Menu Close

Uitverkiesing, Fontein van Seëninge vir die Kerk (1)

Rev. Angus Stewart

In die afgelope drie uitgawes van die News het ons gesien dat uitverkiesing die bronaar van die kerk is (Ef. 1:3-4). So het die Reformatore die uitverkiesing die cor ecclesiae, die hart van die kerk, genoem en Wycliffe en Hus het van Christus se kerk as die “gemeenskap van die uitverkorenes” gepraat.

Nou sal ons sien dat uitverkiesing nie net die bron van die kerk is nie; dit is ook die fontein van al haar seëninge. Ons Heidelbergse Kategismus verklaar die kerk as “ʼn gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is” (V&A 54). Die Dordtse Leerreëls bevestig dat “die uitverkiesing die fontein van alle saligheid [is] waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan voortvloei. Die apostel getuig immers: ‘Om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees’ (Ef. 1:4) en nie ómdat ons alreeds so was nie” (I:9). Die woord “fontein” wat hier in die Leerreëls en in die algemeen in die Gereformeerde geskiedenis gebruik word, skilder vir ons ʼn baie aantreklike prentjie. Ons kry voor oë hoedat die vele en ryke seëninge van die kerk opborrel en oorvloei vanuit God se genadige en ewige fontein van uitverkiesing. Hierdie wonderlike fontein bring alle seëninge na jou, gelowige, en na elke ander lid van Christus se kerk!

Dit word in Efesiërs 1:3-4 geleer, waar daar staan dat alle seëninge van die kerk (v. 3) na ons kom “soos Hy ons in Hom [dit is Christus] uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld” (v. 4). Die eerste seëning wat hier genoem word, is heiligheid (v. 4). God maak elke ware lid van die kerk vas en seker heilig ooreenkomstig sy ewige uitverkiesing. So word elke uitverkore gelowige geestelik van die goddelose wêreld afgeskei en na siel en liggaam aan God geheilig. God verwerklik die heiligheid van die uitverkorenes deur sy kragdadige roeping waardeur hulle uit die duisternis na sy heerlike lig gebring word; deur voortdurende heiligmaking gedurende hierdie lewe; en deur volkome heiligmaking by die dood of by Christus se liggaamlike wederkoms. Heiligmaking is nie die voorwaarde of oorsaak van ons uitverkiesing nie! God het ons nie uitverkies omdat Hy voorsien het dat ons heilig sou wees, soos wat die Armenianisme leer, nie. In teendeel, Hy het ons verkies om ons heilig te maak. God het “ons in Hom uitverkies … voor die grondlegging van die wêreld om heilig … te wees” (v. 4). Heiligheid is die doel en resultaat van ons ewige en onvoorwaardelike uitverkiesing in Christus.

Die tweede seëning in Efesiërs 1:4 is om sonder gebrek voor God te wees. Sommige neem dit op as ʼn godvresende en opregte lewe (waarby God genadiglik al ons baie oorblywende oortredinge vergewe). Ander sê dit verwys na ons vryspraak voor God ons regter, gegrond alleenlik op die geregtigheid van Christus, ons plaasvervanger. Welke dit ook al is, dit is ʼn groot weldaad wat aan ons gegee word slegs op grond van ons uitverkiesing.

Ons aanneming is die derde seëning wat hier genoem word: “deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil” (v. 5). Ons het al die regte en voorregte van seuns en dogters van God, as lede van sy geestelike familie, met die Here Jesus as ons ouer broer. Niemand wat nie ewig uitverkies is, is ooit of sal ooit deur God aangeneem word nie.

Vers 6 ken aan ons ʼn vierde seëning toe: begenadiging in Christus, God se geliefde. As u hieraan dink as ʼn kleiner weldaad, dink dan aan hulle wat dit nooit ontvang nie, hulle aan wie die Seun van God op die oordeelsdag sal sê, “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:23).

Efesiërs 1 noem ook ander seëninge: verlossing in die bloed van Christus (v. 7), die vergiffenis van sonde (v. 7), die kennis van God se voorneme om alles in die hemel en op die aarde in Christus te verenig (vv. 9-10), ons ewige erfenis (v. 11), die verseëling met die Heilige Gees (v. 13) en die opstanding van die liggaam op die laaste dag (v. 14). Verder is ons die ontvangers van nog baie seëninge wat nie in Efesiërs 1 genoem word nie maar elders in die Woord van God gevind word.

Ons moet ook nie die apostoliese seëngroet vergeet nie: “Genade vir julle en vrede van God, onse Vader, en die Here Jesus Christus” (v. 2). Genade, barmhartigheid en vrede word nie aan die verworpenes gegee nie. Hierdie geestelike seëninge (v. 3) word net aan die uitverkorenes gegee, “soos Hy ons in [Christus] uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld” (v. 4).

Kom ons bring nou hierdie seëninge wat ons uit God se oorvloedige fontein van uitverkiesing kry in verband met die vyf punte van Calvinisme (“TULIP”).* Volkome verdorwenheid is nie ʼn seëning nie en is ook nie besonder aan die uitverkorenes nie, maar gemeen aan alle gevalle mense en behoort dus nie in hierdie bespreking nie. Die laaste drie punte van Calvinisme (beperkte versoening, onweerstaanbare genade en die volharding van die heiliges) is in ooreenstemming met, en vloei voort uit die tweede punt, onvoorwaardelike uitverkiesing.

Dit word so geleer in Efesiërs 1. Christus se verlossing (v. 7) is ʼn seëning wat ons toekom “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld” (v. 4). Dit leer beperkte versoening, dit wil sê, besondere verlossing van die uitverkorenes alleen. God se onweerstaanbare genade, “die uitnemende grootheid van sy krag vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte” (v. 19), vloei uit die fontein van genadige uitverkiesing. Die volharding van die heiliges, wat berus op God se ontwyfelbare verseëling en bewaring van ons vir ons ewige erfenis (vv. 11, 13-14), is ook ʼn vrug van die uitverkiesing. So is God se onvoorwaardelike uitverkiesing, die tweede punt van Calvinisme, die fontein van die seëninge van die kerk van God, insluitend drie van die vyf punte van Calvinisme: Christus se beperkte versoening, God se onweerstaanbare genade en die volharding (en dus die bewaring) van die heiliges.

*TULIP is ‘n akroniem van
T
otal depravity (volkome verdorwenheid)
U
nconditional election (onvoorwaardelike uitverkiesing)
L
imited atonement (beperkte versoening)
I
rresistible grace (onweerstaanbare genade)
P
erserverance of the saints (volharding van die heiliges)

(Vertaal deur Nic Grobler. [email protected]Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons