Menu Close

Verbonds-Universalisme

prof. D. J. Engelsma


Prof. Engelsma is professor in Dogmatiek en Ou Testament aan die Teologiese Skool van die Protestant Reformed Churches of America (PRCA). Vir meer inligting oor die PRCA, sien www.prca.org Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in die PRCA se amptelike maandblad, The Standard Bearer, vol. 80, nr. 14, 16, 17, en is met die nodige toestemming vertaal deur Antoine Theron.


Die evangelie van verlossing deur genade alleen, beleef ’n tyd van lewensgevaar in bykans alle kerkverbande in die V.S.A. en Kanada wat as standhoudende Gereformeerde of Presbiteriaanse kerke bekendstaan.

Die bedreiging is ’n teologiese stroming, ’n leerbeskouing wat deur voorstanders beskryf word onder name soos “Auburn Avenue teologie” (vernoem na ’n Presbiteriaanse kerk in Lousiana, V.S.A. wat in die middelpunt van die beweging staan), die “federale visie” of die “federale perspektief (omdat die beweging aanspraak daarop maak dat hulle die leer van die verbond ontwikkel—”federaal” beteken “verbond” ), en “objektiewe verbondsteologie” (omdat die beweging groot klem plaas op die sogenaamde objektiwiteit van die verbond).1

In ’n neutedop leer hierdie denkrigting dat die reddende genade van God in Jesus Christus universeel is binne die sfeer van die verbond. Elke gedoopte kind is die voorwerp en ontvanger van die genade van God. Hiervolgens ontvang elkéén wat geldig met water gedoop word in die naam van die Drie-enige God die reddende genade van God, sowel hulle wat uiteindelik verlore gaan as hulle wat uiteindelik wel gered word.

Die Gereformeerde geloof verwerp natuurlik die leer van ’n universele genade as kettery. Dit is ’n fundamentele afwyking van die evangelie om te leer dat God in Christus genadig is teenoor elke mens sonder uitsondering. Die gedagterigting wat nou die evangelie in bykans alle Gereformeerde kerke in Noord-Amerika bedreig, dra die kettery van universele genade tot binne die sfeer van die verbond.

Die regte naam vir hierdie beweging is “verbonds-universalisme.” Dit is die naam wat ek sal gebruik om te verwys na hierdie bedreiging van die evangelie van genade in die Gereformeerde gemeenskap.

Die beweging is ’n radikale afval van die Gereformeerde geloof, dit wil sê van die Bybelse, Protestantse Christelike teologie. Die beweging van verbonds-universalisme verwerp die leer van regverdiging deur geloof alleen, en leer dat die mens geregverdig word deur geloof en deur die goeie werke van geloof. Terselfdertyd is dit ‘n ontkenning van al die leerstukke van soewereine genade wat deur die Gereformeerde kerke in die Dordtse Leerreëls bely word. Die beweging ontken die “Vyf Punte van Calvinisme.” Dit ontken op ’n merkwaardig blatante en openlike wyse hoekstene van die Gereformeerde teologie: die leerstukke van God se vrye, soewereine en onweerstaanbare genade.

Nogtans hou verbonds-universalisme ’n werklike gevaar in vir die Gereformeerde kerke. Dit kan ons sien aan die feit dat bykans al die sogenaamde Gereformeerde en Presbiteriaanse kerke in Noord-Amerika bewustelik ’n tuiste bied aan ampsdraers wat hierdie kettery leer, bevorder en verdedig. Twee van hierdie kerkverbande het in 2003 reeds amptelik goedkeuring gegee aan hierdie dwaalleer by wyse van besluite van hul meerdere vergaderings.

Die rede waarom ’n beweging wat al die leerstukke van soewereine genade ontken die Gereformeerde kerke bedreig, is dat die beweging die natuurlike, logiese ontwikkeling is van die leer van die verbond wat die kerke omhels het. Die bewustelike, stelselmatige en openlike ontkenning van die leerstukke van soewereine genade kan teruggevoer word na die kerke se verkeerde leer van die verbond. Hierteenoor bestaan daar gelukkig nog altyd ’n regsinnige leer van die verbond wat die evangelie van verlossing deur die soewereine genade van God in Jesus Christus waarborg en beveilig.

Leiers in die beweging

Ons wil in hierdie artikel die aandag op die leer van die beweging vestig, eerder as op die name van persone, kerke en teologiese skole. Maar dit is reg en nodig om te weet wie die leidende profete van verbonds-universalisme is en waar hierdie hedendaagse ontwikkeling van die verbondsteologie ’n tuiste vind.

Die groot fontein van verbonds-universalisme in konserwatiewe Gereformeerde kringe is die Presbiteriaanse teoloog Norman Shepherd. Shepherd het vir omtrent twintig jaar dogmatiek gedoseer aan Westminster Theological Seminary in Philadelphia. Hy is in 1982, na ’n stryd van sewe jaar, geskors uit die fakulteit omdat hy geleer het dat mens geregverdig word deur geloof én werke. Daarop het Shepherd aangesluit by die Christian Reformed Church (of North America), waar hy dan ook predikant was totdat hy afgetree het. Shepherd bly die denke van lidmate in Gereformeerde en Presbiteriaanse kerke beïnvloed, veral deur sy onlangse boek The Call of Grace (P&R Publishers, 2000).

Uitgesproke, publieke voorstanders en verdedigers van die nuwe ontwikkeling van die verbond kan gevind word in die Presbyterian Church in America (PCA), die Orthodox Presbyterian Church (OPC) en die United Reformed Churches (URC). Shepherd is natuurlik self ’n lid van die Christian Reformed Church (CRC).

Buiten Norman Shepherd, wat ‘n groot invloed het in die PCA en die OPC, tel onder hulle wat in die publiek die dwaling van verbonds-universalisme bepleit en verkondig, of wat dit kragdadig verdedig en bevorder: Prof John Frame van die PCA, Steve Wilkins, ook van die PCA, Dr. Richard B. Gaffin Jnr van die OPC, John Baruch van die URC en die indepentiste Douglas Wilson en Steve Schlissel. Wilson en Schlissel het invloed in die URC.

Die rol van die teologiese skole in die verspreiding van die dwaalleer van verbonds-universalisme is betekenisvol. Die leer van Shepherd en Gaffin het van Westminster Seminary in Philadelphia die enjinkamer van dwaalleer regdeur sogenaamd konserwatiewe Gereformeerde kerke wêreldwyd gemaak. John Frame doseer aan die Reformed Theological Seminary in Orlando, Florida.

Onheilspellend genoeg bly meeste teologiese skole tjoepstil terwyl die ernstigste bedreiging teen die evangelie van soewereine genade sedert Dordrecht begin saampak. Een van die belangrikste pligte van Gereformeerde professore aan die Teologiese Skool is om “die suiwer leer teen ketterye en dwalinge te verdedig” (art. 18 van die Kerkorde). Maar ons Gereformeerde professore versuim (of weier) om hulle stem te verhef en hard en dringend te waarsku teen hierdie groeiende gevaar vir die volk van God.

Elke kind met Christus verenig

Verbonds-universalisme leer dat sonder uitsondering elke kind van gelowige ouers wat gedoop is, dit wil sê, wat met water besprinkel is in die naam van die Drie-enige God, verenig is met Jesus Christus. Elke kind, en inderdaad elke persoon wat gedoop word, sowel volwassene as kind, is waarlik, geestelik, en reddend met Christus verenig. Elkeen ontvang die lewe en die seëninge wat daar in Christus is. Die voorstanders van verbonds-universalisme hou daarvan om te sê dat almal sonder uitsondering lote is wat in die wynstok is (die taal van Johannes 15) en dat die sap van die wynstok in almal van hulle vloei. Sommige van hierdie gedoopte kinders raak later afvallig. Hulle word afgesny, sodat hulle ewig verlore gaan. Maar hulle was net so waarlik met Christus verenig as hulle wat in Christus bly en gered word.

In ’n toespraak by die 2002 Auburn Avenue Pastors’ Conference het John Baruch geleer dat elkeen wat gedoop is, “in Christus” is. Die “krag van die doop” het tot gevolg dat elke gedoopte persoon gemeenskap met die Drie-enige God geniet. “Elke gedoopte,” was Baruch se standpunt, “is in Christus en deel in Sy lewe.”

Dit is universele genade in die sfeer van die verbond!

Hierdie geloof dat elke gedoopte kind op ‘n reddende manier met Christus verenig is, is een rede waarom baie van hierdie teoloë die “kindernagmaal” voorstaan. By Knox Theological Seminary se konferensie oor die “Federal Vision” in 2003 het Douglas Wilson aan die teoloë vertel dat hy onlangs die heilige nagmaal aan sy een-en-’n-half-jaar oue kleinseun bedien het.

Elke kind ’n uitverkorene

Nie net is elke gedoopte kind van Christelike ouers gered nie, maar elkeen van hulle is ook ’n uitverkorene van God. Die verkondigers van verbonds-universalisme bedoel nie slegs dat gemeentelede die kinders as uitverkorenes beskou in ’n “gunstige oordeel” nie. Alle kinders is uitverkore. Almal is deur God verkies tot verlossing. Hulle is almal op dieselfde manier uitverkore in die betekenis wat uitverkiesing het in Efesiërs 1:4 en in II Thess. 2:13. Dit is heel moontlik dat hulle hul uitverkiesing verloor, maar intussen is hulle uitverkore.

By Knox Theological Seminary se konferensie oor die “Federal Vision” in 2003 het Baruch mense gekritiseer wat verbond en uitverkiesing onderskei. Almal wat deur die doop in die verbond is, is uitverkore, verklaar Baruch. Elke gedoopte kind is uitverkore soos wat II Thess. 2:13 dit bedoel. Almal is met Christus verenig. Almal “ervaar waarlik Sy liefde, maar almal antwoord nie met bekering en geloof en liefde nie.” Dit is betekenisvol dat Baruch op hierdie punt die “Vrygemaakte” Gereformeerde teoloog Benne Holwerda aanhaal ter ondersteuning van sy leer van universele verbondsmatige uitverkiesing.

Ook Steve Wilkins het by hierdie konferensie opgetree. Hy het uitdruklik na Efesiërs 1:4 en II Thess. 2:13 verwys en bevestig dat elkeen wat gedoop is, ook uitverkies is. Daarby het hy gevoeg dat as gedoopte lede van die gemeente “later die Verlosser verwerp, hulle nie meer uitverkore is nie—hulle word afgesny van die Uitverkore Een en verloor dus hul uitverkore status. Maar hulle afval weerspreek nie die werklikheid van hul posisie voordat hulle afgeval het nie. Hulle was in werklikheid en in waarheid uitverkorenes van God as gevolg van die verhouding waarin hulle tot Christus gestaan het.”

Die beroep op II Thess 2:13 ter ondersteuning van die uitverkiesing van al die kinders wys dat die beweging leer dat God alle gedoopte kinders op eenderse manier liefhet. Die teks sê dat God hulle uitverkies het wat Hy liefhet: “Maar ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid.” Volgens die verbonds-universalisme verkies God alle kinders tot verlossing uit omdat Hy alle kinders liefhet, en alle kinders liefhet met die liefde van Sy verbond in Jesus Christus.

Sommige van hierdie beminde, uitverkore kinders raak ongelukkig afvallig van die geloof en word gehate verworpenes wat in die hel vergaan, maar hulle was almal aanvanklik uitverkore.

Universalisme binne die verbond!

Die dood van Christus vir elke kind

Verbonds-universalisme leer dat Christus vir elke gedoopte kind van godvresende ouers gesterf het. Dit is die noodwendige implikasie van die leer dat almal van hulle op reddende wyse met Christus verenig is en van die leer dat God hulle almal liefhet en uitverkies. Daarbenewens is die doop veronderstel om eenheid met Christus voor te stel, of selfs te bewerkstellig, aan almal (sonder uitsondering) wat die doop ontvang. Maar die doop is die teken en seël van die was in die bloed van Jesus, dit wil sê die kruis.

Die profete van hierdie nuwe vorm van verbondsteologie verklaar prontuit dat Christus gesterf het vir alle gedoopte kinders, inderdaad selfs vir elke gedoopte lid van die verbondsgemeenskap. John Baruch het aan sy gehoor by die 2002 Auburn Avenue Pastors’ Conference vertel dat “Jesus het gesterf vir elke gedoopte lid van die gemeente, kop vir kop.” Hy het ontken dat dit bloot ’n “gunstige oordeel” is wat uitgespreek word.

Universele versoening binne die verbond!

Weerstaanbare genade in ’n voorwaardelike verbond

Universele genade beteken egter nie, volgens hierdie leer, ook universele verlossing nie. Want verbondsgenade, sê hulle, is weerstaanbaar. As die gedoopte kinders grootword, kan hulle die genade van God in Christus weerstaan. Deurdat hulle genade weerstaan, word hulle afgesny van Christus. Baie weerstaan dan ook die genade van God wat ’n goeie werk in hulle begin het, en gaan vir ewig verlore.

Die genade van die verbond is weerstaanbaar, aangesien die verbond voorwaardelik is. Wat betref die aanvanklike oprigting daarvan met elke gedoopte kind, is die verbond wel onvoorwaardelik. By die doop bring God elke gedoopte kind in verbondsvereniging met Christus deur genade alleen. Maar vir die volhouding en vervolmaking daarvan hang die verbond af van die dade van die kinders self. Hierdie dade is geloof en ’n lewe van gehoorsaamheid. Geloof en gehoorsaamheid is voorwaardes van die verbond. Aangesien die voortsetting en vervolmaking van die verbond uiteindelik die ewige verlossing van die persoon is, hang die verlossing van elke gedoopte kind af van die kind se dade van geloof en gehoorsaamheid. Deur nie te glo nie en nie te gehoorsaam nie, weerstaan ’n kind genade.

Hier is natuurlik presies die punt waar regverdiging deur geloof en werke ingebring word in die teologie van verbonds-universalisme. As universele verbondsgenade vir die effektiwiteit daarvan afhang van die werke van die kind, kom die geregtigheid van die lid van die verbond deur geloof en werke. ’n Voorwaardelike verbond impliseer regverdigmaking deur werke. Inderdaad is in die voorwaardelike verbonds-skema ook geloof self ’n werk van die sondaar waarvan geregtigheid en verlossing afhang.

Regverdiging deur geloof en werke op die basis van ’n voorwaardelike verbond is die hart en siel van Norman Shepherd se The Call of Grace (P&R, 2000).

Bykans alle vorme van die kettery van universele genade leer noodwendig dat genade weerstaanbaar is. Die enigste uitsondering is die universalisme wat glo dat ook alle mense sonder uitsondering uiteindelik gered word. Verbonds-universalisme is hierin geen uitsondering nie. Universele verbondsgenade is sonder twyfel weerstaanbaar.

Die afval en verlore gaan van heiliges in die verbond

Dit is ’n belangrike leer van die profete van verbonds-universalisme dat sommiges wat op reddende wyse met Christus verenig was, wat uitverkorenes van God was, wat geregverdig was en wat deur die kruis losgekoop is, afvallig kan word en ewig verlore gaan. Om die waarheid te sê, die voorstanders van verbonds-universalisme hou daarvan om hierdie ontstellende aspek van hul verbondsbeskouing te beklemtoon. Hulle dring daarop aan dat hulle maar net reg wil laat geskied aan die opmerklike waarskuwings in die Skrif teen afval van die geloof, veral Hebreërs 6:4-8 en Hebreërs 10:29. Mens kan slegs wegval, sê hulle, as mens inderdaad en op reddende wyse in Christus was. Hebreërs 6 en Hebreërs 10, dring hulle aan, is werklike waarskuwings oor ’n werklike moontlikheid vir elke lid van die kerk sonder uitsondering. Steve Wilkins het dit beklemtoon in sy voordrag oor “Verbond, doop en verlossing” by die konferensie by Knox Seminary:

Hulle wat uiteindelik blyk verworpenes te wees mag in verbond met God wees. Hulle mag vir ’n tyd lank die seëninge van die verbond geniet, insluitende die vergewing van sondes, aanneming tot kinders, die besit van die koninkryk, heiligmaking, ens … en tog kan hulle afval en tekort skiet aan die genade van God … Die afvallige verbeur nie ‘oënskynlike seëninge’ wat nooit in werklikheid syne was nie, maar werklike seëninge wat syne was in verbond met God (Wilkins se eie beklemtoning).

Sou iemand beswaar maak teen hierdie leer van die afval van baie mense wat op ’n tyd waarlik met Christus verenig was, regverdig was, en uitverkies was; word hy deur voorstanders van die verbonds-universalisme beskuldig dat hy nie reg laat geskied aan die Skrif se waarskuwings om nie afvallig te word van die geloof nie. En daardeur, gaan die beskuldiging voort, dra hy by tot die slordige lewens in ons kerke.

Op die punt van die moontlikheid van afval van mans en vroue wat eenmaal gered was, draai die leermeesters van die verbonds-universalisme geen doekies om nie. Hulle huiwer nie om voor te stel dat Gereformeerde kerke die belydenis oor die volharding van die heiliges moet “herbedink” nie. Wat hulle bedoel is dat volharding van die heiliges, soos dit in die vyfde hoofstuk van die Dordtse Leerreëls geleer word, nie geld binne die verbond nie. Verbonds-universalisme hou onverbiddelik vas aan die moontlike afval van die verbondsheiliges.

Verbonds-universalisme val elkeen van die waarhede van die evangelie van soewereine genade aan.

Verbonds-universalisme val elkeen van die waarhede van soewereine genade aan vir sover hierdie waarhede betrekking het op die verbond. In die sfeer van die verbond kies God almal uit met ’n uitverkiesing wat verloor kan word. In die sfeer van die verbond het Christus vir almal gesterf met ’n dood wat nie daarin slaag om baie te red nie. In die sfeer van die verbond wederbaar die Gees en regverdig die Gees almal met ’n wedergeboorte en regverdiging wat die verlossing van niemand verseker nie. In die sfeer van die verbond weerstaan baie die genade wat begin het om hulle te red, en gaan dan verlore.

In die sfeer van die verbond is God se genade nie meer soewerein nie. In die sfeer van die verbond is God nie meer soewerein nie. Die vraag is: Volgens die verbonds-universalisme, wie is soewerein in die verbond?

In die sfeer van die verbond moet ons almal dag en nag in vrees lewe dat ons afvallig kan word van Christus, die saligheid kan verbeur en in ewige verderf kan verval. As ons vandag met Christus verenig is, as ons vandag verlos is, as ons vandag geregverdig is en selfs as ons vandag verseker is van ons uitverkiesing, beteken dit nog niks nie. Alles kan verloor word, want alles is voorwaardelik.

Dit is die leer wat aan die versprei is in omtrent al die kerke wat as Gereformeerd en Presbiteriaans bekendstaan. Dit is die leer wat die sogenaamde behoudende Gereformeerde en Presbiteriaanse kerke en geleerde Presbiteriaanse teoloë nie kan veroordeel nie. Dit is die leer wat die sogenaamde behoudende Gereformeerde en Presbiteriaanse kerke verdra. Dit is die leer wat soveel Gereformeerde en Presbiteriaanse kerke nou goedkeur deur middel van hulle amptelike kerklike besluite.

Verbonds-universalisme ontken dat die ewige, soewereine beskikking—uitverkiesing en verwerping—toepaslik is op die kinders van gelowige ouers binne die sfeer van die verbond. In die sfeer van die verbond is alle kinders uitverkore, ingesluit daardie kinders wat uiteindelik in ongeloof ewig verlore gaan.

Verbonds-universalisme verwerp die leer van Christus se beperkte boetedoening vir sover dit die opeenvolgende geslagte van gelowiges aangaan. Christus het vir al die fisieke, gedoopte kinders van gelowiges gesterwe. Meer nog: hy het vir almal gesterwe wat die sakrament van die doop ontvang, hulle wat uiteindelik veroordeel word sowel as hulle wat uiteindelik verheerlik word.

Verbonds-universalisme leer dat genade weerstaanbaar is vir gedoopte kinders. Baie kinders in wie God die werk van verlossing begin en vir wie Hy met Christus verenig, weerstaan hierdie genade en gaan verlore.

Verbonds-universalisme verwerp uitdruklik die volharding van verbondsheiliges in verbondsgenade. Baie wat op ’n tyd waarlik ingeënt is in Christus en die geestelike seëninge van die verbond ontvang het, word afgesny van Christus, verbeur die seëning van verlossing en gaan vir altyd verlore.

In die sfeer van die verbond is genade universeel, weerstaanbaar en verloorbaar.

Hulle wat hierdie verbondsteologie verkondig maak daarop aanspraak dat hulle steeds die leerstukke van genade, soos dit ook in die Dordtse Leerreëls uitgedruk is, en die “vyf punte van die Calvinisme” onderhou. Maar die leerstukke van genade is nie van toepassing in die verbond nie.

Dit is duidelik dat daar in hierdie manier van dink teenstrydighede bestaan in die reddende werk van God. Buite die verbond, op die sendingveld, byvoorbeeld, red God deur sy soewereine genade. Binne die verbond staan genade egter magteloos teenoor daardie sondaar wat dit weerstaan. Buite die verbond is genade afhanklik van die wil van God alleen. Binne die verbond is genade afhanklik van die wil van die gedoopte kind. Buite die verbond is genade onfeilbaar en kragdadig. Binne die verbond kan genade suksesvol weerstaan word. Buite die verbond is genade spesifiek oftewel partikulier, dit word net aan die uitverkorenes gegee. Binne die sfeer van die verbond is genade egter universeel.

Leermeesters van die verbonds-universalisme probeer dus om te onderskei tussen verbondsgenade en daardie genade van God wat volgens belydenisskrifte soos die Dordtse Leerreëls en Westminster Confession of Faith altyd partikulier en onfeilbaar is. Maar so ’n poging is tevergeefs. Die genade van God in die sfeer van die verbond is niks anders nie as reddende genade, genade wat sy oorsprong het in die uitverkiesing, die genade van die Gees van Jesus Christus, genade wat die versoening van die kruis van Christus toepas op die individu se lewe, genade wat die ewige lewe in die hemel as doel het. Maar volgens die verbonds-universalisme is hierdie genade nie partikulier en soewerein nie, maar universeel en weerstaanbaar.

Al protesteer die verkondigers van verbonds-universalisme luidkeels dat hulle ortodoks is, word dit duidelik dat hulle ’n sluimerende vyandigheid teenoor die Gereformeerde belydenisskrifte vertroetel—veral die Dordtse Leerreëls en die Westminster Confession of Faith. Hulle moet noodgedwonge maar versigtig te werk gaan, want hulle is Gereformeerde ampsdraers wat onderneem het om getrou te wees aan die belydenisskrifte. Daarom doen hulle hulself voor bloot as vernuwers. Hulle is manne wat nuwe waarhede ontdek het vir die moderne Gereformeerde kerk.

Nie net het hulle nuwe waarhede ontdek nie. Hulle het ook ’n nuwe manier gekry om geestelike waarheid te verkondig. Hulle is skepties teenoor die Gereformeerde teoloë van die verlede se klem op proposisionele waarheid en logiese afleiding, teenoor teoloë van die verlede se groot aandag vir ’n stelsel van teologiese waarheid, teenoor hulle ywer vir suiwerheid en deeglikheid van dogma. Dit word as “skolasties” afgemaak. Die manne van die “federale visie”, soos hulle hul beweging noem, blaas op die trompet om ’n nuwe manier van teologiese denke en teologiese gesprek aan te kondig. Hulle metode is ’n “Bybelse” en “verbondsmatige” manier van dink en praat en teologiseer.

Dit is natuurlik ’n versluierde aanval op die stelselmatige teologie van die Gereformeerde belydenisskrifte. Die boodskap van die sogenaamde nuwe, vars, opwindende “Bybelse” en “verbondsmatige” metode van teologie krap teen die grein van die Gereformeerde belydenisskrifte, beginnende met die leer van regverdiging deur die geloof alleen. Kort gelede het een van die leiers van die beweging ’n aanduiding gegee van die afkeurende houding wat smeul in hul harte teenoor die stelsel van teologiese leerstukke wat in die Dordtse Leerreëls en die Westminster Confession of Faith ingebou is. Hy het in die publiek uitgevaar teenoor die sola’s van die Reformasie. Die sola’s van die Reformasie is die reuse, noodsaaklike waarhede van die evangelie van genade in Jesus Christus: sola fide (deur geloof alleen), sola gratia (deur genade alleen), solus Christus (Christus alleen) en soli Deo gloria (tot die eer van God alleen).

Ontwikkeling van ’n ouer leer van die verbond

Verbonds-universalisme rig ’n aanval teen die hart van die Gereformeerde belydenis, naamlik die soewereiniteit van God in sy genade. Nogtans staan die deure van meeste Gereformeerde en Presbiteriaanse kerke oop daarvoor. En deesdae word sommer ook die vensters daarvoor oopgegooi!

Kerke laat die leer toe op hul kansels en in hul publikasies. Hulle verdra die verkondigers van die leer. As daar hier en daar ’n stem van kritiek opgaan, is dit ’n dowwe gemompel, so indirek as moontlik sodat niemand tog moet aanstoot neem nie. As getroue kerklidmate die ketters en hul ketterye na die kerklike vergaderings neem, word die valse leraars vrygespreek. Beswaarmakers word die hand op die mond gedruk. Kerke is onwillig of nie in staat om verbonds-universalisme te veroordeel en dit uit te roei nie. Die rede is dat verbonds-universalisme ’n ontwikkeling is van ’n ouer leer van die verbond. Aan hierdie ouer leer van die verbond het al hierdie kerke oor ’n tydperk van baie jare ’n gekoesterde groeiplek in die tuin gebied. Nou dat die vreemde vrugte van die boom gesien word, het die wortels al diep vasgegroei.

Hierdie ouer leer van die verbond wat die leidende geeste van die “federale visie” vandag verder ontwikkel, het geleer dat God sy verbond oprig met al die kinders van gelowige ouers sonder uitsondering, deur by hulle doop aan hulle almal verlossing te belowe. In hierdie belangrike opsig is die verbond universeel. Hiermee saam, volgens die ouer leer van die verbond, is die verbond voorwaardelik. Die verbond hang vir sy verwerkliking, dit wil sê vir sy voortsetting met die individuele kind en vir uiteindelik die werklike redding van daardie kind, af van die kind se geloof en verbondsgehoorsaamheid.

Hierdie leer van ’n universele, voorwaardelike verbond is geleer deur Klaas Schilder en die “Vrygemaakte” Gereformeerde Kerke.

Die manne wat vandag verbonds-universalisme verkondig gee ruim erkenning dat hulle verbondsteologie essensieël dié van Klaas Schilder is en die “Vrygemaakte” Gereformeerdes. Veral wanneer hulle in die spervuur beland, verdedig hulle graag hulself deur ’n beroep te doen op die verbondsleer van die “Vrygemaakte” Gereformeerdes. “Ons is nie besig om nuwe dinge in te bring nie. Ons teologie is die verbondsleer van Schilder en die Vrygemaakte Gereformeerdes.”

Noodwendige ontwikkeling van die “Vrygemaakte” leer

Die leer oor die verbond en die genade van die verbond van Shepherd, Barach, Wilkins, Wilson en andere is die wettige, natuurlike en onvermydelik, inderdaad noodsaaklike ontwikkeling van daardie ouer leer van die voorwaardelike verbond. Die ouer leer oor die verbond het die verbond en die verbondsbelofte universeel gemaak—dit geld eweneens vir al die fisieke kinders van gelowige ouers. Maar die verbondsbelofte is genade. Die bron van die verbondsbelofte is die gunstige houding van God teenoor hulle vir wie Hy die belofte maak; dit is in wese en inhoudelik ’n genadige belofte; die belofte stel genade en verlossing as doel vir hulle aan wie God die belofte maak. Daarom dat hierdie ouer verbondsleer genade universeel maak binne die sfeer van die verbond. Die nuwe ontwikkeling van hierdie ouer verbondsleer verbind eenvoudig die stippellyntjies. Die implikasies word deurgetrek: alle gedoopte kinders is verenig met Christus, almal ontvang die reddende voordele van die verbond, almal is verlos—tot tyd en wyl. Die ouer verbondsleer maak genade en verlossing binne die verbond voorwaardelik. Die universele, genadige verbond en verbondsbelofte hang af van die geloof en die gehoorsaamheid van die kind. Geloof en gehoorsaamheid is die grond, die rede en die basis van verlossing binne die verbond, ook al verdien hierdie geloof en gehoorsaamheid nie die verlossing nie. Geloof en gehoorsaamheid is ‘n sekere waardigheid van die sondaar om gered te word.

Die nuwe ontwikkeling van hierdie ouer leerstuk trek maar net die implikasies verder. Regverdiging in die verbond hang af van geloof as ’n mens se eie daad van gehoorsaamheid en van die goeie werke wat geloof verrig. Regverdiging in die verbond kom deur geloof en werke.

Die ouer verbondsleer het geleer dat die verbondsbelofte soms nie daarin slaag om die verlossing wat dit aan iemand beloof, inderdaad te bewerkstellig nie. Dit het geleer dat die verbond self, wat volgens hulle opgerig word met elkeen persoonlik by sy doop, gebreek kan word, sodat die verbond nie langer met hom bestaan nie. Die resultaat is dat hy verlore gaan. Deur nie aan die eise van die verbond te voldoen nie, verbreek ’n kind die verbond in die sin dat hy die verbond wat by wyse van belofte aan hom gemaak is, tot niet maak en maak hy die belofte van God aan hom tot niet.

Verbond-universalisme trek die implikasie en verkondig die moontlikheid van afval van hulle wat op ’n tyd ware eenheid met Christus, die seëninge van verlossing en verlossende genade geniet het.

Die ouer verbondsleer is allergies vir enige beheersing van die verbond, die verbondsbelofte en verbondsverlossing deur die ewige raad van uitverkiesing. Hoe het Schilder en die “Vrygemaakte” Gereformeerdes nie telkens uitgeroep: “Die verbond is nie dieselfde as die verkiesing nie!” Wat hulle bedoel het, was: “God se raadsbesluite oor verkiesing en verwerping beheers nie die verbond nie. Die uitverkiesing bepaal nie aan wie God die verbondsbeloftes maak nie. Die uitverkiesing bepaal nie aan wie God die verbond oprig nie. Die uitverkiesing bepaal nie wie God red in en deur die verbond nie.”

In die verbondsleer van die “Vrygemaakte” Gereformeerdes het daar nog altyd ’n wreweligheid teenoor God se verkiesing as ’n ewige, soewereine raadsbesluit geskuil. Soms het daardie misnoeë na vore gekom. Reeds in die 1940’s het prof. Benne Holwerda geleer dat uitverkiesing in die Skrif, insluitende sulke gedeeltes soos Efesiërs 1:4, nie verwys na ’n ewige besluit nie, maar na ’n tydelike, voorwaardelike uitverkiesing in die geskiedenis van die verbond.2 En vandag praat John Barach maar net vir Holwerda van sestig jaar tevore na, soos Barach self te kenne gegee het.

Die hedendaagse vorm van die ouer verbondsleer gryp hierdie skeiding tussen verbondsgenade en verbondsverlossing (aan die een kant) van die ewige raadsplan van verkiesing en verwerping (aan die ander kant) vas, en laat spaander dan behoorlik! Universele genade in die sfeer van die verbond sluk verkiesing as ’n Goddelike raadsbesluit heeltemal op. Die uitverkiesing wat nog toegelaat word om te bly bestaan in die sfeer van die verbond staan onder die septer van universele genade en van die wil van die mens as lid van die verbond. Alle gedooptes is oorspronklik uitverkies. Sodoende word die uitverkiesing bepaal deur universele genade. Baie verloor egter hulle uitverkiesing en word verworpenes deurdat hulle nie die eise van die verbond hou nie. Sodoende word die uitverkiesing bepaal deur die wil van die lede van die verbond.

Samevattend was die ouer leer van ’n verbond wat genade inhou vir alle gedooptes en ’n verbondsbelofte wat vir alle gedooptes geld maar vir die vervulling daarvan afhanklik is van die voorwaardes wat die kinders moet nakom, per implikasie ’n boodskap van universele, weerstaanbare genade. Die nuwe verbondsteologie verkondig maar net hierdie geïmpliseerde boodskap uit volle bors op die straathoeke. Dit vee skaamteloos elkeen van die leerstellings van soewereine genade by die voordeur uit, en kies openlik in die plek daarvan vir die leer van ’n universele, voorwaardelike, weerstaanbare genade.

Dit is dan ook die rede waarom vandag se kerke magteloos is om verbonds-universalisme die stryd aan te sê. Die kerke het hulself verbind aan die leer van ’n voorwaardelike verbond! Die meer regsinniges onder die teoloë is gekant teen die nuwe vrugte, veral die growwe ketterye van regverdiging deur geloof én die werke van geloof en die afval van heiliges. Maar hulle kan nie, of wil nie, by die wortel van hierdie ketterye uitkom nie. Hulle druk dan sélf die dwaalleer waaruit hierdie ketterye voortspring, teen hul bors vas: universele genade in die sfeer van die verbond, onderhewig aan die geloof en gehoorsaamheid van die lid van die verbond.

Verbonds-partikularisme

In die vroeë 1950’s het die Protestants Gereformeerde Kerke van Amerika (PRC) ’n stryd gevoer wat byna tot die dood—hul eie dood—gely het ter wille van die evangelie van verlossing deur soewereine genade in die sfeer van die verbond. Hulle het te velde getrek om die kosbare erfenis van God se soewereine genade te beskerm teen die leer van ’n voorwaardelike verbond. Geen Gereformeerde of Presbiteriaanse kerkverband het hulle in die stryd te hulp gekom nie.

Vandag word die Gereformeerde en Presbiteriaanse kerke geïnfekteer deur die uitgegroeide verbonds-universalisme wat ontwikkel het uit die leer van ’n voorwaardelike verbond. Selfs as dit net gaan om die waarheid van die leer van regverdiging deur geloof alleen, hoe lank gaan dit neem voordat kerke sien dat hulle bestaan as ware kerke van Christus in gevaar verkeer? Die hele sestiende eeuse Reformasie was dit met Luther eens om te waarsku dat die waarheid van ’n genadige regverdiging, sonder enige of al die werke van die sondaar, die “punt is waarby die kerk staan of val.”

By die aanskouing van hierdie donker wolke wat aanpak, die duisterste bedreiging sedert Dordrecht, sal ons kerke kan raaksien dat die enigste waarborg van verlossing deur soewereine genade alleen, die leer is van ’n onvoorwaardelike verbond met Christus as hoof van die verbond en met al die uitverkorenes in Hom?

Daar is slegs twee opsies: Ons verloor die evangelie van soewereine genade. Of ons hou vas aan verbonds-partikularisme.

Heroorweging van die leer oor die verbond

Die hedendaagse polemiek oor regverdiging deur die geloof alleen, en oor die ander sentrale leerstellings van genade, vra van Gereformeerde en Presbiteriaanse kerke dat hulle hul leer oor die verbond weer onder die loep sal neem.

Kerke sal nie in staat wees om die aanval van verbonds-universalisme op soewereine genade die hoof te bied sonder om ook die afwykende verbondsleer vanwaar dit vandaan kom, te veroordeel nie. Die wortel van verbonds-universalisme se aanval op die leer van vrye en soewereine genade is die leer van ’n voorwaardelike verbond.

Wanneer ons praat van ’n “voorwaardelike verbond”, bedoel ons nie die leer dat geloof die noodsaaklike instrument, of middel, is waardeur uitverkore sondaars die verbond en die seëninge van die verbond (in die besonder regverdiging) ontvang nie.3 Sekere ortodokse teoloë, insluitende Francis Turretini,4 het gepraat van geloof as die “voorwaarde” van die verbond—maar daardeur slegs bedoel dat geloof die noodsaaklike instrument is om die verlossing te ontvang. Turretini het seker gemaak dat hy dit duidelik uitspel:

Geloof staan in die verband van ’n voorwaarde in hierdie verbond … aangesien dit die middel en die instrument is van ons eenheid met Christus (Institusie, vol. 2, p. 187).

Ook verwys “voorwaardelike verbond” nie na die feit dat in die verbond geloof en gehoorsaamheid van elke lid van die verbond gevra word nie. Manne wat andersins gevestig is in die gesonde leer het soms (onwyslik en onakkuraat) van geloof en gehoorsaamheid gepraat as “voorwaardes”, terwyl hulle niks meer en niks anders bedoel het as dat geloof en gehoorsaamheid deur God vereis word en die weg is van ’n lewe in die verbond en van verlossing. Deur “voorwaardes” het hulle verbonds-verpligtinge bedoel. Soos Turretini opgemerk het, is dit ’n “onbehoorlike” gebruik van die term “voorwaarde” (Institusie, vol. 2, p. 189).

Maar die teologie van ’n voorwaardelike verbond wat die wortel vorm van vandag se aanvalle op die leerstukke van genade, leer dat ’n universele verbondsgenade van God—genade wat verleen word aan meer as net die uitverkorenes in Christus—afhanklik gestel is van die voorwaarde—en vir die reddende krag daarvan afhanklik gestel is van die voorwaarde van—die werke van sondige mense.

Dit is nie net ’n saak van terminologie nie, selfs nie eers ’n saak van onbehoorlike, gevaarlike terminologie nie. Dit is kettery. Dit is ’n ontkenning van die evangelie van verlossing deur soewereine genade in die sfeer van die verbond: Die reddende genade van God, wat God aan almal in die verbond verleen, red niemand slegs op grond van die inherente krag daarvan nie. Genade in die verbond hang, vir die reddende werking daarvan, af van die geloof en die gehoorsaamheid van die sondaar.

Hierdie verbondsleer verskil nie wesenlik van daardie teologie wat leer dat geloof en gehoorsaamheid verlossing verdien nie. ’n Voorwaarde van die verbond waarvan universele genade afhanklik is vir die reddende effektiwiteit daarvan is wat Turretini genoem het: ” ’n bewegende oorsaak om die voordele van die verbond te verkry.” Turretini het voorwaarde in die sin van ’n “bewegende oorsaak” saamgebondel met voorwaarde in die sin van ’n “verdienende oorsaak” en beide van hulle veroordeel.

As die voorwaarde [van die verbond] beskou word … as ’n verdienende en ’n bewegende oorsaak en as ’n natuurlike voorwaarde, is dit reg om te ontken dat die genadeverbond voorwaardelik is. Dit is geheel en al vrygunstelik en genadig, afhanklik slegs van die welbehae (eudokia) van God en glad nie van enige meriete van die mens nie. Net so min kan die reg op lewe gegrond wees op enige aksie aan ons kant, maar slegs op die geregtigheid van Christus alleen (Institusies, vol. 2, p. 185).

Vanuit hierdie voorwaardelike leer van die verbond volg die ontkenning van die leerstellings van genade. Wie die evangelie van God se soewereine genade liefhet en wil verdedig moet ook die voorwaardelike verbondsleer ontbloot vir wat dit is.

Spesifieke of partikuliere verbondsgenade

Daar is een, en slegs een, leer van die verbond wat aan die soewereine genade van God in Sy verlossingswerk in die sfeer van die verbond die ereplek van heerlikheid en lof gee wat dit moet kry. Dit is die leer dat die genade van God in die sfeer van die verbond, soos ook op alle ander plekke, spesifiek of partikulier is. God se genadige verbond en God se verbondsgenade is vir die verlostes alleen.

Dit is verbonds-partikularisme!

Maar die evangelie van spesifieke of partikuliere genade gee aanstoot. Dit gee aanstoot, nie alleen vir die goddelose wêreld en vir al die kerke wat ’n evangelie verkondig dat alles afhang van die een wat wil of van die een wat loop (Rom. 9:16) nie, maar ook vandag vir baie wat die Gereformeerde geloof bely. Die goddelose wêreld haat die boodskap dat Jesus Christus die enigste weg na God en die enige pad na verlossing is. Die nie-Gereformeerde kerke hou vol dat God almal moet liefhê,5 dat Christus vir almal moes gesterf het, en dat almal minstens ’n gelyke kans op verlossing moet hê. En nou staan belydende Gereformeerde kerke partikuliere genade in die sfeer van die verbond teen.

In werklikheid was, soos B.B. Warfield in sy The Plan of Salvation opgemerk het, partikularisme nog altyd die wesens-kenmerk van Calvinisme.

Waarom sou hierdie parikularisme kragteloos raak in die sfeer van die verbond?

Die genadeverbond wat opgerig is met die uitverkorenes alleen, is, met sy genade en seëninge, onvoorwaardelik. Die verbond hang nie af vir die instandhouding daarvan, of voortsetting daarvan, of vervulling daarvan, van die geloof en werke van ’n lid van die verbond nie. Christus het die verbond, die seëninge van die verbond, en die verlossing in die verbond verdien vir elke lid van die verbond. Christus het ook geloof en die werke van geloof verdien vir al die lede van die verbond. En Christus in Sy persoon en werk namens hulle wat aan die verbond behoort, is ’n genadige gawe van God.

Die verbond hang slegs af van die genade van God in Jesus Christus. Die verbond is onvoorwaardelik.

Die band van geloof is die middel waardeur ons met Christus verenig en persoonlik in die verbond ingelyf word. Sonder twyfel is geloof die noodsaaklike middel waardeur ons die verbondseëning van regverdiging ontvang, sowel as al die ander seëninge van die verbond. Baie beslis is geloof en gehoorsaamheid van ons kant eise van die verbond; God roep ons om te glo en te gehoorsaam, en gee wat Hy van ons vra. Sonder enige twyfel is lewe in die verbond ’n wedersydse, delende lewe. God het ons lief en gee Homself aan ons in Jesus Christus; ons het God lief, wat ons eerste liefgehad het, en wy onsself aan Hom toe in ’n heilige lewe.6 Die verbond het, inderdaad, twee dele. God se kant is dat Hy ons red, wat insluit die heiligmakende werk van die Gees in ons wat ons in staat stel en die vermoë gee om ons kant te verrig. Ons kant is gehoorsaamheid en diens.7

Maar geloof en gehoorsaamheid is nie voorwaardes van die verbond nie. Die geloof en gehoorsaamheid van ’n lid van die verbond is nie die basis van die verbond nie. Dit is nie die rede waarom die verbond met iemand in stand gehou word nie. Dit is nie die grond vir die seëninge van die verbond (en spesifiek vir regverdiging) nie, of vir uiteindelike verlossing in die verbond nie.

Ook is die geloof en gehoorsaamheid van lede van die verbond nie die dade wat ’n universele verbondsgenade effektief tot redding maak vir sommige, terwyl dieselfde verbondsgenade vir ander mense in die verbond (wat op eenderse wyse in die genade deel) nie effektief tot redding is nie.

“Met wie is die verbond van genade opgerig?”

Gereformeerdes wat besorgd is oor verbonds-universalisme se ontkenning van soewereine genade in die sfeer van die verbond moet die ryk leer van ’n onvoorwaardelike verbond van spesifieke genade herontdek.

Die verbond van genade is geen ooreenkoms, of kontrak, of onderhandeling, afhanklik van voorwaardes wat elk van die twee kontrakpartye, God en elke sondaar wat die evangelie hoor of wat gebore is uit gelowige ouers, moet volbring nie. Ook is die verbond nie ’n voorwaardelike belofte van God vir almal wat gedoop is nie.

Die verbond is die lewende, geestelike verhouding van liefde en gemeenskap tussen die drie-enige God en Sy uitverkore mensdom in Christus. In hierdie verhouding is God ons God en red Hy ons, en is ons Sy volk en diens ons Hom deur Sy genade wat ons daartoe in staat stel. Gen. 17:7, Op. 21:3 en baie ander teksgedeeltes definieer die verbond as ’n vriendskapsband of gemeenskap of verhouding in ’n frase wat neerkom op die “verbondsformule:” “Ek sal vir julle ’n God wees, en julle sal vir my ’n volk wees.” Dit word bevestig deur die twee groot aardse simbole van die verbond: die vader/kind verhouding en die huwelik (Eks. 4:22-23; Ef. 5:22-33).

God het Sy verbond opgerig met Christus as hoof van die genadeverbond. Dit is wat Rom. 5:12-21 ons leer. Hierdie gedeelte vergelyk Adam en Christus as twee federale (verbonds) hoofde. Adam was die hoof van die skeppingsverbond nog voor die sondeval, sodat sy daad van ongehoorsaamheid almal vir wie hy verteenwoordig het, skuldig gestel het. Soortgelyk is Christus die hoof van die genadeverbond, sodat Sy gehoorsaamheid almal vir wie Hy verteenwoordig, regverdig stel.

Aangesien God sy genadeverbond met Christus opgerig het, rig Hy dit op met al daardie mense, maar slegs daardie mense, wat Christus s’n is deur ewige, soewereine, genadige verkiesing. Dit is wat ons leer in Gal. 3:16, 29. God het die verbond deur ’n belofte toe te sê aan Abraham se “saad”. Hierdie “saad … dit is Christus.” Daardie mense dan wat “volgens die belofte erfgename is,” dit wil sê, wat voorwerpe en erfgename is van die verbondsbelofte, is dié, en slegs dié, wat “aan Christus behoort.”

Die verbond in die belydenisskrifte

Dat God Sy verbond opgerig het met Christus as hoof van die verbond en in Hom met die uitverkorenes is die uitdruklike, amptelike leerstelling van alle Presbiteriane wat die Westminster Standaarde onderskryf. Vraag 31 van die Larger Catechism vra: “Met wie is die verbond van genade gemaak?” Die antwoord is: “Die verbond van genade is gemaak met Christus as die tweede Adam, en in Hom met al die uitverkorenes as sy saad.”

Die Westminster Larger Catechism (wat saam met die Westminster Confession of Faith, en die Shorter Catechism die Westminster Standaarde vorm) verbind alle Presbiteriane tot ’n verwerping van verbonds-universalisme en tot ’n verdediging van verbonds-partikularisme.

Die Dordtse Leerreëls leer eweneens dat Christus die hoof van die genadeverbond is, sodat die genadeverbond opgerig is slegs met die uitverkorenes en die genade van die verbond aan die uitverkorenes alleen gegee word. Die Leerreëls verkondig Christus as die hoof van die verbond in DL 2:8, waar Christus se dood vir die uitverkorenes alleen beskou word as Sy bevestiging van die nuwe verbond met die uitverkorenes: “Christus het deur die bloed van die kruis … die nuwe verbond bevestig.” In artikels 2-5 van die verwerping van dwalings in Hoofstuk 2 van die Dordtse Leerreëls word as Arminiaanse dwaalleer verwerp die gedagte dat Christus se dood bloot God in staat gestel het om ’n voorwaardelike verbond met almal op te rig. Die voorwaardes van die universele verbond van die Arminiaanse dwaalleer, sien ons, is: “geloof … en geloofsgehoorsaamheid” (DL 2 verwerping 4) … presies soos die verkondigers van verbonds-universalisme vandag leer!

Kinders van die belofte

Wat kinders van die gelowiges betref: die belofte van God om die God van ons kinders te wees, verwys na uitverkore kinders, nie alle fisiese kinders sonder uitsondering nie. Dit is wat die Heilige Gees ons leer in Rom. 9:6 e.v. Die feit dat baie van Abraham se nageslag in ongeloof vergaan het, bewys nie dat die woord van God se belofte verval het nie. Want die woord van belofte het slegs verwys na sommige van Abraham se fisiese nakomelinge, hulle wat die “kinders van die belofte” (Rom. 9:8) is. En wat hulle onderskei het en apart stel van die ander kinders is God se ewige uitverkiesing. “Jakob het Ek liefgehad, en Esau het Ek gehaat.”

Met die uitverkore kinders van gelowige ouers rig God die verbond persoonlik in hulle harte op deur die Heilige Gees, gewoonlik in hulle kinderjare. Húlle verenig Hy met Christus. Aan hulle gee Hy die seëninge wat hul eiendom in Christus, hul hoof, is. In hulle werk Hy geloof en gehoorsaamheid. So ver is dit van die waarheid dat geloof en gehoorsaamheid verbondsvoorwaardes is, dat hulle, om die waarheid te sê, verbondsgawes of verbondsgeskenke is. “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees” (Jer. 31:33).

Die ander kinders ontvang die teken van die verbond, hoor die belofte van die verbond, ontvang verbondsonderrig, en word deur God self beveel om te glo en te gehoorsaam. Wanneer hulle, soos Esau, die verbond verag en die verbondsgemeenskap verlaat, oortree hulle op ’n werklike manier die verbond en verval hulle van Christus. Dit is die aanklag teen so ’n persoon in Hebr. 10:29: “[Hy] wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur [hy] geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het.” Maar hulle was nooit Christus se eiendom nie. Hulle was nooit met Christus verenig deur ’n ware geloof nie. Hulle was nooit “kinders van die belofte” nie. Hulle was altyd “kinders van die vlees”—heeltemal en uitsluitlik “kinders van die vlees.”

Rom. 9:6 e.v. leer duidelik dat “nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.” Slegs sommige van Abraham se fisiese kinders is gereken as die saad van die verbond. Slegs sommige van ons kinders word gereken as die saad van die verbond.

Afvalligheid van die verbond

Wanneer sommige kinders van gelowiges, of sommiges wat as volwassenes by die kerk aangesluit het, Christus verwerp en die kerk verlaat, is die Woord van God in 1 Joh. 2:19 van toepassing: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.” Hulle wat later afvallig raak, was ongetwyfeld “van ons” in hulle vroeëre belydenis, in hulle uiterlike gedrag, in hulle lidmaatskap van die sigbare kerk en selfs in hulle bloed. Maar hulle was nie “van ons” nie wat betref die eenheid met Christus, geestelike lewe, ware geloof, en lidmaatskap in die “gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is” (Heb. 12:23).

Die predikers van verbonds-universalisme is lief daarvoor om hulle te beroep op Hebr. 10:19 e.v. ter ondersteuning van hulle skrikwekkende, God-onterende leer dat gelowige kinders en ander wat waarlik met Christus verenig is en eenmaal die reddende voordele van die verbond ontvang het, kan afval in die ewige verderf. Maar ook hierdie gedeelte onderskei tussen twee soorte kerklidmate. Sommige raak afvallig, dit is ’n feit. Dit is die waarskuwing van vers 29 wat hierbo aangehaal is.

Maar daar is ander lede wat in Christus bly, wat bly glo, wat volhard in die heiligheid, en in die kerk bly. By hierdie lede “is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (v. 39). Die getroues is nie “van hulle,” dit is, van hulle wat afvallig word nie. Inteendeel, die getroues is “van hulle wat glo.” Die implikasie is dat hulle wat afval, ongeag of hulle gedoop was en uiterlik gelyk het soos gelowiges, nooit was onder dié wat geglo het nie.

Heb. 10:29 en die soortgelyke gedeelte in Hebr. 6 beskryf die afvalliges volgens hulle uiterlike posisie as lede van die sigbare kerk en die sigbare verbondsgemeenskap, volgens hulle vroeëre belydenis, en volgens hulle werklike skuld. Dit beskryf nie hulle wat afval volgens ’n werk van genade in hulle harte wat hulle met Christus verenig nie.

’n Mens kan veragtelik die Seun van God vertrap, selfs al is mens nooit met Hom verenig nie. ’n Mens kan die bloed van Christus onrein ag, selfs al is die bloed van Christus nooit vir hom gestort, of gesprinkel op sy siel nie. Mens kan die Gees van genade verag, selfs al was mens nooit persoonlik die voorwerp of ontvanger van genade nie. Mens kan die verbond van God verbreek, selfs al was daardie verbond nooit met hom individueel opgerig deur belofte en deur die Gees wat hom met Jesus Christus verenig nie.

Iemand kan al hierdie verskriklike ongeregtigheid doen deur in nabye kontak te kom met Christus en die verbond in die evangelie en die sakramente, en te weier om te glo. Dit is die uitermatige boosheid van die vleeslike saad—die “kinders van die vlees”—in die sfeer van die verbond.

“Israel / “van Israel”

Volgens die leer van die onvoorwaardelike verbond word die lidmaatskap van die sigbare kerk, die lede van die verbondsgemeenskap en die fisiese kinders van gelowige ouers onderskei en verskillend gemaak deur ewige, soewereine beskikking, verkiesing en verwerping. Dit is die leer van Rom 9. Hierdie hoofstuk gaan nie hoofsaaklik oor uitverkiesing nie, hoewel dit die klassieke teksgedeelte oor uitverkiesing in die Bybel is. Nee, dit gaan eintlik oor die verduideliking van die verbondsprobleem, spesifiek die Ou Testamentiese verbondsprobleem. Die probleem was naamlik die volgende:

Hoe kan daar soveel kinders van Abraham vergaan in hul ongeloof en ongehoorsaamheid in die lig van Jahwe se verbondsbelofte aan Abraham: “Ek sal vir jou ’n God … wees en vir jou nageslag na jou”? Om die waarheid te sê, in die lig van hierdie belofte, hoe kan daar selfs een van die nageslag van Abraham ewig verlore gaan?

Die (regte) verduideliking is dat daar ’n tweeledige saad van Abraham was: “kinders van die vlees” en “kinders van die belofte.” God het slegs die kinders van die belofte gereken as die saad van Abraham in Sy verbondsbelofte. En dit wat gereken word vir die kinders van die belofte is God se ewige, soewereine, genadige uitverkiesing: “die voorneme van God volgens die verkiesing.”

Nie alle fisiese kinders van gelowige ouers is in dieselfde verbondsverhouding met God nie, of die verbondsverhouding bestaan uit ’n genadige belofte en of dit bestaan uit ’n werk van genade in hulle harte wat hulle met Christus verenig. Sommige van hulle is bloot in die sfeer of die kring van die verbond.

Teen hierdie onderskeid tussen om waarlik in die verbond te wees en om bloot in die sfeer van die verbond te wees, maak die teoloë van die verbonds-universalisme beswaar, net soos die “Vrygemaakte” Gereformeerdes beswaar gemaak het voor hulle. In werklikheid is hulle beswaar teen Paulus en teen die Heilige Gees, want die apostel maak presies hierdie onderskeid in Rom. 9:6: “… hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie.”

