Rev. Angus Stewart
Kennis van die uitverkiesing van die kerk (waarby ons as lewende lede van Christus ingesluit is) is noodsaaklik, nie die minste nie vir ons gevoel van waar ons hoort. Gelowige, jy behoort geheel en al aan die Drie-enige God—nou, en vanaf jou wedergeboort tot aan die einde van jou dae hier, en deur alle ewigheid in die nuwe hemel en die nuwe aarde. Jy het aan Christus aan die kruis behoort, want jy was in Hom en het met Hom die sonde afgesterwe (Rom. 6:2-6; Kol. 2:20). Verder het jy in ewigheid aan die Vader behoort, want jy is in Christus uitverkies voor die grondlegging van die wêreld (Ef. 1:4). Jy is in Hom geliefd en word vir ewig besit deur die Drie-enige God! Laat ons sy lof verkondig!
Jy en ek, en al die heiliges op aarde, en al die gelowiges wat voor ons gesterf het, en al die uitverkorenes wat nog kragtig in die toekoms geroep sal word, behoort saam aan God in Christus. Die ewige staat sal aan ons die wonderlike seën hiervan openbaar. In die ewige verlede is die hele kerk saam in Christus uitverkies. In die ewige toekoms sal die hele kerk saam die vrugte van ons uitverkiesing van voor die grondlegging van die wêreld geniet.
So behoort die uitverkore heiliges in hierdie laaste dae saam in ware Gereformeerde kerke. Hulle wat as deel van die kerk as organisme uitverkies is, behoort aan gelowig gevestigde gemeentes. Dit sluit ons uitverkore kinders in. Die kerk in Efese, wat aangespreek word as “geseën” en “uitverkies” (vv. 3-4), sluit die kinders van gelowiges in (6:1-4). Natuurlik is nie alle fisiese kinders van gelowiges uitverkies nie: “Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat” (Rom. 9:13). Uitverkore verbondskinders behoort ewigdurend in God se kerk en behoort daarom in ‘n Gereformeerde gemeente wat die drie kenmerke van die ware kerk dra. Families met hulle kinders en individue moet in ‘n bybelse kerk bly, of dit opsoek en daarby aansluit, en daar die prediking van God se Woord hoor en gehoorsaam, deelhê aan die sakramente en hulle aan die kerkregering en (waar nodig) aan die kerklike tug onderwerp (Nederlandse Geloofsbelydenis 28-29).
Kennis van die uitverkiesing van die kerk is ook noodsaaklik vir evangelisasie. Die ware kerk is oortuig dat die hoofsaaklike middel vir die bekering van ongelowiges die prediking van God se Woord is—nie handpoppe, “liedere-boodskappe” of ander foefies nie. Ons is oortuig dat God die middele wat Hy daartoe bestem het, gebruik en seën om sy uitverkore kerk te vergader. Met hierdie vertroue getuig ons van Christus teenoor ongelowiges en streef om hulle onder die verkondiging van die evangelie van Christus te bring “want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo” (Rom. 1:16), naamlik die uitverkorenes.
Wanneer ongelowiges hulle bekeer, is dit daarom nie tot eer van die prediker of die kerk nie. Die lof kom die Drie-enige God toe wat, onweerstaanbaar maar vriendelik, húlle roep wat Hy van voor die grondlegging van die wêreld in Christus uitverkies het.
As min hulle bekeer, moenie wanhoop nie, “Want baie is [uiterlik] geroep, maar min uitverkies” (Matt. 22:14). Noag, “die prediker van geregtigheid” (II Pet. 2:5), en Jeremia het ook min bekeerlinge gehad. Die Here sê: “my woord … sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees is alles waartoe Ek dit stuur” (Jes. 55:11). Die Skrif maak dit duidelik dat “almal wat verordineer is tot die ewige lewe,” gelowig word (Hand. 13:48) en dat almal wat nie verordineer is tot die ewige lewe nie, nie glo nie, maar verhard word (Eks. 4:21; Rom. 9:18).
As die kerk klein of selfs baie klein is, moet ons onthou dat God se waarheid oor die kerk nie op sigwaarde bely word nie. “Ek glo aan ‘n heilige, algemene kerk”—omdat die Bybel so sê. Dit is nie ‘n saak van ondervinding of waarneming nie, maar van openbaring. Dit is wat Elia moes leer in dae van afvalligheid en vervolging (I Kon. 19): “Ek het vir Myself seweduisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie. Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade” (Rom. 11:4-5).
Nou is ons in staat om die dwaasheid te sien in predikante en kerke wat die uitverkiesing van die kerk ignoreer. Hulle weet nie waar die kerk vandaankom, waarom dit so groot is as wat dit is, of waarom dit versamel moet word op die wyse wat die Bybel vra nie! Daarom is hulle in hulle evangelisiasie oop vir allerhande onbybelse nuutjies om mense te oorreed om “Christus julle Saligmaker te laat word.”
Verder ruk predikante en kerke wat die uitverkiesing van die kerk loën, die hart uit die kerk uit, want uitverkiesing is die cor ecclesiae (die hart van die kerk). Sulke valse leeraars val die kerk aan; hulle val die kerk aan by sy oorsprong: uitverkiesing. As dit uitverkiesing loën, kan die kerk net ‘n vrywillige samekoms van mense wees en nie die tempel en liggaam van Christus, wat die Allerhoogste van ewigheid af beplan en in Sy genade gevorm het nie. Die kerk van Jesus Christus is uitverkies voor die grondlegging van die wêreld en nie na die goedkoop besluite van sondaars nie.
Laat ons dan die waarheid van God se Woord omhels en God loof vir sy uitverkiesing van sy kerk. Hierdie leer lei ons daartoe om Hom te loof, want dit is “tot lof van die heerlikheid van sy genade” (Ef. 1:6; vgl. vv. 12, 14). Onvoorwaardelike uitverkiesing sal inderwaarheid ‘n einde maak aan baie “lofprysingsdienste” met hulle “lofprysingsleiers,” “lofprysingsgroepe” en “Christelike rock.” Soos Calvyn dit stel, “Hulle wat nie van predestinasie will praat of selfs huiwerig is om van predestinasie te praat is doodsvyande van God se lof.” Net die uitverkiesing van die kerk lei tot ware aanbidding en ootmoed voor God: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees” (vv. 3-4).
(Vertaal deur Nic Grobler. [email protected]. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)