Ds. Herman Hoeksema
Die leser word daaraan herinner dat die publikasie van hierdie pamflet volg op die verskyning en vrye verspreiding van ʼn kort verhandeling oor dieselfde onderwerp deur Dr. M. R. de Haan, predikant van die Calvary Undenominational Church van Grand Rapids, Michigan. Die verhandeling was in die geheel negatief wat betref die doel en inhoud daarvan en het voorgegee ʼn afdoende en oortuigende weerlegging van die leer van die kinderdoop te wees. Die skrywer maak daarin die vrypostige stelling dat diegene wat in die waarheid van die kinderdoop glo, geen bewysgrond hoegenaamd het nie. Hy beweer dat die Woord van God niks ten gunste van die praktyk om die kinders van gelowiges te doop, sê nie.
Sulke voorbarige stellings kan nie onbetwis gelaat word nie.
Kort na die publikasie van Dr. De Haan se verhandeling het ons ʼn kort artikel in The Standard Bearer daaraan gewy, waarin ons sê dat die groot vrymoedigheid en selfvertroue wat uit die woorde van die skrywer blyk, net verklaar kan word as voortspruitend uit volslae onkunde van die skrywer oor die onderwerp wat hy poog te behandel. Ons het ewewel terselfdertyd belowe om te gelegener tyd ʼn verhandeling oor dieselfde onderwerp te skryf. Ons kom die belofte nou na. In hierdie pamfletjie bied ons aan diegene wat in die waarheid van die Woord van God belangstel, die stelling, en die bewys daarvan, dat die doop van die kinders van gelowiges begrond is in die Skrif. Die verhandeling is positief wat betref die doel, inhoud en vorm daarvan. Ek verlang nie ʼn twisgesprek nie. Ek wend geen poging aan om die argumente van Dr. De Haan te weerlê nie, om die eenvoudige rede dat daar niks is om te weerlê nie. My uitsluitlike doel was om ʼn enkele, eenvoudige, maar onweerlegbare bewys te bied dat die kinderdoop ʼn skriftuurlike leer is.
Aangesien dit my doel was, het ek nie betrokke geraak by die verduideliking van verskillende leerstukke en vraagstukke wat met die onderwerp onder bespreking nou verband hou nie. Ek brei nie uit oor die verbondsbegrip, oor die vraag wie in die verbond is, oor die betekenis van doop as sodanig, en so meer, nie. Dit is streng gesproke onnodig vir die een doel wat ek in gedagte gehad het, naamlik om aan te toon dat die Skrif die leer van die kinderdoop handhaaf. Ter wille van die praktiese doel wat ek in gedagte het, moet hierdie verhandeling eerder bondig as omvattend wees; dit moet duidelik wees, eerder as diepsinnig. Daarom het ek my beperk tot een lyn van argumentering en alle irrelevante materiaal, hoe belangrik dit ook in sigself mag wees, daargelaat.
Ek bied aan die leser drie stellings, wat ek elkeen uit die Woord van God sal bewys:
- Daar is deur die eeue, in die Ou Testament én die Nuwe Testament, net een volk van God: die ware Israel, die nageslag van Abraham.
- Hoewel besnydenis en doop in vorm verskil, is hulle in betekenis wesenlik dieselfde.
- Die is die duidelik geopenbaarde wil van God dat die geslagtevan sy volk, sy dit onder die Jode of die heidene, die teken van die verbond moet ontvang; die besnydenis so lank hierdie geslagte van sy volk onder die Jode is, die doop wanneer die geslagte onder alle nasies, beide Jode én heidene, is.
1. Een Volk: van die Ou en Nuwe Bedeling
Ten eerste dan die stelling dat daar net een volk van God is en dat hulle, in beide die ou en die nuwe bedeling, die ware nageslag van Abraham is.
Ek maak daar geen geheim van nie dat ek hierdie waarheid as fundamenteel en noodsaaklik beskou om die kinderdoop te begryp.
