Menu Close

Die dwalings van die bedelingsleer (dispensasionalisme) / Dispensationalism’s Errors

    

Ronald Hanko

Die bedelingsleer, wat ook bekend gestaan het as Darbyisme na aanleiding van die naam van die stigter van brethernisme en dispensasionalisme, John Nelson Darby (1800-1882), is die ernstigste van al die dwalings in verband met die millennium. Dit is nie net ʼn bepaalde leer oor die millennium en die toekoms nie, maar ʼn hele, foutiewe, teologiese sisteem. Die naam bedelingsleer (dispensasionalisme) spruit daaruit dat dié teorie die geskiedenis in verskillende “bedelings” (dispensasies), waarin God in verskillende verbondsverhoudings tot die mens staan, verdeel, welke bedelings telkens daarop uitloop dat die mens misluk om aan die eise van God te voldoen. Ingevolge Darby se klassieke bedelingsleer verkeer ons nou in die “kerkbedeling”, of bedeling van genade, terwyl daar net een bedeling voorlê, naamlik die bedeling van die koninkryk.

Van die dwalings van die bedelingsleer waarmee ons reeds gehandel het, is die leer in verband met ʼn geheime wegraping wat vóór die millennium en vóór die groot verdrukking sal plaasvind, en die leer dat Christus meer as een keer weer sal kom.

Ander leerstellings van die bedelingsleer wat later sal verduidelik sal word, is hulle geloof in meer as een opstanding en meer as een oordeel en hulle literalistiese vertolking van die Skrif, in die besonder van Openbaring 20.

Van die verregaande dwalings van die bedelingsleer het te doen met hulle verkeerde gebruik van die Skrif.

Eerstens is die metode van Skrifuitleg wat in die bedelingsleer toegepas word verkeerd. Dié metode het tot gevolg dat die hele Ou Testament en dele van die Nuwe Testament net op die Jode betrekking het en glad nie op Nuwe Testamentiese Christene nie, anders as bloot om nuuskierigheid te bevredig. Die aantekeninge van die Scofield Study Bible leer byvoorbeeld dat die Bergrede nie Christelik is nie, maar Joods. Hierteenoor leer die Skrif dat die hele Skrif nuttig is tot lering (en van toepassing is) vir Nuwe Testamentiese Christene (Joh. 10:35; 2 Tim. 3:16, 17). Om dié rede word die dispensasionalisme tereg beskuldig dat hulle hierdie Woord van waarheid ontken en verkeerdelik verdeel.

Tweedens hou die dispensasionalisme by ʼn streng literalisme, wat, soos een skrywer dit uitdruk, in der waarheid dieselfde literalisme as dié van die Fariseërs is; hulle wat nie wou of kon insien dat Christus ʼn geestelike Koning is nie, en Hom daarom gekruisig het. Hierdie streng literalisme (wat ook nie deurgaans deur hulle toegepas word nie) en die teenstand teen wat die dispensasionalisme “vergeesteliking” noem, is ook in stryd met die Skrif (1 Kor. 2:12-15). In baie Skrifgedeeltes “vergeestelik” die Skrif self die Ou Testament, soos in 1 Petrus 2:5-9 en die hele Hebreërboek. Ons wil daarop wys dat die Skrif inderdaad noukeurig en eenvoudig vertolk moet word, maar daar is dinge, soos die “wit keursteen” van Openbaring 2:17 wat net nie letterlik uitgelê kan word nie.

Die teenstand teen vergeesteliking lei tot dispensasionalisme se ontkenning van die hemelse en geestelike Koninkryk van Christus en tot hulle verkeerde Skrifbeskouing, wat aan die wortel van al hulle dwalings lê.

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons