Ds. Angus Stewart
Dat God ewig is, dit wil sê sonder begin, sonder einde en sonder opeenvolging, is van wesenlike belang, nie alleen by die waarheid van die Drie-eenheid en by die waarheid van die kenmerke van God nie, maar ook vir die gereformeerde leer van sy ewige besluit. Die Skrif leer onomwonde dat Jehova voor die grondlegging van die wêreld ‘n allesomvattende plan vasgestel het (Ef. 1:11). As daar dan tyd in God was, sou dit Hom tog tyd geneem het om alles te besluit? En as Hy tyd geneem het om sy doel te bedink en formuleer, wat dan van sy absolute volmaakte kennis en wil?
God se eerste werk buite Homself was die skepping. Dit was die skepping van ruimte (daar was voorheen geen ruimte nie!) en tyd (daar was vantevore geen tyd nie!). Genesis 1 praat van God die Koning en Heerser oor tyd (1 Ti. 1:17). Hy het die tye van lig en duisternis verorden om saam ‘n dag te vorm. Die sewedaagse week is gegrond op God se skepping in ses dae en sy rus van die skepping op die sewende. Uit Genesis 1 kom ook ons maande, seisoene en jare (14).
In Romeine 1:20 staan dat die skepping Jehova se “ewige krag en goddelikheid” verklaar. Alle geskape dinge roep uit: “God het my gemaak, daarom was Hy vóór my, want Hy is ewig!” Ons jong aarde, net ‘n paar duisend jaar oud, is betekenisvol, want dit beklemtoon die ewigheid van God, soos Calvyn ook daarop wys (Institusie 1.14.1). Evolusie stel hierteenoor miljoene en biljoene jare. Wie dink dan aan God se ewigheid? Dit is net nog ‘n leuen van die duiwel om dwase mense te verblind vir God se heerlikheid.
Die waarheid van God se ewigheid antwoord ook dwase vrae soos: “Waarom het God so lank gewag voor Hy geskep het?” en “Waarmee was God voor die Skepping besig?” Daar was nie tyd voor God geskep het nie!
God se ewigheid werp lig op ons Redder, die Here Jesus Christus. Met die vleeswording van die tweede Persoon, het die ewige Seun, na sy menslike natuur, ‘n begin gehad. Die mens Jesus Christus het 2,000 jaar gelede in die liggaam van die geseënde maagd, Maria, begin. Nou beleef die geseënde Seun, na sy menslike natuur, die opeenvolging van oomblikke in Homself! Hy het ruimte betree as ‘n mens en Hy het tyd betree as ‘n mens.
Het u ooit gewonder hoe die lyding van Christus ons van ewige straf kan verlos? Hoe kan die lyding van een Persoon versoening bewerk vir miljoene uitverkorenes? Hoe kan die lyding van een Persoon in die loop van 33 jaar en in besonder tydens sy openbare optrede en te meer tydens drie uur duisternis, miljoene mense van die ewige vuur verlos? Die antwoord is dat Jesus ‘n goddelike Persoon en ewige God is. Synde ewig, gee Christus se goddelike natuur ewigheidswaarde aan sy lyding. Stephen Charnock verduidelik, ‘Net soos die ewigheid van God die grond is van alle godsdiens, so is die ewigheid van Christus die grond van die Christelike godsdiens. Kon ons sonde volkome weggeneem word as Hy nie ‘n ewige goddelikheid gehad het om vir die oortredings teen die ewige God verantwoording te doen nie? Tydelike lyding sou van weinig waarde wees sonder die oneindige en ewige dimensie wat sy Persoon aan sy lyde gevoeg het” (The Existence and Attributes of God, I:294).
Die eerste praktiese les vir ons is hoe onbevatlik God in sy heerlikheid is! As Skepper en soewereine Heerser daarvan, is Hy is ewig en oneindig bo tyd verhewe. Hoe anders is ons! Die Bybel praat dikwels van die kortstondigheid van die mens se lewe. ‘n Mens se leeftyd is soos ‘n paar handbreedtes, of selfs soos niks (Ps. 39:5). Ons is soos ‘n blom wat verwelk of gras wat verdor (Job. 14:2; Jes. 40:6-8). Ons is soos rook en damp wat verdwyn (Jak. 4:14; Ps. 102:3). Moses stel selfs die kort lewe van die mens as ‘n slaap voor (Ps. 90:5). Selfs die engele, die goeies en die slegtes, is maar omtrent 6000 jaar oud, soos oud soos die heelal. Die aarde self, in sy huidige gedaante en sy begeerlikhede, is besig om verby te gaan (1 Kor. 7:31; 1 Joh. 2:17).
Laat ons dan die ewige God aanbid! “Aan die Koning van die eeue [die heerser oor tyd], … kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen” (1 Tim. 1:17). Die gebed van die Here sluit af met die lofverheffing “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (Matt. 6:13). Bybelse lofverheffing sluit dikwels die “vir ewig en altyd” in, want ons lof aan die ewige God sal ewig duur.
Die ewige God is ons deel “tot in ewigheid” (Ps. 73:26). Laat ons in Hom glo, laat ons in Hom hoop en ons vreugde in Hom vind. Na aan die einde van sy lang en veelbewoë lewe het Moses die volgende tot vertroosting van die kerk gesê: “Die ewige God is ‘n woning, en onder – ewige arms” (Deut. 33:27). Die God wat sonder begin en sonder einde en sonder opeenvolging is, beskut ons, beskerm ons en sorg vir ons!
Die ewige God sluit met sy volk in Jesus Christus ‘n ewige verbond, sodat die kerk en elke gelowige vir ewig bewaar bly (Jer. 32:40). Die God wat in die ewigheid woon, bly by elkeen wat nederig en verlae van hart is, vir altyd (Jes. 57:15; Openb. 21:3-4).
Die ewige God het twee ewige bestemmings: van ewige lewe op die nuwe aarde vir die gelowiges, of die ewige dood in die poel van vuur vir die ongelowiges, wat nie hulle sonde wil versaak nie. Die Skrif praat van ” ‘n ewige gloed” (Jes. 33:14), “die ewige straf” (Matt. 25:46) en ” ‘n ewige verderf” (2 Tess. 1:9). Bekeer, en vertrou in Christus!
Omdat hy God as die ewige ken, begin Moses Psalm 90 met die vertrouensvolle woorde: “Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag” (1). Die man van God is met verbasing vervul: “Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God” (2). Hy verwonder hom aan Jehova: “Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ‘n nagwaak” (4), terwyl die mens se lewe op aarde letterlik net “soos ‘n gedagte” is (9). Daarom bid Moses om wysheid: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom” (12). Hy vra die ewige God om aan ons blye dae te gee (15) en “die werk van ons hande [te] bevestig” (17).
Mag dit ons deel wees in die diens van die ewige God!
(Vertaal deur Nic Grobler,
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)