Ds. Angus Stewart
Mense doen soms ‘n beroep op die “algemene werkinge van die Gees” (“common operations of the spirit”) in die Westminsterse Geloofbelydenis 10:4 én die Westminster Groter Kategismus V. & A. 68, asof hierdie uitdrukking in die Westminster Belydenisskrifte algemene genade leer. Die dwaling van algemene genade word op verskeie maniere verstaan. Vir die meeste aanhangers daarvan beteken dit dat Jehova die goddelose (hulle wat Hy van ewigheid bestem het om in hulle sonde verlore te gaan) liefhet en dat Hy deur sy liefde van hulle iets minder maak as verworpenes, wat hulle in dan staat sou stel om voor God en die wêreld iets goeds te doen.
Dit moet verstaan word, afgesien van die polemiek hieroor, dat die Heilige Gees inderdaad wel ín en mét die ongelowiges werk. Dit vloei noodwendig uit die universele omvang van die voorsienigheid van God en die waarheid van die Drie-eenheid dat die Vader alle dinge deur die Seun en deur die Gees werk.
Ons kan drie maniere onderskei waarop die Gees in en met alle mense (ook die verworpenes) werk. Eerstens gee die Gees (wat één is met die Vader en die Seun) fisiese lewe en krag, want immers net in God—die Drie-enige God— “lewe ons, beweeg ons en is ons” (Hand. 17:28). Tweedens gee God deur sy Gees aan die ongelowiges intellektuele begrip van natuurlike dinge. Die goeie gawes van kennis op alle terreine (lees, skryf, kook, boerdery, boukuns, geneeskunde ens.) kom immers van die God van alle wysheid deur sy Seun, die Woord of Logos, deur die alwetende Gees. Derdens gee die Gees ook aan die ongelowiges ‘n natuurlike begrip van geestelike dinge (hoewel nie ‘n geestelike begrip van die geestelike dinge nie). Diegene wat nie uitverkies is nie en in verbondsgesinne grootword of kerkdienste bywoon en Christelike lektuur lees, het bes moontlik ‘n verstandelike begrip van die Bybelse waarhede. Dit kan nie sonder die Heilige Gees gebeur nie, want alle kennis is van Hom.
Op die terrein van die sigbare kerk kan die begrip van sommige ongelowiges selfs gesien word as “verlig” deur die Gees; dat hulle ‘n duidelike natuurlike begrip van geestelike dinge het (Heb. 6:4) en die skoonheid van die Skrif, die heerlikheid van die hemel en die krag van God “smaak” (vs. 4-5). Die goddelose profeet, Bíleam (2 Pet. 2:15-16) het dit ervaar, soos ons sien uit sy vier profesieë oor Israel (Num. 23:7-10; 18-24; 24:3-9; 15-24) en in die besonder uit sekere gedeeltes daarvan (bv. 23:10, 23; 24:5. 9, 17, 23), want hy hét “die wetenskap van die Allerhoogste [ge]ken” (24:16) en deur “die Gees van God” gespreek. Die Gees gee selfs deur die prediking aan die nie-uitverkorenes “blydskap” in hulle natuurlike begrip van geestelike dinge, voordat hulle wegval uit hulle (geveinsde) belydenis van geloof (Matt. 13:20-21). Dit is immers deur die Gees alleen wat ongelowiges ‘n (aardse) vreugde in die aangename dinge van die skepping van God, soos ‘n mooi sonsondergang, ‘n lekker maaltyd of insig in ‘n moeilike probleem ervaar. Net so is dit die Gees wat aan sommige ongelowiges ‘n natuurlike begrip van, en ‘n tydelike blydskap in geestelike dinge gee. Die Vader het selfs aan verworpenes, soos Judas Iskariot, die mag gegee om, deur die Seun en die Heilige Gees, duiwels uit te dryf (Matt. 7:22; 10:1, 4; 12:28).
