Menu Close

Van Betlehem na Moab

Ds. Angus Stewart

(1)

Rut, die agtste boek van die Bybel, is relatief kort en bestaan net uit vier hoofstukke. Dit is vernoem na ‘n vroulike karakter, en Rut kan goedskiks as ‘n romantiese boek beskryf word, want dit begin met verskeie tragedies, dit bevat (wat ons sou kon noem) hofmakery wat op die huwelik van Boas en Rut en die geboorte van hulle seun, Obed, uitloop. ‘n Baie gelukkige einde!

Teologies beskou, is Rut betekenisvol weens vier belangrike redes wat wyd deur Gods volk erken word.

Eerstens het dit betrekking op ons Here Jesus Christus. Die boek bevat ‘n belangrike deel van die stamboom van ons Redder, want Rut was die oumagrootjie van koning Dawid, uit wie se geslag die Messias, na sy menslike natuur, gebore is. Die boek beskryf ook ‘n verwant as losser (Boas) wat sy oorlede bloedverwant se vrou, Rut, loskoop. Die vleesgeworde Seun van God koop sy uitverkorenes los deur sy kruis; Hy is ons bloedverwant wat ons geestelik vlees van sy vlees en been van sy gebeente maak.

Tweedens wys hierdie boek heen na die Nuwe Testamentiese tyd van die katolieke of algemene kerk, want Rut is ‘n Moabiet, ‘n heiden, wat in Israel oorgeplant word. Oor ‘n tydperk van meer as 2,000 jaar het miljoene uitverkorenes, gelowige Jode én heidene van oor die hele wêreld, één liggaam in Jesus Christus geword.

Derdens teken hierdie boek merkwaardige gevalle van die voorsieningheid van God. Om hierdie punt uit te brei sou ek al vier hoofstukke van Rut moes opsom, maar u kan die boek self lees om te sien hoe die soewereine wil en hand van Jehova die verskillende karakters lei.

Vierdens is hierdie boek betekenisvol omdat dit voorbeelde gee van die vroomheid van Rut self, van Naomi en van Boas – mense wie deugsaamheid ons gerus self kan nastreef.

Daar is ewewel nog ‘n belangrike teologiese en praktiese les uit veral hoofstuk 1 van die boek Rut, wat dikwels ongemerk verbygaan of nie voldoende aandag in preke en geskrifte oor die agtste boek van die Bybel kry nie. Rut is baie belangrik in verband met kerklidmaatskap, kerkverlating en aansluiting by ‘n kerk.

Die dispensasionaliste loop dit mis omdat hulle ontken dat Israel in die Ou Testamentiese die kerk van God is (en die kerk die Nuwe Testamentiese Israel). Ander weer is so gefokus op die hofmakery en romanse in Rut dat hulle die onderrig om by die kerk van God aan te sluit, daarin te bly en nooit te verlaat nie, verby kyk.

Ander sien nie hierdie onderrig oor kerklidmaatskap raak nie, omdat hulle nie die kragtige Bybelse en Gereformeerde leer van die kerk, soos ons dit byvoorbeeld in die Nederlandse Geloofsbelydenis 28 vind, ken nie: “Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering ‘n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie – dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam – aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood- of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God”.

Met die eerste oogopslag vertel Rut 1:1-5 ‘n eenvoudige menslike verhaal oor ‘n familie van vier, ‘n man en sy vrou, Eliméleg en Naómi, en hulle twee seuns, Maglon en Giljon (2). Hulle het in die dae van die rigters (1) in die dorp Betlehem in die stam van Juda in Israel gewoon; dit wil sê ná die dood van die oudstes uit die tyd van Josua en voor die regering van koning Saul.

Hongersnood het die beloofde land getref, ook Betlehem en Juda (1). In Betlehem, wat beteken “broodhuis” was daar tekort aan brood. Wat het Eliméleg en sy gesin gedoen? Hy emigreer van Israel met die hongersnood, na Moab (1-2).

Groot teëspoed tref hulle in Moab! Eliméleg sterwe (ons weet nie waaraan nie) en laat Naómi as weduwee en Maglon en Giljon as wese in die vreemde land agter (3).

Later begin dinge beter lyk vir die bedroefde familie. Die twee seuns is getroud. Maglon met Rut en Giljon met Orpa (4).

Die twee huwelike was egter kinderloos en daarop volg nog terugslae. Maglon, die oudste seun sterf, en daarna ook die enigste oorblywende seun, Giljon (5).

Van die vier mense wat Bethlehem verlaat het, bly net Naomi oor. Sy het haar land verlaat en haar man en altwee haar seuns verloor. Mens kan jou goed indink hoe baie trane sy gestort het, trane wat God almal in sy kruik gehou het (Ps. 56:9)!

Naomi het baie beleef in die paar jaar: hongersnood, emigrasie, twee bruilofte en drie begrafnisse. Nou het sy nie ‘n man óf kinders nie.

Die drie weduwees, Naómi, Rut en Orpa, was in ‘n moeilike, droewige situasie. ʼn Weduwee het dit in daardie dae moeilik gehad, maar vir ‘n weduwee in ‘n vreemde land, soos Naómi, was dit des te swaarder.

Verhale soos hierdie is nie vir ons onbekend nie. Ons weet van mense wat emigreer, dikwels om finansiële redes soos voedseltekorte of werkloosheid en uit ‘n begeerte vir ‘n meer voorspoedige lewe in ‘n ander land. Vir sommige wat dit gedoen het, het dinge goed uitgewerk, vir ander nie. Hulle sukkel om werk te kry of om werklik in hulle nuwe omgewing te vestig of hulle beleef hartseer in hulle gesinne (hoewel min so erg as Naómi).

Is dit waaroor Rut 1:1-5 gaan. ‘n Droewige verhaal van ‘n gesin wat hongersnood in Israel ontvlug, vir die meeste net om in ‘n begraafplaas in Moab te beland? So ja, kan die predikant miskien ‘n bietjie moraliseer oor die probleme en gevare van emigrasie.

Maar is dit werklik die inhoud van die eerste vyf verse van Rut. Gewis nie! Ons sal, DV, hierop terugkom in ʼn volgende artikel in die News.


(2)

Daar is ‘n belangrike geestelike les in Rut 1:1-5 (ons het die verhaal in die vorige uitgawe van die News behandel). Dit hoort nie te verras nie, want die verse staan immers immers in die Bybel, wat ‘n onomwonde godsdienstige boek van kennis is, in die diens van die een, ware, lewende God wat in Jesus Christus geopenbaar is. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim. 3:16).

Die geestelike betekenis van die eerste vyf verse word in Rut 1 self aangedui. Eerstens is daar die verwysings na drie sterfgevalle in een klein gesin (3, 5). Dit is reeds onheilspellend. Is dit God wat hier oordeel? Oordeel weens sonde? Die sonde om Israel te verlaat?

Tweedens is Rut 1:1-5 die enigste deel van die boek waarin die naam van God nie genoem word nie. Is dit ‘n heenwysing? ‘n Heenwysing dat Eliméleg, toe hy besluit het om van Betlehem na Moab te trek, God en sy Woord nie in ag geneem het nie? Om van die Almagtige God weg te gaan, was immers ‘n groot besluit; om in die kerk te bly, al dan nie.

Derdens is daar die heel eerste vers in Rut 1: “En in die dae toe die rigters geregeer het … ” Dit is wel ‘n tydsaanduiding van wanneer die gebeure plaasgevind het, maar dit is ook ‘n aanduiding dat die emigrasie van Eliméleg en sy gesin van Betlehem na Moab deel was van die ongehoorsaamheid van daardie tyd. In die laaste hoofstukke van die boek Rigters is daar verskillende variasies van “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 17:6; 18:1; 19:1; 21:25). Die konteks van hierdie tekste wys verder op die boosheid van daardie tyd. Die hongersnood in Rut 1:1 was op sigself ‘n oordeel oor Israel vir hulle sondes (Deut. 28:23-24).

Hierdie drie faktore is, om die minste te sê, betekenisvol (drie sterfgevalle, die enigste deel van Rut met geen verwysing na God, en die donker dae van die rigters). Die volgende argumente is meer eksplisiet en word gebaseer op die woorde van Naómi en Rut.

Naómi sê dat die dood van die drie mans “die hand van die HERE [is wat] teen [haar] uitgestrek is” (Rut 1:13 en, “die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen” (20). “Vol het ek weggetrek, maar leeg het die HERE my laat terugkom. Waarom sou julle my Naómi noem, terwyl die HERE teen my getuig het, en die Almagtige my kwaad aangedoen het?” (21). Die regverdige God het immers die reg om só te doen, want Hy oordeel die sonde.

Ons lees ook die mooi en roerende woorde van Rut aan Naómi: “Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen—net die dood sal skeiding maak tussen my en u” (16-17). As dit vir Rut reg was om van Moab na Israel te gaan, dan was dit verkeerd van die gesin van Eliméleg om van Israel na Moab te gaan.

Benewens hierdie vyf aanduidings in Rut 1, moet ons ook ander toepaslike Bybelse onderrig in ag neem. Eerstens is die vertrek uit Israel na Moab ‘n vertrek uit die land van God, die land wat Hy aan sy volk gegee het, die land waarin Jehova gewoon het. Die gesin van Eliméleg het die land wat God aan hulle in Betlehem gegee het as ‘n teken van die hemelse erfenis, verlaat.

Tweedens het die gesin van Eliméleg die volk van God verlaat. Baie in Israel was boos en ongelowig en ook die uitverkorenes was nie volmaak nie, maar die laasgenoemdes was die verloste, geroepe en gelowige volk van God. Om die kerk van God en die gemeenskap van die heiliges te verlaat, was ‘n growwe sonde (Heidelbergse Kategismus, V. &. A 54-55). Om die volk van God te verlaat, is om die God van sy volk te verlaat. U moet dit onthou wanneer u in die versoeking kom om die kerk waarin die Here woon (1 Tim. 3:15) en die gemeenskap van die heiliges, wat gemeenskap met die Drie-enige God is (1 Joh. 3:1), te verlaat!

Derdens het die gesin van Eliméleg die ampte wat God gegee het, verlaat. Hulle het die rigters, profete, priesters en Leviete wat God in sy Ou Testamentiese kerk gestel het, verlaat. Deur vandag ‘n kerk, wat die kenmerke van die ware kerk – getroue verkondiging van die Woord, bediening van die sakramente en toepassing van die kerklike tug (Nederlandse Geloofbelydenis, 28-29) – toon, te verlaat, verlaat mens herders deur wie Christus ons leer; ouderlinge deur wie Hy ons regeer en toesig hou; en diakens deur wie Hy aan ons barmhartigheid betoon (Nederlandse Geloofsbelydenis 30-31).

Vierdens het Eliméleg se gesin die erediens in die tabernakel, waar God sy goddelike teenwoordigheid bekend gemaak het, verlaat. Daar is die offerandes, die tekens van die volle en ryke versoening van ons sondes aan die kruis, gebring. Dit is baie onwaarskynlik dat Eliméleg en sy gesin elke van die “omtrent tien jaar” wat hulle in Moab was na elkeen van die jaarlikse pelgrimsfeeste opgegaan het (Rut 1:4). Jammer genoeg is baie belydende Christene vandag gewillig om ‘n betrekking in ‘n ander plek te aanvaar, sonder om hulself af te vra of navorsing te doen of daar ‘n goeie Gereformeerde kerk is.

Vyfdens die vraag of die dag van die Here en die vierde gebod in Moab onderhou is? Hoe eerbiedig mens vandag die dag van die Here as daar nie ‘n getroue kerk is om by te woon nie? Hebreërs 10:25 roep ons op: “laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan”.

Sesdens het die gesin van Eliméleg God verlaat. Om God se land, sy volk, sy ampte, sy erediens en sy dag te verlaat, is om God te verlaat. Deur na Moab te trek, het Naómi tot ‘n mate die Here vir jare verlaat, totdat sy berou gehad en na Israel teruggekeer het.

Die sonde van Eliméleg word in die Nederlandse Geloofsbelydenis 28 veroordeel: “Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering ‘n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie – dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam – aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood- of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God”.

(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons