Menu Close

Die noodsaak van kerklidmaatskap

Deur Martyn McGeown

‘n Woord vooraf deur die vertaler

Hierdie artikel is ‘n vertaling van deel IV van ‘n artikel getiteld “Harold Camping Refuted: The Necessity of Membership in the Church (Institute)” deur Martyn McGeown, predikant van die Protestant Reformed Churches in Noord Ierland.

Die heer Harold Camping bedryf ‘n Radio bediening vanuit die V.S.A., genaamd “Family Radio”, wat wêreldwyd uitsaai. Camping het vroeg in 2011 konsternasie onder liggelowige mense oor die wêreld heen gesaai met sy voorspelling dat die einde van die wêreld op 21 Mei 2011 sou aanbreek met die wegraping, gevolg deur 153 dae van verdrukking, met die einde 21 Oktober 2011. Hierdie was nie die eerste sodanige voorspelling deur die heer Camping nie, hy het in 1992 ook voorspel dat die einde in 1994 sou wees.

Die voorbarigheid van Camping se voorspellings is vir elke ware gelowige ooglopend. Hy is egter ook met ‘n meer subtiele misleiding besig, wat die welsyn van die kerk van Christus bedreig.

Hy verkondig naamlik op Family Radio en sy geskrifte, dat die woorde “every high thing that exalteth itself against the knowledge of God” wat in die King James vertaling van die Bybel in 2 Kor. 10:5 voorkom, dieselfde is as die verfoeilike “hoogtes” van die ou Testament, die vernietiging waarvan onder meer deur Esegiël kragtig geprofeteer is. Op grond hiervan leer Camping dan dat die “high places” ( in die 1953 Afrikaanse vertaling “elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God”) van die Nuwe Testament niks anders is nie as die belydenisskrifte van die Nuwe Testamentiese kerk. God was hiermee lankmoedig vir 1950 jaar, maar die tyd het nou gekom dat Hy die “hoogtes” gaan vernietig, want dit is wat Hy in die Ou Testament gedoen het. Die kerk as instituut is nou onder die vloek van die Here en word deur Satan regeer. Volgens die heer Camping moet alle ware gelowiges die kerke met haas verlaat en Sondae informeel in groepe vergader om na Family Radio of soortgelyke bedienings te luister (hy noem egter nie een so ‘n “soortgelyke” bediening naas Family Radio nie).

Dat hierdie valshede wel ‘n impak op Christene het, blyk uit ‘n berig wat in Christianity Today (vol. 46, 21 Mei 2002) verskyn het, waaruit blyk dat tot 10% van lidmate sommige kerke verlaat het in reaksie op Camping se oproep.

Camping het ‘n groot aanhang as “prediker” van die Woord, ten spyte daarvan dat hy geen teologiese opleiding het nie (hy is ‘n ingenieur), en met die Bybel, ‘n konkordansie en sy verbeelding sy Woordverkondiging voorberei. Die volgende is maar enkele voorbeelde van Camping se verwronge Skrifuitleg:

1) Die dier en die vals profete van Openbaring is die simbool van Satan wat die kerke regeer tydens die groot verdrukking.

2) Die “dier se beeld” in Openbaring 13:15 is die diegene in die kerke wat nie gered is nie.

3) Jeremia 7:16 beteken dat God beveel dat daar nie vir die kerke gebid mag word nie.

4) Die profesie in Esegiël 9:5-7 is van die oordeel oor die kerke in die groot verdrukking.

5) Paulus (in Handelinge 28) is die beeld van almal wat uit die kerke en gemeentes gedryf is. Die Jode wat nie die hele raad van God wil aanvaar nie tipeer in dié hoofstuk en ook in hoofstukke 22-27, die Nuwe Testamentiese kerke en gemeentes.

6) Die halfuur stilte in die hemel in Openbaring 8:1 is die eerste deel van die groot verdrukking waartydens “die hemel” nie mense red deur die Evangelie wat van die kerke uitgaan nie.

7) Die sewe vroue van Jesaja 4:1 is die sewe gemeentes van Openbaring 2 en 3. Hulle wil Christus as Redder hê, maar Hom nie as geestelike brood aanvaar en met sy kleed van geregtigheid beklee word nie. Hulle wil hulle eie brood en kleed hê, dws. hulle wil die naam van Christus hê, met Hom identifiseer, maar hulle eie saligheidsprogram volg en self die finale gesag oor die waarheid wees. Net diegene wat uit dié kerke “ontsnap” en die ware evangelie buite die kerke verkondig, sal gered word.

