Ds. Angus Stewart
Psalm 90 is, soos die opskrif aandui, die vroegste bekendste Psalm en die enigste een van die 150 wat deur Moses geskryf is. Daarbenewens is dit die mees diepsinnige oordenking van God en tyd in die Skrif. Die goddelike wysheid hieroor is besonder van pas. Moses is die Bybel se grootste historikus. Die vyf boeke deur hom geskryf, Genesis tot Deuteronomium, strek oor twee en ʼn halwe millenia. Toe Moses geskryf het, het hy die hele tydperk wat die wêreld toe bestaan het, gedek. Hy het selfs die skepping van die heelal en van tyd en die ordening van tyd gedokumenteer.
Moses het van vele geslagte geskryf: Adam, Set, Noag, Sem, Abraham, Isak, Jakob, die twaalf seuns van Jacob ens. Moses het die geslagte voor én na die vloed opgeskryf. Van Genesis 12 tot Deuteronomium 34 skryf hy van die geslagte van Abraham, Isak en Jacob as vreemdelinge in Kanaän; die geslagte van Israel as vreemdelinge en slawe in Egipte; en die geslagte van die omswerwinge in die woestyn. “Here, U was vir ons ʼn toevlug van geslag tot geslag” (Ps. 90:1)!
Moses het geskryf van mense wat lank gelewe het, sommige byna duisend jaar, soos Metusalag 969 (Gen. 5:27), Jared 962 (20) en Adam 930 (5). Na die vloed het mense se leeftyd korter geword tot in die 600s, toe die 400s, die 200s en die 100s. In die dae van Moses was 70 ʼn goeie ouderdom, 80 was die uitsondering, en het bykomende sorge meegebring (Ps. 90:10).
Moses self het die rype ouderdom van 120 bereik: 40 jaar in Egipte as aangenome seun van die dogter van Farao; 40 jaar in Midian as skaapwagter en skoonseun van Reuel; 40 jaar in die woestyn as die herder van Israel, God se eersgebore seun (Eks. 4:22). Psalm 90 is in die woestyn geskrywe deur ʼn ou man wat in sy lang lewe baie dinge gesien het. Die trant daarvan is plegtig, peinsend, nadenkend, vol gedagtes. Dit is skone poësie wat pas by die stilte en verre horisonne van die woestyn.
Moses skryf in Psalm 90 van die mens se ervaring van tyd, hetsy as goeie dae van blydskap in God se genade (14-15) of droewige dae soos dié toe Israel in die woestyn deur God se grimmigheid en toorn verskrik is (7). Die mens se dae op aarde loop uit op die dood, soos Moses gesien het in die duisende lyke van dié wat in die woestyn geval het. Psalm 90 praat dan ook van die ewige God en die verhouding van Hom en die tyd.
Eerstens hou die ewigheid van God in dat Hy sonder begin is: “Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God” (2). As die Een wat die wêreld geskape het, is God vóór die berge wat so oud lyk, en selfs vóór die aarde self. Maar dis nie asof God net ʼn duisend jaar of miljoen jaar voor die aarde was nie. Want wat was vóór God? Nee, God is sonder begin.
In die tweede plek hou die ewigheid van God in dat Hy sonder einde is: “van ewigheid tot ewigheid is U God” (2). Mens kan sê dat die mens sonder einde is en dat die engele sonder einde is(want beide sal vir ewig in die hemel of die hel wees) en dat die skepping sonder einde is (want dit sal vir ewig in die nuwe hemel en die nuwe aarde bestaan). Maar daar is wesensverskille tussen God die skepper en sy skepsele. God is in sy eie krag noodwendig sonder einde. Mense, engele en die skepping is sonder einde net maar vanweë die raadsbesluit van God en sy almagtige onderhouding van alle dinge.
God is sonder einde en sonder begin van en deur Homself, terwyl die mens, die engele en die skepping nie net ewig deur Hom onderhou word nie, maar ook deur Hom gemaak is en so ʼn begin het.
Dusver het ons gesien dat God sonder begin en sonder einde is, maar die ewigheid van Jehova is selfs meer verstommend, want dit hou ook in, in die derde plek, dat daar by Hom nie die opeenvolging van tyd is nie. Wat is tyd? Tyd is die opeenvolging van oomblikke. Die toekoms word die hede, wat die verlede word; wat die verlede is, was hede en was toekoms. Tyd vloei verby en kan gemeet word in sekondes, minute, ure, dae, maande en jare. Oor tyd praat ons van nou, voor of na en van die hede, die verlede of die toekoms. Tyd behels die opeenvolging van een moment na die ander en die ander, meedoënloos, onkeerbaar.
As ons sê dat die ware en lewende God nie net sonder begin en sonder einde is nie, maar ook sonder opeenvolging, dan bedoel ons dat daar in God geen tyd is nie. Natuurlik nie! As daar in God tyd was, sou tyd God wees, want alles wat in God is, is God, want Hy is volkome een of enkelvoudig. Daar is geen verlede, hede of toekoms in God nie; daar is geen opeenvolging van oomblikke in God nie. God is nie in die tyd nie, daar is nie ʼn soort horlosie buite God wat hom meet nie. God word nie ouer nie.
Psalm 90:4 leer dat God in ʼn ander verhouding tot tyd staan as ons: “Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ʼn nagwaak.” Vir die mens is duisend jaar ʼn duisend jare. Vir God is duisend jaar soos “gister” of selfs soos ʼn “nagwaak”, net drie of so ure, ʼn agtste van ʼn dag. 2 Petrus 3:8 sinspeel op Psalm 90 waar daar staan: “laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.” Hier word vir ons gesê beide dat vir God een dag soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Self al word van ʼn vergelykende beeld gebruik gemaak (“soos”), is dit duidelik dat Jehova in ʼn ander verhouding as ons tot tyd staan.
Die volgende drie tekste uit die briewe van Paulus wys dat God voor (en dus buite en bo) die tyd is. Eerstens verwys 1 Kor. 2:7 na “die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het”, letterlik “voor die eeue” en dus voor tyd. Tweedens praat 2 Timoteus 1:9 van God se “eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is,” letterlik “voor die tye van die eeue” en dus voor tyd. Derdens word in Titus 1:2 geskryf dat God “die ewige lewe” beloof het “van ewigheid af,” letterlik “voor die tye van die eeue” en dus voor tyd. Omdat God voor die eeue, tye en tyd is, het tyd ʼn begin en is tyd nie in God nie.
(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)