Ds. Angus Stewart
Reeds sedert die Konsilie van Konstantinopel (381 NC) bely die Christelike kerk vier kenmerke van die ware kerk, naamlik dat sy “een, heilige, katolieke en apostoliese” kerk is. Die apostolisiteit van die kerk word in Efesiërs 2:20 geleer, want in dié gedeelte word gesê dat die kerk gebou is “op die fondament van die apostels en profete.”
Die apostolisiteit van die kerk is dus Bybels en in ooreenstemming met die belydenis, maar wat beteken dit? Op Pinkster, die begin van die Nuwe Testamentiese eeue, is die kerk deur die prediking van die apostels versamel en het daarna “volhard in die leer van die apostels” (Hand. 2:42). Die Nuwe Testament, wat die voltooiing en vervulling van die Ou Testament is, vervat vandag die apostoliese leer. Daarom is ʼn kerk wat volledig gekenmerk word deur die waarheid wat die apostels geleer het ʼn apostoliese kerk, en Christelike predikante wat die apostoliese leer preek, opvolgers van die apostels.
Efesiërs 2:20 leer ook dat apostolisiteit die fondament van die kerk is: want die kerk is “gebou op die fondament van die apostels en profete.” Die heiligheid van die kerk is haar skoonheid (Ef. 5:26-27), nie die fondament nie. Die katolisiteit van die kerk is die universele reikwydte daarvan om alle nasies, tale ouderdomme ens. (Openb. 7:9) in te sluit, en nie die fondament nie. As “fondament” van die kerk is apostolisiteit die basis van die kerk se heiligheid, katolisiteit en eenheid. Die ware kerk besit apostoliese heiligheid, apostoliese katolisiteit en apostoliese eenheid. Ekumeniese verhoudings tussen gemeentes en denominasies moet dus met leerstellige gesprek begin. Stem ons ooreen oor die apostoliese geloof?
Hierbenewens is daar net een fondament van die kerk, nie twee of meer nie. Die grondslag van die kerk is nie apostolisiteit plus eenheid of heiligheid of katolisiteit nie. Die kerk is ook nie gebaseer op apostolisiteit én die mens se vrye wil of moderne wetenskap of kerklike tradisie nie. Die kerk se enigste fondament is die apostoliese waarheid van die Heilige Gees wat die gekruisigde, opgestane en opgevare Jesus Christus wat regeer, openbaar, want Hy is persoonlik die ware fondament van die kerk (1 Kor. 3:11).
Fondamente word natuurlik net een keer gelê, en die fondament van die kerk kan nie weer gelê word nie. Die apostoliese geloof is “eenmaal aan die heiliges oorgelewer” (Judas 3). Die fondament van God, die alwyse boumeester, is sterk genoeg om die hele kerk van alle eeue te dra. Afwyking van die apostoliese leer—die waarheid oor die Drie-enige God, die Skrif, die skepping, soewereine genade ens.—torring aan die fondament van die kerk en loop uit op die verval van ʼn gemeente of denominasie. Daar mog nog mense wees wat die kerk bywoon, maar die kerk gaan geestelik agteruit en is op pad om ʼn valse kerk te word. Kerke wat vandag aanspraak maak op apostels en profete in hul midde, bly nie net in gebreke om die aard van hierdie tydelike, buitengewone ampte te begryp nie, maar hulle voeg daar by en ondergrawe die fondament van die kerk: die Bybelse, Nuwe Testamentiese “apostels en profete” (Ef. 2:20; vgl. 3:5). Die aanspraak dat daar vandag apostels en profete is, impliseer noodwendig dat hulle direkte woordelikse openbaring van God (buiten dié in die 66 boeke van die heilige skrif wat deur God ingegee is) ontvang het. So word die volkomenheid van die Skrif (Ps. 19:8 -12; 2 Tim. 3:16-17) en die volkomenheid van die fondament van die kerk (Ef. 2:20) ontken.
Fondamente bepaal ook die lengte en die breedte, en dus die vorm, van ʼn gebou. Vals leer in ʼn kerk skeur nie net die fondament los nie, maar lê ook ʼn ander fondament. Al wat aanspraak maak om kerk te wees, maar wat nie op die apostoliese fondament gebou is nie, is onder die oordeel van God.
Die beste manier om ʼn gebou te sloop is nie om net sy vensters of sy skoorsteen flenters te slaan nie, maar om die fondament wat die hele bouwerk steun, te vernietig. Net so is die mees effektiewe manier om ʼn kerk te vernietig, die ondergrawing van sy fondament: die apostoliese leer. Só val valse leraars, openlik of subtiel, volkome verdorwenheid, regverdiging deur geloof alleen, onvoorwaardelike uitverkiesing en verwerping en dies meer aan; en ondergrawe die Gereformeerde geloofsbelydenisse wat die leer van die apostoliese waarheid opsom.
Hiermee word ons in staat gestel om kerke in die lig van die woord van God te toets. Die sleutelvraag is die volgende: Is die gemeente of denominasie in alle opsigte apostolies? Word hierdie of daardie kerk geheel gekenmerk deur die apostoliese leer, sodat dit “pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Tim.m3:15) is wat die waarheid van Jesus Christus, in ʼn wêreld wat die waarheid haat, handhaaf? Is die drie kenmerke van die ware kerk, apostoliese prediking, apostoliese sakramente en apostoliese kerklike tug, teenwoordig? Is die gemeente apostolies in sy erediens, gebede, kerkregering, ampte (predikant, ouderling en diaken), die onderrig van verbondskinders, sending en evangelisasie ens. ?
Om lidmaat van ʼn apostoliese kerk te wees, beteken om Jesus Christus, wat teenwoordig is waar die apostoliese waarheid verkondig word, geglo word, geliefd is, bely word, verdedig word en voor gely word, te eer. Sulke kerke is plekke waar die lidmate “toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18) wat in al sy heerlikheid in apostoliese prediking verkondig word.