Hierdie voorbeelde is almal geneem uit Camping se boek The End of the Church Age … and After (Oakland, CA: Family Stations, Inc. 2002).

Die Noodsaak van kerklidmaatskap

A. Die getuienis van die Skrif

Baie Christene sal, tereg, die sinnelose teorieë van Harold Camping met afkering bejeën en heftig ontken dat die kerk as instituut dood is. Tog lewe dieselde mense prakties as Campingiete, omdat hulle nie lidmaatskap in die ware kerk as instituut opsoek nie.

Die Skrif aanvaar dat ‘n persoon na sy bekering by die kerk sal aansluit, want die Bybel spreek nie tot Christene anders as lede van die kerk nie. So het die Nuwe Testamentiese tyd begin: “En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is”. Dié wat gered is daagliks deur die Here gevoeg is by ‘n georganiseerde, herkenbare en identifiseerbare liggaam van gelowiges. Dit moet beklemtoon word, want Camping is nie die enigste wat die kerk as instituut minag nie. Baie evangelies gesindes, en selfs gereformeerde gelowiges beweer dat lidmaatskap van die kerk as instituut nie nodig is nie, want hulle is deel van die liggaam van Christus en kan God net sowel dien deur Bybel te lees, na klank en video opnames te luister of na preke op die internet te kyk. Inteendeel is lidmaatskap van die kerk as instituut nodig, want gelowiges het mekaar nodig. Die kerk as instituut is die liggaam van Christus (1 Kor. 12:27) en die lede van daardie liggaam lewe is onderlinge afhanklikheid. Een lid kan nie vir die ander sê: “ek het jou nie nodig nie” (1 Kor. 12:21). Net so min kan die lede afsydig, buite die liggaam wees, asof hulle geen behoefte het aan die ander lede nie.

Die kerk is belangrik, nie omdat almal wat nie lidmate van die geïnstitueerde kerk is onvermydelik na die hel op pad is nie (geen gereformeerde teoloog het ooit so ‘n standpunt gehuldig nie), maar omdat God net aan die kerk die heilsmiddele gegee het, die genademiddele waardeur Hy aan die uitverkorenes en hulle uitverkore kinders die saligmaking bevestig. Die prediking van sy Woord het God aan die kerk gegee, nie aan Harold Camping nie. Die stigter van Family Radio is nie deur Jesus Christus gestuur nie. Hy het geen gesag om te preek nie. Nie eers Paulus, wat persoonlik deur Jesus Christus geroep is, was so heldhaftig om te preek sonder dat hy deur ‘n deur God gevestigde kerk gestuur was nie (Hand. 13:1-3). ‘n Mens kan nie preek sonder dat hy gestuur is nie (Rom. 10:14-15). Christus gee predikers aan die kerk (Ef. 4:11) en die kerk stuur hulle om te preek. Die kerk hou toesig oor die preek. Alle ware predikers is verantwoordelik aan ‘n deur God gevestigde kerk. Harold Camping is sy eie wet en rig onmeetlike skade aan die kerk aan. Hiervoor sal hy aan die Hoof van die kerk, Jesus Christus, verantwoording doen.

Sonder prediking is daar nie saligheid nie. “Dit (het) God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red … (1Kor. 1:21). Die jong prediker Timoteus word opgeroep om te preek, want so sal hy homself en dié wat hom hoor red (1 Tim. 4:16). Prediking is noodsaaklik vir geestelike gesondheid. Sonder ware prediking word die gelowige swak en hy word deur elke wind van lering heen en weer gedryf omdat hy nie die beskerming geniet van herders en leraars wat Christus aan sy kerk gegee het (Ef. 4:14) en wat vir sy siel waak nie (Heb. 13:17).

Die sakramente mag ook net bedien word deur manne wat wettig deur die kerk verordineer is. Sonder lidmaatskap kan ‘n mens nie gedoop word en ook nie deel hê aan die heilige nagmaal, wat God gee om ons geloof te versterk, nie. Iemand wat willens en wetens weier om lidmaat te word van ‘n ware kerk, minag die gawes wat God vir sy geestelike opbou en tot sy redding, aan die kerk gegee het. So ‘n “ongehoorsame skaap” staan “buite die kudde en is verplig om daarby aan te sluit”.i

B. Die getuienis van die Belydenisskrifte

Ons gereformeerde vaders was oortuig van die noodsaaklikheid van kerklidmaatskap en het hierdie oortuiging in die belydenisskrifte vasgelê.

Die Heidelbergse Kategismus handel oor die kerk in Sondagsafdeling 21. In vraag en antwoord 55 lees ons van die gemeenskap van die heiliges dat “elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend”. Mens is nie lidmaat van die kerk net vir jou eie voordeel nie. Dit is belangrik. Mens moet lidmaatskap ook beoefen ten einde ander lede te bevoordeel. Gemeenskap van die heiliges is gemeenskap met liefderyke heiliges. White is reg as hy beklemtoon dat dit nie in isolasie kan geskied nie: dit veronderstel dat ons sal weet wie die broeders is wat ons moet liefhê. Dít wys weer op die belang van die plaaslike kerk.ii Cornelius Plantinga stem saam wanneer hy sê dat ons ‘n groteske en sondige ding probeer doen wanneer ons alleen en afsydig lewe, want ons ontneem ander die stigting en ondersteuning wat hulle nodig het.iii De Jong stel die saak soos volg: Om Christen te wees beteken gemeenskap met die lewende Christus en tegelyk met sy volk. Om ligtelik hierdie gemeenskap, op grond van eie vooroordele en insigte, te verbreek, is om ons saligheid te bedreig.iv

Die Nederlandse Geloofsbelydenis is baie pertinent oor hierdie punt. In artikel 28 stel die belydenis onomwonde: ” … volgens die Woord van God (is dit) die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en hulle by (die ware kerk) aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het”. Welke aardse omstandighede ook al in sy pad mag staan, die gelowige moet alles tot sy beskikking aanwend om hierdie opdrag uit te voer. Die belydenis voeg hieraan toe: “self al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood- of lyfstraf oplê.” Hoeveel te meer is dit van toepassing wanneer ‘n mens se eggenoot, kinders, broers of susters en vriende daarteen is!

Die bedreiging van wette van regeerders en lyfstraf is nie leë woorde nie. Toe die Nederlandse Geloofsbelydenis in 1561 in die Nederlande geskryf is, het gelowiges alles op die spel geplaas as hulle die valse kerk (in daardie konteks was dit Rome) verlaat het en hulle by die gereformeerde kerke aangesluit het. Die outeur van die Nederlandse Geloofsbelydenis was self ‘n martelaar. As gelowiges van die sestiende eeu bereid was om hulle lewe te waag om by ‘n gereformeerde kerk aan te sluit, wat kan gesê word van baie belydende gelowiges wat vandag nie eers ‘n bietjie ongerief daarvoor wil verduur nie? Daar is min mense wat vandag bereid is om vriende en familie aanstoot te gee deur ‘n afvallige denominasie of ‘n denominasie wat besig is om afvallig te word, te verlaat al is daar so relatief min op die spel.

Die Westminster Konfessie beklemtoon die noodsaaklikheid van kerklidmaatskap wanneer dit daarop wys dat buite die kerk daar geen normale moontlikheid van saligheid is nie (25:2).

Die Franse Geloofsbelydenis (1559) stem grootliks op hierdie punt met die Nederlandse Geloofsbelydenis ooreen: “Ons glo dat niemand homself behoort af te sonder en tevrede alleen wees nie; almal behoort gesamentlik die eenheid van die Kerk te behou en onderhou en hulle te onderwerp aan openbare onderrig en aan die juk van Jesus Christus” (Artikel 26).

Die Tweede Switserse Geloofsbelydenis (1566) benadruk eweneens die belangrikheid van die kerk as instituut: “Maar ons ag die gemeenskap met die ware kerk van

Christus so hoog dat ons ontken dat hulle wat nie binne die gemeenskap met die ware kerk van God staan nie, voor God kan lewe. Want net soos daar geen redding buite die ark van Noag was toe die wêreld deur die vloed vergaan het nie; so glo ons dat daar geen sekere saligheid is buite Christus, wat Homself offer ten voordele van die uitverkorenes in die kerk; daarom leer ons dat hulle wat wil lewe nie van die kerk van Christus afgesonder mag wees nie” (Hoofstuk 17).

Daardie belydenisse wat sê dat daar buite die kerk geen saligheid is nie, bedoel nie daarmee om almal behalwe kerklidmate vir die hel te bestem nie. Ons behoort, sonder om aan die erns van die oproep tot kerklidmaatskap af te doen, dit eerder so te verstaan:

God het verordineer dat saligheid vir die mens bestem is, nie in die bos of aan die strand, of in die kudde van die huurling (Joh. 10:12) nie; saligheid is waar Christus is, waar sy stem gehoor word … . As ek nie vandag God se Woord en Wet hoor en gehoorsaam nie, ontneem ek ook my kinders en kleinkinders daarvan om God se Woord te hoor. Onttrekking aan die kerk is nie ‘n besluit net vir die self nie, maar dit het implikasies vir toekomstige geslagte.v

Ons sien dus dat hierdie moderne idee, dat Christene buite die kerk kan lewe, nie gedeel word deur die gereformeerde vaders, sommige van wie hulle getuienis met hulle bloed moes verseël, nie.

C. Die getuienis van Calvyn

In sy Institusie argumenteer Calvyn kragtig vir die noodsaaklikheid van die kerk as instituut en vaar uit teen hulle wat haar verag. God het die kerk uit sy oneindige liefde en genade gegee. Hy ken ons swakhede. Hy verstaan hoe swak ons geloof is. Daarom voorsien Hy aan ons die middele om die geloof in ons te werk en om ons geloof te versterk. Calvyn vergelyk die kerk met ‘n moeder aan wie se bors ons gevoed word en wat ons lei en bewaak, en met ‘n skool waarin ons deurentyd van Christus en sy groot reddingsdaad leer. Sonder die moederskoot en die leerskool is daar geen hoop op skuldvergiffenis en geen hoop op saligheid in Christus nie. “Ons swakheid laat immers ook nie toe dat ons van haar skool weggaan voordat ons ons hele lewe leerlinge was nie”.vi God “wil nie hê dat hulle (wat aan hom behoort) tot volwassenheid moet groei sonder die opvoeding van die kerk nie.vii Calvyn waarsku: “Om die kerk te verlaat bring … altyd die verderf mee”viii en kritiseer diegene wat met trotse minagting die middele wat God gee die kerk verlaat: “Hoogmoed, afkerigheid of twisgierigheid dryf baie mense daartoe om hulleself te oortuig dat hulle deur self die Skrif te lees en dit te oorpeins voldoende vordering kan maak. So minag hulle die openbare byeenkomste en beskou die verkondiging (van die Woord) as oorbodig. Omdat hulle egter, so ver dit binne hulle vermoë is, die heilige eenheidsband probeer vernietig of afbreek, kan niemand van hulle die regverdige straf vir hierdie goddelose verbreking ontkom sonder om hom met verpestelike dwalings en die afstootlikste drogbeelde te betower nie”.ix

Harold Camping moet oplet. Hy is met “die afstootlikste drogbeelde … betower”. Maar hy is nie die enigste nie. Daar is vandag baie mense wat geen moeite doen om hulle by ‘n ware kerk aan te sluit nie.

Calvyn was tydens sy hele bediening in ‘n stryd met ‘n groep protestante in Frankryk wat hulleself die Nicodemiete genoem het. Hierdie protestante het in vals kerke gebly en hulle optrede probeer regverdig deur aan te voer dat hulle in hulle hart die gereformeerde leer glo, maar dat dit te gevaarlik was om op ware gereformeerde wyse die Here te dien. Die risiko’s was vir hulle net te groot. Protestante in Frankryk het aaklige wreedhede onder die Rooms Katolieke owerhede gely. Hoewel baie simpatiek, het Calvyn steeds aangedring dat hierdie Christene nie deel moet hê aan vals erediens nie en dat hulle hulle by die ware kerk moet aansluit. In sy beroep op hulle was sy advies dat hulle Frankryk, indien hulle kan, moet verlaat. Hy het sy gevoel ook uitgedruk deur te sê dat wie ook al nie die vermoë het om in die Christelike kerk, waar God suiwer gedien word, te wees nie dag en nag beswaard behoort te sug. Hulle moet iedere geleentheid wat hulle gebied word, probeer sodat dit minstens sal blyk dat hulle nie veins wanneer hulle uitkoms soek nie. x

Baie Nicodemiete het met minagting gereageer: Calvyn dink die pad na die hemel loop deur Genève! Hy wil hê hulle moet Genève toe hardloop om uitskel preke te hoor. In reaksie wys Calvyn op die Nicodemiete se geveinsdheid. Hulle maak aanspraak dat hulle die gereformeerde geloof hoog aanslaan, maar hulle is nie bereid om ongerief te verduur om die genademiddele te ontvang nie. Hulle sou nie huiwer om vir ander redes te verhuis nie. Nie een sou huiwer om hulle land te verlaat om nie van honger om te kom nie. As hulle ses maal meer goed in ‘n vreemde land aangebied sou word, sou hulle nie groot probleme hê om te verhuis om dit in besit te neem nie.xi

Die situasie het min verander. Daar is gereformeerde Christene wat op afgeleë plekke in die wêreld, waar daar geen ware kerk is nie, woon. Sommiges kla oor die geestelike wildernis waarin hulle woon. Min van hulle sou huiwer om na ‘n ander stad te verhuis as dit loopbaan-vordering met ‘n hoër salaris sou beteken. Maar hoe min sou vandag hervestiging oorweeg om te deel in die onskatbare seën van kerklidmaatskap? Calvyn som dit op deur te sê dat almal graag op ‘n draagstoel gedra sou wou word om God te dien, as grond, besittings, goed, sakeverbintenisse en bates hulle sou volg. Maar, vra Calvyn, as dit hulle houding is, hoe hoog ag hulle Jesus Christus?xii

D. Lidmaatskap van ‘n geloofsversakende kerk is geen alternatief nie

Kerklidmaatskap is noodsaaklik. Dit is, ten spyte van Harold Camping se gebabbel, hierbo bewys. Nie lidmaatskap van enige kerk is egter voldoende nie. Gereformeerde Christene wat, omdat daar niks beter in hulle omgewing is nie, dienste bywoon of selfs lidmate is van liberaal protestantse kerke, Armeniaanse kerke, Pinkster gemeentes of enige ander kerklike organisasies wat nie die kenmerke van die ware kerk dra nie, lewe nie in gehoorsaamheid aan Christus nie. So ook Christene wat blote besoekers of selfs gereelde bywoners van ware kerke is, maar nie lidmate word en geen voorneme het om dit te word nie.

Met betrekking tot die laasgenoemde benadruk die Nederlandse Geloofsbelydenis by hulle die plig “om hulle almal … aan sy (die kerk) leer en tug te onderwerp” en “die nek onder die juk van Jesus Christus te buig” (Artikel 28). Blote bywoners en goedgesindes doen dit nie. Die Skrif leer dat ons ons moet plaas onder die toesig van ampsdraers (Heb. 13:17). Ouderlinge dra geen gesag oor diegene wat bloot bywoners van eredienste is nie. Sulke bywoners kan nie deel hê aan die sakramente nie en hulle is nie onderhewig aan die kerklike tug nie. Christus beveel elke gelowige om deel te hê aan die sakramente en om die manne deur wie Hy na sy welbehae die kerk wil regeer, gehoorsaam te wees.

Wat betref die eersgenoemde moet dit duidelik gestel word dat lidmaatskap van ‘n afvallige kerk, ware diens aan God onmoontlik maak en ‘n mens medeverantwoordelik stel vir die sonde van so ‘n kerk of denominasie. In ‘n tyd van individualisme is daar min wat hierdie Bybelse beginsel verstaan soos die opstellers van die Heidelbergse Kategismus. Hulle het geweet dat as ouderlinge welwetend ‘n ongelowige aan die tafel van die Here toelaat, “word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek (Sondagsafdeling 30, vraag en antwoord 82). Die hele gemeente, en nie net die mens wat afvallig lewe nie, kom onder God se oordeel. Dit is hoe God met sy volk handel. Toe Agan van die buit van Jerigo gesteel het, het God ses en dertig manne laat sterf. Toe Josua by die Here navraag doen, sê God: “Israel het gesondig en het ook my verbond oortree” (Jos. 7:11). Agan het gesteel. Niemand in Israel weet van die sonde nie, maar God hou die hele volk verantwoordelik.

Sulke mense moet ook aan die belang van hulle kinders en kleinkinders dink. ‘n Volwasse gereformeerde gelowige sal moontlik die onderskeidingsvermoë besit om valse leer in preke wat hy in ‘n afvallige kerk hoor, uit te sif, maar sy kinders besit dit nie. Op sy beste gaan hulle verwar word; in die ergste geval vergiftig word met die vals leer vanaf die preekstoel en die verontreinigende invloed van die afvallige kerk. ‘n Gereformeerde gelowige moet meer doen as om net die toestand van so ‘n kerk of kerkverband te beklaag. Hy behoort kerklike beswaar aan te teken deur die kerkregtelike kanale. As die beswaar nie suksesvol was nie, behoort hy te vertrek en sy kinders met hom saamneem. Om onbepaald in ‘n afwykende of afvallige kerk te bly, is nie ‘n opsie vir iemand wat die waarheid van Christus liefhet nie.

Ten slotte

Diegene wat agter Harold Camping aan die geïnstitueerde kerk verlaat het, is uit die kudde verlei deur ‘n “dief en ‘n rower” (Joh. 10:1). Omdat Mnr. Camping so baie Bybelverse aanhaal en oënskynlik so ‘n gesag praat, het hy ‘n bepaalde aantrekkingskrag, maar die aanmekaarryg van verse wat geen logiese verband het nie, is nie Skrifgetroue uitleg nie, dit is ‘n bespotting van die Skrif.

Family Radio kan nooit die kerk vervang nie. Camping degradeer die funksie van die kerk tot wêreldevangelisasie en hy hou vol dat die kerke nie in staat is om die opdrag van Jesus in Mattheus 28: 19 uit te voer nie. Maar onthou dat dié opdrag die opdrag insluit om hulle wat glo, te doop. Camping het nie gesag om te preek óf om te doop nie. God het geen ander middel vir die versameling van die uitverkorenes gegee ander as die prediking van die evangelie deur manne wat deur Christus in sy kerk daartoe geroep is nie. Camping het geloop, maar die Here het hom nie gestuur nie (Jer. 23:21).

Die kerk is waar die stem van Christus deur die prediking gehoor word (Joh. 10: 26,27). Buite die kerk is daar net die stemme van vreemdes, die gesis van adders en die gegrom van wolwe. Camping se stem sis oor Family Radio: verlaat die kerke. Ons moet ons verset teen sy geroep. Hy sou ons in ‘n wildernis laat woon waar net geestelike dood is en waar ons en ons kinders die onvervalste melk van die woord ontsê word (1 Pet. 1:2). Ons dúrf nie volg waarheen hy lei nie.

Hoe sal Camping antwoord wanneer hy moet rekenskap gee aan die Hoof en Bruidegom van die kerk? Wat sal hy, wat Christus se bruid verlei het, wat Christus se kindertjies laat struikel het en probeer het om Christus se tempel te sloop, Christus op daardie dag antwoord? Ons sidder by die gedagte en roep hom dringend tot bekering.

Wat ‘n seën is dit nie om die lewendige gemeenskap in ‘n ware kerk te ondervind nie. Christus is daar. Daar ondervind ons gemeenskap met die Drie-enige God in verbondsvriendskap wanneer Hy tot ons spreek in die prediking en ons deur die sakramente versterk. Ons ervaar die genadige bewaring deur sy stok en sy staf wanneer Hy ons deur die ampte regeer. Hoe dwaas dan, om al dié seëninge te verwerp en die bedreiging van ons eie saligheid te wees, deur die ware kerk te verlaat.

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.


i T van Bruggen, The Church Says Amen: An Exposition of the Belgic Confession (Neerlandia, Alberta, Canada: Inheritance Publications, 2003), p. 151.
ii James R. White, Dangerous Airwaves: Harold Camping Refuted and Christ’s Church Defended (Amityville, N.Y.: Calvary Press, 2002) p. 31.
iii Cornelius Plantinga Jr., A Place to Stand: A Study of Ecumenical Creeds and Reformed Confessions (Grand Rapids, MI: Board of Publications of the CRC, 1981), p. 106.
iv Peter Y. de Jong, The Church’s Witness to the World, vol. 2 (Pella, IA: Pella Publishing Inc., 1962), p. 242.
v C. Bouwman, Notes on the Belgic Confession (Western Australia: The League of Free Reformed Women’s Bible Study Societies in Australia and Pro Ecclesia Publishers: Kelmscott, 1997), pp. 114-115.
vi Johannes Calvyn, Institusie van Die Christelike Godsdiens 4.1.4 (Translation H.W. Simpson, Calvyn Jubileum Boekefonds, Potchefstroom 1991), p. 1271..
vii Institusie 4.1.5, p. 1272.
viii Institusie 4.1.4, p. 1272.
ix Institusie 4.1.5, p. 1274.
x Sien John Calvin, Come Out From Among Them: Anti-Nicodemite Writings of John Calvin (Dallas, TX: Protestant Heritage Press, 2001), pp. 94, 95, 192-193.
xi Ibid. pp. 181,202
xii Ibid.. pp. 215-216.
Show Buttons
Hide Buttons