Menu Close

Die Swart en die Vaal Perde / The Black and Pale Horses

   

Ds. Angus Stewart

Nadat ons in die vorige uitgawe gekyk het na die wit en die rooi perde, kyk ons nou na die swart en vaal perde (Openb. 6:5-8). Die swart perd spreek van voedsel en drank vir die bestaan, hongersnood en luuksheid. Die “skaal in sy hand” is gebruik om voedsel noukeurig af te weeg (5). ‘n “Rantsoen” (Grieks choinix) was ‘n droë maat van ongeveer 2 pinte, ‘n volwasse man se voedsel vir ‘n dag (6). ‘n “Penning” was ‘n werkman se daaglikse loon (6).

Dit spreek met ander woorde van die minimum voedsel vir oorlewing. As ‘n man kan werk, kan hy homself vir een dag voed met brood van koring (“‘n Rantsoen koring vir ‘n penning”) of vir drie dae met brood van gars, wat goedkoper is (“drie rantsoene gars vir ‘n penning”).

Maar wat van ander dinge om te koop? Hoe voorsien hy vir sy vrou en kinders? Wat gebeur as hy siek of beseer word? Finansieel sukkel so ‘n man dag vir dag om te bestaan en dinge word des te moeiliker as hy ‘n gesin het. Die derde perd is “swart” want dit is die kleur van skaarste en hongersnood (vgl. Jer. 14:2; Klaagl. 4:8; 5:10).

Die voorgaande beskryf hoe dit vir die meeste mense oor die afgelope 2,000 jaar was. Selfs vandag is daar baie mense wat nie genoeg het om te eet nie en ly honger, swak gesondheid en hongersnood, byvoorbeeld in Haiti, Noord Korea, Venezuela en dele van Afrika. Maar in vorige eeue was dit baie erger!

Maar dit is nie al nie, want “ ‘n stem tussen die vier lewende wesens” het uitgeroep “moenie die olie en die wyn beskadig nie” (6). Wyn en olyfolie gee voor dat ander veel besit het en selfs luuks geleef het. “Moet dit nie beskadig nie,” roep die stem; dit sal die rykes ontstel!

Daar bestaan groot ekonomiese ongelykheid oor die wêreld en selfs in individuele lande soos Suid Afrika en Suriname. Daar is besitters en besitlose, die rykes en armes, die Eerste Wêreld en die Derde Wêreld, hoewel daar natuurlik baie grade van verskil tussen die uiterstes is.

Materiële armoede en ekonomiese ongelykheid is ook te vinde in die bloed-gekoopte kerk van Christus, beide wêreldwyd en in individuele gemeentes. Ons Verlosser het self gesê: “Want die armes het julle altyd by julle…“ (Joh. 12:8).

Christus self open die derde seël en stuur die swart perd op sy pad! Dit leer ons dat landbou en handel, mislukte oeste en inflasie, leë mae en hongersnood, hulp organisasies ens. alles in die raad van God ingesluit is en deur die Here Jesus aan sy regterhand regeer word. “Want nie van die opgang of van die ondergang, ook nie van die woestyn van berghoogtes nie…. maar God is regter: Hy verneder die een en verhef die ander” (Ps. 75:7-8).

Jehovah is soewerein oor die verdeling en ongelykheid van voedsel en rykdom. Hy bepaal of ons eiendom huur of besit, in herehuis of ‘n hool bly, of jy werk of sonder werk is, of jou spens vol is of leeg ens. Selfs die mens se sondige reaksies – snobisme en meerderwaardigheid van rykes – staan nie buite die ewige raad van ons hemelse Vader nie.

Die vierde en laste perd in Openbaring 6 is vaal, die kleur van ‘n lyk, en “En hy wat daarop sit, sy naam is die dood” en word spoedig gevolg deur “die doderyk” (“Hell” – KJV) (8). Vier verskriklike wyses van dood word in Openbaring 6:8 genoem.

Eerstens is daar die “swaard” wat vernietiging deur koeëls of bomme of selfs ‘n geïnfekteerde wond of uitputting in die geveg kan insluit. Dit herinner ons aan die tweede seël (3-4).

Tweedens lees ons van dood as gevolg van “honger” weens gebrek aan voedsel en tye van hongersnood. Hierdie dinge word met die derde seël geassosieer, soos in die eerste deel van hierdie artikel (5-6).

Derdens lees ons van dood deur die dood (“power was given … to kill with sword, and with hunger, and with death” – KJV). Waarna verwys dit? Dood deur ongeluk of ouderdom? Daar word gepraat van “ pes” (vgl. Eseg. 14:21) in al sy verskillende vorms, pokke, griep, tuberkulose, malaria, cholera, HIV/AIDS, kanker, masels, witseerkeel ens. Siektes kan veroorsaak word deur bakterië, virusse, of genetiese versteuring, en kan die gevolg wees van lugbesoedeling, gebrekkige sanitasie of wanvoeding, ens.

Vierdens maak die ruiter op die vaal perd dood “deur die wilde diere van die aarde” soos wolwe, slange, olifante, skerpioene ens. Muskiete is gevaarliker as enige van hierdie as draers van die mens se mees dodelike siektes wat jaarliks miljoene sterftes wêreldwyd veroorsaak met ‘n besondere effek op kinders en bejaardes in ontwikkelende lande (National Geographic).

Mag is aan hulle gegee “die vierde deel van die aarde” om mense op hierdie vier maniere dood te maak: “met swaard en hongersnood (en dood) en pes en deur die wilde diere van die aarde.” ‘n Kwart is ‘n gelykmatige tempo, die gewone getalle van die menslike sterftesyfer, hoewel dit van tyd tot tyd kan fluktueer.

Jesus het gesê, “Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” (Openb. 1:18).

Dit is dus heel gepas dat die Drie-Enige God ons opgestane Here aangestel het as die regeerder oor die dood, die Een wat die vaal perd uitgestuur het. Vanaf sy troon in die hemel, het Christus regeer oor die dood van biljoene mense oor twee millennia dwarsoor die aarde. Hy is absoluut soewerein oor siektes, epidemies, medikasie, gesondheidsorg, begrafnisdienste en rou.

Ons Redder se regering oor die dood sluit elke toekomstige sterfte in, ook ons eie. Deur Jesus se versoeningsoffer is die dood van elke kind van god “ ‘n deurgang tot die ewige lewe” (Heidelbergse Kategismus, Antwoord 42), want Christus berei ons plek in sy Vader se huis en sal weer kom om ons na Hom toe te neem (Joh. 14:2-3)!

(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons