Rev. Angus Stewart
Efesiërs 1:3-5 is by verre nie die enigste gedeelte in God se Woord waarin die Heilige Gees die kerke oor die kerk se uitverkiesing in Jesus Christus leer nie.
Hoewel die gemeente van die Thessalonicense waarskynlik maar ‘n paar maande oud was, wou Paulus hê dat hulle seker moes wees van hulle ewige uitverkiesing toe hy aan die begin van sy brief daaroor praat: “… ons weet van julle verkiesing, broeders wat deur God bemin word” (I Thess. 1:4). Daar is vandag gemeentes, grys van ouderdom, wat hierdie kennis nie besit nie en die laaste ding wat hulle predikante hulle wil leer is onvoorwaardelike uitverkiesing. Dit is ‘n skande en heeltemal strydig met apostoliese Christenskap!
Vir geval die Thessalonicense dit in sy eerste brief nie raakgelees het nie, verwys Paulus weer na hulle uitverkiesing in sy tweede geïnspireerde brief aan hulle: “… ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid” (II Thess. 2:13). Die apostel dank die Drie-enige God vir hulle uitverkiesing, in besonder in die verband (vv. 3-12), omdat dit net die genade is wat na ons kom deur uitverkiesing (v. 13) wat ons, anders as dié wat verlore gaan (v. 11), bewaar van die afval, korrupte aanbidding, wonders van die leuen en valse leer van die mens van sonde (vv. 3-4, 8-10) en van “die verborgenheid van die ongeregtigheid [wat] al aan die werk [is]” (v. 7).
Petrus het óók die uitverkiesing van die kerk aan die kerke geleer. Aan die begin van sy eerste geïnspireerde brief spreek hy die heiliges in “Pontus, Galasië, Kappadocië, Asië en Bithinië” (I Pet. 1:1) aan as “uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader” (v. 2). Hulle uitverkiesing “in die heiligmaking van die Gees” (v. 2) maak hulle “vreemdelinge” in hierdie wêreld (v. 1) en die ontvangers van “genade en vrede” (v. 2). Petrus sluit dieselfde brief af deur hulle te herinner, nie net aan hulle eie uitverkiesing nie, maar ook aan dié van die kerk in Babilon: “Die mede-uitverkorenes in Babilon … groet julle” (I Pet. 5:13). In sy volgende brief wil Petrus dat hulle verseker word van hulle uitverkiesing deur die vrugte van die kragdadige roeping in hulle lewe te sien: “… julle [moet] jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak” (II Pet. 1:10). Hierdie lewende en eenvoudige kennis van julle uitverkiesing, sê hy, sal julle daarvan bewaar om “ledig,” “onvrugbaar” of “blind” te wees. In teendeel sal ons “die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (v. 11) wyd oop sien deur ‘n gesonde, godverheerlikende geloof.
In Kolossense 3:12 leer die Heilige Gees ons dat die bewussyn van ons genadige uitverkiesing ook genade by onsself bewerk: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.” Uitverkiesing is verre van ‘n koue, droë, vreugdelose, liefdelose leerstuk. Dit is God se ewige, onvoorwaardelike liefde vir, en keuse van ons! Weg met die lasterlike praatjies van sommiges wat na God se geliefde en met bloed gekoopte volk (Deut. 7:6-8; Joh. 3:16) verwys as “die gevriesde gekiesdes”—profane taal geïnspireer deur Satan!
Paulus, daardie “bekwame boumeester” (I Kor. 3:10) wat God aangestel het “as prediker en apostel en leeraar van die heidene” (II Tim. 1:11), het die kennis van die uitverkiesing van die kerk as onmisbaar vir predikante beskou. Die ware “evangelie na die krag van God” is dit: “[Hy het] ons gered en geroep … met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is” (vv. 8-9). Dit is die evangelie wat in die vleeswording, kruis en opstanding van ons Saligmaker geopenbaar is (v. 10) en wat deur Paulus en almal wat ware apostoliese opvolgers is, gepreek word (v. 11). Hierdie evangelie van God se Woord, insluitend die kerk se uitverkiesing (v. 9), is die “gesonde woorde” (v. 13) en die “goeie pand” (v. 14) aan Christelike predikante, wat hulle moet “[h]ou … in die geloof en liefde wat in Christus Jesus is” (v. 13) en “[b]ewaar … deur die Heilige Gees wat in ons woon”(v. 14).
Lateraan in dieselfde pastorale brief verduidelik die apostel dat uitverkiesing noodsaaklik is om die afvalligheid van sekere kerklike ampsdraers en lidmate te verstaan. Himenéüs en Filétus het die preterisme aanvaar en geleer deur te sê “dat die [algemene] opstanding al plaasgevind het” (2:17-18). Hulle kettery het soos ‘n kanker versprei (v. 17) “en hulle keer die geloof van sommige om” (v. 18). Wat moes die heiliges verstaan van hierdie afval van die twee leeraars en sommige van hulle medelidmate? Beteken dit dat ware gelowiges werklik kan afval en verlore gaan? Kan ons wedergeboorte, roeping, regverdiging en aanneming geloën word? Faal God se trou en sy belofte? Is Christus se offer en middelaarskap vir ons swak en nutteloos? NEE! “Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is“(v. 19)!
Ander gedeeltes in die Nuwe Testamentiese briewe sou ook behandel kon word, vernaamlik Romeine 8, 9 en 11. Ter wille van bondigheid laat ek ook verwysings na ander Nuwe Testamentiese boeke en die Ou Testamentiese Skrif agterweë. Ons volstaan deur te sê dat die uitverkiesing van die kerk dwarsdeur die Bybel, van omslag tot omslag, geleer word. Dit moet geglo, in verheug en gepreek word as deel van die hele raad van God.
Volgende keer sal ons, DV, die praktiese betekenis en troos van die uitverkiesing van die kerk behandel.
(Vertaal deur Nic Grobler. [email protected]. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)