Ds. Angus Stewart
Die vorige keer het ons gekyk na wat Job ons leer aangaande die menslike natuur wat betref sy samestelling of “dele”, liggaam en siel of gees, en gesien dat dit weerspieël wat in Genesis 2 en 3 staan (Job 2:7; 3:19). Dat Job en sy vriende so dikwels van die mens se liggaam en gees praat, is nie sonder rede nie. Job ervaar intense lyding aan liggaam en siel, en die dood, wat die skeiding van die mens se twee samestellende “aspekte” sal bring, lyk asof dit naby is (4:19-20; 10:9; 34:14-15).
Die boek Job bevat waardevolle onderrig, nie net oor die natuurlike samestelling van die mens nie, maar ook oor sy sedelike natuur na die sondeval: “die afskuwelike en ontaarde, die mens wat onreg drink soos water!” (15:15, 16). Job self het in die een, ware en lewende God geglo en Hom aanbid (1:1). Jehova het self twee maal aan Satan verklaar dat Job ‘n voorbeeldige vrome was: “Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ʼn man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad?” (1:8; 2:3). Maar geen mens kan in die oë van die allerheiligste God vlekkeloos wees nie: “Kyk, selfs die maan — hy skyn nie helder nie; en die sterre is nie rein in sy oë nie. Hoeveel minder die mens, ʼn maaier; en die mensekind, ʼn wurm?” (25:5-6). Na sy groot beproewing bely Job, “Kyk, ek is te gering … Daarom herroep ek en het berou in stof en as” (39:37; 42:6).
Dit is betekenisvol dat die boek Job herhaaldelik sê dat sonde deur menslike voortplanting aan ons oorgedra word. Bildad vra, “En hoe sou hy rein wees wat uit ʼn vrou gebore is?” (25:4). Elifas opper dieselfde retoriese vraag: “Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit ʼn vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees?” (15:14). Na Job se somber beoordeling van die mensdom, “Die mens uit ʼn vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus” (14:1), vra hy, en beantwoord sy eie vraag, “Ag, kon maar ʼn reine voortkom uit ʼn onreine — nie een nie!” (14:4).
Alhoewel Bildad en Elifas (en hulle vriend Sofar) met Job verskil het omdat hulle van mening was dat die ellende van Job die oordeel van God was vir een of ander groot sonde, was al die vriende dit eens oor die boosheid van die mens en dat die verderflikheid van die mens by geboorte aan hom oorgedra is. Job, Elifas en Bildad is dit eens dat “gebore uit ‘n vrou” — dieselfde Hebreeuse woord word telkens gebruik (14:1; 15:14; 25:4) — die verduideliking is vir die sonde van die mens wat betref die oorsprong daarvan (reg aan die begin van die lewe) én wat betref die manier waarop dit verkry word (menslike voortplanting).
Sofar sê dat die mens deur God “op die aarde gemaak is” (20:4); dit sluit die eerste mens én die hele menslike geslag in. Wanneer Job sê: “as ek, soos Adam, my oortredinge bedek het deur my ongeregtigheid in my boesem weg te steek” (31:33; vgl. Hos. 6:7), verwys hy na die verhaal, in Genesis 3:8 en/of Genesis 3:12, van Adam wat sy sonde bedek of weggesteek het.
Ons is almal sondaars omdat ons “uit ‘n vrou gebore” is, en dit is ook waar van ons ouers, grootouers, oorgrootouers en so voort. Dit gaan inderdaad terug tot by die kinders wat vir Adam en Eva gebore is. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (Artikel 15) som hierdie Bybelse leer op: “Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het. Dit is ‘n verdorwenheid van die hele natuur en ‘n oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is. Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sonde laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te verdoem.”
Paulus leer die groot waarheid van die erfsonde in die besonder in Romeine 5:12-21, die locus classicus, (die standaard klassieke plek) oor dié onderwerp. In die dae van Paulus het die Messias reeds gekom en aan die kruis vir die sonde van sy hele volk gesterf. Hy het sy Heilige Gees gestuur en was besig om sy katolieke of algemene kerk uit alle volke te vergader. Paulus kon dus die sonde, oortreding en ongehoorsaamheid van Adam, wat dood, oordeel en vervloeking oor almal wat in hom was, gebring het, vergelyk met die volkome gehoorsaamheid van Christus wat regverdigmaking, geregtigheid en lewe vir hulle wat in Hom is, gebring het. Die wonder van God se genadegawe aan ons is dat die Here Jesus, “die laaste Adam” (1 Kor. 15:45), ons Verbondshoof en Middelaar is, en nie die eerste Adam nie. Só is die geregtigheid van die Here, en nie ons daaglikse sonde óf ons erfsonde in Adam nie, aan ons toegereken.
Waarom verwys die boek Job herhaaldelik na die mens se erfsonde of geboortesonde? Dit sit die oorsprong van die mens se smart uiteen (14:1-4) en verskaf die regsgrond waarop God ellende oor die mens laat kom het. Job en sy drie vriende bring in die besonder die mens se erfsonde ter sprake, alhoewel elkeen met ‘n ander doel, in verband met Job se lyding en sy jammerlike toestand.
Ons kan byvoeg dat ons Job beter kan verstaan as ons weet dat hy in die dae van die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob gelewe het. Histories was hy dus nie ver van die val wat in Genesis 3 beskryf word, verwyder nie. Nie een van die partye tot die groot debat in die boek Job kon hom op die geskiedenis van Israel beroep vir sy argumente nie, want dié volk het toe nog nie bestaan nie. Maar hulle het hulle wel, byvoorbeeld, beroep op die waarheid aangaande God (sy mag, majesteit en geregtigheid) en die mens (sy skepping, sonde en sterflikheid), en het lering geput uit die Allerhoogste se skepping van alle dinge, sy regering van die heelal en sy omgang met die mens in sy voorsienigheid.
Ons moet hierdie dinge in gedagte hou wanneer ons die kragtige en roerende boek Job lees, want hierdie sake is vir ons van besondere betekenis wanneer ons verlies en liggaamlike pyn ly, wanneer ons deur onbesonne vriende vals beskuldig word of wanneer ons met God se weë in ons lewe wroeg. Hoe dikwels het ons “Job se geduld” nodig, én die genade om, ten spyte van alles wat tot die teendeel blyk, te verstaan dat “dat die Here vol medelye en ontferming is” (Jak. 5:11) vir ons, sy swak en sondige volk.
(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)