Menu Close

“Die Here Ons Geregtigheid” / “The Lord our Righteousness”

 

Ds. Angus Stewart

Jeremia 23:5-6 verkondig, “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID

In die vorige artikel het ons gesien hoe Jeremia se profesie van die “Spruit” (5) in ons Here Jesus Christus vervul is. Ons wil nou kyk na wat waarskynlik die mees uitstaande en wonderlike ding van hierdie gedeelte van die Heilige Skrif is: dit noem ons saligmaker “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” (6).

Eerstens is Hy ons geregtigheid as die Een wat na sy Persoon God is, naamlik die Tweede Persoon van die Heilige Drie-eenheid. In ons teks word Christus “HERE”, dit is Jehovah, genoem, die “EK IS WAT EK IS” (Eksodus 3:14), die Een ewige en onveranderlike. Dit is duidelike bewys van die Goddelikheid an Jesus Christus, want “dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” (Jeremia 23:6).

Dit is nie die enigste Skrifgedeelte wat direk en uitdruklik van die goddelikheid van Christus praat nie, selfs in die Ou Testament. In Psalm 45:7 word Christus soos volg aangespreek: “U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer.” Jesaja 9:6 noem Hom “Sterke God” (vgl. 10:21).

Maar wat nog meer treffend is, is dat Jeremia 23:6 bely dat Jesus Christus nie net Jehovah is nie, maar “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.” Dit is vestommend, en dan nog in die Ou Testament ook!

Tweedens is Hy wat ons geregtigheid is, nie alleen God in sy Persoon nie, maar ook ‘n mens na sy menslike natuur. Jeremia 23:6 leer ons Saligmaker se menslikheid daarin dat Hy as afstammeling van Dawid, van sy familie bekend gemaak word, wat sy geboorte en menslike natuur voorveronderstel (Matthéüs 1:1; Handelinge 2:29-30; 2 Timótheüs 2:8).

Die volledige prentjie van ons teks, in ooreenstemming met die res van die Woord van God (bv. Johannes 1:1-3,14; Romeine 1:3-4; 9:5), is dus dat Jesus Christus God én mens is, want Hy is beide Jehovah én ‘n afstammeling van Dawid (Jeremia 23:5-6).

Nou is die vraag, hoe is Hy “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID”? Is dit eerstens ‘n verwysing na die regverdige karakter van Christus? Hy word immers “ ‘n regverdige Spruit” genoem (Jeremia 23:5). Dit is egter sy persoonlike geregtigheid, nie “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” nie. Jesus se persoonlike geregtigheid is die basis en grondslag van Hom as “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID”.

Tweedens, spreek hierdie titel van Christus oor sy regverdige heerskappy? Sê Jeremia nie Hy sal “reg en geregtigheid doen in die land” nie (5)? Maar dit is die uitvoering van ons Saligmaker se geregtigheid in sy regering van genade oor ons. Dit is nie wat dit beteken dat Hy “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” is nie.

Derdens, verwys “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” na die geregtigheid wat in ons ingegiet en waarmee ons deur die Heilige Gees besiel is? Dit ís ‘n Bybelse waarheid, maar dit is nie die idee met ons teks nie, want nêrens in de Skrif word Christus “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” (of iets dergeliks), genoem met verwysing na ingeboesemde, ingegote geregtigheid, wat die innerlike deur heiligmaking verander nie.

In plaas daarvan spreek “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” van die toegerekende geregtigheid deur regverdigmaking. Om toe te reken beteken om teen jou skuld af te reken. Dit is ‘n regs- of rekenkundige term. In ons regverdigmaking, word die geregtigheid van Christus oorgedra op ons rekening, as ons eie. Daarom verklaar God die Regter ons regverdig. Dit is ons regsposisie omdat Jesus “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” is.

Hier is vier eenvoudige bewyse dat “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” na die toegerekende geregtigheid van reverdigmaking verwys. Eerstens sien ons die ooreenstemming tussen hierdie naam vir ons Saligmaker en “die geregtigheid van God” (Romeine 1:17; 3:21-22; 10:3; 2 Korinthiërs 5:21; 2 Petrus 1:1; vgl. Filippense 3:9), ‘n sleutelfrase in die Bybelse leer van regverdigmaking. Beide “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” en “die geregtigheid van God”, praat van geregtigheid, ‘n goddelike geregtigheid, ‘n goddelike geregtigheid wat ons s’n is, omdat ‘die geregtigheid van God” genadiglik aan ons toegereken is, en deur ons ontvang word deur die geloof alleen.

Tweedens verduidelik 2 Korinthiërs 5:21 hoedat Jesus “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” is: “Want Hy (i.e. God) het Hom (i.e. Christus) wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”

So ook, in die derde plek, is die stelling van 1 Korinthiërs 1:30 dat Christus Jesus vir ons “wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing” geword het. Dit is die rede waarom die vleesgeword, gehoorsame, gekruisigde en opgestane Seun van God “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” genoem word.

Vierdens leer Romeine 3:21-22 dieselfde kosbare waarheid: “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo…” “Die geregtigheid van God (21, 22) is “in Jesus Christus” (22). Die “wet en die profete het daarvan getuig” (21) – ook Jeremia wat Christus “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” noem (23:6)!

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons