Ronald Hanko
Ons het reeds aangedui wat na ons mening die belangrikste dwalings van dispensasionalisme is. Ander dwalings word hierna genoem.
Dispensasionalisme skei Israel van die kerk. Een van die grondbeginsels van dispensasionalisme is dat Israel Israel is, en die kerk kerk, en dat die twee nie verwar mag word nie. Dit is strydig met die Skrif wat leer dat die Ou Testamentiese “Israel”, nasionaal én geestelik, die kerk is (Rom. 2:28, 29). In Handelinge 7:38 word Israel “die vergadering1 in die woestyn” genoem. In Hebreërs 12:22-24 word Jerusalem en Sion aan die kerk gelyk gestel (lees ook Gal. 3:29 en Filip. 3:3). In Openbaring 21:9, 10 is Jerusalem die bruid, die vrou van die Lam.
Dispensasionalisme maak ʼn onderskeid tussen die werk van Christus vir die Jode en sy werk vir die kerk. Dispensasionalisme leer dat Christus Koning is van Israel, maar Hoof van die kerk. Die aantekeninge by die Scofield Bible sê selfs dat die volk van die Ou Testament op ʼn ander manier as deur geloof in die versoeningswerk van Christus gered word en dat God meer as een reddingsplan het. Dit is strydig met die duidelike leer van die Skrif wat die heiliges van die Ou Testament insluit as “medeburgers van die heiliges en huisgenote van God” (Ef. 2:11-18, veral vers 16 wat sê dat Jood én heiden “in een liggaam” versoen is; Openb. 21:9, 10 waar “die bruid … die vrou van die Lam” met die heilige Jerusalem vereenselwig word).
Dispensasionalisme leer dat die Heilige Gees in die tydperk van sewe jaar tussen die wegraping en die verskyning van die aarde afwesig is. Hulle veronderstel dat die Jode tydens dié sewe jaar, sonder die soewereine en genadige werking van die Heilige Gees, gered en tot geloof gebring sal word. Ook dit is strydig met die leer van die Skrif dat geloof die gawe van God deur die Heilige Gees is, én dit is in stryd met die leer van die Skrif dat die wedergeboorte, wat vir redding onmisbaar is, die unieke werk van die Gees is (Joh. 3:3-8; Ef. 2:8).
Dispensasionalisme se leer in verband met die sogenaamde “verborge” kerk (mystery church). Die klassieke dispensasionalisme leer dat die geskiedenis van die kerk in die Nuwe Testament ʼn tussenspel in die geskiedenis is en dat die kerk self ʼn verborgenheid is waarvan die Skrif nooit in die Ou Testament praat nie. Dit is strydig met die Skrif wat die kerk profeteer én die ware Israel as die kerk beskou, en die ware kerk as Israel. In Handelinge 15:13 e.v. pas Jakobus die Ou Testamentiese profesie oor Israel toe op die vestiging van die Nuwe Testamentiese kerk onder die heidene (lees ook Hand. 7:38). Eweneens beskou die Skrif die kerk nie as ʼn tussenspel nie, maar die doel en voorneme van al die werk van God in die geskiedenis. Dit is “die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef. 1:22, 23) en die “verheerlikte gemeente” wat Hy voor Hom stel deur sy verlossingswerk (Ef. 5:25-27).
Om hierdie redes moet dispensasionalisme verwerp word.
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.