plek in die Tabernakel kon inneem.”
Daarom het Paulus, die vroeëre Fariseër wat “aan die voete van Gamáliël” (Handelinge 22:3) streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet onderrig is, die Bybelse beskouing van Abraham uiteengesit in antwoord op die algemene Joodse beswaar teen die evangeliese waarheid van regverdiging deur geloof alleen.
Rede 2: Die Heilige Gees, deur die apostel Paulus, verwys in Romeine 4 na Abraham omdat hy ‘n besondere goeie illustrasie, voorbeeld, demonstrasie, bewys en patroon van God se genadige regverdigmaking is, soos dit in die vorige verse (Romeine 3:21-31) uiteengesit is.
Verskillende faktore is hierby betrokke. Eerstens word na Abrahm as ‘n konkrete individu in die Bybel verwys, eerder as om bloot ‘n Ou Testamentiese profesie dat mense deur geloof alleen geregverdig word, aan te haal. Tweedens is Abraham, anders as mindere persoonlikhede soos byvoorbeeld Barug, die assistent van Jeremia, ‘n “groot” karakter in die Skrif. Derdens is Abraham, anders as ‘n vreemdeling soos Ebed-Meleg, die Kusiet (Ethiopiër), uit die volk van die Israeliete of Jode. Vierdens is hy, anders as latere figure soos die profeet Maleági, fundamenteel by die Israeliete of Jode as hulle groot voorvader. In die vyfde plek het God ‘n duidelike Ou Testamentiese teks geïnspireer, wat dit duidelik stel dat Abraham deur geloof alleen geregverdig is (Genesis 15:6).
So open Romeine 4, daardie wonderlike hoofstuk oor regverdiging deur geloof alleen, met Abraham, en keer ook telkens na hom terug. Hy was ‘n werklike individu, ‘n groot figuur in die Ou Testament, so Joods as wat jy kan kry, ja, ‘n stigtervader van Israel! Paulus open die hoofstuk met die woorde: “Wat sal ons dan sê, het Abraham, ons vader na die vlees, verkry?” (vers 1). “Want wat sê die Skrif?” vra die apostel voordat hy die onweerlegbare teks uit Genesis aanhaal: “Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken” (Romeine 4:3).
Hierdie beroep op die voorbeeld van Abraham is die tipiese benadering van Paulus wanneer hy regverdigmaking deur geloof alleen in die Skrif bewys. Dit is nie net sy manier in Romeine 4 nie, maar ook in Galasiërs 3.
Die woorde “na die vlees” in Romeine 4:1 word op twee verskillende maniere verstaan. Eerstens kan dit beskrywend wees van “ons vader,” wat dit onmiddelik voorafgaan: “Wat sal ons dan sê, het Abraham, ons vader na die vlees, verkry?” Dit sou dan na fisiese afstamming verwys, soos dit elders in die Skrif voorkom (bv. Romeine 9:5). Romeine 4:1 sal dan beteken dat Abraham die vader is van Paulus, eerste-eeuse Jode en, inderdaad, alle Jode. Hierdie interpretasie is ortodoks, dit maak sin in die konteks en word deur kommentators soos Johannes Calvyn en William Hendriksen gesteun.
Tweedens is daar ander, soos Charles Hodge en Robert Haldane, wat van oordeel is dat “na die vlees” in Romeine 4:1 die modifikasie is van “verkry” na die voorafgaande woorde “Wat sal ons dan sê, het Abraham, ons vader na die vlees, verkry?
Met so ‘n interpretasie verwys “vlees” na die uiterlike, soos in Filippense 3:4-6: “… alhoewel ek rede het om ook te vertrou op die vlees. As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik.” Met ander woorde, wat het Abraham deur heilige wysheid ontdek, of gevind, toe hy sy stand “na die vlees” voor Jehovah oordink het, dit wil sê in die lig van sy uiterlike omstandighede of kwalifikasies? Hierdie begrip van Romeine 4:1 is ook binne die grense van die ortodoksie en pas in by die konteks.
Vir ons doeleindes hoef ons nie tussen die twee interpretasies van “na die vlees” te kies nie. Maar ons moet die vraag van Romeine 4:1 beantwoord: “Wat sal ons dan sê, het Abraham, ons vader na die vlees, verkry?” Wat het Abraham gevind, ontdek, geleer of te wete gekom in verband met sy regsstatus in die oë van God?
Daarby kom ons, DV, volgende keer!
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.