Ds. Angus Stewart
Ons het reeds gesien dat, as “onderpand” die Gees wat in ons woon ‘n waarborg, deel en voorsmaak is van ons ewige erfdeel (Efesiërs 1:14). Omdat die Gees die Gees van Jesus Christus is en Christus die openbaring van die Drie-enige God, word ons erfdeel deurgloei met die heerlikheid van die Vader, van die Seun en van die Heilige Gees. Dan sal die een, ware God alles in almal wees en alle afgodedienaars sal vir altyd uitgewerp word in die poel van vuur (Openbaring 21:8; Jesaja 66:24).
Die Bybel bring dikwels wat ons nou in die Gees besit in verband met die ewige heerlikheid. Ons is nuwe skepsels deur die krag van die Gees (2 Korinthiërs 5:17); die nuwe skepping van die nuwe hemel en die nuwe aarde is besig om te kom. Ons word weergebore; in die toekoms sal die wêreld self ook weergebore word (Mattheüs 19:28). Ons het die “eerstelinge (eerste vrugte) van die Gees” (Romeine 8:23); die volle oes wag.
Die onderpand (paaiement of deposito) van die Gees is in ons (as waarborg en gedeeltelike betaling) totdat Hy sy eiendom verlos en ons die volle erfdeel ontvang (Efesiërs 1:14).
“Eiendom” (vs. 14) is die Griekse woord wat na alle gelowiges van alle tye en volke verwys as hulle wat deur die Here gekoop is, na liggaam en siel, Jode én heidene (vs. 12, 13).
Die verlossing van “sy eiendom” (vs. 14) kan soos volg beskryf word. Eerstens het Christus vir ons verlossing betaal deur sy versoenende bloed aan die kruis (vs. 7a). Tweedens word hierdie verlossing ons deel deur “die vergifnis van die misdade”, die volheid van die reddende genade (vs. 7b). Dit is die eerste paaiement, wat in besonder op ons in ons siele betrekking het. Derdens sal ons in die toekoms uit die dood opgewek word in die heerlikheid van die nuwe skepping (vs. 14). Dit is die tweede paaiement, wat in besonder op ons in ons liggame betrekking het.
Elders praat die Bybel van “verlossing” nie net as (1) die betaling aan die kruis en daarmee (2) die vergifnis van sonde nie, maar ook as (3) die toekomstige, liggaamlike opstanding van die regverdiges. Verderaan in Efesiërs waarsku Paulus om nie die Heilige Gees “deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing” (Efesiërs 4:30) te bedroef nie. In Romeine 8:23 sê Paulus “ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.” Die Here Jesus bemoedig ons, wanneer ons die einde van die tye sien, met die woorde: “kyk na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28).
Al die Jode en die heidene wat in Christus glo, word met die Gees “verseël” (Efesiërs 1:12, 13) en het die Gees as “onderpand” van ons toekomstige erfdeel (vs. 14), waarin ons almal tesame deel sal kry deur die opstanding van ons liggame, waarna hier as die verlossing van sy eiendom verwys word (lees ook Romeine 8:23). Daar is hier geen sprake van, of ruimte vir meer as een opstanding, hetsy van Jood of van heiden, van vrome of goddelose, wat deur 7, of 1,000, of 1,007 jaar geskei word, soos dit deur verskillende vorme van premillennialisme geleer word nie. Die Skrif is duidelik daaroor dat “daar ‘n opstanding [enkelvoud] sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Handelinge 24:15). Daarna, in “die volheid van die tye” sal alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, ook Jode én heidene, onder een hoof in Christus verenig word (Efesiërs 1:10).
Let ook daarop dat die verseëling en onderpand van die Gees geld “tot die dag van verlossing” (Efesiërs 4:30); tot die liggaamlike opstanding aan die einde van die eeue die volharding van die heiliges en die onweerstaanbare genade bevestig, want as die gelowige die genade kon weerstaan en afvallig kon word, sou die apostel nie kon sê dat almal wat glo met die Heilige Gees van die belofte verseël is “tot die dag van verlossing” van die eiendom van die Here, tot lof van sy heerlikheid, nie (Efesiërs 1:13-14).
Wat beteken dit vir jou, kind van God? Lewe jy in die volle bewussyn van die teenwoordigheid van die Heilige Gees in jou, as die onderpand van toekomstige heerlikheid? As ‘n waarborg, ‘n gedeeltelike betaling en voorsmaak van die ewige saligheid? Sien ander dit raak dat jy só lewe? Onthou ook dat die hoop op ons heerlike erfdeel die roeping is van alle heiliges, jonk én oud!
Weerspieël die prioriteite in jou lewe dat jy die versekering en vreugde van die Gees besit? Blyk dit uit wat jy met jou tyd doen, soos om tyd te maak om die Woord van God te lees en te bid, vir Bybelstudie, en wanneer dit ook al moontlik is, om in gemeenskap met ander gelowiges te verkeer?
Hoeveel beteken hierdie hemelse hoop vir jou? Genoeg om te begin om jou lewe waar moontlik te herorganiseer? Genoeg om op te hou om die sonde uit te lok? Genoeg om meer en meer uit te sien na die wederkoms van ons Here? Genoeg om God vir sy groot genade te loof?
Hierdie lof is inderdaad die doel van die Drie-enige God met ons verlossing. Drie maal word die doel in Efesiërs 1 gestel: “tot lof van die heerlikheid van sy genade” (vs. 6), “sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid” (vs. 12) en “tot lof van sy heerlikheid” (vs. 14). Nou is ons geroep om die grootheid van God te verkondig; om dit vir altyd en volledig te doen. Dit is wat dit vir ons beteken om as lidmate van die kerk, die liggaam van Christus, te lewe: om die heerlike genade van God te prys! Dίt is die werk van die Gees in ons; om ons vereerders te maak van ons Vader in die hemel.
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)