Menu Close

Christus, die Beeld van die onsienlike God / Christ, the Image of the Invisible God

Ds. Angus Stewart

(1)

Dat Jesus Christus “die Beeld van die onsienlike God” (Kolossense 1:15) is, sê vir ons in die eerste plek iets oor God. Nie Johannes in sy visioene in Openbaring, nie Moses op die Berg Sinai of Adam in die Tuin van Eden het God gesien nie. God is nooit gesien en sal nooit gesien word nie; nie op die oordeelsdag of in die ewigheid nie. Want God is van nature gees, nie materie nie. Hy is sonder kleur, grootte of vorm, want Hy is ewiglik en noodsaaklik onsigbaar. God kan inderwaarheid nie met enige van ons sintuie waargeneem word nie. Nie net kan Hy nie gesien word nie, Hy kan ook nie gehoor of geruik of geproe of aangeraak word nie.

Die onsigbaarheid van God lei ons na die waarheid dat Hy verborge, vêraf, transendent en vir die mens onbegryplik is. Daarom moet God Homself aan ons openbaar sodat ons Hom kan ken. Sy onsigbaarheid noodsaak sy openbaring ten einde vir ons om ooit sy verbondsvriende te wees.

Ons teks sê ook vir ons iets van Christus en sy verhouding met God – dat Hy “die Beeld van die onsienlike God” is. Sekerlik is die ewige Seun die beeld van God die Vader. Alles wat die Vader is, is die Seun ook, en alles wat die Seun is, is die Vader ook, behalwe hulle persoonlike eienskappe van ‘genereer’ (die Vader) en ‘gegenereer’ (die Seun). Afgesien van hierdie uitsonderings, is die Seun die volkome “afskynsel … van sy (die Vader se) heerlikheid en die afdruksel van sy wese” (Hebreërs 1:3).

Kolossense 1:15 fokus egter op die vleesgeworde Christus as die beeld van God, want ons is in die bemiddelde “koninkryk” (13) van die gekruisigde Verlosser “in wie ons die verlossing het deur sy bloed” (14). Daarom praat ons teks van Christus as die Beeld wat die onsienlike God sigbaar maak (15).

As die Woord wat vlees geword het en onder ons kom woon het, het Christus, die sigbare beeld van die onsienlike God, “onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom” (Johannes 1:14). Die apostels het getuig van Hom “wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het” (1 Johannes 1:1-3). So het Jesus ook gesê: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Johannes 14:9).

As die Beeld van God, verbeeld die vleesgeworde Christus God in al sy eienskappe (heiligheid, liefde, waarheid ens.) sy werke (skepping, voorsienigheid en verlosing) en sy wil. Hy is die “Beeld van die onsienlike God”, selfs “die afdruksel van sy wese” (Hebreërs 1:3). Christus is die absoluut perfekte beeld van God in alles, sonder uitsondering. Geen goddelike eienskappe kom kort in dié beeld nie; niks is uit sy plek nie; geen heerlikheid is aangetas of verminder nie. As ewebeeld van God, ís Jesus Christus God, want net die Een wat God is, kan die uitdruklike beeld van God wees, “sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer” (Johannes 5:23).


 

(2)

Basilius die Grote het tereg na Jesus verwys as die “lewende beeld” van God. Christus het op die water geloop; God is die Een wat “stap op die golwe van die see” (Job 9:8). Christus het die storm stilgemaak; dit is God “wat die gebruis van die seë stilmaak, die gebruis van hulle golwe” (Psalm 65:8). Christus het die dooies opgewek; “Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom” (1 Samuel 2:6). Christus het siekes gesond gemaak; Die HERE sê: “Ek is die HERE wat jou gesond maak” (Eksodus 15:26).

As die sigbare, lewende beeld van die onsienlike God, is Christus die glorie van God. Voordat Hebreërs 1:3 sê dat Jesus “die afdruksel van sy (God se) wese” is, staan daar dat Hy die “afskynsel is van sy (God se) heerlikheid.” So ook leer 2 Korinthiërs 4 dat die “die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” is (4, 6). Die rede is eenvoudig: God is heerlik, daarom sal die beeld van God ook heerlik wees. Hierdie oorweldigend lig van Jesus Christus se heerlikheid lei ons tot aanbidding van Hom as God geopenbaar in die vlees (1 Timótheüs 3:16), die openbaring van die Heiige Drie-eenheid. Hierdie glans was in Christus se vernedering versluier, en is nou in sy verhoging ontsluier.

Ons moet ook byvoeg dat Christus deur sy seunskap die beeld van God is. Seuns lyk soos of beeld hulle vaders uit. God die Seun, in die ewigheid deur God gegenereer (Hebreërs 1), beeld die Vader uit. Die vleesgeworde Seun, God se “Seun van sy liefde” (Kolossense 1:13), beeld sy Vader uit. As die Een wat die Vader perfek uitbeeld, openbaar Hy die Vader perfek.

Jesus Christus, “die beeld van die onsienlike God,” word net deur geloof geken. Sommige ongelowiges verwys na Hom bloot as ‘n gesiene man. Ariane, soos die Jehova Getuies, sê dat Hy as die absolute perfekte beeld van God, bloot “soos” God is, maar nie waarlik God nie. Maar die kinders van God, deur die lig van die Gees, glo in Christus, die uitdruklike uitbeelding van die Vader, wat in die heilige Skrif beskryf word as die openbaring van die Vader, en daarom die oogmerk van ons geloof.

Hoewel die onsienlike God in Jesus Christus sigbaar geword het, was daar baie wat Hom in die vlees gesien het wat nie die heerlikheid van God in Hom gesien het nie. Vir hulle het Hy “geen gestalte of heerlikheid gehad” nie, Hy was meer “soos ‘n wortel uit droë grond” (Jesaja 53:2) as “die heerlikheid van die HERE” (40:5). Hoewel hulle Hom wat die beeld van God is, gesien het, het Satan hulle sinne “verblind” sodat hulle nie geglo het nie (2 Korinthiërs 4:4).

Ander, wat hoewel hulle voor die dae waarin God Homself sigbaar uitgebeeld het in die vleesgeworde Seun van God, gelewe het, het die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus aanskou. “Abraham, julle vader”, verseker Christus ons, “het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly” (Johannes 8:56). Wat meer is, al die geestelike seuns van Abraham in die Ou Testament het God gesien of geken deur geloof in die komende Heiland.

Selfs die heiliges wat Christus in die vlees gesien het, het Hom deur die geloof net as die beeld van God gesien (Johannes 4:9-11). Gelowiges vandag het Christus nie in die vlees gesien nie, tog het ons Hom lief (1 Petrus 1:8) en is geseënd, want “salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het” (Johannes 20:29). Wat van u? Het u die heerlikheid van Christus as die beeld van die onsienlike God gesien? Want hulle van “alle eindes van die aarde” wat hulle deur die geloof tot Hom “wend”, word “gered” (Jesaja 45:22).


 

(3)

In die twee vorige artikels het ons gesien dat Christus “die Beeld van die onsienlike God” is. (Kolossense 1:15). Maar, Adam en Eva was voor die val ook in die beeld van God en al God se wedergebore kinders is ook in die beeld van God (Genesis 1:26-27; Efesiërs 4:24; Kolossense 3:10). Daar is egter belangrike verskille. Die mens, so word gesê, is geskape, hetsy aan die begin (Adam en Eva) of deur wedergeboorte (gelowiges), “in” of “na” die beeld van God, maar Christus ís die beeld van God. Vroom manne en vroue, as blote skepsels, dra die beeld van God in ‘n gedeeltelike en kreatuurlike manier; Christus, as die Een wat God en mens is, is die presiese afdruksel van God se wese. Verdermeer dra die uitverkorenes die beeld van God alleen deur Hom, die beeld van God wat vir ons sondes gekruisig is en sy vernuwende Gees aan ons gee.

Die hemele vertel die eer van God” dag en nag aan mense uit alle volke en tale (Psalm 19:1-3). Die skepping verkondig God – sy ewigheid, sy mag, sy heerlikheid, sy waarheid, sy geregtigheid (Romeine 1:20, 23, 25, 32). Maar hoewel die uitspansel die heerlikheid van God verkondig, ís net Christus as God in die vlees geopenbaar, die heerlikheid van God. Die doel van die apostel om Christus as “die Beeld van die onsienlike God” te verheerlik, is “sodat Hy in alles die eerste kan wees” (Kolossense 1:15,18). Jesus Christus is eerste, nie net in die skepping en in die kerk nie, maar ook as openbaring (15-18). As die beeld van God maak Hy die Vader aan ons bekend op ‘n veel dieper en ryker manier as enigiets of enigiemand, of wat selfs die hele skepping tesame kan doen! Om daarom agter “die wysbegeerte en nietige misleiding … volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie” aan te gaan (2:8), is om van die volle glanslig van die heerlikheid en kennis van God in Christus weg te draai na blote vonkies en selfs minder as vonkies. Dit is om weg te draai van Hom wat die lig van die wêreld is, en duisternis te volg. Want in Jesus Christus woon die “ganse volheid” (1:19), en in Hom is “al die skatte van wysheid en kennis verborge” (2:3). Buiten Hom is daar niks werd om te weet nie.

As die Een wat die beeld van God is, is Jesus Christus die hoof profeet en leraar van sy kerk. Hy leer ons nie net oor die Vader nie, Hy is die verpersoonliking van die openbaring van die Vader. Luister na Hom en gehoorsaam Hom! Glo Hom en volg Hom! Deurvors die Skrifte wat van Hom getuig (Johannes 5:39). Want as ons God in sy lewende beeld, Jesus Christus, aanskou “word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid” (2 Korinthiërs 3:18).

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons