Rev. Angus Stewart
Een van die heerlike doeleindes van ons Heiland se seëvierende hemelvaart (Ef. 4:8) was om aan sy geliefde kerk manne te gee om aan haar die waarheid van sy Woord te leer. “En Hy [Christus] het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leeraars” (v. 11).
In baie Pinkster-/charismatiese kringe word hierdie teks, Ef. 4:11, aangegryp as bewys vir hulle voortgaande “Vyfledige Amp” of “Vyfledige Bediening.” Dit is ‘n misvatting. Eerstens omdat hierdie vers na vier, en nie vyf, ampte verwys. Christus “het gegee [1] sommige as apostels, [2] ander as profete, [3] ander as evangeliste, [4] ander as herders en leeraars” (v. 11). Die laaste frase is deurslaggewend in dié verband. Daar staan nie “ander as herders, ander as leeraars” nie. Daar staan “ander as herders en leeraars,” wat aandui dat “herders en leeraars” (albei val onder “ander as”) na een amp verwys, dié van herder/leeraar.
Kom ons kyk na elkeen van die vier ampte om die beurt en begin met die een wat eerste genoem word, dié van “apostels.” Die apostels in die Bybel is, in ‘n tegniese sin, die elf dissipels (Judas synde afvallig geword), Matthías (Hand. 1) en Paulus (Hand. 9). Hierdie manne se kwalifikasie sluit in dat hulle die opgestane Christus gesien het; dat hulle direk deur Hom aangestel is; dat hulle gesag het oor al die kerke (II Kor. 11:28); hulle verskriklike vervolging (I Kor. 4:9); en dat hulle ware wonders in diens van die evangelie bewerk het (II Kor. 12:12). Die opgevare Christus het aan hierdie manne die genade en gesag verleen om, deur die evangelie van Jesus Christus, die fondamente van die Nuwe Testamentiese kerk te lê en om kanonieke boeke te skryf (dink aan die geïnspireerde geskrifte van Petrus, Johannes en Paulus).
Hierdie kwalifikasie sluit enige en alle aanspraak om apostel te wees, sedert die dood van die geliefde Johannes tot by Christus se wederkoms aan die einde van die eeue, uit—in stryd met die aansprake van Rome dat die pous die opvolger van Petrus is en die voorwendsels van die “apostels” van die Katolieke Apostoliese Kerk van Edward Irving (1792-1834), die Mormone en baie Pinkster kerke.
Tweedens praat Ef. 4:11 van “profete.” Hierdie profete is buitengewone ampsdraers met buitengewone gawes, in besonder daarin dat hulle openbaring direk van God ontvang het. Dit sluit die onfeilbare voorspelling van toekomsgebeure in. Só het die profeet Agabus die hongersnood in die dae van keiser Claudius (Hand. 11:28-30) en die bande en lyding van Paulus in Jerusalem (21:10-11) voorspel. Ook is verskeie kanonieke boeke (Mattheus, Markus, Lukas, Handelinge, Jakobus en Judas) deur geïnspireerde Nuwe Testamentiese profete geskryf. Hierdie, tesame met die kanonieke geskrifte van die apostels, is die fondament van Christus se Nuwe Testamentiese kerk (Ef. 2:20).
Derdens praat Efesiërs 4:11 van “evangeliste.” Hierdie naam, in sy tegniese betekenis, is in besonder aan Filippus (Hand. 21:8) en Timoteus (II Tim. 4:5) gegee. Hierdie manne en ander, soos Titus, het gedien as helpers van die apostels. Die evangeliste het ‘n buitengewone roeping ontvang; Timoteus is aangestel “deur die profesie” (I Tim. 4:14). Evangeliste het besondere gawes beoefen. Filippus het wonders in Samaria bewerk (Hand. 8) en Timoteus het die “genadegawe van God” deur die oplegging van die hande van Paulus ontvang (II Tim. 1:6). In die Nuwe Testamentiese boeke sien ons hoedat evangeliste na nuwe kerke gestuur is, of daar agtergelaat is, om hulle op te bou, soos Timoteus in Efese (I Tim. 1:3) en Titus op die eiland Kreta (Tit. 1:5).
Hierdie drie ampte, hoewel hulle in verskeie besonderhede van mekaar verskil, het verkeie belangrike dinge in gemeen. Eerstens is hulle buitengewone ampte. Apostels, profete en evangeliste het ‘n buitengewone roeping ontvang. Apostels en evangeliste en (waarskynlik sommige) profete het wonders gedoen. Apostels en profete (maar oënskynlik nie evangeliste nie) was geïnspireer.
Tweedens het hierdie drie ampte rondreisende werk behels, reisende van een arbeidsveld na die ander. Dit is besonder duidelik met die apostels en evangeliste.
Derdens—en dit is besonder belangrik teen die Pinkster-aanslag—was al drie die ampte tydelik. Die apostels en profete het die fondament van die kerk gelê (Ef. 2:20), en dié word net een maal gelê. Deur die apostels en profete het ons nou die geïnspireerde, onfeilbare, voldoende en volledige Skrif (II Tim. 3:16-17; Openb. 22:18-19). Die evangeliste het verbygegaan saam met die amp wat hulle gehelp het, dié van die apostels. Vir geeneen van hierdie ampte word ons voorskrifte vir die voortsetting daarvan of ‘n lys vereistes gegee nie, anders as by die permanente ampte van ouderling en diaken (I Tim. 3; Titus 1).
In die vierde plek is die ampte van apostel, profeet en evangelis, soos die amp van herder/leeraar, leerampte (Ef. 4:11). Dit is ‘n sleutelgedagte in die verband (vv. 11-16). Dit verklaar ook waarom die besondere ampte van ouderling en diaken nie hier genoem word nie, want die sleutelgedagte van dié ampte is om te regeer en om die barmhartigheid van Christus te bedien, onderskeidelik, en nie lering as sulks nie.
(Vertaal deur Nic Grobler. [email protected]
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)