Alle premillennialiste ontken dit. Dit om hierdie spesifieke rede dat ʼn PRE ook ʼn Baptis moet wees. Hy verdeel die volk van God. Volgens hom is daar twee volke van God, twee verskillende nageslagte van Abraham, die Jode en die Kerk, die natuurlike Israel en die geestelike Israel. Die Jode is die werklike en natuurlike Israel met spesiale voorregte, ʼn spesiale belofte, ʼn afsonderlike verbond vir hulle alleen en ʼn spesiale toekoms. Vir hulle is die aardse Jerusalem, die aardse Sionsberg, die aardse troon van Dawid, die aardse tempel, ʼn ewigdurende besit. Hulle sal ewig die werklike, ware Israel, die ware nageslag van Abraham wees. Gelowiges van die nuwe bedeling word net in die figuurlike, geestelike sin van die woord die nageslag van Abraham genoem. Dit is van hulle wat die apostel in die derde hoofstuk van sy brief aan die Galasiërs praat.
Ek voer aan dat die geheel van hierdie beskouing verkeerd, vals en teen-skriftuurlik is. Hierteenoor stel ek dat die Woord van God net een nageslag van Abraham ken; die geestelike, uitverkore kinders van die belofte. Dit is waar ten opsigte van die ou én die nuwe bedeling. Dit is nie korrek om te beweer dat in die ou bedeling die Jode, en in die nuwe bedeling die gelowiges, die nageslag van Abraham is nie. Die Jode was nooit die nageslag van Abraham nie. Dit is wel korrek om te sê dat die nageslag van Abraham vir ʼn tyd lank uitsluitlik tussen die afstammelinge van Abraham gewoon het, soos hulle tewens nou onder alle volke woon. Die Skrif vereenselwig die afstammelinge van Abraham nêrens met die nageslag van Abraham nie. Die laasgenoemde, die kinders van die belofte, was te alle tye net die gelowiges alleen. In die tyd van die Ou Testament word hulle gevind in die geslagte van Set, Noag, Sem, Abraham en Israel. In die nuwe bedeling is hulle onder alle nasies, want daar is geen onderskeid meer tussen Jood en heiden nie. Die kinders van die belofte, vernoem na Abraham die vader van gelowiges, is altyd die ware kinders van God – gelowiges. Hulle en hulle alleen, is die nageslag van Abraham.
Dit is dan my betoog.
Nou die bewys uit die Woord van God.
Eerstens vra ek u aandag vir Romeine 9:6-8: “Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie. Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.”
Dit is duidelik: (1) Dat die apostel hier praat van die Jode van die ou bedeling. (2) Dat hy onderskei tussen diegene wat uit Israel is, en hulle wat waarlik Israel is. Die volk as sulks, die nasie, was almal uit Israel. Hulle was die nageslag van Abraham na die vlees, tog was hulle nie almal die nageslag nie. Die kinders van die belofte word gereken as die nageslag. Wanneer die Here dus praat van die nageslag van Abraham, so lui die argument van die apostel, moet ‘n mens nie die fout begaan om daardie woord van God op die Jode van toepassing te maak nie. Dit beteken nie die Jode nie, maar net die ware Israel, die kinders van die belofte, want hulle, en hulle alleen is die nageslag van Abraham.
Neem vervolgens Romeine 4:11-16 in oorweging: “En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ʼn seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word; en ook ʼn vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nie, maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham toe hy onbesnede was. Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof. Want as hulle wat uit die wet is, erfgename is, dan het die geloof waardeloos geword en die belofte tot niet geraak. Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie. Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal.”
ʼn Gedetailleerde uiteensetting van hierdie ryke Skrifgedeelte is nie binne die bestek van hierdie kort verhandeling moontlik nie, maar dit is ook nie nodig nie. Met die oog op my stelling gee ek ewewel die volgende ter oorweging: (1) Dat Abraham hier geteken word as die vader van alle gelowiges, beide hulle wat uit die besnydenis is (die Jode) én diegene uit die onbesnedenes (alle volke en nasies). Hulle wat glo, is daarom die nageslag van Abraham, hetsy deur die wet of bloot deur geloof. (2) Dat Abraham net in hierdie sin die vader van die besnydenis is. Nie almal wat uit die besnydenis is, dit wil sê hulle wat in die vlees besny is, is die nageslag van Abraham nie, maar net diegene onder hulle wat ook glo. Want hy is die vader van die besnydenis, dit wil sê nie alleen van hulle wat uit die besnydenis is nie, maar ook van hulle wat wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham (vs. 12). (3) Dat een en dieselfde belofte aan hierdie een nageslag gegee is, naamlik dat hulle saam met hulle vader Abraham, die aarde sal beërwe. Hulle wat bloot uit die wet is, is hoegenaamd nie erfgename van die belofte nie; maar net hulle wat uit die geloof van ons vader Abraham is. Hy is die vader van ons almal. Een vader Abraham, een nageslag van Abraham, een belofte en een weg om die belofte te verkry: die weg van geregtigheid, alleen deur die geloof.
