Ds. Angus Stewart
Ons het ʼn vorige keer gesien dat God se ewigheid sy wese is, sonder begin, sonder einde en sonder opeenvolging. God staan in ʼn ander verhouding tot die tyd as ons (Ps. 90:4; 2 Pet. 3:8), want God is voor (en daarom buite en bo) tyd (1 Kor. 2:7; 2 Tim. 1:9; Titus 1:2), as die Een wat tyd geskape het. Twee tekste uit Hebreërs bevestig in besonder die laaste punt. Hebreërs 1:2 sê dat God deur Christus “die wêreld” gemaak het, letterlik aiōn, die eeue, en so die tyd. Hebreërs 11:3 sê: “Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is.” Weereens is “wêreld” hier die Grieks aiōn, “eeue.” God skep nie net ʼn heelal van ruimte, soos baie tekste leer, nie, maar ook van tyd, soos Hebreërs :2 en 11:3 dit bevestig. Ons kan sê dat Jehova die ruimte-tyd heelal gemaak het.
“In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Gen. 1:1). God het die heelal geskape en daarmee het hy tyd geskape. So verhaal Génesis 1:1 die begin van ruimte en die begin van tyd. Tyd is ʼn skepsel van die Allerhoogste. Daarom is daar geen tyd (ʼn skepsel) in God (die Skepper) nie, want alles wat in God is, is God, want God is volkome enig en enkelvoudig. Jehova is eindeloos bo tyd verhewe, die Een eindeloos verhewe bo alle skepsele.
Laat ons nou een van Paulus se grootste doksologieë beskou: “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen” (1 Tim. 1:17). Die “Koning van die eeue” is hier letterlik die heerser oor die tyd. Hy is nie aan tyd onderhewig nie. Hy is die soewereine Koning oor tyd, wat tyd skep (as die Een wat voor tyd bestaan het) en daaroor heers in sy voorsienigheid en volgens sy ewige raad. Kom laat ons Hom aanbid! “Aan die Koning van die eeue … kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.”
Moses, die skrywer van Psalm 90, was die een aan wie God Homself op die berg Sinai openbaar as “EK IS WAT EK IS” (Eks. 3:14), wat die betekenis is van Jehova. Geen skepsel durf sê “Ek is wat ek is” nie, want voor hy klaar gepraat het, is hy nie meer wat hy was nie. Tyd gaan met die blote uitspreek van die woorde verby, sodat mens of engel wat die woorde uit, ouer sal wees as voor hy gepraat het. U sien, die mens, as skepsel, word deur tyd, die opeenvolging van oomblikke, beperk. Hoe anders as God is ons nie! God kan sê, en Hy sê, “EK IS WAT EK IS”, want daar is ʼn absolute identiese ooreenstemming tussen die eerste “Ek is” en die tweede “Ek is” in die sin. Want in God is daar geen tyd, geen opeenvolging van oomblikke nie. In Psalm 90 sê Moses, en hy leer, dat God van ewigheid tot ewigheid is (2), sonder opeenvolging. Jehova (Eks. 3:14) is dan ook die heilige naam wat in Psalm 90:13 gebruik word: “Keer terug, HERE! Tot hoe lank?”
Dié waarheid, dat God sonder begin en sonder end en sonder opeenvolging is, is baie belangrik vir verskeie ander heerlike waarhede in verband met ons Verbondsvader. Die eerste goddelike eienskap wat ons in dié verband kan noem, is God se onveranderlikheid. In die Allerhoogste is daar “geen verandering of skaduwee van omkering … nie” (Jak. 1:17). Die Almagtige verklaar: “Want Ek, die HERE [i.e. Jehova], het nie verander nie” (Mal. 3:6). Maar as God binne die tyd (as ʼn maatstaf buite Hom) was, sou Hy met die verloop van die tyd ouer geword het. As tyd in God was, sou daar ʼn opeenvolging van oomblikke in sy Wese wees. So sou God verander omdat Hy sou verouder. Alleen as een wat waarlik ewig (sonder begin, sonder einde en sonder opeenvolging) is, kan God onveranderlik wees.
God se eenheid, enigheid en enkelvoudigheid is ʼn tweede goddelike volmaaktheid wat sy ewigheid vereis. God se enkelvoudigheid beteken dat Hy volkome een is in sy Wese. Maar as God nie sonder opeenvolging was nie, kon Hy in twee gedeel word: alle tyd van die verlede tot die hede en van die hede tot in die verre toekoms. Boonop sou elkeen van die dele weer in baie verdere dele “verdeel” kon word! Sleg as die Ewige (sonder begin, sonder end en sonder opeenvolging) is God, en kan Hy, een of enkelvoudig wees.
Derdens, God se alwetendheid – sy volmaakte kennis van alles, onmiddellik en sonder om dit in sy verstand te beredeneer – vereis sy ewigheid. As daar tyd of opeenvolging van oomblikke in God was, dan sou tyd betrokke wees in sy kennis en sou hy só nie alwetend wees, alles onmiddellik weet nie.
As ons aanbeweeg van die eienskappe van God na sy Persone, sien ons dat God se ewigheid vir ons op ʼn eenvoudige manier die Godheid van die Seun en die Heilige Gees bewys. 2 Petrus 3:8 doel op Psalm 90:4 met verwysing na die Seun: ” … dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.” Christus self verklaar, “voordat Abraham was, is Ek [en nie “was ek” nie]” (Joh. 5:58). Synde ewig, is Jesus God. Ook die Heilige Gees is ewig, want Hy word die “ewige Gees” genoem (Heb. 9:14). Aangesien die Vader, die Seun en die Heilige Gees ewig is, is daar drie goddelike Persone in die Godheid. Soos die Geloofsbelydenis van Atanasius dit stel: “Die Vader is ewig, die Seun is ewig, die Heilige Gees is ewig. Nogtans is daar nie drie ewiges nie, maar een Ewige .. .” Dit is die ortodokse Christelike leer van die Heilige Drie-eenheid.
God se ewigheid is ook van belang vir die persoonlike verhoudinge in die Drie-eenheid. Die Seun is ewig deur die Vader gegenereer, en die Gees gaan ewig uit van die Vader en die Seun. As daar tyd in God was, sou daar tyd verloop het voor die Vader die Seun gegenereer het en voor die Gees van die Vader en die Seun uitgegaan het. Dan sou die Vader ouer wees as die Seun en die Seun ouer as die Gees. Dit sou, ten beste, subordinering binne die Drie-eenheid wees! Arius, die ketter, sou reg wees: Daar was ʼn tyd toe die Seun nie gewees het nie! Maar die waarheid is dat God eindeloos verhewe is bo tyd en dat tyd nie in God is nie. Die Seun is ewig gegenereer en die Gees gaan ewig uit – buite en bo die tyd. Daarom is die Vader, die Seun en die Heilige Gees volmaak mede-ewig. Dit is dus duidelik dat die klassieke beskouing van goddelike ewigheid nodig is vir die waarheid van die eienskappe van God en die Heilige Drie-eenheid. Ons moet die verwysings na die ewigheid van God in ons belydenisskrifte, in besonder die Geloofsbelydenis van Nicéa, die Geloofsbelydenis van Atanasius en die Nederlandse Geloofsbelydenis (e.g. artikels 1, 8-11) in hierdie lig verstaan. Kom ons aanbid en dien ons ewige, tydlose Drie-enige God!
(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)