Menu Close

Die Armeniaanse Dwaalleer van ‘n Universele Versoening

Rev. Angus Stewart

Die Armeniaanse dwaling van ‘n universele versoening word vandag deur baie mense geleer en geglo. Die Sinode van Dordt (1618-19), die mees internasionale vergadering van Gereformeerde Protestante, verklaar dat Christus die uitverkorenes “en hulle alleen” (Dordtse Leerreëls II:8) verlos en dat hulle wat leer dat Hy vir almal gesterf het “die dood van Christus [minag]” en “weer die dwaling van Pelagius uit die hel terug[roep]” (II:VD:3). Die Westminster Confession of Faith (1647) verklaar hieroor: “Nog is enigiemand anders deur Christus verlos as net die uitverkorenes” (3:6). Hierdie artikel is ook in die Kongregasionalistiese Savoy Declaration (1658) en die Baptist Confession (1689) opgeneem.

Universele versoening beteken dat Christus sou gesterf het vir Esau, vir wie God gehaat het (Rom. 9:13); vir Judas, “die seun van die verderf” (Joh. 17:12); vir die Antichris, “die mens van sonde” (II Thes. 2:3) en die groot hoer, die valse kerk (Openb. 17:1-2); hulle wat die onvergeeflike sonde begaan (Matt. 12:32) en hulle wat nooit die Woord gehoor het nie (Ps. 147:19-20) of wat reeds in die hel is. Is dit in ooreenstemming met die oneindige mag, wysheid en heiligheid van God?

Universele versoening beteken dat Christus net maar saligheid moontlik maak, en sodoende ontken dit dat sy dood waarlik verlos. Die Bybel leer egter Christus het sy volk “bevry” (Heb. 2:15), “versoen” (Rom. 5:10), “losgekoop” (Gal. 3:13) en “geregverdig … in sy bloed” (Rom. 5:9). As Christus die prys vir almal, kop vir kop, betaal het en sommige vergaan in die hel, dan red sy versoening nie almal—of selfs die meeste—vir wie Hy dit gedoen het nie. Hoe kan Christus in sy versoening “versadig” wees (Jes. 53:11) as miljoene vergaan vir wie Hy sy bloed gestort het? Dan is Christus se dood ook nie plaasvervangend nie, want as Hy die straf vir die verworpenes dra, waarom word hulle veroordeel? As sommige vir wie Christus gesterf het na die hel gaan, straf God hulle sonde twee keer, een maal in Christus en ʼn tweede keer in hulleself. Is dit in ooreenstemming met die oneindige geregtigheid en regverdigheid van God? Hoe kan sommiges wat Christus versoen het en vir wie daar geen veroordeling is nie (Rom. 8:34) vir ewig in die hel wees?

John Wesley, ʼn advokaat vir universele versoening, sê inderdaad dat, as die woorde van God waar is, iemand wat deur die bloed van Christus gekoop en geheilig is nietemin hel toe kan gaan; in daardie vuurgloed kan kom wat vir ewig die teenstanders sal verteer (Sien The Works of John Wesley [Grand Rapids: Baker, 1996], vol. 10, p. 297).

Die Skrif leer dat Christus gesterf het vir “sy volk” (Matt. 1:21) en sy “vriende” (Joh. 15:13). Hy het sy “nakroos” verlos (Jes. 53:10) en nie die saad van die slang nie (Gen. 3:15); sy “kinders” en “broers” (Heb. 2:10-14) en nie “onegte kinders” (Heb. 12:18) nie; sy skape (Joh. 10:11) en nie die bokke (Matt. 25:33) nie; sy kerk (Ef. 5:25) en nie die sinagoge van die Satan (Openb. 3:4) nie; die “baie” (Matt. 26:28) en nie almal, kop vir kop nie.

Baie mense maak die grondliggende fout om by Joh. 1:29; 3:16 en I Joh. 2:2 die woord “wêreld” (Grieks: “kosmos”) op te neem as synde “almal, kop vir kop.” Charles Spurgeon het opgemerk dat die woord “wêreld” nêrens in die Bybel hierdie betekenis het nie. Ek daag enigiemand uit om een vers in die Bybel te vind waar “wêreld” “almal, kop vir kop” beteken en te bewys dat dit daardie betekenis het in ʼn teks wat die omvang van Christus se versoening leer. Kosmos kan beteken die heelal (Hand. 17:24) of die Romeinse wêreld (Kol. 1:6) of die bose wêreldse magte (Joh. 12:31) of die verworpenes (Joh. 17:9) of die uitverkorenes (Joh. 4:42; 6:33; II Kor. 5:19) ens. Die konteks is deurslaggewend by die uitleg van die Woord in ooreenstemming met die groot Reformatoriese beginsel: die Skrif interpreteer die Skrif.

Net ure voor die kruis en met die oog op sy soendood sê Christus, “Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U my gegee het” (Joh. 17:9). As Jesus nie die mindere ding (bid vir die verworpe wêreld) gedoen het nie, hoe kon Hy die meerdere (sterf vir die verworpe wêreld) doen? As Christus nie vir die goddelose wêreld gebid het nie (een aspek van sy priesterlike werk), is dit moontlik dat hy gesterf het vir die goddelose wêreld (die ander aspek van sy priesterlike werk)? Hierbenewens bid Christus op grond van sy verlossingswerk. Daarom, as Christus nie vir die verworpe wêreld gebid het nie, is dit omdat Hy nie die verlossing vir hulle bewerk het nie. Christus se gebede en versoening is nie net partikulier nie—”vir die wat U my gegee het”—maar ook eksklusief, “nie vir die wêreld nie.”

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953
)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons