Menu Close

Amillennialisme / Amillennialism

   

Ronald Hanko

Die woord amillennium beteken letterlik “geen millennium”. Streng gesproke leer amillennialisme nie dat daar geen millennium hoegenaamd is nie. Inderwaarheid glo die amillennialisme dat daar nie ʼn letterlike, toekomstige millennium is nie.

Die amillennialisme leer dat die millennium van Openbaring 20 die hele Nuwe Testamentiese tyd vanaf die eerste koms van Christus tot aan die voleinding van die wêreld is. Die duisend jaar van Openbaring 20 word dus simbolies, en nie letterlik nie, verstaan.

Hierdie leer word eerstens daarop gegrond dat die getalle in die Skrif, ook die getal een duisend, merendeels simboliese, nie letterlike, betekenis het. ʼn Goeie voorbeeld is Psalm 50:10 waar die Skrif sekerlik nie letterlik en uitsluitlik “berge by duisende”1 beteken nie, maar alle berge.

Omdat die binding van Satan een van die hoofkenmerke van die duisend jaar is (Openb. 20:1-3), leer die amillennialisme dat Satan gedurende die hele Nuwe Testamentiese tyd gebind is. Hy is nie volkome gebonde nie, maar net soveel “sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie” (Openb. 20:3). Hy is, met ander woorde, gebind sodat hy nie kan verhoed dat die evangelie gepreek en sy vrugte in die bekering van die heidennasies gedra word nie.

Uit Matthéüs 12:29 is dit duidelik dat Satan by die eerste koms van Christus gebind is. Jesus gebruik daar, in ʼn klaarblyklike verwysing na Satan, dieselfde Griekse woord vir “bind” as Openbaring 20:2. Hy sê aan die Fariseërs dat die “sterk man [Satan]” geboei moet word. In die konteks van hierdie stelling, praat Jesus van die koms van die koninkryk deur die versameling van die heidene deur die prediking van die evangelie (Matt. 12:14-21, 28-30). Matthéüs 12:29 verklaar Openbaring 20:2 en wys dat die resultaat van die binding van Satan die oorwinning is van die evangelie oor die volke in die Nuwe Testament.

Amillennialisme soek dus nie na ʼn millennium wat nog moet aanbreek nie, maar glo dat ons nou in die millennium is en dat wanneer die millennium eindig, die einde van die wêreld kom. Die Nuwe Testamentiese tyd is die eindtyd van hierdie wêreld.

Amillennialiste verwag nie ʼn wegraping duisend jaar voor die einde, of die groot verdrukking of die wederkoms van Christus, duisend jaar voor die einde van die wêreld nie. Hulle leer, inteendeel, dat al hierdie gebeure aan die einde sal plaasvind en gevolg sal word deur die ewige staat.

Amillennialisme leer dus dat die “basuin” van 1 Korinthiërs 15:51, 52 inderdaad die laaste sal wees en dat ná die wegvoering (1 Tess. 4:16, 17), die uitverkorenes ewig in hemelse heerlikheid by die Here sal wees. Eweneens leer die amillennialisme dat die groot verdrukking van Matthéüs 24:29 onmiddellik voor die basuin, wat die koms van Christus met sy werklike verskyning op die wolke van die hemel aankondig, en die vergadering van sy uitverkorenes, sal plaasvind.

Amillennialisme leer nie van ʼn tyd van ongekende vrede en voorspoed vir die kerk voor die einde nie, maar maak erns met die Bybelse waarheid dat die groot verdrukking die einde van alle dinge sal voorafgaan -” dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom” (2 Tim. 3:1), tye waarin “goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger” (vs. 13).

Om hierdie rede beskuldig sommige mense amillennialisme van pessimisme. Dit is ewenwel nie pessimisties nie. Amillennialiste glo dat Christus regeer, en dat Hy met soewereine mag alle dinge, ook die slegte dinge, laat meewerk – dié wat aan Hom behoort ten goede.

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

1 In die KJV: “a thousand hills” en in die Nederlandse Statenvertaling: “op duizend bergen” – Nic Grobler.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons