Ds. Angus Stewart
Omtrent ses weke nadat hy die Here Jesus in die Jordaanrivier gedoop het, het Johannes die Doper die volgende in verband met daardie baie betekenisvolle gebeure getuig: “Ek het die Gees soos ʼn duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly” (Joh. 1:32). Al vier die evangeliste praat van die Heilige Gees wat op die Messias neerdaal “soos ‘n duif” (Matt. 3:16; Mark. 1:10; Luk. 3:22; Joh. 1:32). Waarom ‘n duif?
Eerstens is ‘n duif ‘n voël. God het nie as die teken van die Heilige Gees by Christus se doop ‘n dier wat op die aarde beweeg of ‘n vis wat in die see swem nie, maar ‘n voël wat in die lug vlieg (Gen. 1:20). Die punt is maklik om te begryp. Die Gees is God wat in die hemel woon; voëls vlieg bo ons in die hemel. Die Gees van God, uitgebeeld as ‘n voël, het aan die here Jesus ‘n hemelse roeping gegee en Hom, in sy menslike natuur, toegerus vir sy openbare optrede as Messias. In sy getuienis oor Christus by sy doop het Johannes die Doper verklaar dat die Gees, soos ‘n duif, ‘n voël, “neergedaal” het (Joh. 1:32, 33) “uit die hemel” (vs. 32).
Tweedens het God ‘n duif as die teken van die Gees by die Here Jesus se doop gekies want duiwe is vredeliewend en onskuldig (anders as, byvoorbeeld ‘n kraai). In ‘n uitdrukking wat sedertdien ‘n spreekwoord geword het, het Christus aan sy dissipels gesê dat hulle “opreg soos die duiwe” moet wees (Matt. 10:16), want Hy was “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” (Heb. 7:26). Deur die krag van die ‘Gees soos ‘n duif’ was die Here Jesus in sy menslike natuur en sy amp as ons Saligmaker opreg, onskuldig, onbesmet en heilig. Ons sien die verband tussen die simboliek van die duif en die stem uit die hemel by die doop van Christus: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ʼn welbehae het” (Matt. 3:17; Mark. 1:11; Luk. 3:22). God het ‘n welbehae in sy Seun, want Hy is onskuldig en opreg soos ‘n duif.
Derdens het God ‘n duif as die teken van die Gees by die Here Jesus se doop gekies want duiwe is lieflik, liefderik en geliefd (anders as, byvoorbeeld, ‘n ou gierige aasvoël). Ons dink hier in besonder aan die duif-beeld in die Hooglied van Salomo wat hulle uitbeeld as sag, met mooi oë en vere, liefderik en getrou aan hulle maats (bv. Hoogl. 1:15; 2:14; 4:1; 5:2, 12; 6:9). Die lieflike, liefderike en geliefde duif uit die hemel en die stem van God uit die hemel sê wesentlik dieselfde: “Dit is my geliefdeSeun”.
Vierdens het die Heilige Gees, in die vorm van ‘n duif, nie net uit die hemel op Christus neergedaal nie, maar ook op Hom gebly. Dit was opvallend vir Johannes die Doper, wat aankondig dat die Gees soos ‘n duif neergedaal het, dat Hy “op Hom gebly” het (Joh. 1:32). Só roep die Gees die Messias en rus sy menslike natuur permanent toe vir sy openbare bediening met die heilige gawes en genade van die onskuldige en lieflike Seun van God. Met die blywende Gees wat op Hom rus, het Christus begin preek én wonderwerke verrig, wat Hy nie gedoen het vóór sy doop, sy aanstelling as die groot profeet, priester en koning van God, nie.
Dink ook hoe dikwels die woord “bly” in die Evangelie van Johannes voorkom. Dit spreek van innerlike, blywende en persoonlike gemeenskap. Die drie-enige God bly soos ‘n duif by sy onskuldige en geliefde Seun, met innerlike, blywende en persoonlike gemeenskap. Hoe aangrypend is dit nie!
Vyfdens het God ‘n duif as die teken van die Gees by die Here Jesus se doop gekies omdat, in die Bybel, duiwe by uitstek die voëls was wat geoffer is (Gen. 15:9; Lev. 1:14-17; 5:7-10; 12:6-8; 14:22, 30-31; 15:14-15, 29-30; Luk. 2:24; Joh. 2:14, 16). Dit is nie moeilik om te sien waarom God vredeliewende en onskuldige duiwe as offerande, as die voorafskaduwing van die afwassing van die sonde, gekies het nie.
In sy getuienis dat die Gees uit die hemel soos ‘n duif op Christus neergedaal het, verklaar Johannes die Doper: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Die Gees, in die vorm van ‘n offerduif, het die vredeliewende en geliefde Messias geroep en toegerus om die offerlam te wees wat die straf wat ons vir ons oortredinge toekom, te dra.
Sesdens het God ‘n duif as die teken van die Gees by die Here Jesus se doop gekies, omdat die duif, meer as ‘n ander voël, die nuwe skepping simboliseer. By die eerste skepping het “die Gees van God … (soos ‘n voël) gesweef op die waters” (Genesis 1:2). By die sondvloed is ‘n vredeliewende en onskuldige duif drie keer uit die ark gestuur en het die derde keer nie teruggekom nie (Gen. 8:8-12)! Die boodskap is duidelik: die toorn van God is verby en die nuwe wêreld wag! Dit is die Bybelse verband tussen die duif en die nuwe skepping.
Die “wêreld” van Johannes 1:29 waarvoor die Lam van God gesterf het, is die wêreld van gelowiges wie se sondes Christus versoen het en vir wie Hy as middelaar intree (Joh. 12:31; 17:9).
Omdat die Lam van God vir die “sonde van die wêreld” gesterf het (Joh. 1:29) en sy volk “uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openb. 5:9) verlos het, sal ook die onbesielde skepping “vrygemaak … word van die slawerny van die verganklikheid” (Rom. 8:21). Omdat die mens die hoof is van die skepping, het die skepping, toe die mens geval het, saam met hom geval. Met die verlossing en die hernuwing van die mens in Christus, is ook die wêreld verlos en sal dit vernuwe word as die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die Gees het, soos ‘n vredeliewende en lieflike duif op die Here Jesus neergedaal by sy doop en op Hom gebly sodat, deur die offer van die Lam van God, die nuwe skepping mag kom – ‘n heerlike, lieflike en volkome veilige wêreld waarin die leeu en die lam bymekaar sal lê (Jes. 11:6-8; 65:25).
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)