Wat die drie tekste waarna in Westminsterse Geloofbelydenis 10:4 verwys word, betref, wys ons eerstens daarop dat diegene wat bloot die “algemene werkinge van die Gees” soos ‘n natuurlike insig in, en ‘n natuurlike aanvoeling vir geestelike dinge, ontvang, volgens Hebreërs 6:4-5 onderhewig is aan die “vervloeking” (vs. 8) van God, die almagtige vloek van sy toorn (Matt. 25:41). Tweedens is daar, tussen die gelykenis van die saaier (Matt. 13:3-9) en die uitleg daarvan (18-23) en die woorde oor hulle wat natuurlike vreugde oor die geheimenisse van die koninkryk vir ‘n tyd lank ervaar (20-21), die bevestiging deur Christus, van God se uitverkiesing en verwerping wat die mens se reaksie op die evangelie bepaal (14-15; lees ook Jes. 6:9-10; Joh. 12:39-40). Derdens sê die Here dat Hy aan hulle wat nie uitverkies is nie en wat geprofeteer het, duiwels uitgedrywe het en kragte gedoen het, sal sê, “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (23). “Ek het julle nooit geken nie” verwys na die kennis van sy liefde: “Ek het julle nooit liefgehad nie, nie nou nie, nie voor die grondvesting van die wêreld nie, nie tydens julle lewe op aarde nie, nooit!” Die goeie gawes kom dus nie na die verworpenes in die liefde en genade van God nie (Ps. 73; Spr. 3:33; Rom. 9:13; 11:7-10), maar in sy soewereine, alles beheersende voorsienigheid wat kom van die Vader, deur die Seun en deur die Heilige Gees.
Hierdie “werkinge van die Gees” is “algemeen”, gemeenskaplik, aan die uitverkorenes én die verworpenes dáárin dat sommige uitverkorenes én sommige verworpenes “baie kragte gedoen” het (Matt.7:22) en dat alle uitverkorenes en sommige verworpenes blydskap gevind het, “verlig geword het, … die Heilige Gees deelagtig geword het en die goeie woord van God gesmaak het” (Matt. 13:20; Heb. 6:4-5). Daar is ewewel drie spesifieke verskille tussen die “werkinge van die Gees” in die in die uitverkorenes en in die nie-uitverkorenes. Eerstens gee die Gees aan sommige verworpenes ‘n natuurlike begrip, vreugde en smaak van geestelike dinge, maar die uitverkorenes ontvang geestelike begrip, blydskap en smaak van die geestelike dinge (Joh. 17:13; 1 Kor. 2:14). Tweedens kom die “werkinge van die Gees” na die twee groepe mense met ‘n verskillende goddelike doel en op verskillende maniere: die uitverkorenes ontvang dit in die genade van God, die verworpenes ontvang dit in voorsienigheid en nie in genade nie. Derdens praat die Westminsterse Geloofbelydenis 10:4 én die Westminster Groter Kategismus V. & A. 68 van “sommige algemene werkinge van die Gees,” want daar is werkinge en gawes van die Gees—die grootste, permanente en reddende gawes!—wat net vir die uitverkorenes en nie vir die verworpenes nie: die wedergeboorte, die vergiffenis van sonde, die toegerekende geregtigheid van Christus, die liefde van God wat in ons harte uitgestort is (Rom. 5:5), die versekering van die onoorwinlikheid van die liefde van Jehova. Onder die “werkinge van die Gees” wat vir die uitverkorenes alleen bedoel is, is die kragdadige roeping, die onderwerp van Westminsterse Geloofbelydenis 10:4: “Andere, wat nie uitverkies is nie, mag (uitwendig) deur die prediking van die Woord geroep word en sommige algemene werkinge van die Gees ervaar, maar hulle kom nooit waarlik tot Christus nie en kan daarom nie gered word nie,” want hulle was nie van ewigheid tot die lewe bestem nie. Daarom word hulle nooit inwendig en kragdadig deur die Gees geroep nie.
(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)