Sommige fisiese kinders van Abraham was “Israel.” Hulle was uitverkies in Christus, verlos, voorwerpe van die belofte, verenig met Christus deur die Heilige Gees, en verbondsvriende van God.8

Die ander was bloot “uit Israel.” Hulle was wel onder die sigbare vergestalting van Israel in die geskiedenis. In elke moontlike fisieke, wêreldse manier was hulle verbonde met Israel. Hulle was die vlees-en-bloed afstammelinge van Israel. Wat uiterlike vorm betref, het hulle die lewe van Israeliete gelewe, minstens vir ’n tyd lank. Maar hulle was nie Israel nie. Hulle was nooit Israel nie. Hulle was nie uitverkore nie, nie verlos nie, nie voorwerpe van die belofte nie, verenig met Christus of verbondsvriende van God nie. En die rede waarom hulle nie Israel was nie, was nie dat hulle nie die voorwaardes nagekom het, terwyl Israel wél die voorwaardes nagekom het nie. As dit die geval was, sou verbondsverlossing deur werke gewees het. Maar die rede was dat God hulle verwerp het, terwyl Hy Israel uitverkies het.

Israel / uit Israel!

Die soewereine God maak dieselfde onderskeid tussen twee soorte fisieke kinders van gelowige ouers vandag.

Verbond / sfeer van die verbond!

Daar is slegs een alternatief vir hierdie verduideliking vir die verbondsprobleem. Dit is die leer dat die genadige belofte op gelyke wyse aan almal gegee word, maar dat sommige nie die eise nakom nie. In hierdie geval is die woord van belofte sonder resultaat by baie. Of, om dit te sê in die taal van die verbonds-universalisme, almal is eweneens voorwaardelik met Christus verenig, maar sommige kom nie die eise na nie, en raak afvallig. In hierdie geval is verbondsgenade weerstaanbaar vir baie mense.

Dit is die ontkenning van soewereine genade—in die sfeer van die verbond.

Dan sou dit, vir sover dit die reddende werk van God in die sfeer van die verbond betref, nie van God gesê kon word: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid” nie (Rom. 11:36). Dan sou ons liewer moet sê: “Uit Hom en uit hulle wat die voorwaardes van die verbond nakom; deur Hom en deur hulle wat die voorwaardes nakom; en tot Hom en tot hulle wat die voorwaardes nakom, is alle dinge, in die sfeer van die verbond: Syne en hulle s’n wat die voorwaardes van die verbond nakom is die heerlikheid van die verbondsverlossing tot in ewigheid.”

Verbonds-universalisme beroof God van Sy eer in die verbond en ontneem elke lidmaat van die verbond alle sekerheid. Almal is op eenderse wyse met Christus verenig, en almal kan op eenderse wyse afvallig word en ewig verlore gaan. En volgens hierdie God-onterende, siels-vernietigende verbondsteologie moet ek deur die lewe gaan met die wete: “Vandag is ek deur die geloof met Christus verenig, maar môre kan ek afval en ewig die hel ingaan.”

In die voorwaardelike verbond is die heersende gees ’n gees van vrees en verskrikking.

Die onvoorwaardelike verbond van partikuliere of spesifieke genade het ’n ander boodskap. Vir elkeen wat deur die geloof met Christus verenig is—elkeen wat van harte die evangelie glo—belowe dit, onvoorwaardelik, dat Hy wat ‘n goeie werk in ons begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus (Fil. 1:6).

In die onvoorwaardelike verbond van genade—partikuliere of spesifieke genade—kan ons rus vind en op God se soewereine genade vertrou.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.


Vir volledige inligting en agtergrond van hierdie debat oor die verbond, sien die volgende webblad: http://www.teachingtheword.org/resources_ justification.htm
Calvyn se kommentaar op Efesiërs 1:4: “According as he hath chosen us. The foundation and first cause, both of our calling and of all the benefits which we receive from God, is here declared to be his eternal election. If the reason is asked, why God has called us to enjoy the gospel, why he daily bestows upon us so many blessings, why he opens to us the gate of heaven, the answer will be constantly found in this principle, that he hath chosen us before the foundation of the world. The very time when the election took place proves it to be free; for what could we have deserved, or what merit did we possess, before the world was made? … The same argument is used in the Epistle to the Romans, where, speaking of Jacob and Esau, he says, ‘For the children being not yet born, neither having done any good or evil, that the purpose of God according to election might stand, not of works, but of him that calleth’ (Rom. 9:11) … This leads us to conclude, that holiness, purity, and every excellence that is found among men, are the fruit of election; so that once more Paul expressly puts aside every consideration of merit … Election, therefore, does not depend on the righteousness of works, of which Paul here declares that it is the cause. We learn also from these words, that election gives no occasion to licentiousness, or to the blasphemy of wicked men who say, ‘Let us live in any manner we please; for, if we have been elected, we cannot perish.’ Paul tells them plainly, that they have no right to separate holiness of life from the grace of election; for ‘whom he did predestinate, them he also called, and whom he called, them he also justified’ (Rom. 8:30).”
NGB artikel 22: “… Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is. Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus ons Geregtigheid is. Hy reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.” Ons word “deur” die geloof, nie “op grond van” die geloof (d.w.s. as ‘n voorwaarde wat vervul moet word nie) gered uit genade alleen, tot goeie werke (Ef. 2:8-10) – red.
Turretin, Francis (1623–1687), noted Reformed pastor and theologian. Turretin received his education at Geneva, Leyden, Utrecht, Paris, Saumur, Montauban, and Nimes. He became pastor of an Italian congregation in Geneva in 1648 and professor of theology in 1653—a position he held until his death. Turretin is best known as an able and vigorous defender of orthodox Calvinism as set forth in the Canons of Dordt (1618-1619). He lived in a time of critical change when many of Dordt’s doctrines were being challenged by new intellectual movements. He was one of the authors of the Helvetic Consensus, a response, in part, to the “liberal” teachings of the school of Saumur, which questioned the doctrines of original sin, predestination, and inspiration of Scripture. The Calvinistic view of predestination was prominent in Turretin’s own theological system. But while he held to the views of limited atonement and double predestination, he attempted to balance these with an emphasis upon God’s loving and covenantal purpose [towards the elect in Christ]. Turretin’s most significant work is his Theological Institutes (1688), which, along with his four-volume Works (1701), was reprinted in 1847. His work was very influential in the development of American theology in the nineteenth century, particularly American Presbyterianism” (R. Hesselgrave, in: Douglas, J. D., Comfort, Philip W. & Mitchell, Donald, eds., Who’s Who in Christian History [Wheaton, IL: Tyndale House Publishers, Inc., 1992]).
Dordtse Leerreëls II:9: “Hierdie raadsbesluit is die gevolg van God se ewige liefde vir die uitverkorenes. Die besluit word van die begin van die wêreld af tot vandag toe kragdadig deurgevoer ondanks die vergeefse verset van die magte van die doderyk. Hierdie besluit sal steeds deurgevoer word, sodat die uitverkorenes op die regte tyd in een liggaam vergader sal word. Daar sal altyd ’n kerk van gelowiges wees, gegrond in die bloed van Christus. Hierdie kerk moet Hom as haar Verlosser, wat sy lewe aan die kruis vir haar gegee het—soos ’n bruidegom vir sy bruid—standvastig liefhê en Hom met volharding dien en van nou af tot in alle ewigheid verheerlik.”
Calvyn se kommentaar op Ef. 1:4: “We learn also from these words, that election gives no occasion to licentiousness, or to the blasphemy of wicked men who say, ‘Let us live in any manner we please; for, if we have been elected, we cannot perish.’ Paul tells them plainly, that they have no right to separate holiness of life from the grace of election; for ‘whom he did predestinate, them he also called, and whom he called, them he also justified’’ (Rom. 8:30).”
“Vraag 64: Maar maak hierdie leer nie die mense onverskillig en roekeloos nie? Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat ’n mens wat deur ’n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie.”
“En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ’n vriend van God genoem” (Jak. 2:23; sien ook die volgende Skrifgedeeltes ter begronding van die verbond as ‘n vriendskapsverbond: Gen. 5:22; 6:8, 13; 9:9; 18:17; Ex. 33:11; Jes. 41:8; Jer. 3:4; Joh. 15:14-16; 17:3, 23; II Kor. 6:16; Op. 21:3; 22:4).
Show Buttons
Hide Buttons