Ek gee vervolgens ook Romeine 2:28-29 ter oorweging: “Want nie hy is ʼn Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ʼn Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.”
Hierdie verse spreek vanself en het nie toeligting nodig nie. Nie ʼn blote Jood óf ‘n ware Jood was ooit die nageslag van Abraham nie. Net hy in wie se hart die geestelike waarheid van die teken van besnydenis is, dit wil sê geloof, is ‘n ware Israeliet. Ek herhaal: die Jode is nie die nageslag van Abraham nie; net die gelowiges is.
Ek vestig weer die aandag op ‘n Skrifgedeelte wat waarskynlik die duidelikste uiteensetting is van die eenheid van die volk van God in die ou- en die nuwe bedeling (Galasiërs 3:7-9, 16-19; 4:1-7). Ek haal net die volgende aan: “Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham … Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus … En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename… So lank as die erfgenaam ʼn kind is, verskil hy niks van ʼn dienskneg nie, al is hy heer van alles; maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal. So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld. Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ʼn vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.”
Let asseblief op die volgende: (1) Dat Christus, en Hy alleen, in grond en wese die saad, die nageslag, van Abraham is. Die apostel beklemtoon hierdie waarheid in vers 16 daarmee dat die enkelvoud, saad, en nie die meervoud, sade, gebruik word. (2) As Christus dan wesenlik die saad van Abraham is, lê dit voor die hand dat net hulle, hetsy uit die ou of die nuwe bedeling, wat ín Hom is, sáám met Hom die nageslag kan wees. Dit wil sê net die gelowiges, hulle alleen, is die nageslag van Abraham (vs. 7). (3) Weereens, net hulle, hulle alleen, is erfgename volgens die belofte; daar is net een belofte vir die een nageslag. (4) Dat (en dit is belangrik) die apostel die kerk van alle eeue met ‘n opgroeiende kind vergelyk. In die ou bedeling is die kerk die erfgenaam, nog ‘n kind, en daarom nog onder die voogdyskap en bestuur van die wet. Nou, in die nuwe bedeling, het die kerk volwasse geword. Dit is ‘n seun, en het die erfenis ontvang. Die punt is hier dat die kerk van die ou bedeling en die kerk van die nuwe bedeling gelyk gestel word aan één persoon.
Wanneer ‘n kind tot volwassenheid groei, word hy tog nie ‘n ander, nuwe persoon nie; dit is immers dieselfde individu wat volwasse geword het. Die leer van die Woord van God is dus duidelik: daar is net een volk van God, hierdie volk word genoem die nageslag van Abraham in Christus; daarom is hierdie nageslag van Abraham nie die Jode nie, ook nie die heidene nie, maar hulle wat, saam met die gelowige Abraham, gelowiges is. Die eenheid van die kerk van alle eeue staan onweerlegbaar vas.
U moet nie dink dat hierdie die enigste Skrifgedeeltes is wat hierdie eenheid verkondig nie. Die Skrif praat nooit ‘n ander taal nie, behalwe miskien in die ore van hulle wat weier om Skrif met Skrif te vergelyk nie. Ek kan baie meer Skrifgedeeltes noem. Hoe meer ek die Woord van God bestudeer, hoe meer word ek daarvan oortuig dat dit die enigste leer van die Skrif hieroor is.
Maar laat ek kort wees.
Ek vra u daarom om u Bybel te neem en Hosea 1:10-11 met Romeine 9:24-26 te vergelyk. Die eerste verse is ‘n profesie oor tien stamme; die tweede sit uiteen dat hierdie tien stamme die kerk is van die nuwe bedeling, versamel uit Jode én heidene, waarmee die profesie van Hosea nou vervul is. Vergelyk ook Jeremia 31: 31-34 met Hebreërs 8:6-13. In Jeremia praat die profeet spesifiek met Israel en Juda; maar waar die brief aan die Hebreërs hierdie gedeelte aanhaal, is Israel en Juda nou die kerk van die nuwe bedeling. Vergelyk ook Amos 9:1-15 met Handelinge 15:13-17. Amos praat van die herstel van die tabernakel van Dawid en Israel se besit oor al die heidene, van die terugkeer van Israel na die land en hulle ewige besit daarvan. Maar in Handelinge 15 verduidelik Jakobus dat die herstel van die tabernakel van Dawid en Israel se besit van al die heidene, vervul is noudat die heidene in die gemeenskap van Christus gekom het. Let asseblief ook daarop dat die sleutel van die huis van Dawid nou in die besit is van Christus (lees Jesaja 22:22 en Openbaring 3:7); dat Jerusalem en die berg Sion nie vernietig is nie, maar dat hulle nou verwesenlik is, terwyl net hulle skadu’s vernietig is (lees Jesaja 28:16; Romeine 9:33; 1 Petrus 2:6; Hebreërs 12:22; Galasiërs 4:25, 26; Openbaring 3:12; 21:2; 21:10); dat dieselfde vir die tempel, die altaar, die offers en die hoëpriester geld (lees Hebreërs 9:1-12, 21-24; 10:19-21; 1 Korinthiërs 3:16; 2 Korinthiërs 6:16; Efesiërs 2:18-22; Openbaring 3:12). Ook is die land Kanaän wat aan Abraham en sy nageslag belowe is, nie die aardse land naby die Middellandse See nie, maar die hemelse land wat kom, wanneer die Nuwe Jerusalem op die nuwe aarde daal. Kortom, die hele Woord van God verkondig hierdie eenheid van die volk van God en van alles wat met hulle in verband staan. Al die beloftes is in Christus, en deur Hom is hulle vir die ware nageslag van Abraham, van alle eeue, vir die gelowiges.
2. Besnydenis en Doop wesenlik dieselfde
Die volgende wat ek wil aanmerk, is dat besnydenis en doop, hoewel hulle van vorm verskil, essensieel dieselfde betekenis het.
Ek beskou ook hierdie stelling belangrik, as ‘n noodsaaklike skakel in die ketting van dieselfde argument vir die kinderdoop. Die beswaar wat Baptiste teen die doop van kinders inbring, is nie ‘n Skriftuurlike beswaar nie, maar een wat hulle in hulle eie denke vind. Dit is naamlik dat die doop ‘n teken en seël is van sonde vergiffenis, van wedergeboorte; dat dit daarom net bedien mag word aan diesulkes van wie ons weet dat hulle gelowiges is, aan hulle wat hulle geloof bely; dat dit vas staan dat baie gedoopte kinders in hulle latere lewe toon dat hulle nie kinders van God is nie en verlore is; en dat dit om die rede sekerlik verkeerd moet wees om die teken van die doop aan die kinders van gelowiges te bedien voordat hulle die jare van onderskeidingsvermoë bereik het.
Daar kan baie besware teen die Baptiste se argument ingebring word, maar ek wil wat ek as die belangrikste beswaar beskou, beklemtoon: Die Baptis argumenteer met sy argument direk teen die Here, want wat hy teen kinderdoop aanvoer, geld met dieselfde krag teen kinderbesnydenis; tog is die besnydenis van kindertjies uitdruklik deur die Here beveel vir die nageslag van Abraham, in hulle geslagte.
Ook die besnydenis was ‘n teken van regverdiging deur geloof, van ‘n geestelike besnydenis, die besnydenis van die hart, van wedergeboorte en heiligmaking, van wegdoen met die ou mens van die sonde, van liefde tot God met ‘n nuwe hart. In al hierdie opsigte is die betekenis van die ou verbondsteken dieselfde as dié van die doop. Ek gaan dus voort om die eenselwigheid van die twee tekens, hoewel hulle in vorm verskil, uit die Woord van God te bewys.
1) Eerstens uit Skrifgedeeltes van net na die besnydenis verwys:
Levitikus 26:40-42: “Dan sal hulle hul ongeregtigheid bely en die ongeregtigheid van hulle vaders deurdat hulle ontrou teen my gehandel het; en ook dat hulle hul teen My versit het, sodat Ék My ook teen hulle versit het en hulle in die land van hulle vyande moes bring; of, as hulle onbesnede hart hom dan verneder en hulle dan boet vir hul ongeregtigheid, sal ek dink aan my verbond… .” Dit word hier duidelik dat ‘n onbesnede hart ʼn hart is wat sonde en ongeregtigheid nie bely nie. Besnydenis was dus ‘n teken van ʼn hart wat sonde en geregtigheid bely.
Deuteronomium 10:16: “Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie.” Dit is duidelike taal. Besnydenis was ‘n teken van ‘n besnede hart, ‘n geheiligde hart.
Deuteronomium 30:6: “En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.” Weer eens is dit in sigself duidelik. Besnydenis was ‘n teken van God se genadewerk in die hart, waardeur die hart met liefde tot God vervul word.
Jeremia 4:4: “Besny julle vir die HERE en verwyder die onbesnedenheid van julle hart, manne van Juda en inwoners van Jerusalem.” In die taal van die Nuwe Testament is dit dieselfde as om te sê: lê die oue mens van sonde af en beklee julle met die nuwe mens wat vernuwe is na die beeld van God in ware geregtigheid en heiligheid. Besnydenis was die teken van die aflegging van die oue mens van die sonde.
Romeine 4:11: “En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ʼn seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie.” Hier beseël die besnydenis die geregtigheid van die geloof; God beseël met die teken van besnydenis, Hy regverdig die gelowige deur die geloof en reken sy geloof tot geregtigheid.
2) Tweedens uit Skrifgedeeltes wat spreek van die betekenis van die doop:
Handelinge 2:38: “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Die doop is die teken van vergewing van sondes, die geregtigheid deur die geloof.
Handelinge 22:16: “En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.” Doop is die teken van die afwassing van sondes, van geregtigheid deur die geloof, net soos die besnydenis.
Romeine 6:4: “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ʼn nuwe lewe kan wandel.” Doop, soos die besnydenis, is die teken van vernuwing in Christus. Deur die doop sterwe ons met Christus en staan ons met Hom op in vernude lewe en wandel.
Galasiërs 3:27: “… want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.” Die doop is die teken van bekleding met Christus, dit wil sê van vernuwing in Hom.
Sulke Skrifgedeeltes kan vermenigvuldig word. Daar is ewewel nie verskil van mening oor die betekenis van die doop nie en ek volstaan met hierdie tekste.
3) Derdens uit Skrifgedeeltes wat bloot die twee, besnydenis en doop, met mekaar vereenselwig.
Kolossense 2:11-12: “… in wie julle ook besny is met ʼn besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.” Hier vereenselwig die apostel duidelik die tekens van besnydenis en doop wat hulle betekenis betref. Hy skryf aan die kerk van die nuwe bedeling dat gelowiges in die geestelike sin van die woord besny word; en dat hierdie geestelike besnydenis plaasvind wanneer hulle deur die doop met Christus begrawe word. Meer direkte bewys dat besnydenis en doop in betekenis wesenlik dieselfde is; die verandering van die ou na die nuwe bedeling, van die bedeling van die skadu’s na die bedeling van die vervulling, kan nouliks gevind word.
Filippense 3:3: “Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie.” Hier vermeld die apostel nie die doop nie en verwys ook nie daarna nie, maar hy voer aan dat nie die Jode nie, maar die kerk van die nuwe bedeling in Christus, die besnydenis is. Selfs die besnydenis is in wese nie mee weggedoen nie, maar bestaan voort in die kerk van die nuwe bedeling!
Ek meen dat my tweede stelling voldoende vasstaan met bewys uit die Woord van God.
Die Baptiste poog dikwels om die stelling, wat ook in ons doopsformulier voorkom, dat die doop in die nuwe bedeling in die plek van die besnydenis gekom het, te betwis. Hulle weier om hiervan oortuig te word. Ewewel is daar niks wat só duidelik uit die Skrif blyk nie. Dit is eenvoudig ‘n geskiedkundige feit dat die doop die besnydenis uit die pad gewing het. Toe die doop gekom het, moes met die besnydenis weggedoen word. Vir ‘n tyd lank het hulle, veral in Judees-Christelike gemeenskappe, sy aan sy bly voortbestaan en het die besnydenis probeer om naas die doop in stand te bly; maar dit het onmoontlik geblyk en die besnydenis moes sy plek in die kerk afstaan. Waarom? Omdat, soos ons aangetoon het, die Woord van God duidelik leer dat die doop wesenlik dieselfde betekenis as besnydenis het en dat twee tekens met dieselfde betekenis nie langs mekaar kan bestaan nie; dat besnydenis by die tyd van die skadu’s hoort en daarom plek moet maak vir die doop as teken van vervulling. Wanneer iemand dan steeds daarop aandring dat die besnydenis vir die Christelike kerk nodig is, is dit net omdat hy betekenis daaraan heg as ‘n element van die wet; en die geregtigheid soek wat uit die wet is, sodat Christus van geen waarde is nie. Die doop is wesenlik dieselfde teken, in ‘n vorm paslik vir die nuwe bedeling. Dit is só waar, dat die apostel skryf dat ons besny word as ons gedoop word (Kolossense 2:11-12); en dat ons die ware besnydenis is (Filippense 3:3).
3. Teken vir die geslagte
Ek kom by my derde stelling: dit is die wil van God, duidelik geopenbaar in die Woord van God, dat hierdie nageslag van Abraham, wat dieselfde is deur die eeue, die teken van die geregtigheid deur die geloof, in hulle geslagte sal ontvang.
Dit is die ongetwyfelde, eerlike waarheid, wat in die Skrif geopenbaar is en bevestig is in die geskiedenis van die Kerk van God van die begin af, dat God sy volk in die lyn van geslagte laat groei. Hy sluit sy verbond altyd organies in die lyn van opeenvolgende geslagte. Dit blyk reeds in moederbelofte in Genesis 3:15: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.” Dit duidelik uit die verbondsluiting met Noag. “Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle” (Genesis 9:9). Dié waarheid word ook weer geopenbaar in Genesis 17:7. “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ʼn ewige verbond, om vir jou ʼn God te wees en vir jou nageslag ná jou.” Dit blyk uit die lyn van die hele geskiedenis, want die lyn van die verbond van God loop in die lyn van geslagte, van Set tot Noag, van Sem tot Abraham, van Abraham tot Israel, van Israel tot Christus; en ook in die nuwe bedeling is dit baie duidelik dat God sy volk vind in die lyn van opeenvolgende geslagte. Daarom kan die apostel Petrus op die Pinksterdag preek: “Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Handelinge 2:39). En wanneer die Here dié wat daar ver is roep, is dit ook die waarheid vir hulle: die belofte is vir julle en julle kinders. Dat ons herhaaldelik in die Skrif lees dat huise gedoop is, kan net in hierdie lig gelees word. Ek gee nie ‘n flenter om of jy argumenteer dat daar klein kindertjies in daardie huise was, of dat jy die teenoorgestelde daarop na hou nie. Die feit bly staan dat huise, families of gesinne, gedoop is. Dit is die organiese wat hier uitgedruk word. God handel in geslagte, en dit is net in hierdie selfde lig dat oral waar kinders geag word aan die kerk te behoort, in die nuwe én die ou bedeling, God sy kerk in die lyn van opeenvolgende geslagte gevestig het en vestig.
Beteken dit dat al die kinders volgens die vlees in dié geslagte geestelike kinders van God, die nageslag van Abraham is? Mag die Here ons daarvan behoed dat ons dit sou leer, of selfs sou sê dat ons dit moet veronderstel. Nee, die kinders van die belofte word geag as die nageslag, en nie almal is Israel wat uit Israel is nie, maar die ware nageslag van Abraham word in die geslagte van die volk van God gevind.
Dit is die duidelik geopenbaarde wil van God dat hierdie geslagte van die nageslag van Abraham, die teken van die verbond, die seël van die geregtigheid wat deur geloof is, die teken van wedergeboorte, van die aflegging van die ou mens van sonde en die bekleding van die nuwe mens in Christus, van bekering en van die vergiffenis van sondes, sal ontvang. Dit was die bevel van God aan Abrahm en sy nageslag. “… jy moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag. Dit is my verbond wat jy moet hou, tussen my en jou en jou nageslag na jou: Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word – julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ʼn teken wees van die verbond tussen My en julle. ʼn Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie” (Genesis 17:9-12). In die ou bedeling moes die kinders, al die kinders wat in die nageslag van Abrahm gebore is, die teken van besnydenis ontvang, die seël van geregtigheid wat deur geloof is, van ‘n nuwe hart, van bekering en heiliging.
Dit is nooit afgeskaf nie
Soos ons duidelik aangetoon het, bestaan presies dieselfde nageslag van Abraham nog steeds; die enigste verskil synde, dat in plaas van in die nasionale volk Israel, dit nou onder alle nasies en volke is.
Met die geslag van Abraham wat in Genesis 17:7 genoem word, staan die oprigting van dieselfde ewige verbond steeds vas, en vers 8 maak nie, soos Dr. De Haan verkeerdelik dink, hierdie uitleg van gener waarde nie, want God sal inderdaad aan Abraham en sy geestelike saad die land Kanaän as ‘n ewige besit gee, maar dan die land in sy hemelse gedaante. Daarom geld dit steeds vir die nageslag van Abraham (Galasiërs 3:7) dat God sy verbond met hulle oprig in die lyn van opeenvolgende geslagte (Genesis 17:7 en vele ander plekke).
Dieselfde teken van daardie verbond bestaan steeds, met dié verskil dat dit in toepassing in die nuwe bedeling, van vorm verander het van besnydenis na doop. Die wese van die teken het nooit verander nie, net die vorm daarvan. Die teken wat ‘n seël is van geregtigheid deur die geloof, van wedergeboorte en heiligmaking, van bekering en die afwassing van sonde, is steeds daar.
Daarom staan dit, volgens die duidelike openbaring in die Skrif, steeds vas dat dieselfde teken en seël, aan dieselfde nageslag van Abraham in hulle geslagte bedien moet word as teken van God se ewige verbond met hulle.
Hiermee sluit ek my beredenering af. Dit is eenvoudig, nie ingewikkeld nie, ‘n kind kan dit verstaan. Dit is Skriftuurlik, nie filosofies nie; ook nie gebaseer op die tradisies van die kerk nie. Endit is onweerlegbaar. Ek is oortuig dat selfs Dr. De Haan nou die waarheid van kinderdoop sal verstaan en sy vroeëre stellings sal terugtrek.
Toe die kerk die nuwe bedeling betree het, toe die nageslag van Abraham uit die dop van die nasionale Israel gebars het en onder alle volke ontwikkel het, het die waarheid dat die nageslag van Abraham in die geslagte van die gelowiges gevind word, oor die eeue duidelik geblyk en neerslag gevind. Kinders is altyd geag as behorend by die kerk. Dit is die enigste rede waarom daar nie in die Nuwe Testament ‘n spesifieke opdrag, julle moet doop, is nie. Die kerk het uiteraard gedoop. Hulle het nooit aan iets anders gedink nie. ʼn Besondere opdrag om gesinne, kinders ingesluit, te doop, sou vir hulle vreemd wees.
Die Baptiste moet nie na ons kom met die verwaande vraag: waar lees jy in die Nuwe Testament van ‘n opdrag om kinders te doop, nie.
Die bewyslas lê geheel en al by hulle.
Hulle moet bewys waar en wanneer God ooit sy belofte aan Abraham en sy nageslag, dat Hy sy verbond in die opeenvolging van geslagte met hulle oprig, teruggetrek het. Hulle moet bewys waar en wanneer God die kerk ooit beveel het om op te hou om aan die kinders van die gelowiges die teken en seël van geregtigheid deur geloof vir die geslagte in die nageslag van Abraham, te bedien.
Mag die Here hierdie kort werkie aan die harte van baie seën en ons gevestig hou in die waarheid van sy woord, en die oë van vele ander open vir die waarheid van sy ewige verbond met Abraham en sy nageslag!
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)