Rev. Angus Stewart
Volgens Psalm 145:9 is God se “barmhartighede … oor al sy werke. Voorstanders van “algemene genade” sê dat “al [God se] werke” hier verwys na alle mense, kop vir kop, insluitend die verworpenes. Onmiddellik daarna in die volgende vers word egter verklaar: “Al u werke loof U” (10a). Die verworpenes loof God nie en kan dus nie die voorwerpe van God se “barmhartighede” wees nie (9). Volgens die parallelisme in Hebreeus definieer “u gunsgenote prys U” (10b) God se werke hier as sy heilige volk, deur sy soewereine genade geskep in Jesus Christus (vgl. Jes. 19:25; 29:23; 45:11; Ef. 2:10), die burgers van die genadige koninkryk van God, die onderwerp van Psalm 145.
Kom ons kry die Hebreeuse parallelisme duidelik voor ons:
[9a] Die HERE is vir almal goed,
[9b] en sy barmhartighede is oor al sy werke.
[10a] Al u werke loof U, o HERE,
[10b] en u gunsgenote prys U.
“Almal”(9a), “al [God se] werke” (9b, 10a) en God “se gunsgenote” (10b), verwys na dieselfde groep, God se heilige volk wat nuwe skepsele in Jesus Christus is (II Kor. 5:17; Ef. 2:10). Die ewige, onveranderlike en getroue Jehova is goed vir hulle almal (Ps. 145:9a) en hulle is die voorwerpe van sy verbonds-“barmhartighede” (9b). Omdat hulle God se goedheid en barmhartighede ken, “loof” (10a) en “prys” (10b) sy hele volk Hom en “Hulle maak melding van die heerlikheid van [sy] koninkryk en hulle spreek van [sy] mag” (11).
Let daarop dat Psalm 145 begin deur die nooit volprese God as “koning” (1) te verhoog. Vier keer in die psalm word die woord “koninkryk” (11-13) gebruik en een maal “heerskappy” wat “duur deur al die geslagte” (13). God se “koninkryk” is “heerlik,” “glansryk” en “duur deur al die geslagte” (11-13). Dit is die onderwerp van bespreking en die onderwerp van heilige lof vir sy “gunsgenote” (10) wat van die “heerlikheid” (11), die “mag”, ja die “glansryke heerlikheid” (12) van God se koninkryk melding maak, daarvan spreek en dit bekend maak (11-12). In hierdie koninkryk word God se “mag” en “magtige dade” (11-12) geken en gevrees. So is Jehova se “werke,” en sy “magtige”, “wonderbare” en “vreeslike dade” (4-6) ook in diens van die “koning” en sy “koninkryk” (11-13) en is soveel meer rede vir die kerk van alle eeue om Hom te dien (4-6): “Die een geslag prys u werke by die ander, en hulle verkondig u magtige dade” (4). Ons dink bly aan God se “grote goedheid” en ons “jubel oor [sy] geregtigheid” (7). Ons loof Hom vir sy volmaaktheid: “Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierendheid” (8). Dit word gesien in Jehova se regering van sy koninkryk “wat duur deur al die geslagte” (13), want Hy “ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is” (14) en Hy “is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid” (18). So ook vervul Hy die wens “van die wat Hom vrees” en hoor en verlos Hy hulle (19) en gee voedsel aan almal, om die belang van sy koninkryk te dien (15-16). In die hele Psalm prys Dawid en “al [God se] werke,” sy “gunsgenote,” God die koning vir sy magtige dade, vir sy heerlike majesteit en vir sy barmhartighede in die oprigting en onderhouding van sy koninkryk. Dit is dieselfde koninkryk wat Jesus Christus op aarde verkondig het, wat Hy deur die bloed van sy kruis ingestel het en wat Hy van sy troon aan die regterhand van God regeer en beskerm—dieselfde koninkryk wat meer volledig in die bladsye van die Nuwe Testament geopenbaar word. Die konteks van Psalm 145 en die parallelisme in verse 9-10 behoort mens daarvan te weerhou om “algemene genade” in Psalm 145:9 in te lees.
Verder, as ons die eksegese volg van dié wat glo dat “al [God se] werke” in Psalm 145:9 elke mens, sonder uitsondering, insluit, moet ons noodgedwonge dieselfde toepassing maak by “alles wat lewe” in vers 16. Maar dán moet ons glo dat God elke mens in die geskiedenis van die wêreld met spys versadig (15-16)—maar ons weet dat duisende gesterf het en steeds van honger omkom. Ook word daar gesê dat “almal” op God wag vir voedsel (15). Dit mag so wees van voëls, diere en visse (vgl. Ps. 104:21, 25-28) en vir God se kinders wat van Hom alleen hulle daaglikse brood verwag. Maar die verworpenes is ongelowiges; hulle wag nie biddend in geloof op God vir hulle voedsel nie!
Die eksegetiese metode van hulle wat “algemene genade” daarop nahou, lei tot absurditeite in Psalm 145, sowel wat betref verse 9-10 en verse 15-16 as met die betekenis van die Psalm as geheel. Ons moet nie dele van verse isoleer om hulle te laat sê wat ons dink hulle sê nie, maar laat ons eerder die Skrif met die Skrif interpreteer. As ons dit met hierdie psalm doen kan ons nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat die teorie van “algemene genade,” vir beide uitverkorenes en verworpenes, hier glad nie ter sake is nie. Psalm 145 prys God omdat hy sy mag (4-6, 11-13), sy goedheid (7-9) en sy nabyheid (14, 18-19) openbaar in die heerlikheid van sy koninkryk. Vers 20 som vir ons God se verhouding en wil met die twee antitetiese geestelike volkere op: “Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose.” Waarom? Die heilige en onveranderlike God van die koninkryk “is regverdig in al sy weë” (17).
(Vertaal deur Nic Grobler. [email protected] Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)